Images

Duister na LIG 1

Audio – Om die Audio te luister oor die Inleiding van die boek “Duister na Lig”, kliek asseblief op die volgende link:

duister na lig 1

Die lering oor die twee verskillende toestande het Abba Vader my geleer deur vir my ’n baie lang, reguit lyn op papier te wys wat van links na regs strek.  Reg in die middel van die lyn is ’n kruis wat die skeiding aandui tussen die regter- en linkerkant;  daar is ’n baie groot verskil tussen die twee kante!  Die totale gedeelte aan die linkerkant van die kruis is swart en in duisternis gehul, waarteenoor die totale gedeelte aan die regterkant van die kruis, lig en helderkleurig is soos die kleure van ’n reënboog.  

Abba Vader verduidelik dat daar twee geestelike toestande is wat nie met die blote oog gesien kan word nie, en word van mekaar geskei deur die kruis.  Daar is die duistere toestand aan die linkerkant van die kruis, en die Lig-toestand aan die regterkant van die kruis.

Abba Vader wys my daarop dat die beginpunt van die lyn aan die linkerkant die begin van lewe in die wêreld aandui, en dat die duistere tydperk verloop tot by die kruis van Jesus.  Direk na die kruis van Jesus, begin ’n “nuwe” tydperk wat in Lig gehul is.  Die kruis is dus die skeiding tussen duisternis en Lig.

Dink nou eers ’n bietjie oor die prentjie wat ek nou geskets het… Hoe verstaan jy hierdie prentjie?  Ek het dadelik met my menslike brein gedink dat die duistere toestand, aan die linkerkant van die kruis, die ou Testamentiese tyd is en dat die Lig-toestand, aan die regterkant van die kruis, die Nuwe Testamentiese tyd is.  As jy ook so daaraan gedink het, is ons albei verkeerd, want Abba Vader wys dat die oorgrote meerderheid van vandag se mense nogsteeds in die duistere gedeelte vasgevang is.  Hoe kan dit wees?  As Jesus gesterf het, is almal mos veronderstel om in die Lig-toestand te wees wat mos die nuwe tydperk aandui…  Hoe kan die oorgrote meerderheid van mense dan nogsteeds vasgevang wees in die duistere toestand?  Ek vertel deur die loop van hierdie kort boekie hoe Abba vader my geleer en onderrig het oor die verskillende toestande…

KANKER – dit kan ‘n wortel van bitterheid wees

bitterheid

Kan ons siektes oor onsself bring?  Abba Vader het my ma as vooorbeeld gebruik om ons te leer dat ons wel siektes soos kanker, oor onsself kan bring.  Ek het my ma se toestemming om haar storie te vertel:

Ek was 16 jaar oud toe my pa op die jong ouderdom van 44 oorlede is aan ’n hartaanval.  Na ’n paar maande het my ma ’n man ontmoet wie se vrou net na my pa oorlede is.  My ma erken dat sy die Here nie geken het op daardie stadium van haar lewe nie, met ander woorde, sy het nie gestreef daarna om die wil van God te leef nie.  Sy het nog gehandel en gewandel volgens haar vleeslikheid en sy het met die man getrou.  Dit was verseker nie die wil van die Here nie, maar julle weet mos hoe maak ons… Ons maak keuses uit ons eie en vra dan vir God om ons keuses te seën, maar was jou keuse die wil van God vir jou lewe?  Hoe moet God jou keuse seën as dit nie Sy wil vir jou lewe is nie?  Hoe moet Hy jou keuse seën as Hy dit nie bepaal het nie, maar totaal iets anders in jou Lewensboeke opgeskryf het?  So as jy jou eie keuses op hierdie manier maak, is jy besig om te skryf aan jou eie lewensverhale wat God nie verheerlik of Hom gelukkig maak nie, dus kan Sy hand van seën nie oor jou keuse wees nie.  So wanneer ons keuses maak uit ons eie en nie die wil van God soek nie, kan ons ook nie ’n lewe van seën en voorspoed verwag nie. 

 My ma het nie gestreef na die wil van God toe sy die keuse gemaak het omtrent ’n lewensmaat nie;  sy het dus haar eie vleeslikheid probeer bevredig sonder om die wil van God te soek.  Sy het dus haar eie lewensverhaal bepaal en uitgeleef – sy het haar eie lewensboeke geskryf en nie dít geleef wat Abba Vader vir haar beplan het nie.  Nodeloos om te sê:  dit was nie ’n baie goeie huwelik nie en my ma was emosioneel gebreek.  Na 20 jaar het sy hom verlaat en weggetrek, maar die probleem is dat sy geestelik daardie boeke waarin sy haar lewensverhaal saam met daardie man neergeskryf het, net eenvoudig toegeklap het.  Sy wou nie dink of praat oor haar verlede nie.  Ek het op ’n stadium vir haar gesê dat sy sal moet teruggaan in haar verlede, vergewe en laat gaan… haar antwoord was dat sy klaar die boek toegemaak het.  Sy het net vorentoe gekyk en aangegaan met ’n “nuwe lewe”… Die probleem is dat nie een van ons net ons eie lewensverhaal-boeke kan toeklap en aangaan nie.  As ons ons eie lewensverhale bepaal en beplan het, met ander woorde, keuses gemaak het wat nie die wil van God is nie, sal ons daardie boeke weer moet oopmaak en aan Abba Vader moet bely dat ons verkeerde keuses gemaak het.  Hy sal jou vergewe daarvoor, maar dit beteken dat jy ook die mense wat jou leed aangedoen het, moet vergewe en laat gaan daarvan.  Ons moenie met wraak in ons rondloop nie, want dit is om gif te drink met die hoop dat die mens wat jou leed aangedoen het, sal sterf.  Dit kan nooit so werk nie, want die gif gaan jou affekteer en nie die ander persoon nie. 

Om terug te kom na die storie van my ma:  4-5 Jaar nadat my ma daardie man verlaat het, het haar maag haar begin pla.  Sy het dokter gegaan waarna hy dadelik verdere toetse gedoen het.  Hulle het ’n kwaadaardige gewas in haar dikderm ontdek – KANKER!  ’n Woord wat ons almal vrees!  Die dag toe sy my bel en sê dat dit wel kanker is, het ek net gebreek voor die voete van Abba Vader.  Ek het verskriklik gehuil, want my ma word NOOIT siek nie… en noudat sy siek is, is dit sommer kanker.  Ek het gekniel voor Abba Vader en geweet hier word ek ook nou getoets…  Abba Vader het my die laaste paar maande geleer dat ons nie teen SY wil mag bid nie.  Ons moet bid na die wil van God, ons mag nie vir God hied en gebied nie.  Dit beteken vir my dat ek nie vir die Here mag vra om my ma op ’n wonderbaarlike manier te genees nie… ek moet die wil van God aanvaar, want dit wat Hy beplan het, sal wel gebeur.  Ons mag nie ons eie wil op God afdwing nie!  Terwyl ek op my knieë voor Abba Vader my hart uitgehuil het, het ek daarna meer vrede gehad en kon ek die situasie en my hartseer oorgee aan Abba Vader.  Dit is om in Sy rus in te beweeg en Hom toe te laat om te werk daar waar Hy weet werk nodig is.  God weet wat Hy doen, dis nie vir ons nodig om vir Hom te vertel wat Hy moet doen nie.

Die dokter het besluit om die gewas so gou as moontlik te verwyder.  Dit was ’n groot operasie en my ma moes natuurlik vir ’n paar dae in die hospitaal bly.  In die tyd het Abba Vader my onder gebed die vergroeisel in my ma se derm gewys en gesê dat hierdie gewas ontstaan het uit ’n wortel van bitterheid.  Dit is dus nie God wat haar die kanker gegee het nie, maar die gewas het ontstaan uit haar eie verkeerde keuses wat sy gemaak het.  Sy het soveel jaar terug die keuse gemaak om met ’n man te trou van HAAR drome en nie gewag dat die Here vir haar ’n Goddelike man stuur nie.  Hierdie moeilike huwelik het haar baie emosionele seer berokken en sy was baie kwaad vir daardie man.  Sy het gesukkel om hom te vergewe en omdat sy daardie boek net toegeklap en begrawe het, het daar ’n bitter wortel binne haar begin groei.  Niks in daardie boek was uitgesorteer nie – die woede, bitterheid, onvergewensgesindheid en dalk ook wraak het aangehou woed binne-in daardie boek, en sodoende ook binne-in haar hart.  Dit was eers ’n klein worteltjie van kwaad, maar daardie worteltjie het begin groei en ’n baie lelike gewas veroorsaak wat haar dood kon beteken.  Sy het ’n operasie ondergaan waar hulle die gewas verwyder het, met ander woorde, fisies het die dokters die gewas van kwaad verwyder, maar nogsteeds moes my ma geestelik hierdie saak uitsorteer.  Sy sal moet herken dat sy die verkeerde keuses gemaak het, dat dit nie die wil van God was om met daardie man te trou nie en sy moet dit uitsorteer voor die voete van Abba Vader.  Sy sal die boek van daardie gedeelte van haar lewe wat sy self geskryf het, moet gaan uitgrawe en erken dat fouteer het, dat sy teen die wil ’n vleeslike keuse gemaak het.  En so baie van ons maak hierdie fout!  Ons klim in ’n verhouding in teen die wil van God en het dan ’n ongelukkige huwelik wat baie woede, frustrasie, haat en wraak kan veroorsaak… wat bitter wortels in ons vleeslikheid kan veroorsaak wat ons vleeslik siek kan maak.  Ons moet regtig daarop let om te handel en te wandel in die weë van die Here… in dit wat Hy vir ons beplan het en nie in dit wat ONS wil hê nie. 

 Hoe gaan jy weet of dit die wil van die Here is of nie?  Hoe gaan jy weet as jy ’n huweliksmaat kies, of dit van God af is of nie?  Een ding is verseker… as julle net een in vlees is, gaan dit ’n moeilike huwelik wees.  Ons moet EERS een in gees wees met ons huweliksmaat voordat ons een in vlees kan wees. Meer oor hierdie onderwerp, is in die saadjie:  Opsoek na die helfte van jouself…

Met ander woorde:  Het God hierdie kanker in my ma se Goddelike Lewensboek opgeskryf as ’n klip in haar pad?  Nee, Hy het nie!  Deur haar eie verkeerde keuses het sy vir haarself 20 jaar se emosionele pyn besorg en omdat sy gesukkel het om hom te vergewe vir alles wat hy aan haar gedoen het, het daar bose worteltjies binne-in haar begin groei wat die kwaadaardige gewas verooorsaak het.  Dit is wat kan gebeur wanneer ons ons eie lewensverhale skryf sonder om te soek na die wil van God.  Ons maak verkeerde keuses en skep vir onsself vervloeking vir die toekoms.  Dit is dan baie onregverdig om God te blameer daarvoor.  Al wat ons kan doen, is om daardie boek wat ons self geskryf het, uit te gaan graweerken jy het ’n fout gemaak, dat jy teen die wil van God opgetree het, vrgewe en laat gaan van bitterheid, woede en wraak teenoor daardie mense wat jou leed aangedoen het.    

Abba Vader het my ’n baie waardevolle les eendag geleer om te laat gaan oor dit wat ander ons aandoen.  Ek het vermoed dat iemand wat naby my is, my leed aangedoen het, maar het nie bewyse daarvoor gehad nie.  ’n Paar jaar later onder gebed, sê Abba Vader uit die bloute uit vir my dat DIT wat ek vermoed het, reg is.  Dit het my baie seergemaak!  Ek was dadelik sommer  ongelukkig en Abba Vader het my gevra:  Nou wat gaan jy nou daaraan doen?  Ek het so bietjie gedink en gesê:  ‘Wel, ek kan nou eintlik niks daaraan doen nie.”  Abba Vader het vir my gesê om dit net te los, want dit het niks met my te doen nie.  Ek was eers geskok dat Abba ader vir my sê dit het niks met my te doen nie, want ek het gevoel ek is te na gekom, dat daar vir my gejok was.  Ek was seergemaak!  Maar nogsteeds het Abba Vader vir my gesê:  Dit het niks met jou te doen nie!  DIT wat die mens gedoen het wat verkeerd was in die oë van God, maak my wel seer, maar die persoon het ’n baie groter probleem, want sy/haar verkeerde keuse gaan hom/haar inhaal om ’n stukkie vervloeking te skep vir die toekoms…  En die ergtste van alles, is dat hy/sy eendag voor Abba Vader gaan moet staan en verduidelik hoekom hy/sy dit gedoen het.  So ek mag nie kwaad wees vir die persoon daaroor nie, ek moet vergewe en aangaan, want dit het eintlik niks met my te doen nie.  Hierdie “mindset” het my baie gehelp om van daar af die leed wat my aangedoen word, maklik eenkant te sit en net te fokus op Abba Vader.  

Om weer terug te kom na die storie van my ma:  Die gewas is verwyder uit haar dikderm en dit gaan baie goed met haar.  Die dokter het voortgestel dat hulle chemo en bestraling op haar doen net om seker te maak dat al die kankerselletjies dood is, maar sy het daarteen besluit.  Sy het in die rus van Abba Vader inbeweeg en dit in Sy hande gelos…

Daar is baie argumente en opinies oor waar siekte vandaan kom wat ek in die volgende saadjie sal vertel hoe Abba Vader my sover gelei het.                    

“Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie;  dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”  Hebreërs 12:15

Skatkis vol Liefde

light-chest

’n Paar jaar gelede het Abba Vader onder gebed vir my drie skatkiste gewys.  Dit het regtig gelyk soos daardie ou, houtagtige skatkiste met ’n groot slot aan die voorkant.  Abba Vader het ’n groot goue sleutel in my hand geplaas en gesê die sleutel se naam is “Geloof”.  Ek mag al drie skatkiste oopsluit, maar dan moet ek een van die skatkiste kies.  Ek het die eerste kis oopgesluit en daarin was wysheid, kennis en insig.  Die tweede kis was vol wêreldse seëninge en die derde kis was vol bloedrooi harte (soos getekende harte, nie fisiese mensharte nie).  Weer het Abba Vader my gevra watter kis sal ek kies…  Sit jouself nou in hierdie prentjie…  Ondersoek jou hartsbegeertes deeglik en eerlik… Watter skatkis gaan jy kies?  Dink eers ’n bietjie hieroor voordat jy verder lees…  

Ek het gekyk na die kis vol wysheid, kennis en insig en dadelik aan Salomo gedink, want dit is wat Hy van God gevra het.  God het dit aan hom gegee en hy was gereken as die wysste man op aarde;  hy kon die volk van God lei deur die wysheid, kennis en insig wat God aan hom gegee het.  Maar het Salomo God behaag? 1 Konings 11 vertel dat Salomo die uitlandse vroue met liefde aangehang het, al het God hulle bevel gegee dat hulle nie met vroue van ander nasies mag meng nie.  Dit was ’n groot probleem in die Ou Testamentiese tyd… mans was baie maklik verlei deur die vrouens van die volke wat nie aan God behoort het nie – hulle het ander gode aanbid en wanneer die mans verlei was deur die vroue, het hulle die een ware God verlaat en saam met die uitlandse vroue die afgode begin aanbid.  Salomo het ongelukkig ook in daardie gat getrap.  1 Konings 11:2-4 sê:

“Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan — Salomo het hulle met liefde aangehang.  En hy het sewehonderd vroue, vorstinne, gehad, en driehonderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het.  En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die Here sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.”

Salomo het saam met sy uitlandse vroue agter ander vreemde gode begin aanloop en die Here was toornig op Salomo.  Sy hart het afgewyk van die Here en daarom sê die Here vir hom in vers 11:

“Omdat dit so ver is met jou dat jy My verbond en My insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.”

So… is dit wys om die skatkis vol wysheid en insig te kies?  Al gee Abba Vader aan jou al die wysheid, insig en kennis, gaan jy Hom daardeur kan behaag?  Nie eers Salomo kon God daardeur behaag nie… om al die wysheid, kennis en insig te hê, beteken nie jy gaan aan God gehoorsaam wees nie.  Dit laat my dadelik aan 1 Kor. 13:2:

“Al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis , en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.”  

So wat help dit om die skatkis vol wysheid, kennis en insig te kies as jou eerste keuse nie die Liefde van God is nie?  Dit laat my ook dink aan die Skrif in Openbaring 2 waar God sê die mens het sy Eerste Liefde verlaat.  

 Ek het weer gekyk na die skatkiste en my oë het geval op die tweede skatkis wat vol wêreldse seëninge was, maar ek het dadelik vir Abba Vader gesê ek kies verseker nie die kis vol seëninge nie.  Ek glo nie in God omdat ek iets daaruit probeer kry nie… sodat God my vleeslike begeertes moet bevredig nie… so die tweede kis was vir my nie eers ’n opsie nie.   As jy die saadjie gelees het wat handel oor DIT wat ons van God af bid, of dit wat ons van God vra, (Wat vra ons van God?) hoop ek hierdie saadjie sal die prentjie mooier voltooi.  As jy Mattheus 6:19-34, asook Lukas 12:22-34 lees, sal julle sien Jesus sê ook dat ons ons nie moet kwel oor die lewe nie.  Dit is nie waar ons fokus moet wees nie en dit is beslis nie wêreldse genot en seëninge (ons eie wil) wat ons van God moet vereis en vra nie.  Jesus sê in Mattheus 6:32 dat heidene hierdie goed soek en vra, maar ons hemelse Vader weet mos dat ons al hierdie dinge nodig het.  Ons almal het ook al die Skrif gehoor dat ons nie skatte op die aarde bymekaar moet maak nie, maar dat ons skatte in die hemel bymekaar moet maak.  As ons vir God vra om in ons vleeslike behoeftes te voorsien, maak ons verseker nie skatte in die hemel bymekaar nie, maar probeer ons ons eie lewe beter of lekkerder maak.  God weet wat ons vleeslike behoeftes is en Hy sal daarin voorsien sonder dat ons vra.  Hy sal vir ons gee wat Hy weet ons nodig het.  Diegene wat die skatkis vol rykdom, roem en seën kies, is diegene wat God gebruik en misbruik vir wat hulle wil hê.  Hoe baie mense is daar wat na God draai wanneer dinge swaar gaan in hulle lewens en hulle dink dat die “slegte goed” in hulle lewens uitgesorteer sal wees wanneer hulle na God draai.  Sodra dinge weer beter begin gaan, vergeet hulle baie vinnig van God.  Die tweede skatkis laat my ook dink aan dit wat die “prosperity leraars” die mensdom leer dat God jou WIL seën, dat jy Sy oogappel is, dat jy so belangrik in Sy oë is dat Hy vir jou net die beste wil gee.  Ja, dit is so, God is hierdie wonderlike God, maar God verwag ook van Sy kinders om daarna te streef om Hom te ken!  God gaan Hom ook nie laat misbruik met vals woorde wat uit ons monde uitkom nie.  Hy weet wat gaan aan in ons harte… Hy weet wie diegene is wat smag na die tweede kis vol seëninge, wat Hom kwansuis aanbid en kwansuis in Hom glo net om hierdie seëninge te ontvang.  God gaan verseker nie met Hom laat speel nie.  Hy weet wie glo met die mond in Hom en wie glo oneentseglik uit die hart in Hom.               

 Dan kyk ek na die derde skatkis vol bloedrooi harte wat vir my die liefde van God simboliseer en JA, JA, JA… DIT is wat ek wil hê!  Daar is iets wat ek baie meer as enigiets anders in die wêreld wil hê, en dit is die Liefde van God.  Ek kies die kis vol harte, want ek wil die Liefde van God ervaar!  Ek kies die Liefde van Abba Vader en gemeenskap met Jesus bo enigiets anders as wat die wêreld my kan bied.  Ek wil gevul wees met die Liefde van God, want dan sal ek aan Hom gehoorsaam kan wees;  ek sal Goddelike vrugte kan dra wat God verheerlik.  Ek wil gewortel wees in die hart van God en gevul word met Sy LIEFDE.  Ek wil veel eerder God se LIEFDE hê as wêreldse seën, wysheid, kennis en insig.  My grootste begeerte is om Abba Vader te behaag in alles wat ek doen, ek wil so graag hê Hy moet na my kyk en glimlag, en ek weet ’n mens kan Abba Vader alleenlik behaag deur gehoorsaamheid, maar ons kan ook nie uit ons eie gehoorsaam wees nie;  ons het die Gees van God daarvoor nodig, ons het die Liefde van God nodig.  Na ek die skatkis vol liefde gekies het, sê Abba Vader:

“Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”  Mattheus 6:33

Dink julle nie ook dat God daarna smag dat ons Hom en Sy Liefde moet begeer soos ons wêreldse seën, wysheid en kennis begeer nie?  Dink jy nie ook God sal so graag wil hê dat ons na Sy teenwoordigheid sal soek soos ons na sommige wêreldse goed soek nie?  En nou wonder ek maar net… Salomo het gevra vir wysheid, kennis en insig om die volk goed te kan lei, maar tog het hy nie in die weë van God gewandel nie, want God het Sy volk vermaan om nie met een van die ander nasies se vrouens te trou nie.  Salomo was rebels in hierdie opsig en het baie vrouens uit ander nasies gehad wat hom oorgehaal het om hulle afgode te aanbid.  Ek wonder maar net wat die verskil sou gewees het as Salomo eerder gekies het dat God sy hart volmaak met SY LIEFDE, van Sy teenwoordigheid…  Ek is seker as Salomo God en Sy heerlikheid eerste gestel het, sou God hom nogsteeds toevertrou het met wysheid, insig en seëninge, en dan sou hy so ’n liefde vir God gehad het dat hy aan God gehoorsaam sou gewees het…  Maar dit is nou sommer net my eie denke, dis nie dat ek ’n storie uit die Ou Testament wil herskryf nie.  Dit het so gebeur en is vir ons opgeteken om vir ons ’n les daaruit te leer, maar die les wat ek daaruit leer, is om God en Sy Liefde altyd eerste te stel.  God se kinders wat gekonneteer is aan Hom, sal outomaties God en Sy Liefde eerste stel, want die Lewe van Jesus binne hulle stel hulle in staat om so te voel.  Dit is nie uit die mens uit nie.        

Die sleutel se naam is “Geloof”, net soos die penwortel wat in die hart van God ingroei, se naam “Geloof” is.  Dit is oneentseglike geloof, nie oppervlakkige geloof nie.  Oppervlakkige geloof kan nooit die mens ’n penwortel laat groei wat binne-in die hart van God kan indring nie.  Alleenlik wanneer ons deur ‘n penwortel van geloof in die hart van God geanker is, ontvang ons die Liefde van God wat deur ons totale wese versprei word.  Die Liefde van God gaan ons verander, ons vleeslike begeertes gaan verander, so wêreldse seën gaan ons nie meer pla nie;  ons gaan nie meer ’n hunkering hê na wêreldse goed nie;  ons gaan nie meer onsself vir die wêreld aanloklik probeer maak nie.  Wanneer ons die Liefde en Lewe van God in ons geeshart het, sal Abba Vader in elkgeval met ons werk deur ons geeshart en sal Sy Gees die Woord van God aan jou interpreteer wat aan jou Goddelike wysheid, kennis en verstand sal gee.  Maar wees gewaarsku… wêreldse kennis, wysheid en insig verskil van God s’n, en dit is hoekom Abba Vader aan jou die dwaalleringe van die wêreld sal begin openbaar… en die wêreld gaan nie daarvan hou nie, jou vriende en dalk familie gaan ook nie altyd daarvan hou nie.  Maar ons moet ophou om wysheid en kennis in die wêreld te soek, maar kies die kis vol bloedrooi harte;  kies eerstens die Liefde van God, spandeer tyd in die Woord en by die voete van Abba Vader – soek eers die Koninkryk van God en die res sal aan jou toevertrou word as God weet jou bedoelinge en motiewe is opreg.  As ’n mens se hart opreg is en jy is oorgegee in die hande van God, hanteer ons deur die krag van God situasies anders, ons kyk met ander oë na die wêreld en alles om ons verander.  As ons die Liefde van God kies, sal Hy die res ook aan ons gee.      

“Al sou ek die tale van mens en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simaal geword.  En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.  En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.  Die liefde is lankmoedig en vriendelik;  die liefde is nie jaloers nie;  die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,  is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.  Die liefde vergaan nimmermeer;  maar profesieë – hulle sal tot niet gaan;  of tale – hulle sal ophou;  of kennis – dit sal tot niet gaan.  Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.  Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.   Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind;  maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.   Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig.  Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.  En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie;  maar die grootste hiervan is die liefde.”  1 Korinthiërs 13:1-13 

“Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”    Mattheus 6:21

Die mens as die beeld van God?

God is lig

Ek kan net dink hoe hierdie saak vir God ongelukkig moet maak… Die mens glo hy is geskape na die beeld van God, en mense sien “die mens” as die beeld van God, maar hulle dink nie dieper oor hierdie saak of laat die Gees van God toe om hierdie onderwerp aan hulle te verduidelik nie.  Hulle luister net met fisiese ore na hierdie leuen, want die inligting word deur die brein geprossesseer en nie deur die geeshart nie.  Dit is hoekom mense hierdie leuen so maklik glo.  Dit is nie ’n leuen dat God die mens na Sy Beeld geskape het nie, maar kom ons gaan kyk net eers weer mooi wat is die Beeld van God… Is God ’n mens?  Is Hy in die vorm van ’n mens?

“Loof die Here, o my siel.  Here my God, U is baie groot!  Met majesteit en heerlikheid is U bekleed – wat Uself omhul met die lig soos met ’n kleed…”           Psalm 104:1,2

 Met ander woorde, God is nie ’n mens nie… Hy is nie in die gestalte van ’n mens nie, want God is LIG!  So toe God die mens aan die begin geskape het na Sy Beeld, kan dit nie wees dat Hy ’n fisiese, ligaamlike mens gemaak het nie.  Nee, as Hy ’n mens na Sy Beeld gemaak het, het ’n mens gemaak as liggie, ’n wese wat skyn soos Hy skyn!  Kyk hoe mooi sê The Message dit:

“He created them Godlike reflecting God’s nature…”  Genesis 1:26 (MSG)

 God het die mens gemaak om Sy beeld te reflekteer en wat is die beeld van God?  LIG!  So God het die mens as ’n liggie geskep.  Kan die fisiese mens wat ons met die oog sien, lig reflekteer?  Om hierdie mooi te verstaan, wil ek net gou julle geheue verfris oor die liggaam, siel en gees van van die mens… 

Die liggaam is die buitenste dop met al die organe wat die siel en gees huisves.  Ons siel is die gedeelte waar ons emosies, eie wil en denke lê.  Ons gees is die diepste gedeelte van die mens waardeur God met ons werk.  God het dus die gees van die mens geskep as ’n “plek” waar Hy deur Sy Gees in ons kan woon en eers wanneer die Gees van God teenwoordig is in ons geeshart, is ons in staat om die beeld van God geestelik te reflekteer.  Die Gees van God is nie teenwoordig in die liggaam- of sielsdimensie van die mens nie, alleenlik in die geeshart.  As ’n mens dit verstaan, maak dit sin dat God eerste die gees van die mens moes skep sodat die mens geestelik die beeld van God kon reflekteer, want God is Lig;  die liggaam en die siel van die mens kan nooit die beeld van God reflekteer nie.  Met ander woorde, toe God aan die begin gesê het Hy skep die mens as Beeld van Homself, het Hy nie dadelik die liggaam en siel van die mens gemaak nie, maar het Hy het die gees van die mens geskep!  Later het God uit die stof van die aarde die menslike liggaam formeer en die asem van die lewe in sy neus ingeblaas.  (Gen 2:7)  Die mens het toe ’n lewende siel geword – dit is hier waar God die liggaam van die mens geskep het, maar God sê ook nie dat Hy het die fisiese, liggaam van die mens na Sy Beeld geskep het nie.  Sy Beeld, wat Lig is, was vasgevang in die geeshart van die mens wat binne die liggaam van die mens gesetel is.  So die liggaam van die mens is soos ’n dop wat die gees huisves.  Die liggaam van die mens is nie vir God so belangrik soos die gees van die mens nie en dit is hoekom ons liggame weer tot stof sal verander as ons doodgaan.  Jou geeshart gaan nie saam met jou liggaam dood nie, maar God sê Hy sal in die hemel vir ons ’n nuwe liggaam gee.  Kan jy sien hoe belangrik is jou geeshart?  Want vir God gaan dit oor ons geesharte!   Dit is nie hoe ons as mens LYK wat belangrik is nie, dit is wat in ons harte aan die gang is, wat belangrik is!  Ek hoop julle kan begryp hoe verskriklik belangrik ons geesharte is!  Dit is die belangrikste gedeelte van die mens, want dit is die deel van die mens waar God Sy woning maak.  Alleenlik wanneer die Gees van God “dwell” in ons harte, reflekteer ons die Lig van God, met ander woorde, alleenlik wanneer die Gees van God Sy inwoning in ons harte geneem het, sien God ons as Sy Beeld.  As die Gees van God nie teenwoordig is in ons harte nie, skyn daar geen lig uit ons harte nie en is ons ’n duistere mens wat nie die Beeld van God reflekteer nie.  So sien julle dat ons nie sommer met die fisiese oog na mense kan kyk met die opinie dat elkeen na die Beeld van God geskape is nie?  Nie almal is geskape na die Beeld van God nie…  alleenlik hulle wat waarlik weergebore is, hulle wat die Gees van God huisves in hulle harte… dit is die mense wat die Beeld van God reflekteer! 

Dit is net die mens wat uit fisiese oë kyk wat die liggaam en die uiterlike belangrik ag, wat die liggaam bo die gees stel en soveel tyd aan hulle liggame spandeer om dit mooi te maak en so min tyd aan die gesondheid van hulle gees.  Dan is dit ironies hoe vinnig ons is om te sê:  Sjoe, ek is so besig, ek het nie tyd om stil te raak en Woord in te neem nie.  Gaan dink ’n bietjie self oor die belaglikheid van hierdie verskoning!  Die mens wat nie tyd by die voete van Abba Vader spandeer nie, kan nie die Lig van God in sy hart hê nie, so hy reflekteer verseker nie die Beeld van God nie.  Die mens wat nie die Beeld van God reflketeer nie, is ook nie Sy kind nie.  Alleenlik diegene wat gesterf het aan die self en weergebore is, het die Lewe of die Gees van God in hul harte ontvang en alleenlik op hierdie manier reflekteer hulle die Beeld van God. 

Lees gerus Kolossense 3:1-17      

“…en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis van die Beeld van sy Skepper..”  Kolosense 3:10

Maar as God die mens na Sy Beeld geskape het, en Hy die mens geskep het om Sy Lig te reflekteer, wat het fout gegaan?  Waar het die mens die Lig verloor en hoe kry ons weer die Lig van God?  Kyk uit vir die volgende saadjie…

Ignoreer die wil van God en skep vir jouself vervloeking

appel

“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.”                           2 Korinthiërs 11:3  

(Hierdie is ‘n uittreksel uit een van die boeke waaraan ek werk).  Ons almal ken die verhaal van Adam en Eva in die tuin van Eden…  God het die tuin geskep vir Sy mensekinders wat verhouding met Hom het, wat met Hom wandel en wat met Hom kommunikeer.  God het die mens geskep na Sy beeld wat beteken hulle geesharte het geskyn met die Lig van God, want God is Lig!  God se Lig was dus teenwoordig binne die mens en wanneer die geeshart van die mens lewe met die Lig van God, is die mens gekonnekteer aan God en kan Hy met God kommunikeer.  Satan haat die Lig van God, want dit is alleenlik die Lig van God wat hom op ’n afstand kan hou.  

God het die mens met ’n eie wil toevertrou en daarom is die mens in staat om keuses te maak.  Reeds aan die begin, in die tuin van Eden, het God aan die mens die reg gegee om te kies tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, dus het God aan die mens die reg gegee om te kies om Sy wil te volg of om die eie wil te gehoorsaam.  God het Adam en Eva vooraf gewaarsku dat daar gevolge sal wees as hulle ongehoorsaam is aan Sy wil – Hy het hulle gewaarsku om nie van die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie, en as hulle daarvan  sou eet, sou hulle sterf.  Natuurlik het die listige slang geweet dat die mens ’n eie wil het, dat die mens die reg het om keuses te maak, en hy het ook baie goed geweet dat ongehoorsaamheid aan die wil God, vir die mens gevolge sal inhou.  Satan het hom nie twee keer laat nooi nie en het toe vir Eva ’n heerlike vrug op ’n goue skinkbord aangebied.  (Of dit regtig ’n vrug was, sal ons wel eendag uitvind…).  Eva het baie goed geweet dat sy nie die vrug mag nuttig nie, maar haar eie wil het in haar pad gestaan.  Die slang het haar gevra hoekom hulle nie van die boom se vrugte mag eet nie, en sy het hom vertel dat God hulle gewaarsku het dat hulle sou sterf as hulle daarvan sou eet.  Satan het gelag en haar met ’n leuen oortuig dat hulle nie sal sterf nie, maar dat hulle inteendeel soos God sal word!  Eva moes ’n keuse maak… Na wie gaan sy luister?  Na die slang of na God?  Na die leuen of na die Waarheid?  Gaan sy gehoorsaam wees aan God en hierdie onweerstaanbare vrug ignoreer en weier om toe te gee aan haar eie wil?  Of gaan sy toegee aan haar eie wil wat die ontoelaatbare begeer?  Ongelukkig het Eva die verkeerde keuse gemaak en gekies om haar eie wil te gehoorsaam bo die wil van God.  Die slang het Eva verlei en sy het weer op haar beurt vir Adam verlei om teen God se wil op te tree.  Daarna was God se woorde aan hulle: 

“Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil;  met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.”   Genesis 3:17,18

Satan het baie goed geweet dat hy die mens net sover moes kry om sy eie wil te gehoorsaam deur hulle in die versoeking te lei, want hy het geweet dat ongehoorsaamheid aan die wil van God sonde is, en dat sonde die geestelike hart van die mens verduister.  Wanneeer die geeshart van die mens duister is, skyn die Lig van God nie uit die hart van die mens nie, so die mens het dan geen outoriteit oor Satan nie.  Die mens sonder die Lig van God in sy geeshart, kan deur Satan beheer word soos ’n mariontpop en dit is hoekom Satan die mens sover moes kry om te sondig.  Oorspronklik het God die mens geskep na Sy beeld, wat beteken hulle geesharte was vol van die Lig van God, maar sonde het die Lig van God uit hulle harte geblus.  Dit is hoekom God gesê het hulle gaan sterf as hulle eet van die verbode boom – Hy het nie bedoel dat hulle fisies sou sterf nie;  Hy het bedoel dat hulle geestelik gaan sterf.  Met ander woorde, sonde blus die Lig van God uit die hart van die mens en dit veroorsaak dat die mens geen konneksie met God het nie.  Sonde veroorsaak ’n kloof tussen mens en God.  Wanneer die mens sondig, speel hy direk in die hand van Satan in en gee hy aan Satan mag, krag en beheer oor hom.   

Sonde het die verhouding tussen mens en God verwoes, en die mens kon nie meer met God wandel en met Hom kommunikeer nie.  Omdat God die tuin van Eden alleenlik geskep het vir Sy gehoorsame kinders wat met Hom wandel en Hom gehoorsaam, kon Hy nie toelaat dat Adam en Eva langer in die tuin woon nie.  Die tuin was dus apart van die wêreld, en die sonde van die mens het die wêreld vervloek, maar nie die tuin van Eden nie.  God het hulle toe uit die tuin uit weggestuur om te gaan woon in die wêreld wat deur hulle eie rebellie en ongehoorsaamheid vervloek is.  Hy het die tuin van Eden toegesluit en aan engele opdrag gegee om die tuin te bewaak.  Dit is dus nie God wat die aarde vervloek het nie, maar die aarde is vervloek deur die sonde van die mens, oftewel die verkeerde keuses van die mens deurdat hulle eerder hulle eie wil gevolg het as om God se wil te gehoorsaam.  Die gevolg was dat die mens ’n sukkelbestaan moes gaan maak in die wêreld wat deur sy eie toedoen (sonde) vervloek is.  God het dus die mens oorgelaat aan sy eie lot, want deurdat die mens die verkeerde keuse gemaak het, het hy opsetlik teen die wil van God opgetree.  Hulle was versoek deur die vyand en het die keuse gemaak om eerder die leuen van Satan te glo as om gehoorsaam te wees aan God en daardeur het hulle vervloeking oor die aarde laat losbars wat die lewe vir mens, dier en natuur baie moeilik maak. 

Omdat die Lig van God uit die hart van die mens geblus en sy hart nou duister was, kon die mens God nie gehoorsaam in die vervloekte wêreld nie.  God het berou gehad dat Hy die mens gemaak het en het almal van die aarde afgevee met die vloed, behalwe Noag en sy geliefdes.  Die populasie het weer gegroei en meer geword, maar nogsteeds kon hulle God nie gehoorsaam nie.  Hoekom nie?  Omdat die Gees van God nie in hulle harte teenwoordig was nie.  God het wel Sy Gees aan Sy profete gegee om aan die mensdom rigting en leiding te gee, maar die mensdom wou nie luister na die profete nie en het hulle eerder doodgemaak.  Daarna het God besluit om Sy Seun te stuur, want deur Sy Seun se gehoorsaamheid kon die Gees van God vrygestel word op die aarde om weer Lewe te gee aan die kinders van God en hulle Hom kan gehoorsaam.  Alleenlik wanneer die Gees van God Sy inwoning maak in die hart van die mens, is die mens in staat om gehoorsaam aan God te wees, dus om die wil van God te volg.  Alleenlik met die hulp van die Gees van God in die hart van die mens, is die mens in staat om sy eie vleeslike wil teë te staan, maar sonder die Gees van God, bly die hart van die mens duister en solank as wat die hart duister is, het die mens geen wilskrag om sy eie vleeslike wil teë te staan nie.  Ons het die Helper nodig!  Sonder die Helper – die Gees van God – is ons mense wat bestaan uit ’n leë dop – ’n dop sonder enige ware Lewe binne ons.  Ons word gebore as ’n vleeslike mens, gebore uit die wil van die mens, ons word nie gebore met die Gees van God in ons harte nie.  Niemand word heilig gebore nie!  Jy ontvang ook nie die Heilige Gees wanneer jy gedoop word as ’n baba nie, en ook nie wanneer jy as grootmens gedoop word nie.  Jy ontvang alleenlik die Gees van God wanneer jy sterf aan die ou mens en daar ’n Goddelike wedergeboorte binne jou plaasvind (Johannes 3).  Jesus het dus nie gesterf sodat ieder en elkeen wat vleeslik gebore word, sonder sonde gebore word nie.  Jesus het ook nie gesterf sodat elke Jan Rap en sy maat net die woorde kan sê:  “Ek glo in Jesus”, en gered is nie.  Jesus het nie gesterf om die wêreld vir ons ’n beter plek te maak nie – ek dink ons almal kan dit sien deur die chaos om ons.  Jesus het nie gesterf sodat ons almal se sondes op die daad vergewe is en ons maar kan aanleef soos ons wil nie.  Jesus het gesterf uit gehoorsaamheid aan Abba Vader om die Gees van God vry te stel wat die mens gekort het, want sonder die Gees van God in sy hart, bly sy hart duister en het Satan altyd beheer oor hom.  Sonder die Gees van God, volg die mens sy eie kop en sy eie wil wat altyd vir hom vervloeking sal skep.  Ons skep dus vir onsself vervloeking wanneer ons ons eie wil leef en net soos God vir Adam en Eva uit die tuin uit weggestuur het om te gaan woon in die vervloeking wat hulle vir hulleself geskep het, net so gaan God ons ook oorlaat aan ons eie lot wanneer ons vir onsself vervloeking skep deur ongehoorsaam te wees aan die wil God.  Ons het die Gees van God meer nodig as wat ons suurstof nodig het, maar die Gees van God sal alleenlik Sy inwoning maak in die hart van die mens wanneer die mens die keuse maak om sy lewe oor te gee in die hand van Abba Vader.

Ons kan weer die verhouding met Abba Vader hê wat Adam en Eva met Hom gehad het voor die sondeval, dit is wat God van ons wil hê!  Verhouding met Hom!  Om tyd saam met Hom te spandeer!  Om die dinge van die wêreld bietjie eenkant toe te skuif en Hom ons eerste prioriteit te maak.  En hierdeur sê ek nie ons moet ophou werk om ’n lewensbestaan te maak nie, want om fisies te lewe, sal ons altyd moet werk, maar ons kan ’n balans hê en God verheerlik in ons alledaagse werk, solank God altyd eerste kom in ons lewe. 

  

                 

Kruisiging van self / wedergeboorte

kruisiging van self

As jy die vorige saadjie gelees het, sal jy sien die skare mense ontvang ’n vals gees deur die geestelike rook wat ’n vuur afgee.  Hierdie vuur is nie die vuur van God nie, maar ‘n vreemde vuur wat ’n vreemde gees vrystel en hierdie vals gees kan baie maklik mense beset wat nog nie tot ware bekering en wedergeboorte gekom het nie.  Dit is mense wat beweer dat hulle bekeerd en wedergebore is, dat hulle glo in Jesus, maar dit is net met die mond, nie met die hart nie.  Mense wat nog nie wedergebore is nie, maar die Gees van God afsmeek by Hom, se motief is altyd vals, want die mens wat nog nie weergebore is nie, het nog nie die self afgesterf nie en as die self nog nie afgesterf is nie, gaan alles wat hierdie mens doen om die self te verheerlik.  Hulle wil dus die Gees van God of die gawes van God hê om die self op te bou en te verheerlik of dat die wêreld kan sien hoe “heilig” hulle is.  Hulle wil die wonderwerke van Jesus doen, mense genees, water in wyn verander, duiwels uitdryf…  Ek herhaal:  Die mens wat nog nie wedergebore is nie, het nog nie die self afgesterf nie as en die self nog nie afgesterf is nie, draai alles wat die mens doen, om die self!  Hulle smeek dus vir God om hulle te vul met die HG om die self op te bou in die wêreld… dit gaan nie vir hulle om die eer van God of Sy koninkryk nie, maar om eer en heerlikheid vir die self bymekaar te maak.  Hulle wil groot, heilig en belangrik lyk vir die wêreld… net soos die Fariseërs van ouds.  Hulle wil groot “werke vir God” doen, maar eintlik gaan dit nie oor God nie, maar om raakgesien te word deur die wêreldmense.  Hulle wil die werke van Jesus doen, maar hulle is nie bereid om dieselfde lydingspad as Jesus te stap nie.  Mense soek die krag van God, maar verloën God daardeur en dit is hoekom Abba Vader Sy Gees nie sal gee aan mense wat nog nie wedergebore is nie. God ken mos die motiewe van ons hart, Hy ken die geheime wat ons diep in ons harte probeer wegsteek, maar ons kan niks vir Hom wegsteek nie.  God weet mos wanneer iemand nie ware berou oor sy lewe het nie, Hy weet as die mens nog nie die self aan Hom geoffer het nie – Hy weet as die mens nog nie die self gekruisig het nie.  

“Toe sê Jesus vir Sy dissipels:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor;  maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind’.”         Mattheus 16:24,25 (AFR33/53) 

Wat beteken dit om ons kruis op te tel en Jesus te volg?  Om die self te kruisig?  Hoe kom ons daarby uit?  Eerstens begin dit by sonde-erkenning, om te kies om ons sondes raak te sien, om die lelik in onsself raak te sien.  Dit is hoekom God aan ons Sy Woord gegee het, want Sy Woord is die Lig wat ons sondes aan ons openbaar.  Dit skyn ’n Lig op ons sondes sodat ons dit kan raaksien en erken aan God.  Ons moet ons sondes aan God bely en die keuse maak om ons rug daarop te draai.  Die probleem is:  Ons spandeer te min tyd by die voete van Abba Vader in afsondering, want hierdie is ’n proses wat plaasvind by die voete van Abba Vader waar Hy ons leer en ons lei, maar die wêreld het mos ’n afsku aan afsondering.  Die wêreld vemaan ons om God in ’n kerk te gaan ontmoet, dat jy nie gemeenskap met die heiliges mag afskeep nie, maar daar staan ook in die Bybel dat ons alleen in ons binnekamers moet ingaan en daar tot God bid.  Jesus het baie in afsondering teen die berg opgegaan om tot Sy Vader te bid, Hy het baie in afsondering inbeweeg… hoekom staan die wêreld die voorbeeld van Jesus teë?  Om eerder in ’n tempel te gaan aanbid?  God sê ook Hy is nie teenwoordig in tempels wat met mensehande gemaak is nie, maar God wil in jou hart Sy woning maak en Hy kan alleenlik in jou hart Sy woning maak as jy jou hart in Sy hande plaas, as jy jou hart aan Hom offer, as jy jou lewe aan Hom oorhandig, as jy jou wil onderdanig maak aan die wil van God, maar vandag se mense wil nie die wil van God raaksien, aanvaar en leef nie, hulle probeer eerder God se arm draai om Sy wil te verander om hulle te pas.  Hulle bid so teenstrydig, want in een asem sê hulle vir God:  “Laat U wil geskied!” maar in die volgende sin smeek hulle God om te doen wat hulle van Hom vereis…. dit maak net nie sin nie….

   Baie keer is ons so verblind vir ons eie sondes, want die Ou, verslete bruidsrokke (godsdiens) wat ons aanhet, verbloem ons ongeregtighede.  Godsdiens is die een groot gruwel wat mense weerhou om hulle sondes raak te sien, want hulle glo hulle is outomaties gered deur die sterfte van Jesus aan die kruis, maar alhoewel Jesus geweet het Hy gaan sterf aan die kruis, het Hy nogsteeds die mense vermaan om hulle kruis op te neem en Hom te volg.  Jesus het dit ook baie duidelik gestel dat die mens nie die Koninkryk van God sal sien as hy nie weergebore is nie (Joh 3), maar voordat die mens weergebore kan wees, moet daar eers ’n sterfte wees.  Die koringkorrel moet eers in die grond val en sterf voordat dit kan vrug dra (Johannes 12:24).  Sonder ’n geestelike sterfte aan die self, kan daar ook nie ’n geestelike geboorte wees nie en dit is die probleem met die mense by die vals vuur wat ’n vals gees ontvang.  Hulle is nog geklee met verslete bruidsklere, hulle het nog nie die ou mens afgesterf nie, maar nogsteeds wil hulle die Gees van God ontvang.  Hulle soek ’n “quick fix” sodat dit beter in hulle lewens moet gaan;  ander soek weer die Gees van God sodat hy “groot” in die oë van die wêreld kan wees.  Hy wil die werke van God doen, maar net om raakgesien te word in die wêreld.  Wat was die groot “werk” wat Jesus gedoen het?  Nie die wonderwerke wat Hy gedoen het nie, want Jesus sê self in die Woord God het Hom die werke laat doen om te getuig dat Hy die Seun van God is.  Die grootste “werk” wat Jesus gedoen het, was om Sy Vader te verheerlik deur gehoorsaam te wees om te sterf aan die kruis… presies DIT waarvoor die wêreldmense wegskram… hulle wil die Gees van God hê om die wonderwerke van Jesus te kan doen, maar die grootste “werk” wat moet plaasvind, sien hulle nie voor kans nie – om die lydingspad te stap en die self te kruisig, om die self en die self se lewe te offer aan God.  Sonder kruisiging van die self, kan die mens nie die Gees van God ontvang nie, alleenlik ’n vals gees.  Hierdie vals gees kan ook “wonders” doen, maar alles kos ’n prys en in hierdie geval is die prys die ewigheid…

Die mensdom soek die vuur van God in hulle harte – dit is die Gees van God – maar om ’n vuur aan te steek, word hout benodig.  As die mens nog nie die self gekruisig het nie, is daar geen hout van die kruis wat gebruik kan word om ’n vuur aan te steek nie.  Daar is net vals hout wat afgodshout is en dit is die vuur wat met afgodshout aan die brand gesteek word.  Dit is die vuur wat die swart rook afgee wat die mense inasem en in ’n beswyming plaas.  Hierdie swart rook wat hierdie vals vuur afgee, is ’n vreemde vuur met ’n vreemde reuk wat God nie kan behaag of verheerlik nie.  Dit is hierdie vreemde vuur wat ‘n vals gees gee aan mense met onbekeerlike harte wat nie bereid is om die self te kruisig nie.  Hierdie mense se dormante harte gaan aan die brand slaan met hierdie vreemde vuur, maar die reuk wat hulle harte afgee, is nie tot die heerlikheid van God nie.  Dit kan God nooit behaag nie!  Dit gaan net die self behaag en die mens belangrik laat voel in die wêreld.  Dit is die werk van Satan en sy sluwe trawante.

Daarteenoor sal die mens wat die die hand van Jesus gevat en saam met Hom die lydingspad na Golgota gestap het, tyd spandeer by die voete van Abba Vader en sy begeerte sal wees dat Abba Vader aan hom sal openbaar waar hy verkeerd leef.  Hy sal ’n begeerte hê om sy ongeregtighede te besef en dit neer te lê voor die voete van Abba Vader.  Hy sal ’n begeerte hê om die mens wat hy is of was, af te sterf;  hy sal homself verag!  Jesus stap die pad saam met so ’n mens en die Lig openbaar aan hom sy ongeregtighede.  Soos hy sy sondes en ongeregtighede besef en die keuse maak om dit te laat staan, sterf hy bietjie-bietjie die self af.  Omdat hierdie mens ’n begeerte het om die ou mens af te sterf, is daar kruishout wat gebruik kan word om die vuur in sy hart aan die brand te steek.  Hierdie mens is waaragtig bereid om die self, sy lewe en sy hart aan God te offer en daarom brand Abba Vader so ’n persoon se hart skoon van al sy ongeregtighede.  Die Gees van God kan dan in die skoongebrande hart Sy woning neem en die Vuur van God brand dan uit hierdie persoon se hart.  Dit is hoekom Johannes gese het dat Jesus nie met water alleen doop nie, maar ook met Vuur!

“Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.  Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”                                                                                                Mattheus 3:11 (AFR 33/53)

M.a.w die skare mense wat die vreemde vuur se rook inasem, is diegene wat nie hulle kruise gedra het nie, want hulle sien nie kans vir die lydingspad nie.  Hulle volg nie die voorbeeld van Jesus nie, hulle sterf nie die self af nie, hulle is nie bereid om hulle harte en lewens te offer aan God nie, so is hulle ook nie wedergebore nie.  Dit laat my dink aan die towenaar, Simon, van Handelinge 8 wat die Gees van God wou gehad het.  Hy het die apostels geld aangebied sodat hy die Gees van God kon ontvang, want hy wou ook die “werke” of wonders doen wat hulle doen.  Vals mense van vandag verskil nie veel van Simon die towenaar nie, want hulle wil ook die Gees van God om die verkeerde redes hê… sodat dit moet goedgaan in hulle lewens, met finansies, huwelike ensovoorts… alles behalwe om God te verheerlik. 

Selfondersoek 

Vra jouself die vraag:  Hoekom smeek jy die Gees van God by Hom af?  Hoekom wil jy die Vuur van God in jou hart hê?  Wat is jou WARE redes en motief?  Om ander die hande op te lê en hulle gesond te bid?  Om water in wyn te verander en “gesien” te kan word deur die wêreld?  Om belangrik te wees in die oë van die wêreldlinge?  Of is dit om God te verheerlik daardeur?  Tot Sy eer?

Het jy waarlik tot bekering gekom?  Het jy ware berou oor jou sondes en die mens wat jy is of was?  Het jy waarlik ’n begeerte om ’n beter mens te wees?

Het jy die self al afgesterf?  Het jy al jou eie wil aan God geoffer?  Is dit jou begeerte dat God deur Sy Lig elke dag jou ongeregtighede aan jou openbaar sodat jy daaroor kan heers?  Of dink jy dat jy vergewe is vir jou sondes omdat jy kerk toe gaan, maar jy leef die res van die week soos jy wil?  

As jy hierdie vrae eerlik aan jouself geantwoord het, sal jy weet of jy al die self gekruisig het of nie.  Jy sal dan weet of daar hout van die kruis beskikbaar is vir God om die Vuur in jou hart aan die brand te steek of nie…  Alleenlik wanneer die mens die voorbeeld van Jesus volg en die self kruisig en afsterf, verskaf hy kruishout sodat die ware Vuur van God kan brand in sy hart.  Die mens wat nie bereid is om die lydingspad te stap en die self oor te gee aan Abba Vader nie, verskaf geen kruishout nie, maar afgodshout wat ’n vreemde vuur in sy hart laat vlamvat wat nie tot eer van God kan strek nie, maar alleenlik tot eer van die self.     

“Toe sê Jesus vir Sy dissipels:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor;  maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind’.”                                                                                               Mattheus 16:24,25 (AFR33/53) 

 

Ekstra saadjies:

Vals “Heilige Gees”

Bekering

Ou, verslete bruidsrokke

 

 

 

 

Vals “Heilige Gees”

vals hout

Vra jouself eerlik hierdie vraag en dink eers bietjie daaroor voordat jy die saadjie lees:  

Hoekom wil jy graag vervul word met die Heilige Gees?  

Is dit om God daardeur te verheerlik?  Of sodat jy verheerlik kan word daardeur?  Sou jy graag die HG wou ontvang uit liefde vir Abba Vader of uit liefde vir jouself?  Tot eer van God of tot eer van jouself?  Om genesing te bekom of om ander te genees?  Om ’n lewe van voorspoed en suskses te kan beleef?  Sodat dit beter met jou moet gaan?  Mense wat om die selfsugtige “eie-ek” redes die Gees van God soek, sal nie die ware Gees ontvang nie, want God ken die motief van elkeen se hart en Hy gee Sy Gees alleenlik as die motief van die mens opreg is.  Vals motief-mense kan wel ook ’n gees ontvang wat hulle verwar met die Heilige Gees van God, maar dit is ’n vals heilige gees.  Onthou net, Satan boots alles van God na en hy het selfs ’n vals heilige gees wat sommige gawes van God kan naboots.

Onder gebed wys Abba Vader my ’n groot groep mense wat rondom ’n brandende vuur staan.  Wat my dadelik opval is die dwarrelende, dansende swart bolle rook wat die vuur afgee.  Voor hulle is ’n persoon wat oor hulle bid en die Vuur van God (of die Gees van God) vra of beveel om die mense te vul.  Die dansende rookbolle beweeg tussen die mense in en soos die mense die rook inasem, gaan hulle in ’n tipe beswyming.  Party val om, ander praat in tale, ander gil en skree met die hande in die lug – dit lyk eerder soos ’n sirkus in chaos!  Die swart rook wat hulle inasem, affekteer hulle totale wese.  Wat is hier aan die gebeur?  Hierdie mense glo dat hulle die Heilige Gees van God, of die Vuur van God, ontvang het, maar al die tyd het hulle het ’n vals gees ontvang wat die gawes van die ware Heilige Gees naboots.  Abba Vader verduidelik dit vir my op die volgende manier: 

In die vorige saadjie het ek vertel van die swart sambreel wat oor mense se koppe hang (as gevolg van ongehoorsaamheid aan God) wat die seën van God afkeer, dus kan die seën van God nie inreën in hierdie mens se hart nie – net so kan die Gees van God nie die mens se hart vul wat nog ’n swart sambreel oor sy kop dra nie.  Mense om die vuur het nog ’n swart sambreel oor hulle koppe,  sy eie sondige lewenswyse veroorsaak hierdie vervloeking oor en in hom.  God gee nie Sy Gees aan ’n mens met ’n swart sambreel oor sy kop nie, so hoe kan die Gees van God hulle harte vul as God alleenlik Sy Gees laat lewe in mense wat sonder ’n swart sambreel in Sy Lig staan?  In Johannes 14:23 sê Jesus: 

“As iemand My liefhet, sal hy My woord bewaar, en My Vader sal hom liehê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar My woorde nie…”

Die mens wat God liefhet en Hom gehoorsaam, asem nie swart rookbolle uit wat ’n swart sambreel oor sy kop laat ontvou nie en as die motief van hulle harte opreg en uit liefde vir Abba Vader is, sal God Sy Gees laat lewe in en deur hierdie persoon, so hierdie persoon ontvang dan die ware Gees van God direk van God af.   Maar moenie ’n fout maak nie… hierdie mense het ook eens op ’n tyd ’n swart sambreel oor hulle koppe gehad wat die Woord, seën en Gees van God verhoed het om in hulle hart in te val, maar hulle het op ’n stadium in hulle lewe die keuse gemaak om die Lig van die Woord van God toe te laat om hulle sondes aan hulle te openbaar sodat hulle dit kon neerlê voor die voete van God en soos hulle hul sondes aan God bely, het hulle vergifnis ontvang en het die sambreel al hoe kleiner geraak totdat dit later in die niet verdwyn het.  God gee dan aan hierdie mens krag om oor sy sondes te heers en daarom asem hy nie meer swart rookbolle uit nie, maar skyn sy hart die Lig van God uit.  Hierdie mense het die keuse gemaak het om hulle kruis op te tel en Jesus te volg… maak nie saak wat nie!  Hulle motief was nie om die Gees van God te ontvang sodat hulle die wonderwerke van Jesus kon doen en god kon speel nie, hulle motief was suiwer omdat hulle besef het hulle moet die ou mens afsterf om weer gebore te word.  Hulle het die sondige mens in hulleself raakgesien en verag, en God gesmeek om hulle te help en krag te gee om te sterf aan die ou sondige mens.  

God gee Sy Gees aan die mens alleenlik wanneer Hy weet die mens se motief is opreg.  As die mens die begeerte het om God beter te leer ken, om Hom te gehoorsaam, om Hom tevrede te stel, om eer aan Hom te bring deur ’n skoon lewe, om vrugte te dra tot eer en heerlikheid van God, dan sal hierdie mens die lelik in homself eers begin raaksien.  Hy sal besef hoe vuil sy lewe is, hoe besmet hy met sonde is en hy sal opreg berou hê oor die mens wat hy is.  As hierdie mens vir God vra om hom te help, sal God nooit anderpad kyk nie, Hy help ons altyd as ons net bereid is om ons ongeregtighede raak te sien.  Ons het nodig dat die Lig van God ons verkeerdhede aan ons openbaaar en as ons bereid is om ons trots en hoogmoed eenkant te plaas, en ons verkeerdhede kan vasvat en dit teëstaan, sal God ons help daarmee. 

  Geen mens kan die motief van sy hart vir God wegsteek nie.  Die mens wat nie bereid is om sy sondes te laat staan en God te gehoorsaam nie, dra nie sy kruis nie, maar smeek nogsteeds die Heilige Gees of die Vuur van God op hom af om die verkeerde redes…  Dit is diegene wat God nie waarlik liefhet nie, want as Hom liefgehad het, sou hulle Hom gehoorsaam het (1 Joh 2:3,4); hulle steur hulle nie aan die Woord van God nie en hulle is nie gehoorsaam aan God nie (al behoort hulle aan ’n kerk).  Daar hang dus ’n swart sambreel oor hulle koppe wat die seën van God afkeer.  Ongehoorsaamheid veroorsaak ’n swart sambreel oor die mens en verhoed dat God Sy woning in die mens maak, so hierdie mens kan nie met die Gees van God vervul word nie, maar hy kan nogsteeds ’n vals gees ontvang wat die werke van God probeer naboots… ongelukkig is dit van satan af.  Wanneer Satan aan die mens sy vals gees gee, sien hulle hulleself as heilig;  trots, hoogmoed en arrogansie groei soos ’n kanker in hulle binneste en straal uit hulle uit;  hulle sien nie die rede om hulle sondes neer te lê nie; inteendeel, hulle sien hulleself as sondeloos en sommiges gaan sover om hulle sondes heeltemal te ontken.

AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die Waarheid is nie in ons nie.  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.  As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.  1 Johannes 1:8-10

  Sommiges gaan selfs so ver om van hulself ’n god te maak en aanvaar dat hulle outoritei en mag van God ontvang het om allerhande snaakse goed te doen en te spreek.  Met ander woorde, mense wat nie die keuse maak om tot ware bekering te kom nie, stap ook nie die pad van heiligmaking waar hulle hulle kruise dra nie.  Hulle is nie bereid om die ou sondige mens af te sterf nie.  Hulle is deel van die groep wat glo dat Jesus se kruisdood almal se sondes outomaties vergewe het en dat dit nie saakmaak hoe hy lewe nie, want hy is mos alreeds vergewe! Lees asb die saadjie: Is die hele wereld se sondes op een slag vergewe?  Wanneer hulle smeek om vervul te word met die HG, is dit gewoonlik om vals voorwendsels… om die gawes van die Gees te gebruik tot hulle eie eer.  Hulle wil die mag en outoriteit hê wat Jesus oor Satan en sy demone gehad het, maar hulle is nie bereid om die pad te stap wat Jesus gestap het nie.  Hulle wil die werke van Jesus doen wat hulle goed kan laat lyk, maar wat is die grootste “werk” wat Jesus gedoen het?  Om uit gehoorsaamheid die pad na Golgota te stap, om nie terug te praat toe hulle Hom gevloek en gelaster het nie, om ’n doringkroon te dra, om die houe een vir een te vat en die spykers deur Sy hande te laat boor.  Is hierdie mense bereid om dieselfde pad as Jesus te stap en hul kruis te dra?

Vra jouself nou weer die vraag:  Hoekom wil jy gevul wees met die Heilige Gees?  Om al die gawes van die Gees te kan ontvang en wonderwerke te kan doen?  Om die Gees van God te ontvang is nie ’n kitsoplossing vir ’n beter lewe nie, want God gee nie Sy Gees aan ’n mens met hierdie motief nie….  maar dit is juis vir hierdie mense waarvoor Satan sit en wag, want hy is mal daaroor om sy vals “heilige gees” of vuur oor die mense te laat val… mense wat nie tot ware bekering gekom het nie, wat hulle nie steur aan die Woord van God of tyd met Abba Vader in hulle binnekamer nie;  mense wat nog ’n swart sambreel oor hulle koppe hou, mense wat nie hulle kruis dra nie…  Hulle ontvang ‘n vals gees en volg die dwaalleringe wat Satan uitgedink het en die ergste van alles… hulle versprei hierdie vals leringe deur die wêreld en so baie naïewe, soekende mense raak die prooi van die wolf.

  Opgesom:  Die mense rondom die vuur het nie waarlik “surrender” aan Abba Vader nie, hulle het nog nie waarlik hulle eie wil voor die voete van Abba Vader neergelê nie, hulle het nog nie hulle harte en lewens aan Hom geoffer nie, hulle het nog nie die pad van heiligmaking saam met Jesus gestap en hulle kruise gedra nie, hulle het nie gesterf aan die self nie en die mens wat nie die ou mens afgesterf het nie, se hart word nie vervul met die ware Gees van God nie.  Die vuur waarrondom die mense gestaan het, was aan die brand gesteek met afgodshout, dit het nie gebrand met kruishout nie, so die groot probleem is die rook wat deur die hout afgegee word wat die mense in ‘n beswyming laat gaan en glo dat hulle die ware Gees van God ontvang het.  Die rook verduister inteendeel net verder hulle geesharte en vererger hulle toestand van geestelike blind- en doofheid.   

Die Bruilofskleed

Lig

“En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan?’ En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min is uitverkies.”
Mattheus 22:12,13 (AFR33/53)

Continue reading Die Bruilofskleed

Bekering

IMG_0403

“Maar selfs nou nog, spreek die Here, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat — ’n spysoffer en ’n drankoffer aan die Here julle God.” Joël 2:12-14 (AFR33/53)

Continue reading Bekering

Uitnodiging na die Bruilofsfees

images

“Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: ‘Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.’ Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte: ‘Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.’ En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n builofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan?’ En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min is uitverkies.”
Mattheus 22:2-14 (DB)

Continue reading Uitnodiging na die Bruilofsfees

Wat is die Liggaam van God?

62A8CE50-4DF4-47FA-9455-4F92E0ADE0E1
In Daniël 2 het koning Nebukadnesar ’n droom gehad oor ’n groot beeld:  Sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.  Daar het toe sonder die toedoen van mensehande ’n klip losgeraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp.  Die yster, klei, koper, silwer en goud is tegelykertyd fyngestamp en dit het soos kaf geword van die dorsvloere wat die wind wegneem sodat daar geen spoor daarvan gevind is nie, maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.

 

God gee aan Daniël die uitleg van die droom:  Die koning is die hoof van goud;  daarna sal die een koninkryk na die volgende koninkryk opstaan, maar al bestaan al hierdie koninkryke uit die sterkste materie, sal hulle nie bly staan nie, want daar sal ’n tyd aanbreek wat hierdie koninkryke verbrysel sal word en ’n einde daaraan gemaak sal word.  God sal ’n Koninkryk verwek wat tot in ewigheid nie vernietig sal word nie;  dit sal vir ewig bly staan. (Daniël 2:44)

 

Daar is ’n groot verskil tussen ’n liggaam (kleinletter l) en die Liggaam (Hoofletter L) van God.  Hierdie beeld is niks anders as die sogenaamde wêreldse liggaam van God nie.  Kerke oor die hele wêreld gee aan hulleself die eer en heerlikheid as die liggaam van God, maar kan hulle regtig daardie eer aan hulleself toeskryf?  As hulle wortels hulle ontstaan uit God gehad het, sou hulle nog daardie eer gehad het, maar die meeste kerke en leraars het hulle ontstaan uit ideologie en nie uit God nie, so waar lê die oorsprong van kerke?  Waarin is kerke gewortel?  Waar kom al die leerstellings, ideologieë, rituele, wette en reëls vandaan?  Hoe seker is ons dit kom van God af?  Is dit nie net ’n spul verskillende idees uit die menslike brein nie?  Soveel van die kerke se idees stem nie eers ooreen met die Woord van God nie.  Dink bietjie terug aan al die kerkreëls jare terug… toe die kerk apartheid en rassisme aangewakker het, maar nogsteeds het die mens die kerk en sy reëls aangehang? Is dit regtig van God af om ander rasse so te hanteer as God die herskepper van mense se harte is, nitemin die kleur van de vel… Wat van al die verbonde van die kerk?  Dit staan nie in die Woord nie, so waar het dit dan sy ontstaan gehad?  Doen jouself ’n guns en gaan lees op oor die verbonde van die verskillende kerke, dit is skrikwekkend!

Die verskillende kerke kan nie eers saamstem oor verskeie sake nie, so selfs die kerke is verdeeld.  Hulle kan nie versmelt nie omdat hulle ontstaan uit verskillende bronne is.  As hulle ontstaan uit God was, sou hulle almal mos dieselfde idees van God af gehad het en sou hulle almal mos saamgestem het oor sake.  Die kerke vorm saam die beeld wat uit verskillende dele van verskillende materie bestaan wat nie met mekaar kan versmelt nie, maar as dit nie met mekaar kan saamsmelt nie, hoe kan dit saamwerk?  As elke deel van die beeld sy afkoms van dieselfde bron gehad het, sou die dele mos uit dieselfde materie bestaan het en dan sou hulle kon saamsmelt as ’n beeld in geheel.  Daar sou daar verstandhouding, eenheid en samewerking gewees het tussen die dele van die beeld, maar hoe kan byvoorbeeld yster en klei met mekaar vermeng?  Net so min kan die kerke met mekaar vermeng, so hoe kan die kerke hulleself die liggaam van God noem?  As hulle wel die Liggaam van God was, sou hulle as ’n eenheid kon saamwerk, maar nou wil hulle mekaar eerder vermorsel.  As die liggaam sy eie arm wil vermorsel, hoe kan so ’n liggaam saamwerk?  Wat van die bloed wat deur die liggaam pomp om lewe aan die liggaam te gee?  Kan dit God se bloed wees wat deur die liggaam pomp?  Of funksioneer elke deel met sy eie bloed sodat die liggaam ’n deurmekaarspul is van verskeie tipe bloed?  As die hele liggaam met dieselfde bloed funkioneer het, sou elke deel dieselfde nutriente ontvang het, dan sou almal se idees en voorstellings dieselfde gewees het, dan sou daar eenheid gewees het en sou die dele uit dieselfde materie bestaan het.  As hierdie die liggaam van God was, hoekom wil God dan die beeld verbrysel deur dit met ’n klip te tref dat dit in fyn stukkies spat en wegwaai in die wind?  Daniël 2:43 sê:

 

“Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het – hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.”  

 

Die Engelse vertalings sê:

 

“they will combine with one another in the seed of men;  but they will not merge (for such diverse things or ideologies cannot unite)

 

Alhoewel daar onderlinge gemeenskap is tussen die dele, sal hulle nie vermeng kan raak met mekaar nie;  hulle sal nie een kan raak met mekaar nie.  Dit is omdat elke deel op ’n ander fondasie opgebou is, elkeen se ideologie kom van ’n verskillende bron, dit kom nie van God af nie, dit bots met mekaar en daarom kan die dele nie vermelt nie.  Alhoewel hulle voorgee dat daar die wonderlikste gemeenskap onder mekaar is, bly daar altyd wrywing, daar bly altyd ’n  tipe van ’n geïrriteerdheid, kompetisie en jaloesie.  Die Skrif wat ieder en elkeen probeer gebruik om sy kerktradisie te beskerm, is Hebreërs 10:25 dat ons gemeenskap met die heiliges moet hê!  Hierdie Skrif is maar net weer een van die baie Skrifte wat nie deur die Gees van God aan die mens interpreteer nie.  As jy die Woord van God fyn gaan lees, gaan jy sien die Woord is deurtrek daarvan dat ons gemeenskap met Hom moet hê, dat ons in ’n verlore toestand is as ons nie met Hom gemeenskap het nie, maar daardie Skrifte sien die mens mos nie raak nie…  Hy sien en hoor wat hy wil sien en hoor, dit wat maklik en lekker is;  hy sien en hoor nie dit wat vir God belangrik is nie.

 

Waar kom kerke daaraan dat hulle die liggaam van God is? Daar is Skrifte in die Woord van God wat handel oor die Liggaam van God en hoe Hy Sy Liggaam oprig, maar ek kan nie verstaan hoe kerke daardie Skrifte kon vat en dit van toepassing maak op die fisiese kerk en sy gemeente nie.  Kerke is nog al die jare besig om die mensdom te breinspoel en hulle gemeentes gerus te stel dat hulle die liggaam van God is en mense glo hierdie blatante leuens!  Mense glo waaragtig as hulle kerk toe gaan en hoor Jesus het vir hulle sondes gesterf, hulle gered is tot in ewigheid en dat hulle deel is van die liggaam van God.  Die enigste liggaam waarvan hulle deel is, is die liggaam van die beeld van Daniël 2 wat God gaan verbrysel.  Hulle is nie deel van die Koninkryk van God nie, want God rig self Sy Koninkryk op!  God rig self Sy Liggaam op.  Hy vra nie aan mense om dit vir Hom te doen nie, want Hy weet die meeste mense gaan dit doen tot heerlikheid van hulleself.  God besluit self wie watter gawes moet ontvang en Hy stel self Sy herders, profete, leraars en evangeliste aan.  God gebruik nie die wêreld en sy teologiese of ideologiese sisteem as Sy werkers nie;  Hy bou self Sy Liggaam op.  Mense wat in die wêreld gewortel is, oftewel in die kerk, kan nie deel van God se Liggaam wees nie, want hulle is gewortel in die bose sand van die wêreld.  Om deel te wees van die Liggaam van God, beteken om eerstens in God gewortel te wees.

 

Kerke het ’n fyn manier om die mense om die bos te lei en hulle skuldig te laat voel wanneer hulle nie kerk toe gaan nie.  Ek luister nou die dag na ’n preek op die internet van ’n leraar aan wie se lippe ek gehang het nog voordat ek tot ware wedergeboorte gekom het.  Daardie tyd het ek geglo ek is ’n weergebore Christen, maar vandag weet ek ek was beslis nie.  Ek was deel van die beeld wat homself wil sien as die liggaam van God, wat die leuens van die wêreld en die kerk geglo het.  Die leraar manipuleer sy gemeentelede, asook die wat oor die internet luister, om te glo dat as jy nie deel is van ’n fisiese kerk nie, jy nie deel is van die liggaam van God nie en jy vir altyd verlore sal wees.  Met ander woorde, volgens hom, MOET jy kerk toe gaan en deel wees van ’n gemeente om aan God te behoort.  Waar in die Woord staan dit?  Volgens hom is ieder en elkeen wat nie aan ’n kerk behoort nie, geestelike siek en verlore en kan so ’n persoon nie in God glo nie…  Waar in die Woord staan dit?  Was Jesus deel van ’n kerk?  Nee, Hy was eerder vervolg deur die kerke en hulle leiers, Hy was weggejaag uit die kerke uit!  En hoekom?  Omdat Hy die Waarheid gepraat het en net soos vandag, wou daardie tyd se mense nie die Waarheid hoor nie.  Hulle wou hoor dat hulle gered en veilig is as hulle deel van die kerk is en maak soos die kerk sê!  As hulle al die reëls van die kerk volg, lei dit tot geestelike hoogmoed…  Was Jesus geestelik siek en verlore?  Inteendeel, wie was die mense wat regtig geestelik siek en verlore was?  Was dit nie die arrogante, hoogmoedige kerkmense nie?

 

Tog is dit interessant om te sien dat al hoe meer mense die valsheid in kerke begin agterkom en breek met die tradisie van kerk.  Alleenlik dan begin hulle Abba Vader persoonlik ken.  Dit is hulle wat ontwortel word uit die kerk wat dan direk in die hart van God ingroei en stewig geanker raak in Hom.  Hulle ontvang direk bloed en lewe vanaf Abba Vader, hulle het nie ’n medium nodig om God te ken nie… en Satan begin sidder!  Dit is juis wat hy probeer teëstaan!  Hy wil nie hê ek en jy en soveel daar buite moet in die hart van God gewortel raak nie, want hy weet ons gaan Abba Vader persoonlik leer ken en ons geestelike sintuie gaan begin ontwaak om al die leuens in die wêreld raak te sien.  Hy weet jy gaan dan raaksien wat regtig in kerke aan die gang is en hy probeer met alles binne hom dit keer.  Daarom preek hy deur leraars en probeer hy die mensdom manipuleer om nie die kerk te verlaat nie, want as jy die kerk verlaat, is jy nog een wat losbreek uit sy duistere, vuil, bose kloue!

 

Om deel te hê aan die Koninkryk of die Liggaam van God, beteken om direk in God gewortel en geanker te wees en dit kan alleenlik gebeur wanneer ons in afsondering baie tyd met Abba Vader spandeer in Sy Woord, asook in stilte by Sy voete.  Dit is die enigste manier hoe ons Abba Vader leer ken.  Dis regtig tyd dat die mens sy fisiese ore begin toedruk vir dit wat in die wêreld versprei word en sy ore begin spits by die voete van Abba Vader.  Dit is tyd dat God se kinders begin wakker skrik, die leuens begin raaksien wat hulle gevange hou in die duisternis en met ’n skok besef dat hulle al die jare gebreinspoel is deur die kerk en sy leuens.  Die mens word alleenlik deel van God se Liggaam wanneer hy gewortel raak in God, want dan ontvang die mens die lewe en die bloed direk van God af en leef Jesus in en deur ons.  Daar is ’n vers in The Message wat dit so mooi stel:

 

Ephesians 4:16
“His very breath and blood flow through us, nourishing us so that we will grow up healthy in God, robust in love.”

 

Dit kom alles maar net weer terug na een punt toe:  Ons moet gewortel raak in die hart van Abba Vader.  Alleenlik dan neem God ons oor en vloei Sy lewe en bloed deur ons.  Hy rus ons op hierdie manier toe vir ons Goddelike taak wat Hy deur ons wil doen en dan maak Hy ons deel van Sy Liggaam…nadat Hy ons opnuut verander het na Sy wil!  Lees ook asseblief die saadjie oor die seesterre wat saamgevoeg word in Liefde. Uitgewerpte seesterre
Eers wanneer God Sy kinder saamgevoeg het in Liefde, vorm hulle die Liggaam van God en dan eers het die kinders van God onderlinge gemeenskap met mekaar, maar dis baie belangrik dat ons besef ons moet eers gewortel wees in God;  ons moet eers Sy Liefde en bloed ontvang en daarop leef voordat ons ware gemeenskap kan hê met ons broers en susters wat ook deel is van die Liggaam van God.  Omdat dieselfde bloed en lewe deur die lede van God se Liggaam vloei, sal daar vrede en ware gemeenskap wees tussen die lede, nie skynheilige gemeenskap en eenheid nie.  Eers wanneer ons een is met God, kan ons een raak met die res van die heiliges wat alreeds ook een in God is.  Met ander woorde, eers gemeenskap met Abba Vader en dan gemeenskap met die Sy kinders.  Dit is so andersom as wat die wêreld se kerke dit wil doen:  Hulle sê die mens moet een raak met die kerk, gemeenskap hê met die heiliges en op so ‘n manier word jy deel van die liggaam van God.  Twee mense kan nie een met mekaar word en daarna saam in God versmelt nie, dit werk nie so nie.  Sommige kerke het net een gedeelte reg:  Hulle is wel ‘n liggaam, maar wat hulle nie besef nie, is dat hulle die liggaam met ’n kleinletter l is –  hulle is die liggaam of die kerk van die wêreld en nie van God nie.  Hulle is deel van die beeld in Daniël 2 wat met ’n rots getref gaan word en soos kaf in die wind verdwyn.  Dit is van geen nut nie!  Daar is geen nut daarin om gemeenskap met die heiliges te hê as jy nog nie eers gewortel is in God en gemeenskap met Hom het nie.

 

Mense raak bitter ongelukkig oor hierdie kerksake, maar hoekom?  Skud dit bietjie aan jou fondasie?  Ruk dit bietjie aan die punte van jou tradisie, kultuur en godsdiens om dit so bietjie uit proporsie te trek?  Vat dit jou “veiligheid” van jou af weg?  Die “veilige” gedagte dat jy gered is as jy deel is van ’n kerk?   Ons moet in ons eie harte begin, mense, want waar is jou hart gewortel?

 

Matthew 11:28-30 (The Message)
“Are you tired?  Worn out?   BURNED OUT ON RELIGION?  Come to Me.  Get away with Me and you’ll recover your life.  I’ll show you how to take a real rest.  Walk wit Me and work with Me – watch how I do it.  Learn the unforced rhythms of grace.  I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you.  Keep company with Me and you’ll learn to live freely and lightly.”

 

Besnydenis van die hart – Audio

Besnydenis van die hart

“Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. Ek sal My Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in My insettinge wandel en My verordeninge onderhou en doen.”
Esegiël 36:26,27

Continue reading Besnydenis van die hart – Audio