Die soeke binne jou..

Is daar iets diep binne jou wese wat kriewel, wat soek?  Iets wat jou pla, maar jy weet nie wat dit is nie… iets wat roep , maar jy weet na wat of wie nie… iets wat jou ongemaklik maak, maar jy weet nie hoe om van die ongemak ontslae te raak nie… iets wat maak dat jy soek, maar jy weet nie na wat nie?  Jy hardloop van die een kerk na die volgende, van die een selgroep na die ander, van die een bybelstudiegroep na die ander, maar jy vind nie wat jy soek nie.  Jou lewe voel soos ’n warboel, dit voel asof niks in plek wil val nie.. dit voel asof jy niks raakvat nie… asof jy gryp na wind…  Jy wonder oor die doel van die lewe, die ‘purpose’ van jou lewe, maar jy vind nie antwoorde nie… Hierdie ongemaklikheid diep binne jou wese is nie sommer maar net ’n ‘ietsie’ nie, dit voel soos ’n dringendheid, maar jy weet nie na wat nie… dis omdat jy op verkeerde plekke soek… jy tas rond in die duisternis en soek na antwoorde in die vaal gebied, maar elke antwoord wat jy dink jy vind, maak nogsteeds nie die dringendheid binne jou stil en rustig nie…. Al wat jou soeke kan stil, is die sagte juk van Jesus, die strelende gerusstellende woorde van Abba Vader… en ek praat nou nie net van die Bybel nie, ek bedoel om regtig stil en rustig te raak en in die teenwoordigheid  van Abba Vader in te beweeg.  DIT is waarna jou geeshart smag en totdat jou gees nie gevul gaan word met die Liefde en die Lig van God nie, gaan dit aanhou om binne jou te kriewel…

Geen kerk gaan jou soeke demp of vervul nie, want daar is bitter min kerke waar God wel teenwoordig is… en as God nie daar teenwoordig is nie, wie of wat is dan?  Niks en niemand anders as die vyand nie!  Dit is wie daar teenwoordig is en dit is hy wat daardie soeke van jou gaan vul met suurdeegbrood… dwaalleringe… om jou te laat glo dat jy besig is om God te aanbid in daardie gebou, maar as God nie daar teenwoordig is nie, vir wie aanbid jy?  Niemand anders as die vyand self nie.  Die probleem is dat die suurdeegbrood waarmee die mense gevoed word, hulle in gevangenis hou in die vaal gebied en dit hou ook hulle geestelike oë en ore in dormansie wat ’n bitter groot gemors is, want as ’n mens se geestelike sintuie nie werkend is nie, het jy geen onderskeidingsvermoë nie… en gaan jy glad nie die leuen van die Waarheid kan onderskei nie.  Ons kry alleenlik onderskeidingsvermoë in stilte by die voete van Abba Vader… dit is ook die enigste plek waar jy die Waarheid gaan leer ken… 

Die ware rede tot jou soeke…

Weet jy waar kom die soeke vandaan?  Dit kom uit jou geeshart, want God se kinders is op die aarde gebore met ’n Goddelike saadjie wat diep in hulle harte gesetel is.  Die saadjie lê eers diep in jou dormante geeshart, maar daar is LEWE in die saadjie en dit is daardie LEWE in die saadjie wat uitroep tot God… dit het ’n intense behoefte of begeerte na Abba Vader en dit veroorsaak die oproerigheid hier diep binne jou hart… wat jy, as mens, nie kan stil deur ‘doen’ dinge of deur godsdiens nie.

  Die mens word grootgemaak met tradisie en godsdiens, en word van kleins af geprogrameer deur die wêreld dat jy deel MOET wees van ’n kerk… dat jy godsdienstig moet wees en dat jy jou godsdiens as deel van ’n groep mense in ’n gebou met ’n toring moet beoefen… dat jy ’n Christen is as jy hierdie manier van lewe slaafs navolg… dat jy gered en verlos is.  Ons word maklik geprogrameer as ons klein is en elkeeen aanvaar dat hy “reg” grootgemaak is… dat sy kerk die enigste “regte” kerk is en dat al die die res verkeerd is.  Maar wie is reg en wie is verkeerd?  Watter gebou se toring is nou die hoogste en belangrikste?  Wie se klok lui die hardste en lok die meeste mense soos ’n spul zombies na die gebou? 

ONS IS ALMAL GEPROGRAMMEER, MENSE!  ONS IS SOOS ROBOTTE GEPROGRAMEER VOLGENDS DIE REëLS VAN DIE WëRELD!  KOM WEG UIT DIE WêRELD!  KOM WEG UIT DIE VAAL GEBIED!  HOU OP SOEK NA ANTWOORDE IN BABILON!  HOU OP LUISTER NA DIE BAäL PROFETE EN DIE ISEBEL’S!

Lees asseblief Openbaring 2 en 3, en begin in afsondering met intense selfondersoek oor die gekriewel en ongemak in jou lewe, want dit is die Goddelike saadjie binne jou wat roep na God… 

Ekstra saadjies wat hierby aansluit:

Breek weg uit Babilon!

Die saadjie binne ons