Besnydenis van die hart – Audio

Besnydenis van die hart

“Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. Ek sal My Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in My insettinge wandel en My verordeninge onderhou en doen.”
Esegiël 36:26,27

Om as mens te verander, moet ’n mens ’n hartsverandering ondergaan. Sonder ’n hartsverandering kan geen mens verander nie, sonder ’n hartsverandering kan geen mens vrugte van bekering dra nie. As Abba Vader nie ’n hartsbesnydenis op ons doen en ons hart van klip vervang met ’n hart van vlees nie, kan ons nooit verander of ’n beter mens wees nie, en sal ons nooit vrugte van bekering kan dra nie. Alleenlik ware bekeerlinge, hulle wat met ’n opregte hart en om die regte redes, tot bekering gekom het en die pad saam met Jesus begin stap, beweeg saam met Jesus deur die kruis waar hulle in ’n geestelike graf geplaas word. Alleenlik in die graf ontvang ons ’n hartsbesnydenis! Op geen ander manier nie! Dit beteken nie ons moet fisies eers doodgaan om ’n hartsbenydenis te ontvang nie, maar dit beteken ons moet geestelik sterf aan die natuurlike mens, ons moet die natuurlike mens afsterf aan die kruis van Jesus. Vals volgelinge, met ander woorde, hulle wat Jesus volg om vals motiewe, om die lewe vir hulleself lekkerder te maak, om seëning te ontvang van God, volg Jesus nie op die ware Weg oppad na die kruis van Golgota nie. Nee, hulle is nog nie bereid om die natuurlike vleeslike mens af te sterf nie, want dis vir hulle nog te lekker in die wêreld. Hulle wil eers nog ’n bietjie eet van Satan se verbode vrugte, hulle wil nog eers ’n bietjie teer op sonde en dit nie regtig eenkant toe skuif nie. Hulle stap dus nooit die ware Weg saam met Jesus nie, maar beweeg op ‘n maklike pad wat kwansuis lei na die Konikryk van God, maar hulle gaan ongelukkig eendag tot die besef kom dat dit toe al die tyd die pad na die hel was. Daar bestaan nie iets soos maklike verlossing en ’n maklike pad na die Koninkryk van God nie.

Om ’n harstbesnydenis te ontvang van God, moet ons in die graf wees, dis die operasiekamer van Abba Vader, Hy werk daar in die donkerte in die glans van Sy Lig. Hy het nie die wêreld se lig nodig nie, want Hy is die LIG. Alleenlik wanneer ons die keuse maak om ons harte, ons lewens en ons alles in die hand van Abba Vader te plaas en om Hom gehoorsaam te wees, kan Hy werk aan ons harte, maar dit is ook belangrik dat ons in die graf moet wees en om in die graf te wees, beteken ons moet eers sterf aan die vleeslike, natuurlike, eie ek, die self! Sonder ’n sterfte, is daar geen verandering nie.

Vals bekeerlinge gaan met die mond bely om in Jesus te glo, om Christene te wees, hulle gaan kerk toe, woon die selgroepe by sodat hulle hulle wyse insettinge kan lewer… wat hulle weer by iemand anders gehoor het… Dis asof hulle fisies goed prober DOEN om te bewys dat hulle bekeerde Christene is, maar hierdie dinge wat hulle DOEN, is alles net uiterlike goed sodat die mense met die uiterlike oog kan sien hy is ’n bekeerde. Hierdie GOED tel nie vir God nie, wat vir God tel, is of jy ’n verhouding met Hom het. Wat vir God tel, is of jou hart in Sy hande is waar Hy met jou hart en jou lewe kan roei en stoei…waar Hy jou kan verander na Sy wil…sodat Hy deur jou kan werk. Mense wat net uitelike goed doen om as ’n Christen beskou te word, is eintlik net ’n wolf wat sy ware kleure probeer verbloem met die wol van ’n skaap. Die mens kan dalk nie die wolf daar binne sien nie, maar Abba Vader sien dit, want Hy sien die hart van die mens raak. Hy weet wie se harte is nog van klip en wie se harte is van vlees. Diegene wie se harte verander is van klip na vlees, het ’n Lewende wese geword, want die Lewe van God spoel deur hierdie hart na die res van die mens. Ons geesharte word eers verander en die Lewe van God neem ons geesharte oor. Soos ons harte vol raak met die Lewe van God, spoel dit oor na ons sielsdimensie en dit begin alles in ons sielsdimensie verander. Nou begin ons gedagtes verander, ons emosies begin stabiliseer en ons slaag daarin om ons eie wil af te lê en die wil van God te verlang. Dis nie die mens wat uit sy eie begin verander nie, dis die Lewe van God wat die mens begin verander. Selfs die mens se waardes, beginsels en persepsies begin verander en al hierdie veranderinge in die sielsdimensie veroorsaak dat ons anders begin optree, ons begin dinge anders doen, ons neem nie meer deel aan sekere dinge van die wêreld nie en hierdie verandering word weerspieël in ons dade. Ons dade vertel baie vinnig van die toestand van ons hart. Dra jy vrugte van bekering of vrugte van die dood? Om Goddelike vrugte te dra, is nie dinge wat ons DOEN nie, dis ook nie goed wat ons vir andermense DOEN nie, maar dit weerspiëel in die mens wat jy is. Vrugte van bekering kan gesien word in die menswees van die mens, nie in die uiterlike doen-dinge nie, vrugte van bekering wys ’n vinger terug na die hart van die mens… Is die hart van die mens besny deur Abba Vader of nie? Want die mens wat vrugte van die dood dra, weerspieël ’n hart van klip wat nie omgee om ander mense seer te maak nie, om op ander te trap, om voordeel uit ander te probeer trek tot die ander een se nadeel. ’n Hart van klip was nie in die graf by Abba Vader nie, want ’n mens met ’n hart van klip het nooit die eie self afgesterf nie. Hy het nooit deur die kruis van Jesus beweeg nie, hy het nooit die ware Weg saam met Jesus gestap nie en hy het eintlik nooit tot ware bekeirng gekom nie. Hy het met die mond tot bekering gekom tot voordeel van die self. ’n Mens met ’n hart van klip se lewe draai net om homself en om homself te verheerlik, om voordeel uit alles te trek. Moenie dat dit wat mense DOEN, jou om die bos lei om te dink hulle is wedergebore Christene nie, gaan kyk na die vrugte…dra die persoon vrugte van bekering of vrugte van die dood? Wie is die mens in sy ware menswees waarlik? Hierdie vals bekeerlinge het eintlik met bekering net ’n masker in die hande gekry en die masker op hulle gesig geplaas om die res van die wêreld te flous. ’n Maklike kenmerk is dat die persoon nie sonde kan teëstaan nie, hulle kan nou iemand seermaak, jammer sê, en dit môre maar net weer doen. Hulle oorkom nie sonde nie. Die mens wat die Lewe van God in hom het kan deur die krag van God sonde begin teëstaan, hy kan versoekings begin raaksien en opstaan teen dit..

As God ons harte besny het, laat Hy vir altyd ’n merk op ons hart wat beteken ons is gemerk vir Hom deur die Gees van God.

Kollosense 2:12 in Die Boodskap verduidelik die besnydenis op hierdie manier:

“Hy gee aan julle die besnydenis op gond van julle verhouding met Hom. Daar moet egter mooi verstaan word wat hier met besnydenis bedoel word. Iets word finaal en vir altyd van jou liggaam afgesny. Dit gaan hier egter nie om die gewone liggaamlike besnydenis wat deur mense gedoen word nie. Nee, hierdie besnydenis kan Christus alleen doen. Die besnydenis soos Christus dit doen neem die sondige, menslike natuur van die gelowige finaal en vir ewig van hom af weg.”

Hierdie iets wat vir altyd finaal afgesny is, is die mens se vleeslike natuur, dit is die eie ek en kan alleenlik deur God afgesny word. Dis die sondige menslike natuur wat weggesny word sodat die Lig van God in ons kan woon en wanneer die Gees van God ons begin oorneem, gaan ons nie meer in sonde WIL baljaar nie, jy gaan nie mense verder WIL seermaak met jou tong nie, jy gaan die pad wil eerlik stap sonder konkels en draaie. Alleenlik wanneer ons sondige natuur van ons afgesny is, kan God deur ons goeie vrugte dra wat weer uitgedeel moet word aan die mense in die duistere wêreld sodat hulle ’n proesel kan kry van die Liefde van God, nie deur woorde nie, nie deur goed wat ons vir hulle kan DOEN nie, maar deur wie ons IS.

Iemand wie se hart besny is, sal die lewe van God in hom hê en omdat die Lewe van God in hom is, sal hy die sonde kan teëstaan. Hy sal kan heers oor die sonde, maar dis weereens nie die mens self nie, dis die Lewe van God binne hom wat hom in staat stel om te kan heers oor sonde en daarom sal jy kan sien aan die mens se lewe, aan wie hy is, hoe hy ander hanteer, maar dis nie die mens wat dit regkry nie, dit is omdat die Lewe van God teenwoordig is in sy hart. Vals bekeerlinge het nie die lewe van God binne hulle nie, so hulle sal uit hulleself probeer om sonde tee te staan, maar hulle sal keer op keer flop. Geen mens kan uit sy eie krag die sonde teestaan nie.

Dit kom hierop neer: Onbesnede harte kan nie heers oor sonde nie, want ons kan alleenlik heers oor sonde as die Lewe van God ons oorgeneem het, wanneer die bloed van Jesus deur ons are vloei, want alleenlik Jesus het mag oor die sonde, so vir ons om mag oor die sonde te kan hê, beteken die bloed van Jesus moet in ons teenwoordig wees en ons ontvang dit deur die Lewe van God, wat ons ontvang wanneer God ’n hartsbesnydenis op ons doen. Daarom kan ’n mens met ’n onbesnede hart nie vrugte van bekering dra nie, hy kan nie gehoorsaam wees aan God nie, hy kan nie heers oor sonde nie en al probeer hy deur eie krag om gehoorsaam te wees aan God, sal hy keer op keer teleurgesteld staan in homself. Om heeltyd verkeerd te doen, ander seer te maak en elke keer net jammer te sê…net om dit môre weer te doen, is ’n teken dat jy nie beheer het oor die sonde nie, jy het nie outoriteit oor die sonde nie en dit bews dat die bloed van Jesus nie deur jou are bruis nie, wat weer beteken jou kliphart is nog nie vervang met ’n hart van vlees nie… wat weer beteken jy was nog nie in die graf nie… wat weer teruggaan na die feit dat jy nog nie die ou self afgesterf het aan die kruis nie… wat weer teruggaan dat jy nog nie die pad van bekering met Jesus begin stap het nie… jy het eintlik nog nooit tot ware bekering gekom nie. Elkeen van ons kan maar net gaan selfondersoek doen…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s