In die vorige saadjie het ek vertel dat die mens nie fisies die Beeld van God is nie, maar dat die mens die Beeld van God alleenlik kan reflekteer uit sy geeshart. Daarom het God die mens eers as gees geskep en daarna het Hy vir die gees ’n liggaam en ’n siel geskep. Oorspronklik was Adam en Eva se geesharte vol van die Lig van God, wat ook beteken dat hulle gekonnekteer was aan God – hulle was een met God. Omdat hulle gekonnekteer was aan God, kon daar kommunikasie wees tussen hulle en God, met ander woorde hulle kon geestelik hoor en sien. In hulle oorspronklike vorm was hulle geestelik ingestel op God; hulle vleeslikheid was nie vir hulle belangrik nie, daarom het hulle ook nie gesien dat hulle naak was nie. Hulle geestelike oë en ore was oop; hulle vleeslike oë en ore was gesluit… en die beste van alles…. die Lig van God het gereflekteer uit hulle harte, so hulle het die Beeld van God reflekteer.
Satan haat die Lig van God, want waar die Lig van God teenwoordig is, kan hy nie aangaan met sy bose werk nie. Solank die mens die Lig van God uit sy hart skyn, kan Satan geen beheer of outoriteit oor die mens verkry nie. Dit is baie belangrik om te besef dat dit alleenlik die Lig van God is wat vir Satan op ’n afstand kan hou, want wanneer die Lig van God teenwoordig is in die mens, is dit God wat deur die mens outoriteit het oor Satan en dan kan Satan die mens nie beheer nie. Hy het dus nie mag oor ’n mens wat die Lig van God reflekteer nie, alleenlik wanneer ’n mens nie die Lig van God reflekteer nie. Geen woorde van oorlogvoering of om die “regte” bloedlynvloeke te sny, kan vir Satan van die mens af weghou nie… alleenlik die Lig van God – God self binne die mens! Kan jy dink hoe moes Satan op sy tande kners van frustrasie oor die Lig wat Adam en Eva gereflekteer het wat hulle outoriteit oor hom gegee het? Hy moes ’n manier kry om die Lig uit hulle geesharte te blus en omdat hy vir God ken, het hy geweet dat rebellie teen God die Lig uit die hart van die mens sou blus… hy het baie goed geweet dat as die mens nie meer die Lig van God reflekteer nie, die mens op sy eie nie meer outoriteit oor hom sou kon hê nie, en op hierdie manier kon hy die mens in sy mag kry om hulle te beheer. Hy moes ’n manier kry om die mens se hart met duisternis te infiltreer sodat die mens sy konneksie met God verloor…
Hou nou in gedagte dat die geestelike sintuie van die mens direk gekoppel is aan sy geeshart – as die geeshart lewe met die Lig van God, sal die geestelike sintuie in werking wees, maar as die geeshart geen Lig uitskyn nie, is dit geestelik dood en kan die geestelike sintuie ook nie werk nie. Met ander woorde, as die mens die Beeld van God reflekteer, sal die mens geestelik kan hoor en sien, maar as die mens nie die Beeld van God reflekteer nie, is hy ook nie een met God nie, dus is hy nie gekonnekteer aan God nie… en sal hy ook nie geestelik kan sien en hoor nie; hy sal nie geestelike onderskeidingsvermoë hê nie.
Al het God die mens geskape na Sy beeld, het die mens nogsteeds ’n eie wil; die mens was, en is, dus in staat om keuses te maak. Satan het geweet hy moet vir Adam en Eva in die versoeking lei om hulle eie wil te gehoorsaam pleks van die wil van God. Die ergste van alles is dat hulle DIREK geweet het wat die wil van God is, want God het DIREK aan Adam gesê dat hulle nie van die boom van kennis van goed en kwaad mag eet nie, en as hulle wel daarvan eet, hulle sou sterf. Satan het Eva uitgevra oor die verskillende bome se vrugte wat hulle mag eet en Eva het hom geantwoord dat hulle van al die bome in die tuin mag eet, behalwe van die boom in die middel van die tuin, want dit sal hulle laat sterf. Satan maak toe vir God ’n leuenaar en sê vir Eva:
“Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Genesis 3:5 (AFR33/53)
Eva moes ’n keuse maak! Gaan sy die wil van God gehoorsaam en Satan teëstaan; of gaan sy ingee, haar eie wil volg en rebelleer teen God? Adam het haar voorbeeld gevolg deur te voed op die verbode vrug en dadelik het hulle vleeslike oë oopgegaan. Hulle het gesien dat hulle naak is, met ander woorde, hulle het bewus geraak van hulle vleeslikheid. Onthou nou: voorheen was hulle geestelike oë oop en hulle vleeslike oë toe, maar noudat hulle vleeslike oë oopgegaan het, het hulle geestelike oë toegegaan. Sonde het hulle geestelik verblind, dit het dus hulle geestelike sintuie ruïneer. Sonde het die Lig van God uit hulle harte geblus en op hierdie manier het die mens die Beeld van God verloor. Die mens het geestelik gesterf! Dit is wat God bedoel het toe Hy vir hulle gesê het dat hulle sal sterf as hulle van die verbode boom eet. Omdat hulle gekies het om hulle eie wil te gehoorsaam, was hulle nie meer een met God nie, hulle was nie meer gekonnekteer aan God nie, want die Lig van God was nie meer teenwoordig in hulle harte nie. God het die tuin van Eden spesiaal gemaak vir Sy kinders wat met Hom wandel en met Hom kommunikeer. Hy het dus die tuin van Eden gemaak vir Sy kinders wat Sy Beeld reflekteer. Adam en Eva het die Beeld van God verloor en daarom mag hulle nie meer langer in die tuin van Eden gewoon het nie. God moes hulle wegstuur uit die tuin en Hy het hulle gestuur om in die wêreld te gaan woon wat deur hulle eie toedoen vervloek is. God het die tuin van Eden toegesluit en aan engele opdrag gegee om die tuin te bewaak. Geen mens mag meer in die tuin van Eden ingekom het nie, want die mens het die Lig van God uit sy geeshart verloor. Ongelukkig was die ganse mensdom daardeur beïnvloed en is almal daarna gebore met dormante geesharte. Niemand word dus gebore met ’n geeshart wat die Lig van God reflekteer nie, niemand word heilig gebore nie.
“You know the story of how Adam landed us in the dilemma we’re in – first sin, then death, no one exempt from either sin or death. Sin disturbed relations with God in everything and everyone… So death, this huge abyss separating us from God… Even those who didn’t sin precisely as Adam did by disobeying a specific command of God still had to experience this termination of life, this separation from God… One man’s sin put crowds of people at the dead-end abyss of separation from God… the verdict on that one sin was the death sentence…” Rom 5:12-15 (MSG)
Al die mense in die OT was dus geestelik dood en het nie die Beeld van God reflekteer nie. God het wel sekere van Sy kinders toevertou met Sy Gees om leiding te gee aan die mensdom, maar niemand wou in elkgeval na hulle luister nie. Toe het God Sy Seun gestuur, maar die mensdom wou na Hom ook nie luister nie en het Hom eerder doodgemaak. Maar wat hulle nie geweet het nie, is dat die gehoorsaamheid en die sterfte van Jesus, die Gees van God sou vrylaat op die aarde. Dit beteken nie dat almal wat na die kruisiging van Jesus gebore word, met die Lig van God in hulle geesharte gebore word nie. Almal word nogsteeds in die sondige wêreld ingebore en moet weergebore word om die Lig van God in sy hart te kan hê. Daarom het Jesus ook so klem daarop gelê dat ons moet sterf aan die self om weergebore te kan word, want alleenlik wanneer ons die ou mens afsterf en weergebore word deur die Gees van God, skyn God se Lig weer uit ons hart en dan eers reflekteer ons die Beeld van God. Dan eers is ons een met God en stel God weer ons geestelike sintuie in werking om met Hom te kan kommunikeer.
Die mens wat geestelik dood is, se fokus is totaal op homself ingestel en nie op God nie. Hy is nie een met God nie en hy reflekteer GLAD NIE die Beeld van God nie!!! Die mens wat geestelik dood is, funksioneer net as liggaam en siel, en daarom is hierdie mense so intens gefokus net op die self. Al beoefen hy godsdiens en allerhande rituele, kan dit niks aan die geeshart verander nie. Hy bly geestelik dood! Wat hartseer is, is dat daar soveel “Christene” is wat “glo” in God net sodat Hy in hulle vleeslike behoeftes moet voorsien. Hulle wil God net misbruik soos die mense in Johannes 6 vir Jesus misbruik het om genesing te ontvang en brood te kon kry! Hulle wou Hom selfs koning maak omdat Hy in hulle vleeslike behoeftes voorsien het! Dit is vir my baie hartseer….
God se kinders wat wel Sy Beeld reflekteer, mag weer in die tuin van Eden ingaan. Hulle het gesterf aan die self, is weergebore en is een met God. Die mense wat in die vaal gedeelte is, se geesharte is nog in dormansie, hulle het nog nie gesterf aan die self nie, hulle is nog ten volle gefokus net op die self, hulle het nie geestelike onderskeidingsvermoë nie en daarom loop hulle agter enige mens aan wat homself ’n herder noem. Hulle word baie maklik verlei. Hulle geestelike sintuie is ook nie in werking nie en daarom het Abba Vader gesê dat hulle nie oë het om te sien en ore het om te hoor nie… dit is omdat hulle geestelike oë en ore nog geslote is omdat hulle nie die Lig van God in hulle harte het nie. Dit is nie God wat hulle geestelike oë en ore toesluit nie… dit is die sonde en selfsug in hulle eie lewe wat maak dat hulle nie geestelik kan hoor en sien nie.
“En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Mattheus 13:14-16