Jeremiah 17:7-8 (The Message) “Blessed is the man who trusts Me, God, the woman who sticks with God. They’re like trees replanted in Eden, putting down roots near the rivers – never a worry through the hottest of summers, never dropping a leaf, serene and calm through droughts, bearing fresh fruit every season.”
Geseënd is die mens wat op die Here vertrou, wat gewortel is in die liefde van God, want geen droogte, sterk wind, hitte, koue of enige ander natuurverskynsel kan ’n impak hê op ’n boom wat gewortel is in God nie. Om gewortel te raak in die hart van God, is nie ’n oornag gebeurtenis nie, maar eerder ’n proses wat ’n deurloop in ons lewe moet vind, met ander woorde, dit moet ’n lewenswyse word. Hierdie proses moet altyd begin by die besef van die mens dat hy gewortel is in die sondige wêreld. Die mens moet sy trots laat staan en besef dat hy ’n verlore sondaar is, dat hy niks sonder die liefde van God is nie en dat dit alleenlik God is wat hom tot redding kan wees. Soos ons voed op die Woord van God, begin daar worteltjies groei vanuit ons diepste menswees in die Woord van God in. Ons begin Abba Vader leer ken vir die wonderlike Vader wat Hy is, en ons begin ’n smakie kry van Sy liefde, Sy genade en Sy barmhartigheid. Soos ons Hom leer ken, ontwikkel ons ’n intense begeerte om Hom nog beter te leer ken en begin ons soeke na God intensifiseer. Hoe intenser ons soek na die wil van Abba Vader deur die Woord, hoe sterker groei ons worteltjies in die Woord van God in, totdat dit later ’n netwerk worteltjies raak in die Woord van God. Ons raak dus eers gewortel in die Woord van God. Net soos ons wortels in die Woord ingroei, begin daar terselfdertyd ook worteltjies groei vanaf die Woord van God, na ons geeshart. Hoe meer Woord ons inneem, hoe dieper groei die wortels van die Woord in ons wese in. Die Woord is ook die Lig en soos die worteltjies van die Woord in ons wese ingroei, skyn dit ’n lig op al ons sondes, ongeregtighede en onheilighede. Dit openbaar aan ons eers net die oppervlakkige sondes, maar soos dit dieper groei, wys dit al die dieper ongeregtighede van ons hart aan ons uit.
Omdat ons uit die wêreld kom, is ons van kop tot tone vol geestelike blokasies en hierdie blokasies het ontstaan as gevolg van al ons sondes, onheilighede en ongeregtighede. Dit blokeer die Lig van God om vanuit die staanspoor op ons harte te skyn, dus moet die Lig eers deur al die blokasies breek voordat dit op ons harte kan skyn om ons harte te verander. Wanneer die Lig van die Woord op ons blokasies skyn, openbaar dit aan ons ons sondes en ongeregtighede, en moet ons verantwoordelik genoeg wees om ons verkeerdhede vierkantig in die oë te kyk, dit aan God te bely, die keuse te maak om dit te laat staan en vergifnis van God te ontvang. Dan breek die Lig dwarsdeur die blokasie en ontvang ons vergifnis vanaf God. Nou kan die Lig nog dieper ons wese inskyn om op ’n dag op ons hart te skyn.
Deur die Woord wat ons sondes aan ons openbaar, sodat ons dit aan Abba Vader kan bely, word ons deur die Woord gereinig. Ons word dus skoongewas deur die Woord. Efsesiërs 5:26 bevestig dat die Woord ’n waterbad is wat ons reinig. Dit reinig ons en maak ons heilig soos God ons wil hê. Die groot rede hoekom God ons wil skoonkry, is omdat Hy deur ons wil werk en Hy sal ons altyd eers skoonmaak voordat Hy deur ons werk. Die mens wat die Woord lees, maar nie ag slaan op dit wat die Woord aan hom openbaar nie, is net ’n hoorder van die Woord en nie ’n doener nie (Jakobus 2). Die wêreldse lewe en maniere is vir hierdie mens nog te lekker; hy wil nog nie afsien van sekere slegte gewoontes nie, wat beteken die Lig gaan nie deur die blokasies kan breek nie. Die wortels van die Woord kan nie die persoon se geeshart bereik nie en die hart van die mens sal nie kan verander nie. Daarteenoor is ‘n doener van die Woord iemand wat hom WIL steur aan die Woord van God, wat die Woord van God WIL gehoorsaam en wat sy sondes voor Abba Vader sal bely sodat die Woord deur die blokasies kan breek. Die wortels van die Woord sal ’n netwerk worteltjies groei na sy hart om hom stewig te anker en te vestig in die Woord van God. Wanneer ’n mens dit die minste verwag, skyn die Lig van die Woord op ons klipharte wat ons harte in skerwe laat spat. Ons klipharte word bestraal met die Lig van die Woord. Job 33:30 is ’n duidelik bevestiging hiervan:
“…om sy siel terug te bring na die kuil, sodat hy bestraal word met die Lig van die Lewe.”
Ons moet die Lig van God toelaat om al ons blokasies oop te breek deur belydenis van sonde. Die Lig van die Woord verlig die duisternis binne ons, dit jaag die donker weg. Maleagi 4:2 van die Boodskap stel dit baie mooi:
“Maar vir die van julle wat My liefhet en aan My gehoorsaam is, sal My verlossing soos die son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee Lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word dit vinnig gesond. So sal Ek die nuwe lewe oor julle laat kom.”
Wanneer die wortels van die Lig-Woord ons geeshart bereik, gebeur daar iets wonderliks in ons hart. Die Lig van die Woord skyn op ons geeshart, wat nog die heeltyd in dormansie was. Skielik ontwaak ons gees en meteens verstaan ons die Woord van God anders, sien ons vir God uit ander oë en verstaan ons die lewe en alles rondom ons anders as voorheen. Dit is omdat ons geestelike sintuie begin ontwaak en wanneer ons God ervaar met ons Goddelike sintuie, begin ons vir die eerste keer onteenseglik glo in God.
Wat is die verskil om te glo in God en om onteenseglik te GLO in God? Om met die mond te sê ons glo in God, is baie maklik, want enige Jan Rap en sy maat kan met die mond bely om te glo in God. Die mens wat nie daagliks die Woord van God inneem nie, kan nie verhouding hê met God nie en is dus nie gewortel in God nie. Nogsteeds beweer hulle om te glo in God, al is daar geen wortelgroei in die Woord of in die hart van God nie. Dit is godsdiens! Dit is ‘n boom gewortel in die sand van die wêreld wat grootgemaak is met die tradisie om kerk toe te gaan, om Sondagskool by te woon, om gedoop, aangeneem en voorgestel te word deur die kerk en om in die kerk te bely om te glo in God. Sondae het hulle “gemeenskap” met God wanneer hulle kerk toe gaan, maar deur die week is daar geen verbinding nie, maar nogsteeds bely hulle om te glo in God….want dit is so aan hulle geleer. Hierdie mense het geen wortelgroei in die Woord van God nie en daar is ook geen wortels wat vanaf die Woord na hulle harte toe groei nie. Die Lig van die Woord het nog nie ’n lig op hulle harte geskyn nie en hulle kan nog net met die mond glo, hulle kan nie uit die hart glo nie, want hulle geeshart is nog in dormansie.
Ons kan eers onteenseglik in God begin GLO wanneer ons so intens voed op die Woord dat die Lig van die Woord deur ons blokasies breek om later op ons geesharte te skyn. Die Lig breek ons klipharte in stukke, die Woord raak lewendig in ons harte en skielik begin ons ‘n penwortel ontwikkel wat vanuit ons geesharte groei in die rigting van die hart van God…
1 John 2:24 (The Message) “Stay with what you heard from the beginning, the original message. Let it sink into your life. If what you heard from the beginning lives deeply in you, you wil live deeply in both Son and Father!”