“My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie; al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie; of al vrek die skape en die beeskrale is leeg, sal ek die Here met n hart vol blydskap dien.” Habakuk 3:17 (DB)
Ons moet baie versigtig wees om nie dieselfde fout te maak as die mense van Johannes 6 nie. Hulle het Jesus gevolg, maar om die verkeerde redes: Dit het glad nie oor Jesus gegaan of dat Hy die Seun van God is nie, dit het alleenlik oor hulleself gegaan. Hulle wou fisies brood hê, hulle wou genesing hê, hulle het die hand van God gesoek en nie die hart van God nie. Hulle is soos die mense wat die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken, nie met die oog op Jesus nie, maar met die oog op die self en wat hulle daaruit kan kry…
As jy Johannes 6 lees, sal jy sien ’n groot skare mense het Jesus opgesoek en Hom gevolg omdat hulle gehoor en gesien het hoe Hy siekes genees. Jesus het die honger mense jammer gekry en aan hulle wonderbrood en vis gegee om hulle fisiese honger te stil. Daardie dag en nag het die woord baie vinnig versprei tussen die mense in die dorpie oor die Man van Nasaret wat mense genees en ook vir hulle brood en vis gegee het, met die gevolg dat die skare mense nog groter was die volgende dag. Hulle het sommer al vroegdag na Jesus begin soek – nog meer siek mense wat hoop op genesing, nog meer fisies honger mense wat kos soek… miskien kan Hy weer aan hulle brood gee om hierdie dag se honger te stil… miskien kan Hy hulle vandag genees… Toe Jesus sien die skare volgelinge is nog groter as die vorige dag, vra Hy reguit vir hulle hoekom hulle Hom volg? Hy weet hulle volg Hom nie oor wie Hy is nie, maar vir wat Hy vir hulle kan gee en doen…
“Waarom doen julle al die moeite om My so te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in My dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het.” Johannes 6:26 (DB)
“You’ve come looking for Me not because you saw God in My actions but because I fed you, filled your stomachs – and for free.” John 6:26 (MSG)
Jesus het geweet die mense se hartsmotief was vals en daarom het Hy daardie dag nie weer aan hulle wonderbrood gegee nie, maar het Hy Homself aan hulle as die Brood van die Lewe gebied waarop hulle moet voed en waarin hulle moet glo…en wat het gebeur? Omtrent die hele skare het hulle rug op Hom gedraai en weggeloop. Skielik het Jesus nie meer so baie volgelinge gehad nie…
Dit is vir my baie hartseer om so daaroor te dink: Jesus is die Woord, Hy is die Brood wat uit die hemel neergedaal het aarde toe. God het Sy Seun direk uit die hemel gestuur sodat die mense aan Hom kon raak, Hom fisies kon sien, Hom fisies kon hoor… wat ’n massiewe groot voorreg het hulle nie gehad nie, maar al wanneer hulle egter bereid was om Jesus te volg, was wanneer Jesus bereid was om in hulle vleeslike behoeftes te voorsien. Hulle wou nie in Hom glo as die Brood van die Lewe nie en hulle wou nie glo dat hulle moes voed op Hom nie. Nee, hulle wou net Sy wondertekens beleef as dit vir hulle iets sou beteken – as dit hulle kon genees of as dit hulle fisiese hongerte kon voed. Hulle het Jesus net gevolg vir wat hulle daaruit kon kry… ’n spul vals volgelinge.
Enige iemand kan Jesus volg, want enige iemand kan met die mond bely om ’n bekeerde volgeling van Jesus te wees. Net so maklik kan enige iemand die keuse maak om die uitnodiging na die Bruilof te onderteken, maar wat is die mens se onderliggende motief? In Jesus se tyd het die skare volgelinge van Jesus in ’n oogwink gegroei tot ’n massiewe skare van ’n paar duisend mense. Is dit omdat hulle in Hom geglo het? Nee, dis omdat hulle deel wou hê aan Sy wonderwerke. Die oomblik toe Hy nie wonderwerke vir hulle doen nie, maar vir hulle verduidelik dat hulle in Hom moet glo, het die skare van ’n paar duisend volgelinge gekrimp tot ’n skrale twaalf ware volgelinge.
Hoeveel volgelinge het Jesus vandag? Mense wat met die mond bely om te glo in Jesus omdat hulle so geleer en so grootgemaak is… Mense wat met die mond getuig om te glo in Jesus met die hoop dat daar dan in hulle fisiese behoeftes voorsien sal word… Mense wat in hulle finansies, huwelike, gesondheid of watter deel van hulle lewe ookal hulp nodig het en dan skielik ’n volgeling van Jesus word met die hoop dat Hy in hulle fisiese behoeftes sal voorsien? Wat as Jesus van hulle vra om eers hulle rug op die wêreld en sonde te draai, om op Hom te begin voed en hulle totale lewe in Sy hand te plaas? Hoeveel ware volgelinge van Jesus gaan dan agterbly? Ook ’n handjie vol?
Daar is in vandag se tyd ook baie volgelinge wat geen ware liefde vir Jesus het nie, maar Hom volg vir die verkeerde redes. Dit is diegene wat die uitnodiging na die Bruilof onderteken met die oog op hulle eie welvaart. Hulle oog en fokus is nie op Jesus nie, maar op hulle eie behoeftes en begeertes; hulle steur hulle nie aan dit wat God van hulle vra nie, hulle fokus net op dit wat hulle van God vra. Hulle probeer Jesus afbring en Hom een maak met die self, pleks van om een met Hom te word. Ons moet eerstens in die hart van Abba Vader ingroei en nie Hy in ons in nie. Wanneer ons in Hom ingroei, dan sal Hy ook in ons ingroei. Ons moet met Abba Vader en Sy planne saamsmelt, Hy moenie met ons en ons planne saamsmelt nie. Dit is so belangrik dat elkeen van ons selfondersoek doen voor die voete van Jesus en mooi besin oor die redes hoekom ons Jesus volg en hoekom ons die Bruilofsfees wil bywoon… Hoekom het ons die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken?
Jesus het die skare volgelinge se geloof in Hom getoets deurdat Hy die volgende dag nie aan hulle kos voorsien of hulle genees het nie en wat het gebeur? Hulle het omgedraai en weggeloop! As Jesus nie in hulle fisiese behoeftes wou voorsien nie, wou hulle Hom ook nie verder volg nie, dus het hulle net met die mond geglo Hy is die Seun van God vir die voordele wat hulle daaruit kon kry. Dit is verskriklik! Het hierdie mense waarlik in Jesus geglo? Geensins! Het hulle Hom gevolg vir die ware Koning wat Hy is? Glad nie! Het hulle Hom gevolg uit liefde vir Hom of uit liefde vir hulleself? G’n wonder Jesus sê geen mens kan die Koninkryk van God binnegaan as hy nie eers gesterf het aan homself nie, want eers wanneer ons gesterf het aan die self, is die self nie meer so belangrik nie en kan ons ons fokus instel op Jesus.
As God vandag of vir ’n bepaalde tyd jou geloof toets en nie in jou fisiese behoeftes voorsien nie, gaan jy Hom nogsteeds sien as goed? Gaan jy nogsteeds in Jesus glo en Hom volg? Gaan jy nogsteeds die Bruilofsfees wil bywoon? Of gaan jy maak soos die skare mense in Johannes 6 en jou rug op Hom draai en ’n beter heenkome soek? Gaan jy nogsteeds kan sê:
“My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie; al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie; of al vrek die skape en die beeskrale is leeg, sal ek die Here met n hart vol blydskap dien.” Habakuk 3:17 (DB)
Wanneer die mens met die mond bely om in Jesus te glo en Hom te volg, het hy die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken, maar die uitnodiging is nog nie gestempel met die Gees van God nie, want daar is eers ’n pad van geloof en heiligmaking om te stap saam met Jesus voordat God ons uitnodiging stempel. Diegene wat net met die mond bely om in Jesus te glo, sal nie die pad kan volhou nie, want hulle sal nie die toetse kan deurstaan nie. Alleenlik hulle wat met die hart in Jesus glo, sal Hom enduit kan volg en alleenlik hulle uitnodigings sal gestempel word met die Gees van God. Hulle is die ware volgelinge van Jesus wat Hom nie volg net om wondertekens te sien en te beleef nie, maar omdat hulle in Hom glo. Hulle volg Hom nie met bose bymotiewe of om te sien hoe voorspoedig dit met hulle kan gaan nie. Hulle volg Jesus uit liefde vir Hom!
Mense wat dink hulle gaan Jesus volg vir voorspoed, maak ’n groot fout, want Jesus sê in Mattheus 16:24-28 dat dit glad nie so maklik is om ’n ware volgeling van Hom te wees nie. As mense Hom waarlik wil volg, moet hulle hele lewe daarvan getuig en nie net ’n gedeelte van hulle lewe nie, met ander woorde, nie net Sondae wat ons in die kerk sit nie; nie net daardie kort tydjies van die dag wat ons gou Bybel lees om ons gewete te sus nie… Ons moet bereid wees om ons hele lewe vir Abba Vader te gee. Dit beteken om die voorbeeld van Jesus te volg en jou kruis te dra na die plek van teregstelling. Iemand wat net vir homself wil lewe of vir Jesus wil volg vir sy eie gewin, sal sy lewe verloor en in die doderyk beland.
“Toe sê Jesus vir Sy dissipels: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind’.” Mattheus 16:24,25 (AFR33/53)
Jesus sê in Lukas 14 ons moet mooi dink voordat ons die keuse maak om Hom te volg, met ander woorde, ons moet mooi dink voor ons die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken, want die regte pad na die Bruilof is nie altyd so maklik nie. Ons moet regtig eers mooi dink of ons waarlik kans sien vir alles wat voorlê, want alles wat die mense aan Jesus gedoen het, sal hulle aan ons ook doen. Moenie dink dis ’n maklike pad waar jy deur almal aanvaar gaan word nie. Dan het jy die verkeerde persepsie oor die Weg van God. Lees asseblief Mattheus 10:16-42 waar Jesus Sy dissipels waarsku, en dit tel vir ons ook…
Nadenke… Wat gaan jou antwoord en reaksie wees as Jesus vir jou vra hoekom jy Hom volg? Wat gaan jou reaksie wees as Jesus jou antwoord toets deur beproewinge op jou pad te plaas? Wat as Abba Vader nie in jou fisiese behoeftes voorsien nie? As dit vir jou geen voordeel inhou nie? Gaan jy nogsteeds een van Sy volgelinge wees? Gaan jy nogsteeds die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken? Ons kan nie ons hartsmotiewe vir Hom wegsteek nie, Hy weet wie Hom volg vir dit wat hulle daaruit kan kry en wie Hom volg uit ware liefde. Hoekom volg jy Jesus?
Dit kos ’n hoë prys om ’n volgeling van Jesus te wees “ Jesus was teen daardie tyd so bekend dat ’n groot skare agter Hom aangestap het. Op ’n dag het Hy vir hulle almal gesê: ‘Dink julle regtig dat dit so maklik is om een van My volgelinge te wees? Wel, kom Ek sê reguit vir julle, as jy meer omgee vir jou ouers of vir jou vrou of jou kinders of vir enigiemand anders, moet jy nie eens probeer om agter My aan te kom nie. As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou baie belangrik is, laat staan. Stel dit tweede. So nie, bly dan weg! Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees. En dit is baie moeilik. Ja, dis so moeilik soos om jou eie doodsvonnis te onderteken. Om My te volg, moet jy maak soos iemand wat die doodsvonnis opgelê is: Jy moet jou kruis optel en agter My aanstap. As jy nie daarvoor kans sien nie, bly liewer weg.” Lukas 14:25-27 (DB)