Hierdie is sommer net ’n kort saadjie waarin ek vinnig iets wil verduidelik: Ek het in die laaste paar saadjies baie oor kerke te sê gehad en ek is jammer as ek bietjie “hard” voorgekom het. Ek hoop net dat elkeen wat dit gelees het, sal gaan dink daaroor, maar die belangrikste… dat elkeen voor die voete van Abba Vader sal gaan stilraak oor hierdie saak en dat die Gees van Waarheid die Woord vir jou sal oopbreek oor hierdie saak. Dit vat tyd! Dit vat opoffering! Dit beteken om elke dag die Skrif te ondersoek en elke dag tyd in afsondering en in stilte by die voete van Abba Vader antwoorde te soek. Mense, ons MAG Jesus se voorbeeld volg! Dit is een van die baie redes hoekom Jesus as mens op die aarde gewandel het: Om vir ons ’n voorbeeld na te laat en een van die mooiste voorbeelde is Sy verhouding met Abba Vader… hoeveel keer staan daar in die Skrif hoe Jesus Sy dissipels alleen agterlaat het om in afsondering te gaan bid? Om te gaan bid, beteken nie om ’n geleerde rympie op te sê of om God te smeek vir dit en dat nie, maar om te bid, beteken om met Abba Vader te gaan gesels soos wat jy met jou beste vriend sal gesels. Ek weet dit voel snaaks aan die begin, maar hou asseblief aan daarmee, want dit is hoe jy verhouding bou met Abba Vader en op Sy perfekte tyd, sal Sy stem vir jou deurbreek. As jy sterk voel oor kerktradisie, gaan kerk toe! Maar maak net seker jy word nie suurdeegbrood in jou kerk gevoed nie, want suurdeegbrood gaan jou geestelike sterfte kos op die ou end. Al manier hoe jy suurdeegbrood gaan uitken, is om die Woord van God baie goed te ken en nie net te ken nie, maar seker te maak die Gees van God interpreteer aan jou die Woord dat jy Skrif op God se manier sal verstaan en nie op die wêreld se manier nie. Daar is so baie Skrif wat ongelukkig uit konteks geruk word om die wêreld se doen en late ’n hupstoot te gee.
Wat is die belangrikste? Om God te ken, om in Hom gewortel te wees, om gemeenskap met Abba Vader te hê of om deel van ’n kerk te wees? Ek het in die vorige saadjies oorgedra hoe Abba Vader my geleer het oor hierdie saak en ek voel nogsteeds baie sterk dat ons nie in die hart van God asook in die kerk gewortel kan wees nie. Ek wil so graag glo daar is kerke en leraars wat die Waarheid versprei, maar as ek net dink aan die rituele in ’n kerk, raak ek klaar negatief. Die meeste kerke bestaan uit rituele; die meeste kerke het sekere fondasies waarop hulle gebou is en die meeste daarvan is wêreldse teologie. Die kerke is nie gebou op die Rots, wat God is nie; hulle is opgebou uit menslike ideologieë, wette, reëls en rituele. Daar is wel ’n kerk waaraan ons moet behoort en dit is die Kerk van God wat nie bestaan uit ’n gebou met ’n toring nie. Dit is die Kerk wat God self opbou uit lewende stene en hierdie lewende stene is Sy kinders wat in Hom gewortel is. Ek raak opgewonde om te sien hoe God Sy kinders uit die wêreld en die wêreldse kerke uithaal, hoe Hy hulle eenkant plaas en soos elkeen gewortel raak in Hom, begin Hy hulle een vir een met mekaar verenig. God is besig om Sy geestelike Kerk op te bou en hulle word opgebou uit die Rots, wat God is. Ek gaan nie nou, in hierdie saadjie, meer hieroor uitbrei nie, ek sal dit in ’n latere saadjie mooi uiteensit. Ek wil in hierdie saadjie net mooi vir julle vra om regtig te gaan stilraak by die voete van Abba Vader oor die kerk waarin jy jou bevind en om seker te maak dat jy nie suurdeegbrood inkry wat gaan lei tot jou geestelike sterfte nie.
Ek is baie lief vir diere en boer saam met my man met skape. Ek het lank terug ’n ooi gehad wat bietjie siek was en ons het haar gedokter totdat sy mooi gesond was, met die gevolg dat sy verskriklik mak was. Ek was baie lief vir Vetgesiggie. Sy het toe op ’n stadium te veel mielies geëet, wat die PH inhoud van haar maag versteur het. Sy het baie siek geword en selfs na baie medisyne kon sy nie gesond word nie. Sy het suurpens gekry en doodgegaan. My hart was so seer oor my mak skapie en daardie nag kon ek nie slaap nie. Een-uur het ek opgestaan en op my gunsteling stoel gaan sit en treur oor my skapie wat dood is. Ek het stilgeraak voor die voete van Abba Vader en my hartseer oorgegee aan Hom. Hoekom moes juis Vetgesiggie siek raak en doodgaan? Die skapie waarvoor ek die liefste was… Abba Vader het aan my verduidelik dat Hy jammer is dat dit my geliefste skapie is wat moes doodgaan, maar ek moet die waardevolle les daarin raaksien… Vetgesiggie het gevoed op dit wat vir haar lekker was, maar wat nie goed vir haar was nie en wat op die ou end haar dood beteken het. Wat Abba Vader volgende vir my gesê het, het my stilgeruk in my spore: Net soos Vetgesiggie dood is omdat sy te veel geëet het van ’n sekere kossoort, net so gaan derduisende van God se kinders geestelik dood omdat hulle voed op “geestelike” kos wat vir hulle lekker is. Hulle besef nie dat dit waarop hulle voed, besig is om hulle dood te maak nie. Dit waarop hulle voed, is die suurdeegbrood waarteen Jesus in Mattheus 16 waarsku. Hy waarsku Sy dissipels om weg te bly van die suurdeegbrood af. Vandag word suurdeegbrood op soveel verskillende maniere in die wêreld aan die mens bedien en die mens kom nie eers agter hy is besig om te voed op iets wat hom geestelik doodmaak nie. Suurdeegbrood word in kerke ook uitgedeel… Lees ook asseblief die saadjie wat handel oor suudeegbrood…Suurdeegbrood Elke mens het ’n keuse waarop hy voed! Elke mens het ’n keuse waarna hy luister en dit wat jy luister of lees, voed jou gees….tot die lewe of tot die dood…
Een stukkie suurdeegbrood van die kerk wat seker die prominentste en dodelikste is, is dat Jesus gesterf het vir almal se sondes en dat jy net met die mond hoef te bely dat jy in Hom glo en jy is vir ewig gered en verlos. Jy hoef niks te doen nie, want dit is net genade van God dat jy gered is, maar as jy die Skrif ordentlik gaan lees, gaan jy die teendeel sien. Wat van:
“Wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.” Mattheus 10:39
Wat van Jesus wat gesê het dat geen mens die Koninkryk van God sal binnegaan as hy nie wedergebore is nie? (Ons word nie wedergebore deur ’n kerk nie, dis ’n persoonlike saak tussen jou en God) Gaan lees al Jesus se woorde in die boeke van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes. Die mens wat nie in Jesus “abide” nie, is Hom ook nie werd nie. (Jesus het nie gesê “abide” in die kerk nie, jy moet IN HOM “abide”) Die mens wat nie soos ’n loot in Jesus gevestig is nie, sal afgesny en in die vuur gegooi word. Die boom wat geen vrug dra nie, gaan vuur toe. So die mens wat nie as boom in God gewortel is nie, het probleme en die suurdeegbrood wat deur instansies uitgedeel word, gaan die mens nie tot redding wees nie. Alleenlik as jy gewortel is in die hart van Abba Vader, as jy gemeenskap het met Abba Vader en die Lewe en Bloed van Jesus borrel deur jou are… as God die Lewe van Sy Seun in jou sien…alleenlik dan is jy gered en verlos. So waaroor gaan dit op die einde van die dag? Om die wêreld gelukkig te stel sodat jy nie teëkanting kry nie en daarom sorg jy dat jy deel is van ’n wêreldse kerk? As dit wel die geval is, maak dan asseblief net seker dat jy nie suurdeegbrood in die kerk ontvang nie en dat jy wel ook in die hart van God geanker is, dat jy elke dag gemeenskap het met Abba Vader en dat jy jou redding en verlossing daarop gebou is en nie op ’n kerk nie.