Gewortel in die Woord

Boom uit Woord

“May Christ through your faith dwell in your hearts. May you be rooted deep in love and founded securely on love…”
Ephesians 3:17 (AMP)

Aan die begin van my pelgrimsreis saam met Jesus, het Abba Vader my die volgende onder gebed wys: Op die seesand sien ek ’n groot, kloppende hart en om die hart staan ’n aantal bome, maar pleks dat die wortels van die bome in die sand ingroei, groei die wortels direk na die hart. Elke boom is direk gekonnekteer aan die hart en die konnektasies is nie onder die grond soos wortels nie, maar dit is duidelik sigbaar bo die grond. Ek sien duidelik die are waardeur die bloed vanaf die lewende hart na die bome pomp. Terwyl Abba Vader dit vir my wys, verduidelik Hy dat dit is hoe Sy kinders as bome gewortel moet wees in Hom. Met hierdie verduideliking en beeld, gee Hy vir my Efesiërs 3 om te gaan lees:

“May Christ through your faith dwell in your hearts. May you be rooted deep in love and founded securely on love…”
Ephesians 3:17 (AMP)

Ons kan net op een van twee plekke gewortel wees – óf ons is gewortel in die duistere wêreld, of ons is gewortel in die hart van Abba Vader. ’n Boom wat gewortel is in die grond van die wêreld, is nie stewig geanker nie, want hy groei ’n bywortelstelsel en nie ’n stewige penwortel wat hom vastigheid gee nie. Die wêreld se grond is nie lewensvatbaar nie; dit is dooie grond wat geen ewigheidswaarde vir die bome inhou nie. Dit laat my ook dink aan die dwase man in Mattheus 7 wat ’n huis op die sand gebou het: Die reën het geval, die waterstrome het gekom, die winde het gewaai en teen die huis aangestorm en dit het geval. Die huis was nie stewig nie en net so is die bome in die sand van die wêreld ook nie stewig geanker nie.

“Cursed is the strong one who depends on mere humans, who thinks he can make it on muscle alone and sets God aside as dead weight. He’s like tumbleweed on the prairie, out of touch with the good earth. He lives rootless and aimless in a land where nothing grows.”
Jeremiah 17:5-6 (MSG)

Hierdie Skrif sê duidelik dat mense wat in die sand van die wêreld gewortel is, vervloek is. Hulle vertrou die wêreld, sy mense en hul dinge vir sekuriteit en veiligheid, wat dit nooit aan hulle kan bied nie. Hulle wortels groei in die sand van die wêreld agter liefde, aanvaarding, erkenning, rykdom, eer, aansien en al hierdie goed wat die wêreld ’n mens kan bied, maar wat nie in die mens se geestelike behoeftes kan voorsien nie. Dit is alles van korte duur, ’n gejaag na wind en het geen betekenis nie, dus is hierdie bome onstandvastig met ’n swak, oppervlakkige wortelstelsel. Hierdie bome moet tot die besef kom dat die wêreld hulle niks kan bied wat ewigheidswaarde het nie; hulle moet die keuse maak om die self oor te gee aan Abba Vader sodat hulle ontwortel kan word uit die wêreld en naby Sy hart geplant kan word waar hulle wortels na Sy hart kan groei. Dit is die enigste manier hoe ons een kan word met Abba Vader.

“God laat nie met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes. As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.”
Galasiërs 6:7 (DB)

Elkeen van ons is eers gewortel in die sand van die wêreld. Ons is almal eers verlore en ons almal soek eers geluk in die wêreld en sy dinge. Genadiglik roep Abba Vader elkeen van Sy kinders op ’n bepaalde tyd om sy rug op die wêreld te draai en sy wortels uit te stoot in die rigting van die hart van God. Dit is die begeerte van Abba Vader dat elke boom in Sy hart gewortel sal wees, maar waar begin ons? Hoe raak ons gewortel in die hart van Abba Vader? Alles begin by die Woord, ons moet eers in die Woord gewortel raak…

“Blessed is the man who trusts Me, God, the woman who sticks with God. They’re like trees replanted in Eden, putting down roots near the rivers – never a worry through the hottest of summers, never dropping a leaf, serene and calm through droughts, bearing fresh fruit every season.”
Jeremiah 17:7-8 (MSG)

Geseënd is die mens wat op die Here vertrou, wat gewortel is in die liefde van Abba Vader, want geen droogte, sterk wind, hitte, koue of enige ander natuurverskynsel kan ’n impak hê op ’n boom wat gewortel is in Hom nie. Hy word Goddelik beskerm. Om gewortel te raak in die hart van Abba Vader, is nie ’n oornag gebeurtenis nie, maar eerder ’n proses wat ’n deurloop in ons lewe moet vind; dit moet ’n lewenswyse word. Hierdie proses moet altyd begin by die besef van die mens dat hy/sy gewortel is in die sondige wêreld. Die mens moet sy trots laat staan en besef dat hy ’n verlore sondaar is, dat hy niks sonder die liefde van Abba Vader is nie en dat dit alleenlik Jesus is wat die mens tot redding kan wees.
Soos ons voed op die Woord, begin daar worteltjies groei vanuit ons diepste menswees in die Woord in. Ons begin Abba Vader leer ken vir die wonderlike Vader wat Hy is, en ons begin ’n smakie kry van Sy liefde, Sy genade en Sy barmhartigheid. Soos ons Hom leer ken, ontwikkel ons ’n intense begeerte om Hom nog beter te leer ken en begin ons soeke na Hom intensifiseer. Hoe intenser ons soek na die wil van Abba Vader deur die Woord, hoe sterker groei ons worteltjies in die Woord in, totdat dit later ’n netwerk worteltjies raak in die Woord. Ons raak dus eers gewortel in die Woord van God. Net soos ons wortels in die Woord ingroei, begin daar terselfdertyd ook worteltjies groei vanaf die Woord na ons geeshart. Hoe meer Woord ons inneem, hoe dieper groei die wortels van die Woord in ons wese in.
Die Woord is ook die Lig en soos die worteltjies van die Woord in ons wese ingroei, skyn dit ’n lig op al ons sondes, ongeregtighede en onheilighede – eers net die oppervlakkige sondes, maar soos dit dieper groei, wys dit al die dieper ongeregtighede van ons hart aan ons uit.

Omdat ons uit die wêreld kom, is ons van kop tot tone vol blokasies en hierdie blokasies het ontstaan as gevolg van al ons sondes, onheilighede en ongeregtighede. Dit blokeer die Lig van Abba Vader om vanuit die staanpsoor op ons harte te skyn, dus moet die Lig eers deur al die blokasies breek voordat dit op ons harte kan skyn om ons harte te verander. Wanneer die Lig van die Woord op ons blokasies skyn, openbaar dit aan ons ons sondes en ongeregtighede en moet ons verantwoordelik genoeg wees om ons verkeerdhede vierkantig in die oë te kyk, dit aan Abba Vader te bely, die keuse te maak om dit te laat staan en vergifnis van Hom te ontvang. Dan breek die Lig dwarsdeur die blokasies en ontvang ons vergifnis. Nou kan die Lig nog dieper ons wese inskyn, oppad na ons hart, om op ’n dag op ons harte te skyn.

Deurdat die Woord ons sondes aan ons openbaar, word ons deur die Woord gereinig wanneer ons dit bely. Ons word dus gewas deur die Woord. Dit reinig ons en maak ons heilig soos Abba Vader ons wil hê. Die mens wat die Woord lees, maar nie agslaan op dit wat die Woord aan hom openbaar nie, is net ’n hoorder van die Woord en nie ’n dader nie.

“Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante Woord, wat in staat is om julle siele te red. En word daders van die Woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.”
Jakobus 1:21,22 (AFR33/53)

Die Amplified sê:

“…receive the Word (of God) which is implanted (actually rooted in your heart), which is able to save your souls.”
James 1:21 (AMP)

Die Boodskap sê dat ons ontslae moet raak van elke stukkie gemors en vuilheid wat jou geestelike lewe mag toegroei of bederf. Om ontslae te raak van hierdie blokasies, moet ons intens fokus op die Woord van God en daders van die Woord wees. Ons moenie net hoorders van die Woord wees nie, want dan flous ons net onsself. Die wêreldse lewe en maniere is vir hoorders nog te lekker en daarom wil hulle nog nie afsien van sekere slegte gewoontes nie, wat beteken die Lig kan nie deur die blokasies breek nie. As die Lig nie die blokasies afbreek nie, kan die wortels van die Woord nie die persoon se geeshart bereik nie en daarom sal die hart van hoorders nie kan verander nie. Daarteenoor is ‘n mens wat ’n dader van die Woord is, iemand wat daadwerklik ’n poging aanwend om die Woord te gehoorsaam en sy sondes te bely sodat die Woord deur die blokasies kan breek. Die wortels van die Woord sal ’n netwerk worteltjies groei na sy hart om hom stewig te anker en vestig in die Woord. Op ’n dag, wanneer ’n mens dit die minste verwag, skyn die Lig van die Woord op ons klipharte wat ons harte in skerwe laat spat. Ons klipharte word bestraal met die Lig van die Woord. Job 33:30 (Afr. 33/53) is ’n duidelik bevestiging hiervan:

“…om sy siel terug te bring na die kuil, sodat hy bestraal word met die Lig van die Lewe.”
Job 33:30 (AFR33/53)

Wanneer ons Abba Vader gehoorsaam, sal ons daders van die Woord wees en die Lig toelaat om al ons blokasies oop te breek deur belydenis van sonde. Die Lig van die Woord verlig die duisternis binne ons en dit jaag die donker weg. Maleagi 4:2 van Die Boodskap stel dit baie mooi:

“Maar vir die van julle wat My liefhet en aan My gehoorsaam is, sal My verlossing soos die son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee Lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word dit vinnig gesond. So sal Ek die nuwe lewe oor julle laat kom.”
Maleagi 4:2 (DB)

Wanneer die wortels van die Lig-Woord ’n mens se geeshart bereik, gebeur daar iets wonderliks in die hart van die mens. Onthou nou, ons geesharte was nog die heeltyd in dormansie en skielik skyn hierdie verblindende Lig op ons slapende harte wat dit uit die diep slaap laat ontwaak. Meteens verstaan ons die Woord van God anders; ons sien Hom uit ander oë en ons verstaan die lewe en alles daarrondom soveel anders as voorheen. Dit is omdat ons geestelike sintuie nou begin ontwaak wat daartoe lei dat ons met ons harte begin dink. Eers wanneer ons met die geeshart begin dink, kan ons onteenseglik in Abba Vader begin glo.

Wat is die verskil om te glo in Abba Vader en om onteenseglik te glo in Hom? Om met die mond te sê ons glo in God, is baie maklik; enige Jan Rap en sy maat kan met die mond bely om te glo in Hom, maar dit is totaal en al iets anders om met ’n mens se hart in God te glo. Die mens wat nie daagliks die Woord inneem nie, het geen wortelgroei in die Woord of in die hart van God nie. Hy het dus glad nie ‘n verhouding met Abba Vader nie, maar nogsteeds beweer hy om te glo in God. Dit is wat godsdiens is! Hierdie persoon is ‘n boom gewortel in die sand van die wêreld wat grootgemaak is met die tradisie om kerk toe te gaan, om Sondagskool by te woon, om gedoop, aangeneem en voorgestel te word deur die kerk en om in die kerk te bely om te glo in God. Sondae het hulle “gemeenskap” met mekaar wanneer hulle kerk toe gaan, maar deur die week het hulle geen verbinding met God nie, maar nogsteeds bely hulle om te glo in God….want dit is so aan hulle geleer. Hierdie mense het geen wortelgroei in die Woord van God nie en daar is ook geen wortels wat vanaf die Woord na hulle harte toe groei nie. Die Lig van die Woord het nog nie ’n lig op hulle harte geskyn nie en daarom kan hulle nie met die hart in God glo nie. Ons kan eers onteenseglik glo in God wanneer ons so intens voed op die Woord dat die wortels ons geesharte bereik en ’n Lig op ons klipharte skyn om dit in stukke te laat spat.
Mag ons daagliks voed op die Woord van God sodat ons gewortel kan raak in die Woord en die Woord terselftertyd ook worteltjies in ons wese kan ingroei. Mag die Woord, soos ’n Lig, al ons onheilighede aan ons openbaar sodat ons dit aan God kan bely en die blokasies na ons hart kan oopbreek. Mag die Lig van die Woord op ons harte skyn om ons klipharte in skerwe te laat spat en ons onteenseglik in Abba Vader kan begin glo.

“May Christ through your faith (actually) dwell (settle down, abide, make His permanent home) in your hearts. May you be rooted deep in love and founded securely on love…”
Ephesians 3:17 (AMPC)

 

Geneem uit die boek:  Lig Saadjies

IMG_1091

Leave a comment