
Waar kry jy jou kennis vandaan?

Hierdie vals lering is ook een van die dwaalleringe waarmee ek baie jare terug deurmekaar was. Ek het in geestelike boeke gelees dat ’n mens die bloed van Jesus oor jou moet pleit vir beskerming, want as jy “covered in the blood of Jesus”, en dan kan Satan niks aan jou doen nie, want die bloed gee jou Goddelike beskerming. Vanaf die dag dat ek die stem van Abba Vder kon hoor en die Gees my gelei het wanneer ek stilraak voor die voete van Abba Vader, het die Gees van God my nog nooit gelei om die bloed van Jesus te pleit nie. En toe op ’n dag, vra God hartseer, maar tog ook reguit en streng, vir my: “Waarmee is My kinders besig? Hoekom pleit hulle die bloed van Jesus oor hulle, hulle geliefdes en hulle besittings?” Abba Vader het gesê ek moet die Bybel gaan deursoek vir ’n Skrif waarin Hy ons leer om die bloed van Jesus te pleit en dan terugkom na Hom toe met ’n antwoord. Ek het geskrik, dadelik my Bybel gegryp en begin soek. Ek het selfs my ma en vriendinne laat weet dat hulle moet help soek, maar nodeloos om te sê: Daar is geen Skrif in dei Bybel waar God ons leer om die bloed van Jesus te pleit nie. Mense gebruik weereens skrifte, ruk dit uit verband uit en gebruik dit as bewys dat ons die bloed van Jesus moet pleit.
Hoekom doen die mens dit in elkgeval? Wees eerlik met jouself… dit gaan oor Goddelike beskerming, dat daar niks slegs moet jou of met jou geliefdes moet gebeur nie. Mense gaan selfs so ver as om die bloed van Jesus oor hullle besittings te pleit… hoe kan ons dit doen, mense? Besef julle hoe hartseer maak dit vir God? Die mens misbruik die bloed van Jesus om dit te doen, veral as ons dit oor besittings pleit. Lewelose goed!! Goed met geen gevoel, geen Goddelike waarde, maar ons wil ons besittinkies so veilig as moontlik hou. Watse betekenis het jou besittings in elkgeval? Hou op om die bloed van Jesus te misbruik en goedkoop te maak.
Dan is daar ook mense wat die bloed van Jesus oor hulle kinders pleit en ja, ek is self ’n ma, so ek weet dit is ’n gerusstellende gedagte om die bloed van Jesus oor jou kleintjies te pleit en hulle te gaaan aflaai by die kleuterskool met die gemoedsrus dat hulle gedek is met die bloed van Jesus, so daar sal niks met hulle gebeur nie, maar is dit in die haak met Abba Vader dat ons dit doen? Mense “cover” hulle ouer kinders met die bloed van Jesus, maar laat hulle dan toe om na suipplekke te gaan… die ouers glo dan sy kind sal niks oorkom nie, want hy is mos bedek en word beskerm deur engle…. so al suip die kinders hoe baie, hulle sal nie in ’n ongeluk kom nie, want selfs die kar is “toegemaak” met die bloed van Jesus. Dit is uiters belaglik! Ek het al ’n ma gehoor sê dat sy nie kan verstaan dat haar kind dood kan wees nie… sy het die bloed van Jesus oor die kind gepleit, maar nogsteeds die kind na ’n wilde party laat gaan. Oppad terug is die kind in ’n motorongeluk dood… en wat was die ma se reaksie? Hoe kan dit wees, God? Hoekom het U nie my kind beskerm nie? Ek het dan die bloed oor my kind gepleit… Hoe kon U dit toelaat? So nou word God bevraagteken??? Is dit nie onregverdig en onmenslik van die mens om te dink daar is krag in sy woorde en daarom sal niks verkeerd loop nie? Dit voel seker al vir Abba Vader om hierdie mense aan die skouers te skud sodat hulle kan wakker skrik…
Abba Vader het my gewys wat in werklikheid met mense gebeur wat die bloed oor hulleself of oor ander pleit… Die mens wat dit doen, ken God nog nie, hulle het nie gemeenskap met Abba Vader nie, so hulle het geen verhouding met God nie. Hulle DINK hulle ken God, maar as hulle Hom geken het, sou hulle ook geweet het dat die mens nie die bloed van Jesus afpleit oor mense, omstandighede of goed nie. Jammer as ek op tone trap, maar dit gaan nie help om doekies om te draai nie, mense moet die Waarheid begin besef en dit in die oë begin staar dat hulle God eintlik nie ken nie, maar Hom net wil misbruik tot voordeel van hulleself. Toe ek die bloed van Jesus gepleit het, het ek gedink ek is baie heilig en dat ek God ken…. maar al wat ek eintlik geken het was rympies wat ek kon opsê… rympies om die regte woorde in die regte volgorde te sê… vir wie probeer ons nou flous? Abba Vader soek nie rympies nie en Satan lag lekker vir ons wanneer ons kwansuis geleer word om die regte woorde in die regte volgorde te sê, want daar is blykbaar “krag” in ons woorde. Watse krag? Wie se krag? Hoe kan God se krag in en deur jou werk as jy Hom nie eers ken nie? En as jy Hom nie ken nie, bly Sy Gees nie in jou hart nie en skyn jy geen Lig uit jou geeshart uit nie. As die Lig nie uit jou hart skyn nie, beteken dit jou geeshart en siel is nog pikdonker en wie baljaar in die duisternis van ons wese? Niemand anders as die werkers van ongeregtighede nie: demone! So hierdie persoon is nog nie skoongemaak deur die Lig van God nie en daarom glo hulle so maklik al die leuens wat in der waarheid van Satan af kom… en een van daardie leuens is die pleit van Jesus se bloed. Die LIG- lose mens is nog besmet met sonde en ongeregtigheid en wanneer hy die bloed van Jesus oor hom pleit, raak die bloed van Jesus “filthy blood” omdat dit meng met sy sondes. Die bloed vermeng geestelik met die besmetting van die mens en raak ’n taai tameletjie wat aan die mens vasklou. Alhoewel dit die mens bedek, beteken dit geensins dat die mens nou Goddelike beskerming het nie. Dit vorm ’n tipe laag om die mens wat keer dat die Lig van God in die mens kan begin inskyn, en as die Lig nie in ons kan inskyn nie, kan ons nie ons sondes raaksien nie. Dit is diegene wat stry en baklei oor die Waarheid … wat nie die Waarheid wil hoor of glo nie. Demone weet wat die Waarheid is, maar natuurlik moet hulle probeer keer dat die mens die Waarheid glo. Wanneer hulle die Waarheid binne die mens hoor, raak hulle mal, frustreerd en geïrriteerd en dit is hoekom duistere mense wat die Waarheid hoor, so buite hulleself kwaad kan raak en vreeslik begin argumenteer. Dit is die demone binne hulle wat hulle so laat optree. Met ander woorde, om die bloed van Jesus oor jou te pleit, “shield” jy eintlik die demone binne jou vas dat hulle nie kan uitkom nie en gaan hulle jou bitterlike irriteer en frustreer.
Die bloed van Jesus speel op ’n totaal en al ander manier ’n groot rol in ons lewens. Ons moet in die hart van God gewortel raak sodat ons die LEWE van God kan opneem en daarop kan begin leef. Een van die bestanddele van die LEWE, is die bloed van Jesus wat ons nodig het in ons geeshart. Soos ons die LEWE van God ontvang, drup die verlossende bloed van Jesus druppeltjie vir druppeltjie in ons geeshart wat weer deur ons geestelike are gepomp word om versprei te word deur ons totale wese. DIT is wat ons beskerming gee teen die bose want die LEWE is ook die LIG van God, en as die Lig in ons geesharte aangesteek word, begin die demone binne ons sidder. Hulle kan die LIG van God nie hanteer nie en dis die enigtste ding wat die demone sal laat padgee – die LIG van God! So dit is wat ons nodig het! Nie om die bloed van Jesus oor ons te pleit wat die verwoestende werkers binne ons vaskluister nie, maar die Lig, bloed en lewende water wat ons net by Abba Vader kan ontvang. En hoe ontvang ons dit? Om in afsondering by die voete van Abba Vader baie tyd deur te bring, om Woord in te neem en Abba Vader toe te laat om dit aan jou te interpreteer; om baie tyd in gebed te spandeer… nie allerhande goed van God af te smeek en versoeke te rig nie, maar om ook stil te raak as Abba Vader met jou wil praat.
As julle verskil oor die onderwerp van die pleit van Jesus se bloed, vra ek dat julle asseblief sal comment op hierdie saadjie. As daar ’n Skrif is wat jou oorreed dat dit reg is om die bloed van Jesus te pleit, vra ek asseblief dat julle daardie Skrif op die comments sit.
Hoofstuk 7
“As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” Galasiërs 3:29 (AFR33/53)
In my soeke na rigting uit die duisternis, het ek “geestelike” boeke gelees wat gehandel het oor die sny van bloedlynvloeke. Ek het selfs ’n beradingskursus gedoen wat grotendeels daaroor gehandel het. Die genade van die Here was vir my baie groot en ek het altyd ’n ongemaklikheid gehad oor die gedeelte wat gehandel het oor die sny van bloedlynvloeke. Ek het die kursus net vir ’n paar maande gedoen voordat Abba Vader met my begin praat en Hy my duidelik vermaan het om die kursus te staak en in die plek daarvan alles te begin neerskryf wat Hy my leer.
Ek was al ’n geruime tyd besig om te skryf toe Abba Vader my een oggend, onder gebed, uit die bloute vra of ek die leuen glo oor die sny van bloedlynvloeke en hoekom mense dit doen? Ek maak toe my hart oop teenoor Abba Vader en verduidelik vir Hom hoe ek nog altyd gevoel het oor die breek van bloedlynvloeke – ek was altyd ongemaklik daarmee, want iets het nie vir my reg gevoel nie – dit het vir my so half onnatuurlik gevoel, al kon ek nie my vinger op die ongemak plaas nie. Wanneer ek met Abba Vader in gesprek is, kan ek VOEL Hy is by my, maar die tyd wat ek opgelees en geleer was deur die wêreld oor bloedlynvloeke en ek dit “in die gees” gebreek het, het ek glad nie die teenwoordigheid van Abba Vader gevoel soos vandag nie. Dit het so doelloos en so leeg gevoel, so asof ek dit uit myself probeer doen het sonder God. Tog het ek geglo dat die mense wat hierdie boeke geskryf of die kursusse daarvoor aangebied het, dit van God gehoor het en daarom het ek die leuens geglo. Ek was so naïef…
Na ek aan Abba Vader my hart uitgepak het oor die sny van bloedlynvloeke, vra Hy my:
“Uit watter geslag is jy, My kind? Is jy uit die geslag van die vlees of is jy uit die geslag van Abraham, Isak en Jakob?”
Ek het met ’n diep frons op my gesig voor Abba Vader gesit, want ek kon nie verstaan hoekom Hy dit vir my vra nie, waarna Hy verder verduidelik het:
“As die mens uit die geslag van Abraham is, hoekom sny hy dan bloedlynvloeke? Iemand gebore uit die geslag van Abraham, is vry! Hy kan geen bloedlynvloeke op hom dra nie, want Jesus het klaargemaak daarmee aan die kruis. As jy deel is van die geslag van Abraham, is daar geen bloedlynvloeke om te breek nie.”
Abba Vader verduidelik dus dat daar geen bloedlynvloeke op die geslag van Abraham kan wees nie, want as jy uit die geslag van Abraham is, is jy uit die geslag van God! Jy is dus weer gebore uit God en daar kan geen bloedlynvloeke op die geslag van God wees nie, want Jesus het alreeds alle magte aan die kruis oorwin! Alle vloeke is gekanselleer deur Jesus se kruisdood, so as jy weergebore en oorgegee is aan God, is al die vloeke gekanselleer. Die vyand kan ons dan met geen meer kettings vashou nie. Met hierdie woorde en verduideliking deur Abba Vader gee Hy my Galasiërs 3 om te lees. Ek het behoorlik na my asem gesnak toe ek hierdie hoofstuk lees en veral vers 29:
“As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”
“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang!” Galasiërs 3:13 (AFR33/53)
“Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.” Galasiërs 3:7 (AFR33/53)
Die geslag van God lewe in die Lig van God; hulle is weergebore en skoongewas deur die bloed van die Lam. Daarteenoor funksioneer die geslag van die vyand in boksies wat in die duisternis geleë is en gehoorsaam hulle die wil van die vyand; hulle leef in sonde en weerstaan die wil van God. Satan beheer hulle en hy het ’n houvas op hulle deur die bande en kettings van die boksie, maar hulle besef dit nie en wil dit ook nie glo nie.
God bied Sy Lig-Woord aan almal, maar dit bly die keuse van die mens… Gaan ons die Lig van die Woord toelaat om ons in die Waarheid te lei? Die Woord skyn ’n lig op al die leuens waarvolgens ons leef, maar die mens maak die keuse of hy dit wil erken of nie. Ons kan vryheid bekom deur ons sondes en tekortkominge met ’n opregte hart aan God te bely sodat Hy ons vergewe en verlos, maar as ons ons nie steur aan die Woord van God nie, luister ons nie na God nie. Dan is ons net ’n hoorder van die Woord en doen ons nie wat God van ons verwag nie. As ons nie na God luister nie, is daar net een ander een na wie ons luister en dit is Satan. Kyk wat sê Jesus vir die Fariseërs in Johannes 8:44:
“Die duiwel is julle pa. Al wat julle wil doen is om na julle pa te luister. Wat hy sê, doen julle. Die duiwel stel net daarin belang om mense se lewe te vernietig en hulle dood te maak. Hy was mos altyd so. Hy gee niks om vir die waarheid nie. Al waarin hy belangstel, is om te lieg en te bedrieg. Dit is hoe hy is. As hy sy mond oopmaak, lieg hy. ’n Mens kan niks glo wat hy sê nie….Julle wil nie na My luister nie, wat maar net kan beteken dat julle nie kinders van God is nie.” Johannes 8:44 (DB)
Volgens Johannes 8 is ’n persoon wat nie luister na God nie, ook nie ’n kind van God nie, maar van Satan, met ander woorde, hierdie persoon is dan nie uit die geslag van Abraham nie, maar uit die vleeslike geslag van die wêreld. Hy is nog vasgeketting in die duisternis. Kinders van God gehoorsaam Sy gebooie – nie uit hulle eie nie, maar deurdat Jesus in en deur hulle heers en aan hulle die vermoë gee om gehoorsaam aan God te wees (dit is Jesus in hulle wat God gehoorsaam). Wanneer hulle nuut gebore word uit die geslag van Abraham, kan daar geen bloedlynvloeke op hulle wees nie, want hulle is dan uit God gebore.
Lees asseblief Johannes 8:31-47. Ons moet daarteen waak om nie so verwaand en selfvoldaan te wees soos die Fariseërs nie… Hulle was vas oortuig dat hulle kinders van God is, maar volgens Jesus se woorde aan hulle, is hulle kinders van die een aan wie hulle gehoorsaam is – die duiwel. Ons kan onsself daaraan meet as ons die Lig-Woord optel en bestudeer, as ons kies om eerlik na ons eie lewe en dade te kyk. Waarvan getuig ons dade? Na wie luister ons? Na Satan of na God? Jesus sê vir die Fariseërs hulle is gevangenisse en dat die Waarheid alleen hulle vry kan maak. Hulle is geskok oor die Man wat vir hulle sê hulle sit in gevangenis, want hulle reken hulle was nog altyd vry. Hulle roem in hulle vryheid omdat hulle vleeslik uit die nageslag van Abraham is, maar wat hulle nie verstaan nie, is dat niemand wat vleeslik uit die nageslag van Abraham is, daarop kan roem om kinders van God te wees nie, want Romeine 9:7,8 sê:
“Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag!” Romeine 9:7,8 (AFR33/53)
The Message stel hierdie Skrif so:
“Not all Israelites of the flesh were Israelites of the spirit. It wasn’t Abraham’s sperm that gave identity here, but God’s promise. Israelite identity was never racially determined by sexual transmission, but it was God-determined by promise.”
Die Fariseërs het op hulle vleeslike afkoms geroem en daarom geglo hulle is vry en kinders van God. Hulle het geglo hulle is vry omdat hulle al hulle eie wette gehoorsaam. Hulle het geglo hulle is uit die geslag van God, maar hoe kan iemand wat uit die geslag van God is, nie die Seun van God herken nie? Hoe kan iemand wat uit die geslag van God is, nie die woorde van God herken en aanvaar nie? So ’n persoon is geestelik doof en geen woord van God kan insink in so ’n persoon se hart nie. Hulle wou Jesus eerder doodmaak en dit wys mos duidelik wie hulle geestelike vader is, want die duiwel is ’n leuenaar en ’n moordenaar van die begin af. Hy kan nie omgee vir die Waarheid nie, want al wat hy kan doen, is lieg en bedrieg, en sy kinders doen dieselfde. Jesus spreek woorde van Waarheid en daarom wou die Fariseërs Hom doodmaak en so doen Satan en sy saad in vandag se tyd nogsteeds – hulle probeer nogsteeds om God se kinders geestelik dood te maak wat die Waarheid praat. Ons moet onsself die vraag afvra: Wie is ons geestelike vader? Aan wie is ons gehoorsaam? Na wie luister ons?
Net soos die Fariseërs, roem vandag se mense dat hulle vry en gered is. Hulle dink so omdat hulle kerk toe gaan, maar in der waarheid beoefen hulle net godsdiens waar hulle God dien met die mond en lippe; dit het niks met hulle harte te doen nie. Sonder dat hulle dit besef, sit hulle nogsteeds in gevangenis in duistere boksies terwyl hulle al die godsdienstige wette, reëls en ander regulasies van hulle voorouers volg. Hulle is nogsteeds deel van die boksiegeslag en al die vloeke wat deur sonde veroorsaak word, is van toepassing op hulle lewens. Niemand kan sê dat Jesus gesterf het vir sy sondes en daarom is hy/sy deel van God se geslag nie. Om deel van God se geslag te wees, moet ons ons vleeslike natuur afsterf en moet ons geestelik weer gebore word. Om elke Sondag kerk toe te gaan of met die mond te sê jy glo in God, beteken nie jy is weergebore nie.
Hoe word ons deel van die geslag van Abraham?
Lees Johannes 3:1-10. Ons word deel van die geslag van Abraham wanneer ons weer gebore word, want wanneer ons deel word van die geslag van Abraham, word ons deel van die geslag van God. Om weer gebore te word, moet ons sondige natuur eers sterf, want hoe kan ons weer gebore word terwyl ons sondige natuur nog lewe? Ons moet die self afsterf soos Jesus aan die kruis gesterf het en ons moet weer opgewek word deur die krag van God soos Jesus opgewek is uit die dood. Dan is ons weer gebore deur God en dan leef Jesus in en deur ons. Dit is nie sommer net ’n keuse wat ons maak en nou is ons weergebore nie; dit is ’n lang proses, ’n pad wat ons moet stap, hand aan hand met Jesus, waar die Waarheid ons eers moet suiwer en vrymaak van onsself. Sonder hierdie proses sal ons nooit kan behoort aan die geslag van Abraham, dus, aan die geslag van God nie. Om met water gedoop te word, beteken ook nie die mens is weergebore en uit God nie.
Dit het die Fariseërs nie verlossing gebied deur vleeslik te behoort aan die nageslag van Abraham nie en net so vandag het ons vleeslike afkoms niks te make met ons verlossing nie en daarom help dit ons niks om bloedlynvloeke te sny nie. Al sny of breek ons bloedlynvloeke met menswoorde, bly ons nogsteeds in die boksie, want ons het vleeslik nie gesterf nie. Om bloedlynvloeke te sny soos die wêreld ons leer, is oppervlakkig, want dit het niks met ons gees te doen nie. Daarom kan dit ook nie aan ons ’n plek in God se geestelike familie gee nie. Die enigste antwoord lê daarin om van nuuts af ingebore te word in die familie van God in. Johannes 12:24 sê as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, kan dit nie vrug dra nie, wat ook beteken ons het nodig om ons vleeslikheid af te sterf sodat ons geestelik weer gebore kan word.
Die meeste van ons is nie vleeslik uit die nageslag van Abraham nie, maar deur die Here se genade het Hy dit nou vir ons moontlik gemaak om geestelik deel te word van die geslag van Abraham en dit is al wat tel. Die Israeliete het op hulle eie werke en dade staatgemaak vir verlossing; hulle het die genade van God verwerp en hulle het nie geglo in die lewende God nie. Hulle wou nie die sterfte van Jesus, en dit wat Hy vir die mensdom aan die kruis gedoen het, aanvaar nie. Hulle wou eerder op hulle eie werke staatmaak vir verlossing. Hulle was baie toegewyd in hulle godsdiens, maar op die ou end het dit hulle niks gehelp nie. Hulle het baie ywer, maar hulle het geen kennis van hoe God waarlik werk nie (Romeine 10:1-4). Hulle het hulle nie aan God se plan van verlossing onderwerp nie en dit het veroorsaak dat hulle die vryspraak van God misgeloop het. Net so moet ons versigtig wees wanneer ons al ons fokus plaas op die sny van bloedlynvloeke, die pleit van Jesus se bloed en nog so baie ander dwaalleringe… Raak ons nie ook toegewyd in godsdiens nie? Ywer ons nie ook te hard, maar mis die merk nie? Ons moet versigtig wees dat ons nie so vasgevang raak in godsdienstige rituele dat ons ook die vryspraak van God misloop omdat ons al ons vertroue op menswoorde plaas en sodoende ons geloof in Jesus Christus verloor nie. Alles gaan oor ons geloof in Abba Vader en of ons waarlik glo wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Ons moet dit wat Jesus vir ons gedoen het, “embrace”.
Om die gedeelte op te som: Kan daar vloeke op ons wees? Ja, verseker! As ons nog volgens ons voorouers se tradisie, reëls en godsdiens lewe, is ons nogsteeds vasgevang in vervloeking en duistere boksies. As ons die sondes van ons voorouers nogsteeds aan die lewe hou, hang daar ’n vervloeking oor ons lewe. As ons ons nie steur aan God en Sy Woord nie, leef ons in ’n vervloeking. As ons nie ’n hegte verhouding met God het nie, is vervloeking ons voorland. Dit is Godslasterlik om te beweer dat ons outomaties vrygekoop is van vloeke omdat Jesus gesterf het. Die persoon wat hierdie uitlatings maak, ken nie die Woord van God nie en leef ’n leuen. Jesus sê baie duidelik dat ons moet sterf aan die self en weer gebore moet word om deel van die koninkryk van God te kan wees. Om deel van ’n kerk of ’n selgroep te wees, beteken nie jy is weergebore nie. Omdat jy gedoop is as baba, beteken nie jy is weergebore nie. Om met die mond te bely om in God te glo en dat Hy ’n God van liefde is, beteken nie jy is weergebore nie. Wedergeboorte is iets wat met die hart gebeur en die bewys daarvan sal in jou dade gesien word. God sien alles wat ons doen; Hy ken elkeen se hart en Hy alleen weet of jou hart opreg is of nie. Hy weet wanneer ons mense in die stilligheid, of selfs in die openbaar veroordeel of vervloek, Hy sien al ons dade en motiewe raak, ons kan niks vir Hom wegsteek nie. Alleenlik wanneer ons die vleeslikheid afgesterf en weer gebore is in die Lig van God, word ons verlos van al die kettings en bande. Alleenlik dan tel die kruisiging van Jesus vir ons en is dit van toepassing op ons, maar die mens in duisternis kan nie die kruisiging van Jesus vir homself opeis en beweer hy is verlos nie. Dis gewoonlik hulle wat dan lewe net soos hulle wil. Die bewys sal lê in die vrug wat ons dra.
“…Wat moet ons doen, broers? En Petrus sê vir hulle: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang…’ En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: ‘LAAT JULLE RED UIT HIERDIE VERKEERDE GESLAG!’” Handelinge 2:37-40 (AFR33/53)
Jesus onderrig Nikodémus aangaande die wedergeboorte.
En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is. Johannes 3:1-21 (Afr 33/53)
Hoofstuk 6
“Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul. Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en yster OMDAT hulle wederstewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. Toe het hulle die Here aangeroep in hulle benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.” Psalm 107:9-14 (AFR33/53)
“Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan!” Jesaja 45:2 (AFR33/53)
Abba Vader laat ervaar my die volgende onder gebed: Ek is verdwaald in ’n baie donker woud en ek weet nie watter kant toe nie; ek het geen kompas by my om rigting te vind nie, maar al het ek ’n kompas by my gehad, sou dit my nie gehelp het nie, want ek het geen aanwysings nie. Ek kyk om my rond: Die woud bestaan uit ’n groot aantal hoë, massiewe bome waarvan die toppe van die bome so dig is dat daar geen sonlig deur die blare skyn nie. Die droë blare kraak onder my voete soos ek deur die woud stap op soek na die regte pad. Dan sien ek ’n boek wat vasgespyker is teen ’n boom. Ek hardloop na die boek met die hoop dat ek aanwysings hierin sal kry wat my sal help om die regte pad uit die donker woud te vind. Ek gaan sit onder ’n boom en lees vinnig die boek deur, maar wanneer ek die boek klaar gelees het, voel ek nogsteeds verdwaald en verlore. Ek staan op en begin verder soek na die regte pad. Dan sien ek nog ’n boek teen ’n boom vasgespyker en hardloop om daardie boek ook te lees in die hoop om aanwysings in daardie boek te vind… So hardloop ek soos ’n verdwaalde deur die woud van boom na boom en lees al die boeke wat vasgespyker is teen die bome, maar nie een van hierdie boeke help my om die pad te vind uit die donker woud nie; nie een van hierdie boeke lei my na die ware Weg nie; nie een van hierdie boeke gee vir my hoop en vrede nie. Hierdie boeke het my inteendeel net nog verder laat verdwaal, want dit het my goed geleer soos die sny van bloedlynvloeke, om die bloed van Jesus te pleit en die verkeerde verstaan van die wapenrusting. Nie een van hierdie leringe leer my die korrekte rigting of pad uit die duistere woud nie, maar lei my eerder net dieper die donker woud in om verder te verdwaal.
Dan sien ek gedaantes in swart wat pyle op die bome uitkap om rigting aan te dui, maar soos ek die pyle volg, kom ek agter die pyle lei my al in die rondte. Ek begin die boeke en pyle ignoreer en begin die teenoorgestelde rigting daarvan loop en skielik sien ek êrens uit die donker woud ’n flou liggie wat skyn. Ek stap in die rigting van die liggie en soos ek soontoe stap, raak die flou liggie al hoe helderder. Die liggie lei my na die middel van die woud en dan sien ek waar die lig vandaan kom… Dit skyn uit ’n pragtige, goue Boek wat op ’n afgekapte boomstomp lê. Die Boek is vol stof, maar ek tel die Boek op, blaas die stof daarvan af en gaan sit in verwondering plat, met gekruisde bene, langs die afgekapte boom met die goue Boek in my hande. Ek maak die boek oop en dis asof die blaaie en woorde daarin begin lewe. Ek begin die lewende woorde lees, en soos ek dit lees, kan ek voel dit doen iets aan die binnekamers van my hart. Later begin ek die woorde van die Boek verslind en hoe meer ek voed op hierdie wonderlike Boek, hoe meer lig raak dit om my, hoe meer kettings begin ek raaksien wat my gevange hou en hoe meer aanwysings begin ek raaksien wat my uit die donker woud kan uitlei. Ek kan voel hoe die woorde van die Boek lewendig raak binne my soos ek die woorde lees en inneem.
“Julle leen julle ore uit aan ‘n klomp mense wat die goeie nuus oor Christus heeltemal verdraai. Dit lyk my hulle het julle kop behoorlik deurmekaar gepraat. As mense ’n ander weergawe van die goeie nuus oor Christus verkondig, sal God hulle verskriklik straf.” Galasiërs 1:7,8 (DB)
Een manier waarop Satan soekende mense in duisternis maklik verlei, is deur dwaalleringe wat mense verder vasvang in godsdienstige orgies! In my soeke na God, het ek geestelike boeke begin lees wat ek teen die bome in die digte woud gevind het – hierdie boeke was uit die duisternis! Daar was geen Waarheid daarin te vinde nie, alhoewel hulle die Naam van God gebruik, of laat ek eerder sê, misbruik. Die aanwysings daarin laat die mens net nog dieper die woud in verdwaal en dit lei die mens op paaie wat God nie vir ons uitgelê of beplan het nie. Dit lei ons al in die rondte in die donker bos en sorg dat ons nie die ware Weg van God vind nie. Hierdie boeke kan ons nooit na die ware Weg van God lei nie, maar voorkom dat ons die regte Weg vind. Dit is die werk van Satan om ons in die duister te hou, want hy probeer enigiets in sy vermoë sodat ons nie die pad van God vind wat ons uit die duisternis sal uitlei nie. Hierdie boeke lei naïewe mense op die verkeerde spoor met redenasies wat slim klink, maar eintlik is dit met leuens deurtrek (Kollosense 2:4). Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink en dit kom van die onsigbare magte wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van hulle idees stem ooreen met dit wat Christus sê nie, en dit staan ook nie vir ons opgeskryf in die Woord nie. Deur hierdie leringe, ketting Satan die mens net nog stywer vas in geestelike tronke deur middel van ’n spul leuens en veral godsdiens! Abba Vader het my uitdruklik vermaan om al hierdie geestelike boeke in my besit teen die kruis vas te spyker, om alles te verwerp wat ek daarin gelees het en my van voor af deur die Woord van God te laat leer:
“Die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos die julle geleer het, so moet julle in Hom bly.” 1 Johannes 2:27 (AFR33/53)
“’n Pad ten lewe is hy wat die tug in ag neem; maar hy wat die teregewysing verontagsaam, raak VERDWAALD.” Spreuke 10:17 (AFR33/53)
As God ons al hierdie snaakse goed wou leer wat in sogenaamde geestelike boeke staan, sou dit in die Bybel vir ons opgeskryf gewees het, want die hele Skrif is deur God gegee aan mense om neer te pen tot lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing in die geregtigheid (2 Timoteus 3:16). God het die Woord aan Sy profete en aan Sy dienaars gegee; Hy het elke Woord in hulle harte gefluister sodat hulle wat Sy stem kon hoor, elke Woord kon neerpen vir die mensdom. 2 Petrus 1:19 sê die profetiese Woord is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in die mens se hart… DIT is presies wat ons nodig het! Die môrester moet opgaan in ons harte, die Lig van God moet begin skyn vanuit ons harte. Duisternis oor ons hart moet verbreek word! Maar daarvoor het ons nodig om eerstens die Lig van die Woord van God te vind in die middel van die donker woud; ons het nodig om ons rug te draai op die dinge van die wêreld waarmee ons ons so besig hou en ons tyd te wy aan die Woord van God.
Jesus het gesterf sodat Sy Lig vrygestel kon word en die Lig is ook die Gees van God. Die Lig kan in die duistere boksies ingaan om mense te help wat vooraf gekies is deur God. Voor die kruisiging, was die Lig van God nog nie vrygestel nie en daarom was daar eers geen hulp vir die mense nie. Daar was ook nog nie ’n deurgang vanaf die duistere toestand na die Ligtoestand van God nie, maar Jesus se sterfte het die aarde laat bewe, die voorhangsel laat skeur en ’n deurgang bewerk na die Ligtoestand van God. Jesus het die Weg kom baan wat lei na die Lig-toestand. Die gehoorsame sterfte van Jesus het Sy Lig vrygestel om ’n hulp vir die mense in gevangenis te wees. Nou kan die mens met die hulp van die Lig begin sien wat aangaan in die duisternis, die Lig kan aan die mens al die kettings en bande openbaar wat hom in gevangenis hou en die Lig kan die mens lei in die rigting van die kruis waar opregte sondebelydenis moet plaasvind. Ons moet net mooi verstaan dat wanneer ons die Lig-Woord vind en ons dit begin lees, ons nog nie deurdrenk is met die Lig van God nie, maar die Lig word aan ons geskenk om ons rigting te gee uit die donker woud na die kruis van Jesus.
“U Woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Psalm 119:105 (AFR33/53)
Soos ons tyd met die Woord begin spandeer, skyn die Woord ’n lig op al die kettings en bande van sondes wat ons gevange hou – sondes in ons eie lewe asook sondes van ons voorouers wat ons aan die lewe hou, met ander woorde, sondes van ons voorouers waarmee ons nog nie gebreek het nie, maar waarmee ons aangaan omdat ons grootgeword het daarmee en dink dit is reg. Ons moet die Woord toelaat om ’n lig te skyn op elke dingetjie in ons lewe en dan sal God deur Sy Woord aan ons elke onheil in ons lewe openbaar waarmee ons moet breek en aan Hom bely sodat ons vergifnis kan ontvang daarvoor. Die Lig van die Woord skyn ook op die leuens wat ons in allerhande “geestelike” boeke gelees en geglo het. Dit is ’n keuse van ’n volwaardige volwassene om die Lig-Woord op te tel en sy foute, tekortkominge en sonde daardeur raak te sien. Dis ’n keuse wat die mens maak om homself eenkant te plaas, sy trots te laat staan en sy eie foute raak te sien en te erken. Erkenning en belydenis is die beginpunt van verlossing! As die mens net vir ’n ruk van sy troontjie wil afklim en kies om sy eie swakhede raak te sien… As ons nie die keuse maak om te breek met ons sondes en dit aan God te bely nie, kan ons nie vergifnis ontvang nie en as ons nie vergifnis ontvang nie, word die kettings om ons nie afgebreek nie en strompel ons voort in die duisternis in kettings…
“Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is Lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die Lig lewe soos Hy in die Lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, Sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is Sy woord nie in ons nie.” 1 Johannes 1:5-10 (AFR33/53)
Lees asseblief Efesiërs 5:8-20. Ek haal aan uit Die Boodskap:
“Moenie iets wegsteek nie, maar leef openlik vir God. Julle was ook eens op ’n tyd soos mense wat in die donker geleef het. Nou dien julle die Here en leef dus soos mense wat in die lig kan sien wat hulle doel is. Leef dus soos mense wat niks wil wegsteek nie, maar wat alles oop en bloot in die lig doen. (Iemand wat so leef, is goed vir ander, tree op soos God van hom verwag en staan by die waarheid.) As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees. Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is. Die dinge wat die ongehoorsame mense so in die donker aanvang, is so vieslik dat ek dit nie eens hier wil noem nie. As die lig van Jesus egter daarop val, sal almal kan sien hoe sleg hierdie dinge werklik is. In die lig kan ’n mens mos niks wegsteek nie en as dit eers in die lig is, is dit daar vir almal om te sien. Dit is daarom dat die Skrif sê: ‘Word wakker, jou slaper; word lewendig uit die dood, en Christus sal sy lig oor jou laat val.’ Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye. Moenie julle lewens mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef. Moenie te veel wyn drink nie, want dan verloor ’n mens beheer oor jouself. Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word. Sing en leer mekaar met liedere wat uit die Psalms kom of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here. Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader, baie dankie te sê vir alles nie. Doen dit omdat julle aan Jesus Christus behoort en Hy julle in staat gestel het om dit te doen.” Efesiërs 5:8-20 (DB)
Lees ook die wonderlike bevestiging in 2 Korinthiërs 4:1-6. Ek haal sekere dele aan uit Die Boodskap:
Die goeie nuus bring lig en lewe
“As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is. God het heel aan die begin gesê: ‘Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.’ Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met Sy helder Lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesigmet Jesus Christus te staan gekom het.”
Dit is ‘n keuse van die mens om allerhande “geestelike boeke” neer te sit en eerder die Lig-Woord op te tel sodat dit ’n lig kan skyn op al die leuens, kettings en bande wat ons omring. Ons moet die Lig-Woord waarlik bestudeer en dan is dit ons verantwoordelikheid om eerlik met onsself en God te wees oor ons eie sondes asook die sondes van ons voorouers wat ons aan die lewe hou en moet ons die keuse maak om te WIL breek daarmee. Die Lig wys duidelik aan ons wat sonde is en gee aan ons rigting en leiding na die kruis van Jesus, die enigste plek waar ware belydenis van sonde kan plaasvind. Die Lig-Woord stel ons ook voor aan Jesus Christus sodat ons Hom kan leer ken – daar is geen ander manier hoe ons Jesus kan leer ken nie en om in Hom te GLO, moet ons Hom eers leer ken wat alleenlik deur die Woord kan geskied. Ek sê weer: Die sny van bloedlynvloeke kan aan niemand verlossing of redding bied nie; alleenlik opregte sondebelydenis by die kruis engeloof in Jesus Christus.
“Wat die Lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos die van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.”
“Once you lived in the dark, but now the Lord has filled you with light. Live as children who have light. Light produces everything that is good, that has God’s approval, and that is true. Determine which things please the Lord. Have nothing to do with the useless works that darkness produces. Instead, expose them for what they are. It is shameful to talk about what some people do in secret. Light exposes the true character of everything because light makes everything easy to see. That’s why it says: ‘Wake up, sleeper. Rise from the dead, and Christ will shine on you!’” Ephesians 5:8-14 (GWT)
Alles gaan oor keuses wat ons maak! Dit is ’n keuse wat ons maak om die Lig-Woord te vind, die stof daarvan af te blaas en dit waarlik te begin bestudeer. Dit is ’n keuse wat ons maak om die Lig-Woord toe te laat om aan ons die kettings en bande te openbaar wat ons gevange hou. Weereens is dit ’n keuse wat ons maak om ons trots eenkant toe te skuif en al ons foute, tekortkominge en sondes wat die Woord aan ons openbaar, te erken en ware berou daaroor te hê. Gaan ons die keuse maak om die sondes in ons lewe aan Abba Vader te erken en te bely en om dan die sonde te verwerp en ons rug daarop te draai? Of gaan ons ons oë toedruk en aangaan met hierdie sondes wat so lekker is?
“…There’s nothing like the written Word of God for showing you the way to salvation through faith in Christ Jesus. Every part of Scritpure is God-breathed and useful one way or another – showing us truth, exposing our rebellion, correcting our mistakes, training us to live God’s way…” 2 Timothy 3:16 (MSG)
Hoofstuk 5
Audio “Bloedlynvloeke sny?”
“As julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenwandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos…” 1 Petrus 1:17-19 (AFR33/53)
Die mense wat die lering versprei oor die sny van bloedlynvloeke, sien die sondes van die voorouers as ’n vloek wat oor die kinders se lewens kom hang en onheil in ‘n mens se lewe veroorsaak soos huwelike wat verbrokkel, siektes, onvrugbaarheid, finansiële probleme, allerhande verslawings en ook goed soos woede, angs, depressie en so meer. Met ander woorde, die lering oor die sny van bloedlynvloeke leer die mens dat wanneer hulle slegte omstandighede beleef, hulle vervloekinge beleef as gevolg van die sondes van hulle voorouers. Die Skrif wat die mense gebruik om hierdie lering te staaf, is Eksodus 20:5,6:
“Jy mag jou voor hulle (gesnede beeld) nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou” Eksodus 20:5,6 (AFR33/53)
Hulle glo dus dat die sondes van die voorouers ’n vervloeking op die nageslag plaas sonder dat die nageslag dit verdien. Soos Abba Vader my geleer het… die nageslag word onglukkig wel in die vervloekte boksie ingebore, maar daar is ’n manier om daarvan los te breek. Die dwaalleer wat geleer word aan die mense is om bloedlyn- of generasievloeke te sny deur hulle voorouers se sondes te identifiseer, ’n rympie en ’n gebed op te sê en dan is die mens kwansuis losgesny van die vloek wat sy voorgeslagte se sondes op hom gelê het…
Ek het ook hierdie leuen geglo oor die sny van bloedlynvloeke totdat Abba Vader ingegryp en my die Waarheid kom leer het. Dat daar ’n vervloeking op ’n mens se lewe kan wees, is sonder twyfel. Daar is verseker vloeke van verskeie aard wat op mense se lewens rus en selfs die Bybel is baie duidelik oor ’n vervloeking, so ek sê nie daar bestaan nie iets soos ’n vervloeking nie. Wat ek wel sê, is dat die manier waarop die wêreld die vloeke wil breek, nie Bybels is nie. Nêrens in die Woord noem God vloeke bloedlynvloeke of generasievloeke nie, maar as jy dit wil sien as bloedlynvloeke, sien dit dan so… die kwessie is nie of daar wel vloeke bestaan of nie, want ons almal leef op ’n stadium in die duisternis in ’n vervloeking; die kwessie is hoe om die kettings gebreek te kry wat jou in die vervloeking vasgeketting…
Lees asseblief Esegiël 18. Jy sal sien hierdie hoofstuk lyk asof dit in teenstelling is met Eksodus 20:5 en 6. Esegiël 18 is vir ons baie duideliker uiteengesit as Eksodus 20, veral vers 20 wat sê:
“Die siel wat sondig, die moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” Esegiël 18:20 (AFR33/53)
Ek voel mense vat die vers in Eksodus 20 en interpreteer dit soos hulle wil. Hier is hoe Abba Vader Eksodus 20:5 en 6 aan my verduidelik het…
God besoek die misdaad van die ouers tot aan die derde en vierde geslag van die wat Hom haat… Let wel: VAN DIE WAT HOM HAAT! Wat beteken dit om God te haat? Om God te haat, is die teenoorgestelde daarvan om God lief te hê en die Woord sê as ons God liefhet, sal ons Hom gehoorsaam, dus sal ons Sy gebooie gehoorsaam.
“As julle My liefhet, bewaar My gebooie.” Johannes 14:15
“Wie My gebooie het en die bewaar, dit is hy wat My liefhet…” Johannes 14:21
“Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy gebooie bewaar; en Sy gebooie is nie swaar nie. 1 Johannes 5:3
Die mens wat God liefhet, sal Sy gebooie bewaar, maar ons kan alleenlik Sy gebooie gehoorsaam as ons een is met Abba Vader, as Sy Gees in ons “dwell”, as die LEWE van God in en deur ons werk… want dit is die Gees van God binne ons wat God gehoorsaam, nie die mens nie. Wanneer ons een raak met Abba Vader deur Sy Gees, sal hierdie mens se waardes, persepsies en beginsels Goddelik van aard wees. Omdat hulle God gehoorsaam, sal hulle nie hulle omgewing vervloek deur sonde nie, so hulle maak nie hulle kinders groot in ’n vervloekte boksie nie. Hierdie kinders word van jongs af met Goddelike waardes, persepsies en beginsels grootgemaak; hulle sal deur die voorbeeld van hulle ouers leer wat dit beteken om God waarlik lief te hê en om ’n verhouding met Hom te hê.
Aan die anderkant van die munt is die mense wat ongehoorsaam is aan God en God vergelyk ongehoorsaamheid met haat. Ongehoorsames sal nie God se gebooie nakom nie en hulle waardes, persepsies en beginsels gaan nie Goddelik van aard wees nie. Hulle gaan nie fout sien met klein (of groot) sondes in hulle lewens nie en hulle gaan hierdie ongoddelike waardes, beginsels en persepsies oordra aan hulle kinders. Hulle kinders word dus groot met ongoddelike beginsels en hulle sal nie fout sien met die sondes van hulle ouers nie.
Met ander woorde, as daar in die voorgeslagte ’n voorouer was wat God nie gehoorsaam het nie, is dit ’n bewys van afwesigheid van liefde vir God (God sien dit as haat) en dan het hierdie voorouer sy kinders grootgemaak met dieselfde waardes en persepsies as hyself. Die kinders word dus groot met dieselfde “mindset” as die ouers en hulle sal ook niks met ongehoorsaamheid en sondes verkeerd kan sien nie. Hulle sal dalk wel elke Sondag in die kerk sit en godsdiens beoefen wat klink asof hulle God dien, maar sonder gehoorsaamheid aan God asook verhouding met God, beteken dit niks. Hulle sal tien teen een in die voetspore van hulle ouers volg, ongehoorsaam wees aan God en ook hierdie “mindset”, godsdiens en reëls weer aan hulle kinders leer. Omdat hulle dan van geslag tot geslag vasgeketting sit in boksies, leef hulle van geslag tot geslag in ’n vervloeking, want as ons vasgeketting is in boksies, leef ons in ’n vervloeking. Dus vorm dit ’n bose kringloop waar hierdie geslag tot in die soveelste geslag vervloek sal wees – dis nie God wat hulle vervloek nie, dis die mens se ongehoorsaamheid wat vir homself en sy kinders ’n vervloeking skep. Dit is ook nie die kinders wat direk gestraf word omdat hulle voorouers ongehoorsaam was nie; daar rus dus nie direk ’n vloek op die kinders as gevolg van die ouers se ongehoorsaamheid nie, want elke mens word aanspreeklik gehou vir sy eie dade. (Esegiël 18) Ongelukkig word die meeste van ons grootgemaak in ’n vervloekte omgewing waar ons ons ouers se voorbeeld van waardes, persepsies en beginsels gaan volg. Ons gaan dus aan met godsdiens, tradisie en al die ander goed wat ons geleer is en as ons nie daarmee breek nie, gaan ons dit weer oordra aan ons eie kinders… op so ‘n manier gee ons aan vervloeking ’n deurloop in ons familie.
Nou leer die wêreld ons om hierdie bloedlynvloeke met woorde te breek, maar is dit regtig die antwoord? Ek het al soveel mense gesien waarmee dit sleggaan, wat bloedlynvloeke breek met die hoop dat dit beter met hulle sal gaan, maar hulle omstandighede verander net nooit… Is dit nie dalk net ’n maklike uitkoms nie?
“Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul. Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en yster OMDAT hulle wederstewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. Toe het hulle die Here aangeroep in hulle benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.” Psalm 107:9-14 (AFR33/53)
Uit hierdie Skrif is dit duidelik dat mense in duisternis vasgekluister is OMDAT hulle wederstrewig is teen die Woord van God en omdat hulle die raad van Abba Vader verwerp en hulle eie wil gehoorsaam, met ander woorde, mense wat ongehoorsaam is aan God. Hulle is nie vasgeketting in die duisternis as gevolg van hulle voorouers se sondes wat ’n vervloeking oor hulle lewe geplaas het nie; hulle is vasgeketting in die duisternis omdat hulle die voorbeeld van hulle ouers volg en aangaan met dieselfde sondes as die ouers. Hulle is ongelukkig grootgemaak met dieselfde, verkeerde “mindset” as hulle ouers en dit is hierdie “mindset” wat moet verander. Solank as wat hulle gaan vasklou aan die maniere van die voorouers, so lank gaan hulle in vervloeking bly leef. Die mens moet tot die besef kom dat dit nie gaan help om die skuld vir die gemors in sy lewe op sy ouers of voorouers te pak en sommer net bloedlynvloeke te sny nie. Dit is die mens wat moet verander! Die mens moet sy eie sondes laat staan! Dit is die “mindset” van die mens self wat oorgegee moet word in die hande van Abba Vader.
Om bloedlynvloeke te breek, gaan ons nie help nie. Dit is tyd dat elke mens verantwoordelikheid vat vir sy eie lewe; ons moet breek met ons eie sondes en dit sluit in die sondes wat ons by ons ouers aangeleer het. Die probleem is dat ons gewoonlik sukkel om die spesifieke sondes en verkeerde leefwyses (soos byvoorbeeld godsdiens) raak te sien in ons lewens. Dit is omdat ons grootgeword het daarmee en half gewoond is daaraan dat ons dit nie sien as sonde nie. Dit is net Abba Vader wat ons kan oortuig van ons sondes en verkeerde leefwyse deur die Woord en gebed.
Die enigste manier om los te breek van hierdie kettings en bande, is om die keuse te maak om jou eie lewe in perspektief te neem, om voor die voete van Abba Vader selfondersoek te doen, verantwoordelikheid te begin vat vir jou eie lewe en dade, en die keuse te maak om jou rug op sondes en ongeregtighede te draai en jou te bekeer daarvan. Jy moet sterf daaraan. Dan ontvang jy vergifnis van God daarvoor. Dit is die mens se eie verantwoordelikheid om die sondes van sy voorouers waarmee hy aangaan, raak te kan sien en totaal daarmee te breek. Ons moet deur Jesus heers oor ons sondes en dan eers sal die persoon nie verder in ’n vervloeking leef nie, want dan het die persoon die lewe gekies. Alles in ons lewe draai om keuses…
“Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag…” Deuteronomium 30:19 (AFR33/53)
Mense leef dus in ‘n vervloeking omdat hulle nie hulle rug op die sondes van hulle ouers draai nie, maar aangaan daarmee, hulle hou daardie sonde as’t ware lewendig. Dit moet afgesterf word en dit is die mens se eie verantwoordelikheid om die Waarheid teenoor die leuens (of sonde) raak te sien, en die keuse te maak om daarmee te breek deur Jesus Christus. Solank as wat ons aangaan daarmee en nie breek met hierdie sondes nie, sal dit ’n effek op ons lewens hê en sal ons in ’n vervloeking leef.
Hoe maklik is dit om die skuld vir jou vervloekte lewe op jou voorgeslagte te pak en hulle verantwoordelik te hou vir alles wat verkeerd loop in jou lewe… Hoe maklik is dit om ’n paar woorde te uiter en die vloeke is gebreek sodat dit van nou af goed kan gaan in jou lewe… Dit is teenstrydig met Esegiël 18 wat duidelik sê die kinders sal nie betaal vir die ouers se sondes nie en die ouers sal ook nie betaal vir die kinders se sondes nie, maar elkeen sal gestraf word vir sy eie ongeregtighede, dus moet die kinders seker maak hulle gaan nie aan met hulle ouers se sondes nie.
Kom ons dink net vir ’n oomblik openhartig en eerlik oor hierdie saak… Wat is die grootste rede hoekom mense bloedlynvloeke sny? Dalk gaan dit moeilik in hulle lewe… dalk is daar siektes, huweliksprobleme, finansiële probleme of wat ookal. Nou hoor hulle hierdie “wonderlike” lering dat hulle bloedlynvloeke moet sny om te verseker dat dit beter in hulle lewens gaan… so wat is die hooffokus van hierdie mens? Is die fokus ingestel op die self en ’n beter (meer geseënde) lewe? Of is die fokus om nader aan God te leef? Die meeste mense se diep innerlike motief is vals en verkeerd in die oë van die Here, want die sny van bloedlynvloeke is vir hulle ’n kitsoplossing om nie net verlossing te ontvang nie, maar ook om ’n geseënde lewe te kan lei! Nêrens in die Woord van God leer Abba Vader ons om bloedlynvloeke te sny nie. Wat God wel deur die Woord aan ons leer, is dat ons Hom met alles in ons moet liefhê en gehoorsaam – dan sal dit met ons goed gaan. Dit is tyd dat ons verantwoordelikheid vat vir ons eie lewe, dit onder ’n vergrootglas sal plaas en Abba Vader vra om ons sondes aan ons uit te wys. Vir die meeste mense is dit baie makliker om nie verantwoordelikheid vir hulle eie dade te vat nie, maar eerder die skuld op die voorouers se sondes te blameer en hulle die skuld te gee vir die vervloeking in hulle lewens. As daar voorouers was wat omgegaan het met waarsêery en toordery en die kind gaan ook daarmee aan deur mense te vervloek, leef hierdie kind in dieselfde vervloeking as die voorouer. Dis nie die voorouer wat ’n vervloeking op die kind geplaas het nie, maar dis die kind wat in dieselfde voetspore van die voorouer volg en daarom sal hierdie kind in dieselfde vervloeking leef as die voorouer. Ons moet breek met die gewoontes van ons voorouers en ophou om in hulle voetspore te volg; ons moet eerder in die voetspore van Jesus begin volg. Kom ons kyk net eers gou weer na Adam en Eva…
Hulle was die eerste geslag, hulle was direk van God, dus was daar geen bloedlynvloeke en sulke snaakse goed op hulle lewens nie. Al was hulle deel van God se Lig, het Satan hulle nogsteeds versoek om te eet van die verbode vrug. Eva het ongelukkig nie die regte keuse gemaak nie en het haar eie wil gehoorsaam deur te eet van die aanloklike vrug. Sy kon nie haar voorgeslagte vir haar swakheid blameer en sê sy kon dit nie help nie, want daar was geen menslike voorgeslagte nie en daar was beslis geen swakheid in God nie. Sy het wel probeer om die slang te blameer, maar as sy eerlik was, kon sy maar net haarself blameer omdat sy haar eie wil gehoorsaam en die verbode vrug genuttig het. Verwydering van God, asook vervloeking, het ingetree…Dalk moet ons ophou vinger wys na ons voorouers en die fout by onsself begin soek.
In die tyd wat Abba Vader my die waarheid kom leer het oor bloedlynvloeke en dat dit nie Sy wil is dat ons dit links en regs moet sny nie, het ek Hom gesmeek vir ’n antwoord uit die Woord en hierdie Skrif het Hy vir my gegee:
“As julle Hom as Vader aanroep, wat sonder aanneming van die persoon oordeel VOLGENS ELKEEN SE WERK, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos!” 1 Petrus 1:17,18 (AFR33/53)
God oordeel elkeen volgens sy eie werke! Ons word nie deur verganklike dinge losgekoop nie, dus word ons nie bevry deur menslike woorde in ’n poging om bloedlynvloeke te sny nie. Ons word alleenlik losgekoop deur die bloed van die Lam! Daar is geen kortpaaie na verlossing van hierdie kettings en bande nie. Daar is net een manier en dit is deur Jesus Christus.
“Don’t look for shortcuts to God. The market is flooded with surefire, easy-going formulas for a successful life that can be practiced in your spare time. Don’t fall for that stuff, even though crowds of people do. The way to life – to God – is vigorous and requires total attention.” Matthew 7:13-14 (MSG)
Bestudeer asseblief Titus 1, veral vanaf vers 10-16. Die Boodskap sit dit baie mooi uiteen, ek haal dele aan:
“Daar is baie mense wat in opstand is teen die gesag van die Here. Dis veral diegene wat vroeër aan die Joodse geloof behoort het wat nou die grootste klomp kaf praat. Boonop beïnvloed hulle baie ander mense om dit te glo. Julle moet hulle so gou as moontlik stilmaak en hulle leuens stopsit, want hulle keer omtrent al wat huis is met hulle vals praatjies om. Hulle doen dit om onskuldige mense se geld in die hande te kry. Daardie mense wat die goeie nuus verdraai, moet jy asseblief vasvat. Sê hard en duidelik vir hulle dat hulle op die verkeerde pad is. Dalk maak dit hulle oë oop sodat hulle reg in God kan begin glo. Hulle moet al daardie Joodse bygelowe en storietjies van hulle laat staan. Hulle hou hulle nog altyd besig met mensgemaakte reëls en wette wat glad nie die waarheid is nie. AS DIE HERE ’N MENS VRYGEMAAK HET, HOEF JY NIE MEER AL DIE WETTE EN REËLS VAN DAARDIE MENSE TE GEHOORSAAM NIE. Hierdie mense en ander ongelowiges is die gevangenes van hulle selfgemaakte godsdiens. Hulle kom dit nie eers agter nie, want hulle gedagtes is in die mag van die sonde. Hulle maak asof hulle God ken, maar hulle lieg…” Titus 1:10-16 (DB)
Hierdie nuwe “wet” om bloedlynvloeke te sny, is ‘n mensgemaakte reël en wet wat deur mense uitgedink is. As dit van God af kom, sou dit vir ons in die Woord ook gestaan het. Die mense wat hierdie lerings uitgedink het en verkondig, is gevangenes van hulle eie selfgemaakte godsdiens. Ons moet onthou dat Satan enigiets in sy vermoë sal doen om ons vryheid en geloof in Jesus weg te vat en daarom sal hy ons altyd slawe probeer maak van wette en reëls, want solank ons wette en reëls volg vir verlossing, verwerp ons die genade van God.
“Hierdie spul vals mense het die kerk skelm-skelm binnegesluip om te kom kyk of ons al die reëls en wette van die Jode nakom. Hulle wou die vryheid waarmee Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak.” Galasiërs 2:4 (DB)
“Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. Christus is die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word.” Romeine 10:3,4 (AFR33/53)
Kortliks, niemand kan verlos word van die bande en kettings in die duistere boksies of in die regte verhouding met God staan deur bloedlynvloeke te sny nie; niemand kan redding bekom deur die wet van God na te kom nie, want geen mens kan in elkgeval sonder die Gees van God die gebooie nakom nie. Ons kan niks sonder die Gees van God doen nie. Lees gerus die volgende saadjie om te sien hoe ons verlossing kan bekom…
Die beproewinge en versoekinge.
AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie — so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë. Jakobus 1:2-8
Wat beteken hierdie Skrif vir jou? Beaam dit dalk vir jou al die ander Skrifte wat sê jy kan van God enigiets vra en Hy sal dit vir jou gee of doen? Ek het al gehoor dat mense sê jy moet vertrou en glo dat God vir jou sal gee wat jy van Hom vra en dat jy dan nie moet twyfel daaroor nie. Jy moet glo dat God wel dit vir jou sal gee. Mense soos Joyce Meyer en Joel Olsteen is sommer baie blatant oor hierdie saak: Jy is God se oogappel en daarom sal Hy vir jou alles gee wat jou hart begeer…. selfs die oop parkering naaste aan die ingang van die besige “mall”. Hoe belaglik is dit! Mense soos daardie preek dat as jy vir God gevra het wat jy wil hê, moet jy nie twyfel of Hy dit vir jou sal gee nie, want dan is jy soos ‘n golf in die see. Jy moet sommer al in die toekoms “insien” dat jy sal ontvang wat jy van Hom gevra het. En dan die ergste… as jy nie kry wat jy gevra het nie, het jy nie met genoeg geloof gevra nie! So hier kom dit weereens in: Mense wil God soos ’n “genie” gebruik soos in Alladin… as hy iets nodig het, grawe gou die Bybel vol stof onder al die ander wêreldse boeke en tydskrifte uit, vryf die stof af, maak dit oop en lees hier en daar wat hom pas. Dan het jy ’n wens…. so nadat jy vir ’n paar minute die Woord warm gelees het, kan jy jou wens bekend maak in gebed… en woeps waps… jou gebed is beantwoord en nou moet jy net glo dat die “genie” aan jou sal gee wat jy gevra het… Ek maak nie ’n bespotting van die Woord van God nie; ek maak ’n bespotting van die mens wat die leuens van Satan glo en wat God wil misbruik.
Lees asseblief die hele gedeelte van Jakobus 1. Waaroor gaan hierdie gedeelte eintlik? Is dit regtig ook een van daardie “Vra-en-kry Skrifte”? Alles behalwe, want hierdie gedeelte handel oor beproewinge in ons lewe; dit gaan oor die klippe wat God op ons pad geplaas het om ons te leer om op Hom te vertrou; om ons te suiwer van onsself sodat ons stukkie vir stukkie kan sterf aan die self. Hierdie Skrif handel GLAD NIE rondom die saak om vir God iets te vra en dat Hy op aandag moet staan om die mens te dien en bedien nie. Nee mense… julle het die kat aan die verkeerde kant beet… God is daar sodat die mens Hom moet dien, nie andersom nie. Die mens is geskep om God te verheerlik, nie sodat God die mens moet verheerlik nie. Die mens is vir God gemaak, God is nie vir die mens gemaak nie.
God plaas klippe op ons pad – nie om ons seer te maak nie en ook nie om ons te leer hoe om die klip uit die pad uit weg te toor met allerhande rympies en oorlogvoering nie… God het die klip daar geplaas sodat jy jou oë van die klip moet afhaal en jou oë op HOM moet vestig… wat beteken dat jy op HOM sal vertrou om die klip uit die pad te rol. Die mens is nie veronderstel om vir God te vertel hoe om die klip uit die pad uit weg te neem nie, maar die mens is veronderstel om die saak in die hand van God te plaas en vir Hom te sê: “Laat U wil geskied.”… en dan verder op Hom te vertrou en om te weet Hy sal die beste laat gebeur… vir die goed of die sleg… dit is God se manier om ons te help om te sterf aan die self en ons lewe stukkie vir stukkie in Sy hand te plaas.
Klippe maak van jong gelowiges, volwasse gelowiges. “The Message” sê: “Let it do its work so you become mature and well-developed, not deficient in any way.” Wanneer jy wegkyk van die klip en jou oë op Abba Vader vestig, sal Hy in en deur jou werk om Sy wil te laat geskied, maar let wel… SY wil, nie JOU wil nie! As Hy aan jou wysheid gee, is dit nie die mens wat so wonderlik is nie, maar die Gees van God binne die mens. Maar dan moet jy die saak in Abba Vader se hande los en dit nie aanhoudend wil terugvat en self probeer uitsorteer nie. Dit is wanneer jy soos ’n golf in die see is en twyfel of God regtig die klip uit die pad gaan rol. Dit is wat hierdie Skrif beteken… nie dat jy moet twyfel dat God vir jou sal gee wat jy van Hom vra nie, maar dat jy nie moet twyfel in die vermoë van God om jou te help nie… maar dan moet jy die antwoord van God aanvaar, al is dit nie wat jy wil hê nie.
Mense wat klippe self probeer uitsorteer, doen dit gewoonlik op ’n menslike wyse wat die verkeerde manier is, en daarom sal hulle hul tone ten bloede stamp teen die klippe. As hulle wel op die punt begin kom om die situasie aan Abba Vader oor te gee, twyfel hulle of Hy die probleem reg sal uitsorteer en daarom probeer hulle Hom voorskryf hoe om dit te doen. Dit is wanneer hulle hulle eie wil op Abba Vader afdwing. Hulle het nog nie genoeg geloof en vertoue in God nie en daarom twyfel hulle in Sy vermoëns en is hulle soos die golwe van die see.
Met ander woorde, wanneer is jy soos ’n golf in die see? Is dit wanneer jy vir God iets vra om vir jou te gee of om iets vir jou te doen, of om sekere situasies te laat gebeur soos wat JY dit wil hê … en om dan te glo Hy sal dit vir jou gee of doen of laat gebeur soos wat jy dit van Hom vra? Dat jy nie moet twyfel dat Hy enigiets vir jou sal doen nie? Nee, om soos ’n golf in die see te wees, beteken om na die klip in jou pad te staar en moedeloos te raak, want wanneer gaan die klippe in jou pad minder raak? Dit is om op te kyk na Abba Vader en met ’n twyfelagtige, halfhartige hart aan Abba Vader te vra: Help asseblief! Maar onderlangs wonder ons of God ons regtig sal help. Onthou net altyd… ons sien nie agter die skerms soos God nie. Ons sien nie waarmee Hy regtig besig is nie, ons sien en beleef net die hier en die nou en dit maak ons benoud. Maar dit beteken ons het nog nie in die rus van God inbeweeg nie. Dit is so belangrik dat ons in die rus van God moet inbeweeg, want dis wanneer ons verdiep in Sy liefde raak, dat Hy begin werk in ons lewens… wanneer Hy die see vir ons oopmaak, wanneer Hy berge begin versit… maar ons sien dit nie altyd dadelik gebeur nie. Gewoonlik sien ons dit eers raak nadat Hy ons deur die see gelei het…
God is ’n goeie God wat nie verander nie. Hy IS en bly altyd dieselfde. Sy planne vir jou is goed, maar dan moet jy Hom toelaat om Sy planne te volbring in jou lewe. Moenie God probeer voorskryf hoe om die plan van jou lewe te teken nie… aanvaar net die plan wat Hy alreeds geteken het. En wanneer jy die volgende klip in jou pad teëkom? Glimlag, kyk op en weet Abba Vader het ’n plan met hierdie klip… gesels met Hom oor die klip en laat Hom toe om jou gedagtes daar rondom te wysig… dit is wanneer Hy aan jou wysheid gee om die probleem te benader, Hy help jou om elke situasie uit ’n ander oogpunt te begin sien. Vertrou Hom! Wat ’n wonderlike God dien ons!
Hier volg die “Audio”:
Hoofstuk 4
Daar is baie mense wat glo dat ons nie in ’n vervloeking kan leef nie omdat Jesus gesterf het vir die mensdom se sondes. Hulle glo dat almal outomaties gered en verlos is en dat daar geen vloeke op ’n mens se lewe kan wees nie. Hulle glo dat wanneer ‘n mens kerk toe gaan en met die mond bely om in Jesus te glo, die mens gered en verlos is, maar nou het ons gesien dat die meeste mense wat bely om in God te glo, alleenlik met die mond bely en nie met die hart nie. Omdat hulle nie in Jesus glo met die hart nie, is dit vals belydenis wat hulle net nog sterker vasketting in die duisternis. Mense wat glo dat ons nie in ’n vervloeking kan leef nie, is uiters naïef. Hulle glo God is ’n God van liefde wat aan ons net goed wil doen, en ek stem saam… God is ’n God van Liefde, maar God is ook ’n jaloerse God en Hy deursoek elke persoon se hart – Hy weet of die persoon glo met die mond en of hy glo met die hart. God gaan Hom nie om die bos laat lei of Hom laat flous deur die mond van die mens nie en diegene wat die Woord van God ken, sal dit ook agterkom.
Jesus se sterfte het nie die duistere toestand uitgekanselleer nie! Jesus se sterfte het nie ieder en elkeen se sondes op die daad vergewe en die mens verlos en gered nie. Jesus se sterfte het nie gemaak dat elke mens in die Lig-toestand van God ingebore word nie. Ek weet dit word in ons koppe ingeprent vandat ons klein is, maar dit is die leuens van Satan wat die mensdom op strepe na die hel lei. Jesus se sterfte aan kruis het soveel groter betekenis as wat die mens geleer word. Die gehoorsame sterfte van Jesus het vir die mensdom ’n deurgang geskep sodat die mens wat sterf aan die self, kan deurbeweeg na die Lig-toestand van God. Alleenlik hier (in die Lig-toestand) kan die mens ’n ware verhouding met Abba Vader hê. Met Jesus se sterfte, is Sy Gees vrygestel om die mens wat opreg is van hart, in staat te stel om te beweeg na die Lig-toestand van God. Die mens wat nog nie deur die kruis beweeg het na die Lig-toestand van God nie, is nog nie gered of verlos van die sonde, die dood of die bose nie. Hulle funksioneer nogsteeds in die duisternis met ’n vloek wat oor hulle lewens baasspeel deurdat hulle aangaan met die godsdiens, reëls en sondes van hulle voorouers en nie daarmee breek nie.
DIE MENS ONTVANG NIE OUTOMATIESE VERLOSSING VAN DIE KETTINGS, BANDE, VERVLOEKING, DOOD EN BOSE OMDAT JESUS GESTERF HET AAN DIE KRUIS NIE!
As dit so maklik was en die hele wêreld gered en verlos is deur die kruisiging van Jesus, hoekom het Jesus dan so klem gelê op die feit dat enigiemand wat agter Hom wil aankom, homself moet verloën, weer gebore moet word, sy kruis moet optel en Hom moet volg? Jesus sou nie so klem daarop gelê het as ons sommer net outomaties verlossing ontvang het deur Sy dood nie.
Met ander woorde, die mens het sy eie omgewing vervloek en dit is geensins anders in vandag se tyd nie… Ons sondes veroorsaak ’n vervloeking oor onsself en ons lewe. God sê in Romeine 1:24 in Die Boodskap dat Hy Sy Naam nie deur die modder sal laat sleep nie, daarom het Hy besluit om die mense vir hulle sonde te straf deur hulle aan hulle eie lot oor te laat. Wanneer die mens aan sy eie lot oorgelaat word, moet hy woon in die vervloeking wat hy self geskep het. Ongelukkig het ons voorouers se sondes en rebellie teen God alreeds ’n vervloekte atmosfeer geskep in die boksie waarin ons gebore word. Ons word grootgemaak in hierdie vervloekte boksie. Ons moet begin besef dat ons vasgevang is in bande en kettings en dat ons in ’n vervloeking leef, want wanneer ons dit besef en volwasse genoeg is om dit te erken, kan ons op ’n punt kom waar ons ons sondes sal raaksien en daarmee breek in ’n poging om te ontsnap uit die vervloekte omgewing.
Kyk die woorde van Deuteronomium 28 oor seëninge en vloeke:
“As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al Sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. Hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God.” Deuteronomium 28:1,2 (AFR33/53)
Lees gerus die lys seëninge wat volg in Deuteronomium 28 wat oor ons sal kom wanneer ons God gehoorsaam. Net so sal ons ’n vervloeking smaak as ons ons nie steur aan God nie:
“As jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al Sy gebooie en Sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal…” Deuteronomium 28:15 (AFR33/53)
Lees gerus self die lys van vloeke wat jy oor jouself sal bring deur ongehoorsaamheid. Dan sê Eksodus 15:26 ook die volgende:
“As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in Sy oë, en luister na Sy gebooie en al Sy insettinge hou, sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie, want Ek is die Here wat jou gesond maak.” Eksodus 15:26 (AFR33/53)
Ons word dus vasgeketting in boksies deur godsdiens, reëls, tradisie (wat sekere rituele insluit), die sondes van ons voorouers (waarmee ons aangaan) en dan nog ons eie sondes ook. Satan beheer ons deur hierdie kettings. Ons skep ons eie vervloekte omgewing waarin ons moet funksioneer deur ons eie sondes asook die sondes van ons voorouers wat ons aan die lewe hou en nie mee breek nie. So lank as wat ons in die boksies funksioneer, so lank gaan ons nooit in oorwinning kan leef nie. Hoe word ons bevry van hierdie boksies? Hoe word ons bevry van al hierdie kettings wat ons gevange hou? So lank as wat die kettings daar is, bly ons ’n gevangene van die duistere, vervloekte wêreld. Ons moet op ’n manier breek met hierdie kettings om te kan ontsnap uit die vervloekte boksie, maar hoe?
Die wêreld leer aan die mens om bloedlynvloeke te sny en dat dit kwansuis die mens uit sy penarie sal verlos. Om met rympies en woorde die kettings te probeer breek, is nie die antwoord nie. Die enigste antwoord lê in Jesus Christus wat die kruis geplant het wat vir ons ’n deurgang is na die Lig-toestand. Jesus is ook die Lig, die Woord, wat op ons harte moet skyn in die duisternis.
“…waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.” Lukas 1:79 (AFR33/53)
So, kan ons in ’n vervloeking leef? Natuurlik kan ons! Ons word inteendeel in ’n vervloeking ingebore in die wêreld. Ons word grootgemaak in vervloekte boksies wat in die duisternis geleë is. Die ergste is dat die kettings en bande binne die boksies ons boonop nog vasgeketting hou in die vervloeking. Wat veroorsaak die vervloeking? Sonde! Sonde van ons voorouers het alreeds die omgewing vervloek en ons eie sondes vervloek ook ons omgewing om bestaan vir ons moeilik te maak. Nou is die vraag: Hoe kom ons weg van hierdie vervloeking dat dit nie ’n invloed op ons lewe het nie?
Hoofstuk 3 : “Van duister na LIG”
“Vroeëer was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei. Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met Sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie!” 1 Petrus 1:18-19 (DB)
In die duistere toestand word daagliks derduisende boksies aanmekaar geslaan deur die beheerder van die wêreld. Daar is boksies van verskillende vorms en verskillende kleure – enigiets waaraan jy kan dink. Die binnekant is met lekker sagte materiaal uitgevoer om dit so lekker en gemaklik as moontlik te maak vir die boksiebewoners. Dit is die mens se “comfort zone” en ons weet mos hoe gemaklik is ons in ons spasie en dat dit nie altyd so lekker of maklik is om ons “comfort zone” te verlaat nie… dit is die boksies! Daar is soveel verskillende boksies en in elke boksie woon ’n sekere groep mense – daar is ’n vriendeboksie, kerkboksie, skoolboksie, kultuurboksie, tradisieboksie en dan die gevaarlikste een – die godsdiensboksie! En so kan ons aangaan en aangaan met die klomp verskillende boksies…daar is selfs soveel verskillende kerkboksies en elke persoon vind ’n boksie waarin hy/sy die gemaklikste voel, daar waar hy aanvaar en geliefd voel deur die res van die boksiebewoners. Kyk al die oorloë en gemors wat aangaan oor die wêreld – die meeste daarvan is as gevolg van verskillende boksies van mense wat weier om die ander boksies te respekteer en te aanvaar en sodoende staan die een boksie teen die ander boksie op. Die een nasie staan op teen ‘n ander; die een kerk staan op teen ’n ander kerk… en Satan lag lekker agter die skerms, want hy het die verskillende boksies van gelowe, tradisie en kultuur geskep en dit vir die mens so lekker en gemaklik as moontlik gemaak om in hierdie boksies te woon. Omdat die een boksie mense nie die volgende boksie kan respekteer nie, begin hulle oorlog voer teen mekaar – dit laat my dink aan ’n spul bliksoldaatjies.
Binne die boksies lyk dit oral dieselfde en dis ’n baie hartseer gesig, want elke persoon in die boksie se arms en bene is vasgeboei aan toue en kettings wat beheer word deur ’n sentrale beheerpunt. Elke mens word dus beheer soos ’n blinde marionetpop wat nie vir homself kan dink en besluit nie. 2 Timoteus 2:26 sê dat Satan die mense vasboei en hulle geestelik dwing om te doen wat hy wil hê hulle moet doen. Hy dwing dus die mens om sy eie wil te gehoorsaam, pleks van die wil van God, en hy slaag in sy plan deur goed te gebruik soos godsdiens, tradisie, rassisme en verskeie sondes wat die mens vasketting in die duistere boksies. Kettings en bande van godsdiens, wette en reëls is sekerlik die sterkste kettings wat die mens gevange hou en weerhou om ’n lewende verhouding met Abba Vader te kan hê, want deur wette, reëls en godsdiens word kinders om die bos gelei en geleer om God te dien met die mond en nie met die hart nie. Hulle glo van jongs af dat hulle verlos is, maar hulle is alles behalwe, want hulle dien God op grond van reëls en regulasies, en nie omdat hulle uit die hart in Hom glo nie.
“The Lord says: ‘These people worship Me with their mouths and honor Me with their lips. But their hearts are far from Me, and their worship of Me is based on rules made by humans.’” Isaiah 29:13 (GWT)
Tradisie is ’n ketting van onheil wat deur die mens uitgedink en oorgelewer word van geslag tot geslag; dit grens aan die aanbidding van voorvadergeeste en is ’n baie sterk band wat die mens vasketting aan al die sondes van sy voorouers omdat hy aangaan met die sonde en nie daarmee breek nie. Kollosense 2:8 sê ons moet versigtig wees dat ons nie in die verkeerde rigting gelei word deur teorieë en argumente wat deur mense uitgedink is nie, want dit kom in der waarheid van die onsigbare magte wat in die wêreld aan die werk is. Dit word oorvertel van die een geslag na die volgende geslag en later glo almal dit. Wees versigtig om nie tradisie aan te hang en te volg nie, pleks daarvan om God te volg.
“Be careful not to let anyone rob you of this faith, through a shallow and misleading philosophy. Such a person follows human traditions and the world’s way of doing things rather than following Christ.” Colossions 2:8 (GWT)
Kettings kan ook sonde van verskeie aard wees. Dit kan sonde wees wat ons in ons ouerhuise aangeleer het, met ander woorde, sonde wat vanaf die voorouers aan ons geleer word, maar dit kan ook ons eie sondes wees wat ons vervreem van God. Sonde heers dan oor ons; ons is ’n slaaf van sonde en Satan is die beheerder van ons lewe. Ongelukkig word almal vleeslik in hierdie boksies in gebore deur ons vleeslike familie. Kollosense 1:13 sê ons was almal eers in die donker mag van God se vyand vasgevang, wat nog ’n bevestiging is dat ons in die duistere toestand ingebore word. God kies vir elkeen van ons ’n ouerpaar en ons word deur hulle in ‘n boksie grootgemaak waar ons vleeslike karakter gevorm en gebuig word. Al die godsdienstige reëls en lewenswette waarmee hulle grootgemaak was, word oorgedra aan ons en omdat ons grootword daarmee, aanvaar ons dit as reg en kan ons nie fout sien daarmee nie. Ons waardes, persepsies en beginsels word dus vasgelê vanaf ons geboorte deur ons ouers in die boksies. Ons word as’t ware gebreinspoel om te dink soos ons ouers en sodoende kry ons dieselfde “mindset” as hulle… wat weer die “mindset” by hulle ouers gekry het. Die gevolg is dat ons min of meer gaan dink en doen soos ons ouers en ons gaan dit weer oordra aan ons eie kinders – dit word ’n ellelange kringloop wat goed of sleg kan wees. Dit kan vir ons tot seën wees as ons Godvresende ouers gehad het wat ons reg geleer het, maar dit kan ook lei tot ’n vervloeking as ons ouers ongehoorsaam aan God was en hulle ons op hulle ongehoorsame pad grootgemaak en gelei het… Dan is ons net so blind en ignorerend teenoor die Waarheid soos ons ouers, maar dis omdat almal eers geestelik blind is. Almal word verblind deur die god van die wêreld…
“Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” 2 Korinthiërs 4:3,4 (AFR. 33/53)
“As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is.” 2 Korinthiërs 4:3,4 (DB)
Abba Vader wys my ’n altaar van klip wat ek moet skilder. Ek teken dit toe eers in my skryfboek, nog nie op ’n canvas nie. Eers het ek gedink dat ek ’n lam op die klipaltaar gaan moet skilder, maar soos die tyd aangestap het, het Abba Vader al hoe meer gepraat oor ons harte wat ons moet offer aan Hom…. nie om net met die mond te sê ek gee nou my hart aan die Here soos daar in sommige kerke geleer word nie, maar om ’n waaragtige “contrite” heart aan Abba Vader te offer. Dit beteken jy moet jou hele lewe oorgee aan Hom, jou besluite en keuses; jy moet jou geliefdes in Sy hand kan laat en met ’n opregte hart kan sê: “Laat U wil geskied – vir die goed en die sleg.”… en dan moet jy Abba Vader se planne en besluite respekteer en eer, want net Hy weet die beste. Dit beteken dat jy die beproewinge op jou pad (wat Abba Vader daar geplaas het as klippe), aanvaar en Hom toelaat om jou te omvorm deur die beproewinge. Want dit is tog hoekom Abba Vader klippe op jou pad plaas – om jou te suiwer van jouself, om jou te help om te sterf aan die self sodat jy weergebore kan word. Niemand kan weergebore word as hy nie eers sterf aan die self nie, want ’n koringkorrel moet eers in die grond val en sterf voordat dit ’n oes kan lewer. Die natuurlike mens moet eers sterf voordat die geestelike mens opgewek kan word… en dit beteken nie die dag wanneer ons fisies doodgaan nie… dit beteken om geestelik jou vleeslikheid en eie wil af te sterf. Daarvoor moet jy deur die kruis van Jesus beweeg en geestelik in die graf geplaas word waar Abba Vader vir jou ’n nuwe hart sal gee. Sonder ’n nuwe geestelike hart is jy nie waarlik gered nie. Deesdae se mense wil nie meer DEUR die kruis beweeg nie – hulle is nog bereid om ’n pad te stap tot by die kruis en om hulle sondes te bely, maar hulle wil nie DEUR die kruis beweeg nie. Pleks daarvan glo hulle die leuen dat hulle totaal verlos is omdat hulle gekniel het voor die kruis en daarom staan hulle op voor die kruis en gaan terug wêreld toe. Dit beteken hulle beland nooit in die graf nie, wat beteken hulle kry nie ’n nuwe hart nie…. wat beteken hulle bekering en wedergeboorte was vals. Hulle wil dus nie hulle kruis dra nie, maar Jesus sê in Mattheus 16:26,25:
“Toe sê Jesus vir sy dissipels: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”
Diegene wat nie hulle kruis wil dra nie, is ook diegene wat nie die klippe op hul pad wil aanvaar as God se manier om hulle te suiwer nie. Hulle glo dat as hulle in God glo en kerk toe gaan, hulle ’n fisiese geseënde lewe sal lei sonder enige slegte goed wat in hulle lewens gebeur. Hulle glo dat as daar wel slegte goed in jou lewe gebeur, jy ’n oop teiken vir Satan is en dat dit hy is wat die slegte goed in jou lewe laat gebeur. Hulle doen oorlogvoering teen Satan om die sleg uit hulle lewe uit weg te toor, maar as daar nie beproewinge in ons lewens is nie, hoe moet God ons suiwer van onsself?
Dit is tog hoekom God die klippe op ons pad plaas… om ons te help om te sterf aan die self, om ons te help om oor te gee aan Hom, om ons te help om meer en meer op Hom te vertrou soos ons beleef dat Hy wel die klippe uit ons pad uit rol as ons dit in Sy hande plaas en Sy wil laat geskied. En hier kom die mooi gedeelte in, want elke klip wat ons oorkom deur die krag van God, wat ons in Sy bekwame hande plaas en Hom vertrou om dit uit te sorteer, word ’n klip waarmee ons ’n altaar bou. Sonder klippe, is daar geen altaar nie, en as daar nie ’n altaar is nie, kan ons ook nie aan God ’n geestelike offer gee nie, met ander woorde, as daar geen klippe is nie, kan ons nie ons harte aan God offer nie.
Abba Vader het my gevra: Wat is die belangrikste… jou offer of die altaar? Ek het bietjie gedink daaroor, en vir Abba Vader gesê ek dink tog ons offer is die belangrikste. En toe sê Abba Vader: “Nou goed, as die offer gereed is, maar daar is geen altaar nie, hoe dan gemaak? Jy het ’n altaar nodig om te offer, en daardie altaar moet eers gebou word.” Waarmee bou jy jou altaar? Gras? Stokkies? Hout? Nie een van daardie altare gaan werk nie, alleenlik ’n altaar van klip is vir God aanvaarbaar. En waar kry jy die klippe om die altaar te bou? Die altaar kan alleenlik gebou word met die klippe wat Abba Vader op jou pad geplaas het, en eers as jy die klip in Sy hande kon oorhandig en Sy wil aanvaar, word hierdie klip ’n deel van die altaar. Elke klip op ons pad leer ons iets omtrent onsself… dit wys ons sondes en verkeerde denkwyses aan ons uit, dit wys ons swak punte en ons goeie punte, so dit help ons om stukkie vir stukkie te sterf aan die self. Dit help ons om skoon te maak en ons te omvorm na die wil van God. So, hoe meer klippe jy oorkom deur die krag van God, hoe meer vorder die bouwerk aan jou altaar. Maar as jy die klippe gaan probeer vryspring deur dit te probeer wegbid uit jou lewe uit, word dit nie ’n klip van jou altaar nie en bou jy dus nie aan jou altaar nie. Sien julle die leuen daarin om oorlogvoering teen Satan te probeer uitrig? Jy doen jouself skade aan deurdat jy nie omvorm word na die wil van God nie; jy is nie besig om ’n altaar vir God te bou sodat jy jou hart aan Hom kan offer nie.
Aanvaar die beproewinge in jou lewe as God se plan en doel met jou lewe, sien die goed daarin raak en raak ontslae van die sleg in jouself. Is jy besig om te bou aan jou altaar vir God sodat jy jou hart aan Hom kan offer? Is jy bereid om die klippe op jou pad te aanvaar as God se plan vir jou lewe sodat Hy aan jou ’n ware, ewige toekoms kan gee? Want God wil vir elkeen van Sy kinders ’n goeie en hoopvolle toekoms gee, wat beteken die ewigheid saam met Hom in Sy Koninkryk, maar ons kan alleenlik die Koninkryk binnegaan as ons nuwe skepsele is, met ander woorde as ons wedergebore is, en deel van die proses is om jou hart aan God te offer. Maar hoe ver is jy gebou aan jou altaar van klip?