
Hoofstuk 6
“Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul. Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en yster OMDAT hulle wederstewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. Toe het hulle die Here aangeroep in hulle benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.” Psalm 107:9-14 (AFR33/53)
“Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan!” Jesaja 45:2 (AFR33/53)
Abba Vader laat ervaar my die volgende onder gebed: Ek is verdwaald in ’n baie donker woud en ek weet nie watter kant toe nie; ek het geen kompas by my om rigting te vind nie, maar al het ek ’n kompas by my gehad, sou dit my nie gehelp het nie, want ek het geen aanwysings nie. Ek kyk om my rond: Die woud bestaan uit ’n groot aantal hoë, massiewe bome waarvan die toppe van die bome so dig is dat daar geen sonlig deur die blare skyn nie. Die droë blare kraak onder my voete soos ek deur die woud stap op soek na die regte pad. Dan sien ek ’n boek wat vasgespyker is teen ’n boom. Ek hardloop na die boek met die hoop dat ek aanwysings hierin sal kry wat my sal help om die regte pad uit die donker woud te vind. Ek gaan sit onder ’n boom en lees vinnig die boek deur, maar wanneer ek die boek klaar gelees het, voel ek nogsteeds verdwaald en verlore. Ek staan op en begin verder soek na die regte pad. Dan sien ek nog ’n boek teen ’n boom vasgespyker en hardloop om daardie boek ook te lees in die hoop om aanwysings in daardie boek te vind… So hardloop ek soos ’n verdwaalde deur die woud van boom na boom en lees al die boeke wat vasgespyker is teen die bome, maar nie een van hierdie boeke help my om die pad te vind uit die donker woud nie; nie een van hierdie boeke lei my na die ware Weg nie; nie een van hierdie boeke gee vir my hoop en vrede nie. Hierdie boeke het my inteendeel net nog verder laat verdwaal, want dit het my goed geleer soos die sny van bloedlynvloeke, om die bloed van Jesus te pleit en die verkeerde verstaan van die wapenrusting. Nie een van hierdie leringe leer my die korrekte rigting of pad uit die duistere woud nie, maar lei my eerder net dieper die donker woud in om verder te verdwaal.
Dan sien ek gedaantes in swart wat pyle op die bome uitkap om rigting aan te dui, maar soos ek die pyle volg, kom ek agter die pyle lei my al in die rondte. Ek begin die boeke en pyle ignoreer en begin die teenoorgestelde rigting daarvan loop en skielik sien ek êrens uit die donker woud ’n flou liggie wat skyn. Ek stap in die rigting van die liggie en soos ek soontoe stap, raak die flou liggie al hoe helderder. Die liggie lei my na die middel van die woud en dan sien ek waar die lig vandaan kom… Dit skyn uit ’n pragtige, goue Boek wat op ’n afgekapte boomstomp lê. Die Boek is vol stof, maar ek tel die Boek op, blaas die stof daarvan af en gaan sit in verwondering plat, met gekruisde bene, langs die afgekapte boom met die goue Boek in my hande. Ek maak die boek oop en dis asof die blaaie en woorde daarin begin lewe. Ek begin die lewende woorde lees, en soos ek dit lees, kan ek voel dit doen iets aan die binnekamers van my hart. Later begin ek die woorde van die Boek verslind en hoe meer ek voed op hierdie wonderlike Boek, hoe meer lig raak dit om my, hoe meer kettings begin ek raaksien wat my gevange hou en hoe meer aanwysings begin ek raaksien wat my uit die donker woud kan uitlei. Ek kan voel hoe die woorde van die Boek lewendig raak binne my soos ek die woorde lees en inneem.
“Julle leen julle ore uit aan ‘n klomp mense wat die goeie nuus oor Christus heeltemal verdraai. Dit lyk my hulle het julle kop behoorlik deurmekaar gepraat. As mense ’n ander weergawe van die goeie nuus oor Christus verkondig, sal God hulle verskriklik straf.” Galasiërs 1:7,8 (DB)
Een manier waarop Satan soekende mense in duisternis maklik verlei, is deur dwaalleringe wat mense verder vasvang in godsdienstige orgies! In my soeke na God, het ek geestelike boeke begin lees wat ek teen die bome in die digte woud gevind het – hierdie boeke was uit die duisternis! Daar was geen Waarheid daarin te vinde nie, alhoewel hulle die Naam van God gebruik, of laat ek eerder sê, misbruik. Die aanwysings daarin laat die mens net nog dieper die woud in verdwaal en dit lei die mens op paaie wat God nie vir ons uitgelê of beplan het nie. Dit lei ons al in die rondte in die donker bos en sorg dat ons nie die ware Weg van God vind nie. Hierdie boeke kan ons nooit na die ware Weg van God lei nie, maar voorkom dat ons die regte Weg vind. Dit is die werk van Satan om ons in die duister te hou, want hy probeer enigiets in sy vermoë sodat ons nie die pad van God vind wat ons uit die duisternis sal uitlei nie. Hierdie boeke lei naïewe mense op die verkeerde spoor met redenasies wat slim klink, maar eintlik is dit met leuens deurtrek (Kollosense 2:4). Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink en dit kom van die onsigbare magte wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van hulle idees stem ooreen met dit wat Christus sê nie, en dit staan ook nie vir ons opgeskryf in die Woord nie. Deur hierdie leringe, ketting Satan die mens net nog stywer vas in geestelike tronke deur middel van ’n spul leuens en veral godsdiens! Abba Vader het my uitdruklik vermaan om al hierdie geestelike boeke in my besit teen die kruis vas te spyker, om alles te verwerp wat ek daarin gelees het en my van voor af deur die Woord van God te laat leer:
“Die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos die julle geleer het, so moet julle in Hom bly.” 1 Johannes 2:27 (AFR33/53)
“’n Pad ten lewe is hy wat die tug in ag neem; maar hy wat die teregewysing verontagsaam, raak VERDWAALD.” Spreuke 10:17 (AFR33/53)
As God ons al hierdie snaakse goed wou leer wat in sogenaamde geestelike boeke staan, sou dit in die Bybel vir ons opgeskryf gewees het, want die hele Skrif is deur God gegee aan mense om neer te pen tot lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing in die geregtigheid (2 Timoteus 3:16). God het die Woord aan Sy profete en aan Sy dienaars gegee; Hy het elke Woord in hulle harte gefluister sodat hulle wat Sy stem kon hoor, elke Woord kon neerpen vir die mensdom. 2 Petrus 1:19 sê die profetiese Woord is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in die mens se hart… DIT is presies wat ons nodig het! Die môrester moet opgaan in ons harte, die Lig van God moet begin skyn vanuit ons harte. Duisternis oor ons hart moet verbreek word! Maar daarvoor het ons nodig om eerstens die Lig van die Woord van God te vind in die middel van die donker woud; ons het nodig om ons rug te draai op die dinge van die wêreld waarmee ons ons so besig hou en ons tyd te wy aan die Woord van God.
Jesus het gesterf sodat Sy Lig vrygestel kon word en die Lig is ook die Gees van God. Die Lig kan in die duistere boksies ingaan om mense te help wat vooraf gekies is deur God. Voor die kruisiging, was die Lig van God nog nie vrygestel nie en daarom was daar eers geen hulp vir die mense nie. Daar was ook nog nie ’n deurgang vanaf die duistere toestand na die Ligtoestand van God nie, maar Jesus se sterfte het die aarde laat bewe, die voorhangsel laat skeur en ’n deurgang bewerk na die Ligtoestand van God. Jesus het die Weg kom baan wat lei na die Lig-toestand. Die gehoorsame sterfte van Jesus het Sy Lig vrygestel om ’n hulp vir die mense in gevangenis te wees. Nou kan die mens met die hulp van die Lig begin sien wat aangaan in die duisternis, die Lig kan aan die mens al die kettings en bande openbaar wat hom in gevangenis hou en die Lig kan die mens lei in die rigting van die kruis waar opregte sondebelydenis moet plaasvind. Ons moet net mooi verstaan dat wanneer ons die Lig-Woord vind en ons dit begin lees, ons nog nie deurdrenk is met die Lig van God nie, maar die Lig word aan ons geskenk om ons rigting te gee uit die donker woud na die kruis van Jesus.
“U Woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Psalm 119:105 (AFR33/53)
Soos ons tyd met die Woord begin spandeer, skyn die Woord ’n lig op al die kettings en bande van sondes wat ons gevange hou – sondes in ons eie lewe asook sondes van ons voorouers wat ons aan die lewe hou, met ander woorde, sondes van ons voorouers waarmee ons nog nie gebreek het nie, maar waarmee ons aangaan omdat ons grootgeword het daarmee en dink dit is reg. Ons moet die Woord toelaat om ’n lig te skyn op elke dingetjie in ons lewe en dan sal God deur Sy Woord aan ons elke onheil in ons lewe openbaar waarmee ons moet breek en aan Hom bely sodat ons vergifnis kan ontvang daarvoor. Die Lig van die Woord skyn ook op die leuens wat ons in allerhande “geestelike” boeke gelees en geglo het. Dit is ’n keuse van ’n volwaardige volwassene om die Lig-Woord op te tel en sy foute, tekortkominge en sonde daardeur raak te sien. Dis ’n keuse wat die mens maak om homself eenkant te plaas, sy trots te laat staan en sy eie foute raak te sien en te erken. Erkenning en belydenis is die beginpunt van verlossing! As die mens net vir ’n ruk van sy troontjie wil afklim en kies om sy eie swakhede raak te sien… As ons nie die keuse maak om te breek met ons sondes en dit aan God te bely nie, kan ons nie vergifnis ontvang nie en as ons nie vergifnis ontvang nie, word die kettings om ons nie afgebreek nie en strompel ons voort in die duisternis in kettings…
“Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is Lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die Lig lewe soos Hy in die Lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, Sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is Sy woord nie in ons nie.” 1 Johannes 1:5-10 (AFR33/53)
Lees asseblief Efesiërs 5:8-20. Ek haal aan uit Die Boodskap:
“Moenie iets wegsteek nie, maar leef openlik vir God. Julle was ook eens op ’n tyd soos mense wat in die donker geleef het. Nou dien julle die Here en leef dus soos mense wat in die lig kan sien wat hulle doel is. Leef dus soos mense wat niks wil wegsteek nie, maar wat alles oop en bloot in die lig doen. (Iemand wat so leef, is goed vir ander, tree op soos God van hom verwag en staan by die waarheid.) As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees. Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is. Die dinge wat die ongehoorsame mense so in die donker aanvang, is so vieslik dat ek dit nie eens hier wil noem nie. As die lig van Jesus egter daarop val, sal almal kan sien hoe sleg hierdie dinge werklik is. In die lig kan ’n mens mos niks wegsteek nie en as dit eers in die lig is, is dit daar vir almal om te sien. Dit is daarom dat die Skrif sê: ‘Word wakker, jou slaper; word lewendig uit die dood, en Christus sal sy lig oor jou laat val.’ Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye. Moenie julle lewens mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef. Moenie te veel wyn drink nie, want dan verloor ’n mens beheer oor jouself. Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word. Sing en leer mekaar met liedere wat uit die Psalms kom of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here. Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader, baie dankie te sê vir alles nie. Doen dit omdat julle aan Jesus Christus behoort en Hy julle in staat gestel het om dit te doen.” Efesiërs 5:8-20 (DB)
Lees ook die wonderlike bevestiging in 2 Korinthiërs 4:1-6. Ek haal sekere dele aan uit Die Boodskap:
Die goeie nuus bring lig en lewe
“As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is. God het heel aan die begin gesê: ‘Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.’ Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met Sy helder Lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesigmet Jesus Christus te staan gekom het.”
Dit is ‘n keuse van die mens om allerhande “geestelike boeke” neer te sit en eerder die Lig-Woord op te tel sodat dit ’n lig kan skyn op al die leuens, kettings en bande wat ons omring. Ons moet die Lig-Woord waarlik bestudeer en dan is dit ons verantwoordelikheid om eerlik met onsself en God te wees oor ons eie sondes asook die sondes van ons voorouers wat ons aan die lewe hou en moet ons die keuse maak om te WIL breek daarmee. Die Lig wys duidelik aan ons wat sonde is en gee aan ons rigting en leiding na die kruis van Jesus, die enigste plek waar ware belydenis van sonde kan plaasvind. Die Lig-Woord stel ons ook voor aan Jesus Christus sodat ons Hom kan leer ken – daar is geen ander manier hoe ons Jesus kan leer ken nie en om in Hom te GLO, moet ons Hom eers leer ken wat alleenlik deur die Woord kan geskied. Ek sê weer: Die sny van bloedlynvloeke kan aan niemand verlossing of redding bied nie; alleenlik opregte sondebelydenis by die kruis engeloof in Jesus Christus.
“Wat die Lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos die van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.”
“Once you lived in the dark, but now the Lord has filled you with light. Live as children who have light. Light produces everything that is good, that has God’s approval, and that is true. Determine which things please the Lord. Have nothing to do with the useless works that darkness produces. Instead, expose them for what they are. It is shameful to talk about what some people do in secret. Light exposes the true character of everything because light makes everything easy to see. That’s why it says: ‘Wake up, sleeper. Rise from the dead, and Christ will shine on you!’” Ephesians 5:8-14 (GWT)
Alles gaan oor keuses wat ons maak! Dit is ’n keuse wat ons maak om die Lig-Woord te vind, die stof daarvan af te blaas en dit waarlik te begin bestudeer. Dit is ’n keuse wat ons maak om die Lig-Woord toe te laat om aan ons die kettings en bande te openbaar wat ons gevange hou. Weereens is dit ’n keuse wat ons maak om ons trots eenkant toe te skuif en al ons foute, tekortkominge en sondes wat die Woord aan ons openbaar, te erken en ware berou daaroor te hê. Gaan ons die keuse maak om die sondes in ons lewe aan Abba Vader te erken en te bely en om dan die sonde te verwerp en ons rug daarop te draai? Of gaan ons ons oë toedruk en aangaan met hierdie sondes wat so lekker is?
“…There’s nothing like the written Word of God for showing you the way to salvation through faith in Christ Jesus. Every part of Scritpure is God-breathed and useful one way or another – showing us truth, exposing our rebellion, correcting our mistakes, training us to live God’s way…” 2 Timothy 3:16 (MSG)