Hoofstuk 1
“Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: ‘Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.’ Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte: ‘Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.’ En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n builofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan?’ En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min is uitverkies.” Mattheus 22:2-14 (DB)
Net soos die koning ’n uitnodiging stuur na die mense om hulle te nooi na die bruilof van y seun, net so nooi God elkeen van ons ook uit om deel te wees van die Bruilof van Sy Seun. God roep elkeen van ons om saam met Hom aan die tafel te kom sit en fees te vier saam met Hom. God rig alreeds uitnodigings aan elkeen van ons en Hy doen dit op verskeie maniere – soms laat gebeur Hy slegte goed in ons lewens wat ons op ons knieë dwing en besef God roep ons; soms stuur Hy iemand na ons met ‘n Woord van Hom af, en soms hoor jy sommer net Sy roepstem hier diep in jou hart, maar een ding is verseker: ’n Mens weet en voel duidelik as Abba Vader jou inroep na die Feesmaal… en dan is die bal in jou hande en moet jy die keuse maak of jy die Bruilof van die Seun van God gaan bywoon of nie… Is daar dalk nog te veel dinge van die lewe wat jy eers wil geniet voordat jy na die Bruilofsfees gaan? Die ware Bruilofsfees waarheen Abba Vader ons nooi, sal wel eers werklik geskied met die voleinding van die wêreld, maar dan moes ons geestelik al by die Bruilofsfees opgedaag het. Ons moet nou al gereed maak vir die Fees, net soos die tien maagde in Mattheus 25. Vyf van hulle het in gereedheid gewag vir die bruidegom met hulle lampies vol olie, maar vyf onverstandige maagde het geen olie in hulle lampies oorgehad nie. Hulle moes loop om olie te gaan haal en in daardie tyd het hulle die koms van die bruidegom gemis. Hulle het te laat by die bruilofsfees opgedaag en aan die deur geklop, maar die deurwagter het hulle nie geken nie. Is jy gereed vir die Bruilofsfees?
JY HET ’N KEUSE!
Daar is mense wat die keuse prontuit en maklik maak om nie die Bruilof by te woon nie, maar wat eerder wil aangaan met die dinge in hul eie lewe en die wêreld. Hulle steur hul glad nie aan die uitnodiging van God nie en dink nie eers daaraan om die uitnodiging te onderteken nie. Jesaja 65:12 van The Message sê dit presies:
“When I invited you, you ignored Me! When I spoke to you, you brushed Me off. You did the very things I exposed as evil, YOU CHOSE what I hate!Isaiah 65:12 (MSG)
Die mens het ’n keuse! Hierdie mense kies om aan te gaan met hulle wêreldse lewe en om nie die wil van God te leef nie. Hulle uitnodigings word nie onderteken nie, dus word dit ook nie gestempel met die seël van God nie. Hierdie ongetekende en ongestempelde papiere word op een hoop geplaas om weggegooi te word.
Dan is daar nog ’n stapel papiere wat deur mense onderteken is, maar tot my verbasing word hierdie dokumente ook nie gestempel met die seël van God nie. Die dokument word ondersoek en sonder om dit te stempel, word die dokument saam met ander ongestempeldes op ‘n hoop geplaas. Hulle het die uitnodiging na die Bruilof onderteken, maar ontvang nie die stempel van God nie. Ek verstaan nie… en dan verduidelik Abba Vader dat Hy die motief van elke mens se hart ken. Hierdie hoop uitnodigings is onderteken deur mense wat met ’n sekere motief in die agterkop die uitnodiging aanvaar het – hulle dink dalk die Fees kan vir hulle baie voordele inhou; hulle dink dat hulle ’n lewe van seën sal hê wanneer hulle die uitnodiging onderteken, dat dit met hulle goed sal gaan… en met hierdie vals motief in die agterkop, onderteken hulle die uitnodiging. Hulle ondersoek en lees nie die uitnodiging noukeurig deur nie, maar onderteken dit haastig sodat hulle kan aangaan met hulle wêreldse genietinge. Hulle noem hulleself Christene; hulle sê hulle is bekeerd en weergebore; hulle glo hulle is gered, maar nogsteeds is hulle vasgevang in die wêreld en geniet hulle dit om deel van die wêreld en sy dinge te wees.
Die mens kan dalk die res van die mensdom bluf, maar niemand kan vir God bluf nie. Hy ken elke mens se hart en Hy weet presies hoekom elke mens die uitnodiging onderteken. God weet wie die mense is wat nog nie met hulle volle hart Sy wil volg nie omdat die wêreldse lewe vir hulle nog te lekker is. Hulle wil met een voet by die Fees en die ander voet in die wêreld staan. Hulle aanvaar nie die uitnodiging na die Bruilof uit liefde vir Jesus nie, maar om persoonlike welvaart; alles draai weereens om die self…
Dan is daar nog ’n groep uitnodigings wat opmekaar geplaas word en hierdie uitnodigings is onderteken, sowel as gestempel. Hierdie mense aanvaar die uitnodiging na die Bruilof van God se Seun, nie uit ’n oogpunt van persoonlike welvaart nie, maar uit diepe respek en liefde vir Jesus Christus. Hulle maak die keuse om Jesus met alles in hulle te volg en om Sy voorbeeld te volg. Omdat Abba Vader weet hierdie mense se harte is opreg in hulle keuse sonder enige bymotiewe om die lewe vir hulleself lekkerder te maak, word hulle uitnodigings op ’n sekere tyd gestempel met die bloed van die Lam.
“…in wie julle ook, nadat julle die Woord van die Waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte…” Efesiërs 1:13 (AFR33/53)
Psalm 25:7 in The Message sê dit so mooi:
“…mark me with your sign of love…” Psalm 27:7 (MSG)
Is ek en jy bereid om ons harte en ons lewens aan God te offer? Want dit is wat ons doen wanneer ons die uitnodiging onderteken met ’n opregte hart; dan is ons waarlik bereid om ons totale lewe en hart in die hand van God te plaas en om God toe te laat om Sy wil te laat geskied in ons lewens. Diegene wat die uitnodiging onderteken met vals motiewe, sal nie bereid wees om hulle harte en lewens te oorhandig in die hande van Abba Vader nie. Hulle wil gered wees, maar op hulle eie terme.
Waar pas ek en jy in hierdie prentjie in? Het jy al die keuse gemaak om die Bruilof van die Seun van God by te woon? Het jy al jou uitnodiging onderteken? As jy het, wat was jou rede of die motief van jou hart toe jy die uitnodiging onderteken het? Ek dink elkeen van ons kan in afsondering voor die voete van Abba Vader hierdie vrae vir onsself gaan uitwerk…
Opgesom, nie almal se uitnodigings word gestempel met die Gees van God nie, alleenlik diegene wat waarlik uit die hart tot bekering gekom het. Dan verstaan ’n mens die Skrif beter wat sê:
“Want baie is geroep, maar min is uitverkies.” Mattheus 22:14 (DB)
Daar is baie “Christene” wat baie godsdienstig is wat die uitnodiging onderteken het, maar dit is nie deur God verseël nie, want God weet wat die motief van elkeen se hart is, Hy weet wie waarlik en opreg tot bekering gekom het en wie nie…