Vals “Heilige Gees”

vals hout

Vra jouself eerlik hierdie vraag en dink eers bietjie daaroor voordat jy die saadjie lees:  

Hoekom wil jy graag vervul word met die Heilige Gees?  

Is dit om God daardeur te verheerlik?  Of sodat jy verheerlik kan word daardeur?  Sou jy graag die HG wou ontvang uit liefde vir Abba Vader of uit liefde vir jouself?  Tot eer van God of tot eer van jouself?  Om genesing te bekom of om ander te genees?  Om ’n lewe van voorspoed en suskses te kan beleef?  Sodat dit beter met jou moet gaan?  Mense wat om die selfsugtige “eie-ek” redes die Gees van God soek, sal nie die ware Gees ontvang nie, want God ken die motief van elkeen se hart en Hy gee Sy Gees alleenlik as die motief van die mens opreg is.  Vals motief-mense kan wel ook ’n gees ontvang wat hulle verwar met die Heilige Gees van God, maar dit is ’n vals heilige gees.  Onthou net, Satan boots alles van God na en hy het selfs ’n vals heilige gees wat sommige gawes van God kan naboots.

Onder gebed wys Abba Vader my ’n groot groep mense wat rondom ’n brandende vuur staan.  Wat my dadelik opval is die dwarrelende, dansende swart bolle rook wat die vuur afgee.  Voor hulle is ’n persoon wat oor hulle bid en die Vuur van God (of die Gees van God) vra of beveel om die mense te vul.  Die dansende rookbolle beweeg tussen die mense in en soos die mense die rook inasem, gaan hulle in ’n tipe beswyming.  Party val om, ander praat in tale, ander gil en skree met die hande in die lug – dit lyk eerder soos ’n sirkus in chaos!  Die swart rook wat hulle inasem, affekteer hulle totale wese.  Wat is hier aan die gebeur?  Hierdie mense glo dat hulle die Heilige Gees van God, of die Vuur van God, ontvang het, maar al die tyd het hulle het ’n vals gees ontvang wat die gawes van die ware Heilige Gees naboots.  Abba Vader verduidelik dit vir my op die volgende manier: 

In die vorige saadjie het ek vertel van die swart sambreel wat oor mense se koppe hang (as gevolg van ongehoorsaamheid aan God) wat die seën van God afkeer, dus kan die seën van God nie inreën in hierdie mens se hart nie – net so kan die Gees van God nie die mens se hart vul wat nog ’n swart sambreel oor sy kop dra nie.  Mense om die vuur het nog ’n swart sambreel oor hulle koppe,  sy eie sondige lewenswyse veroorsaak hierdie vervloeking oor en in hom.  God gee nie Sy Gees aan ’n mens met ’n swart sambreel oor sy kop nie, so hoe kan die Gees van God hulle harte vul as God alleenlik Sy Gees laat lewe in mense wat sonder ’n swart sambreel in Sy Lig staan?  In Johannes 14:23 sê Jesus: 

“As iemand My liefhet, sal hy My woord bewaar, en My Vader sal hom liehê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar My woorde nie…”

Die mens wat God liefhet en Hom gehoorsaam, asem nie swart rookbolle uit wat ’n swart sambreel oor sy kop laat ontvou nie en as die motief van hulle harte opreg en uit liefde vir Abba Vader is, sal God Sy Gees laat lewe in en deur hierdie persoon, so hierdie persoon ontvang dan die ware Gees van God direk van God af.   Maar moenie ’n fout maak nie… hierdie mense het ook eens op ’n tyd ’n swart sambreel oor hulle koppe gehad wat die Woord, seën en Gees van God verhoed het om in hulle hart in te val, maar hulle het op ’n stadium in hulle lewe die keuse gemaak om die Lig van die Woord van God toe te laat om hulle sondes aan hulle te openbaar sodat hulle dit kon neerlê voor die voete van God en soos hulle hul sondes aan God bely, het hulle vergifnis ontvang en het die sambreel al hoe kleiner geraak totdat dit later in die niet verdwyn het.  God gee dan aan hierdie mens krag om oor sy sondes te heers en daarom asem hy nie meer swart rookbolle uit nie, maar skyn sy hart die Lig van God uit.  Hierdie mense het die keuse gemaak het om hulle kruis op te tel en Jesus te volg… maak nie saak wat nie!  Hulle motief was nie om die Gees van God te ontvang sodat hulle die wonderwerke van Jesus kon doen en god kon speel nie, hulle motief was suiwer omdat hulle besef het hulle moet die ou mens afsterf om weer gebore te word.  Hulle het die sondige mens in hulleself raakgesien en verag, en God gesmeek om hulle te help en krag te gee om te sterf aan die ou sondige mens.  

God gee Sy Gees aan die mens alleenlik wanneer Hy weet die mens se motief is opreg.  As die mens die begeerte het om God beter te leer ken, om Hom te gehoorsaam, om Hom tevrede te stel, om eer aan Hom te bring deur ’n skoon lewe, om vrugte te dra tot eer en heerlikheid van God, dan sal hierdie mens die lelik in homself eers begin raaksien.  Hy sal besef hoe vuil sy lewe is, hoe besmet hy met sonde is en hy sal opreg berou hê oor die mens wat hy is.  As hierdie mens vir God vra om hom te help, sal God nooit anderpad kyk nie, Hy help ons altyd as ons net bereid is om ons ongeregtighede raak te sien.  Ons het nodig dat die Lig van God ons verkeerdhede aan ons openbaaar en as ons bereid is om ons trots en hoogmoed eenkant te plaas, en ons verkeerdhede kan vasvat en dit teëstaan, sal God ons help daarmee. 

  Geen mens kan die motief van sy hart vir God wegsteek nie.  Die mens wat nie bereid is om sy sondes te laat staan en God te gehoorsaam nie, dra nie sy kruis nie, maar smeek nogsteeds die Heilige Gees of die Vuur van God op hom af om die verkeerde redes…  Dit is diegene wat God nie waarlik liefhet nie, want as Hom liefgehad het, sou hulle Hom gehoorsaam het (1 Joh 2:3,4); hulle steur hulle nie aan die Woord van God nie en hulle is nie gehoorsaam aan God nie (al behoort hulle aan ’n kerk).  Daar hang dus ’n swart sambreel oor hulle koppe wat die seën van God afkeer.  Ongehoorsaamheid veroorsaak ’n swart sambreel oor die mens en verhoed dat God Sy woning in die mens maak, so hierdie mens kan nie met die Gees van God vervul word nie, maar hy kan nogsteeds ’n vals gees ontvang wat die werke van God probeer naboots… ongelukkig is dit van satan af.  Wanneer Satan aan die mens sy vals gees gee, sien hulle hulleself as heilig;  trots, hoogmoed en arrogansie groei soos ’n kanker in hulle binneste en straal uit hulle uit;  hulle sien nie die rede om hulle sondes neer te lê nie; inteendeel, hulle sien hulleself as sondeloos en sommiges gaan sover om hulle sondes heeltemal te ontken.

AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die Waarheid is nie in ons nie.  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.  As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.  1 Johannes 1:8-10

  Sommiges gaan selfs so ver om van hulself ’n god te maak en aanvaar dat hulle outoritei en mag van God ontvang het om allerhande snaakse goed te doen en te spreek.  Met ander woorde, mense wat nie die keuse maak om tot ware bekering te kom nie, stap ook nie die pad van heiligmaking waar hulle hulle kruise dra nie.  Hulle is nie bereid om die ou sondige mens af te sterf nie.  Hulle is deel van die groep wat glo dat Jesus se kruisdood almal se sondes outomaties vergewe het en dat dit nie saakmaak hoe hy lewe nie, want hy is mos alreeds vergewe! Lees asb die saadjie: Is die hele wereld se sondes op een slag vergewe?  Wanneer hulle smeek om vervul te word met die HG, is dit gewoonlik om vals voorwendsels… om die gawes van die Gees te gebruik tot hulle eie eer.  Hulle wil die mag en outoriteit hê wat Jesus oor Satan en sy demone gehad het, maar hulle is nie bereid om die pad te stap wat Jesus gestap het nie.  Hulle wil die werke van Jesus doen wat hulle goed kan laat lyk, maar wat is die grootste “werk” wat Jesus gedoen het?  Om uit gehoorsaamheid die pad na Golgota te stap, om nie terug te praat toe hulle Hom gevloek en gelaster het nie, om ’n doringkroon te dra, om die houe een vir een te vat en die spykers deur Sy hande te laat boor.  Is hierdie mense bereid om dieselfde pad as Jesus te stap en hul kruis te dra?

Vra jouself nou weer die vraag:  Hoekom wil jy gevul wees met die Heilige Gees?  Om al die gawes van die Gees te kan ontvang en wonderwerke te kan doen?  Om die Gees van God te ontvang is nie ’n kitsoplossing vir ’n beter lewe nie, want God gee nie Sy Gees aan ’n mens met hierdie motief nie….  maar dit is juis vir hierdie mense waarvoor Satan sit en wag, want hy is mal daaroor om sy vals “heilige gees” of vuur oor die mense te laat val… mense wat nie tot ware bekering gekom het nie, wat hulle nie steur aan die Woord van God of tyd met Abba Vader in hulle binnekamer nie;  mense wat nog ’n swart sambreel oor hulle koppe hou, mense wat nie hulle kruis dra nie…  Hulle ontvang ‘n vals gees en volg die dwaalleringe wat Satan uitgedink het en die ergste van alles… hulle versprei hierdie vals leringe deur die wêreld en so baie naïewe, soekende mense raak die prooi van die wolf.

  Opgesom:  Die mense rondom die vuur het nie waarlik “surrender” aan Abba Vader nie, hulle het nog nie waarlik hulle eie wil voor die voete van Abba Vader neergelê nie, hulle het nog nie hulle harte en lewens aan Hom geoffer nie, hulle het nog nie die pad van heiligmaking saam met Jesus gestap en hulle kruise gedra nie, hulle het nie gesterf aan die self nie en die mens wat nie die ou mens afgesterf het nie, se hart word nie vervul met die ware Gees van God nie.  Die vuur waarrondom die mense gestaan het, was aan die brand gesteek met afgodshout, dit het nie gebrand met kruishout nie, so die groot probleem is die rook wat deur die hout afgegee word wat die mense in ‘n beswyming laat gaan en glo dat hulle die ware Gees van God ontvang het.  Die rook verduister inteendeel net verder hulle geesharte en vererger hulle toestand van geestelike blind- en doofheid.   

Ou, verslete bruidsrokke

Onder gebed wys Abba Vader my ’n groot skare mense en wat my dadelik opval, is die bruidsrokke wat hulle aanhet.  Dit is nie wit nie, maar geel;  dit is erg verslete en oral is skeure wat met ander stukke lap gelap is.  Dit lyk soos lae en lae verouderde, geskeurde lap oor mekaar, want die stukke lap wat veronderstel is om die skeure te verbloem, is nie nuwe lap nie, maar ook ou en geskeurde lap.  Dit is ’n hengse deurmekaarspul, want die tekstuur van die gelapte stukke materiaal is ’n totaal ander tekstuur as die oorspronklike bruidsrokmateriaal en selfs die gelapte stukke materiaal se teksture verskil van mekaar.  Ek kon selfs die oudheid van die lappe ruik, dit was ’n nare reuk.  Die skare mense draai om en ek kyk na hulle gesigte, maar elkeen het ‘n sluier oor sy gesig.  Dit is sulke vreeslike swaar, dik sluiers dat ek nie kan verstaan hoe hulle daardeur kan sien nie.  Die sluiers is ook van baie ou materiaal gemaak, dit is ook verouderd, geel en gelap.  Ek het dadelik besef dat hierdie mense so erg versluier is dat hulle nie die Waarheid van God kan sien of hoor nie, hulle is geestelik blind en doof.  In 2 Korinthiërs 4:4 staan dat die god van hierdie wêreld die ongelowiges verblind om nie die Waarheid raak te sien nie.  Hierdie versluierde mense staan in baie groot groepe en hulle glo hulle is korrek geklee om die Bruilofsmaal van God by te woon, hulle DINK hulle is gered en verlos, maar al die tyd is hulle so erg verblind en is hulle eintlik net deel van godsdienstige rituele.  As jy die saadjies lees wat handel oor die Bruilofsfees, sal jy sien dat ons korrek geklee moet wees met die kleed van geregtigheid om toegang tot die Bruilofsfees te kan verkry.  Die kleed van geregtigheid is die Lig van God wat in en deur ons skyn.  Die bruidsrokke wat hierdie skare mense aanhet, gaan hulle beslis nie toegang verleen tot die Bruilof van die Lam nie.  Dit is so in teenstelling met die bruidsgewaad wat die Woord beskryf in Openbaring 19:8 (Afr. 33/53)

  “Sy moet geklee wees in rein en blink, fyn linne en die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”

Die linne van hierdie skare mense se bruidsrokke is beslis nie blink en fyn nie en dit gee ’n mens verseker nie die idee van reinheid nie… veral nie die reuk wat dit afgee nie.  Hierdie bruidsrokke is mensgemaak en dit het sy afkoms van tradisie, kultuur en godsdiens.  Mense in verouderde, geel, gelapte bruidsrokke probeer geregtigheid of verlossing verkry deur godsdiens wat sy ontstaan het uit die wortels van rituele en tradisie wat oorgelewer is vanaf die voorvaders waaraan mense vasklou.  Dis ’n klomp nagebootste religieuse, mensgemaakte wette en reëls wat nie hulle oorsprong van God af het nie en wat hulle geestelik blind en doof maak vir die Waarheid as gevolg van die swaar sluiers wat oor hulle gesigte hang. 

“Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor;  en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.” Mattheus 13:14-15  (Afr. 33/53)

Mense wat geklee is met swaar, ou bruidsrokke en sluiers, se geestelike oë is nog blind en hulle geestelike ore is nog doof, met ander woorde, hulle geesharte is nog in dormansie, en wanneer die geeshart in dormansie is, skyn daar geen Lig uit die hart van die mens nie.  Omdat die geeshart nie lewe nie, kan hulle nie geestelik hoor of sien nie en daarom gaan alles wat hulle hoor, by die een oor in – waar dit deur die brein verwerk word as logiese inligting – en dan gaan dit weer by die ander oor uit.  Die geeshart van die mens is glad nie betrokke in hierdie proses nie en daarom kan die mens geestelik niks verstaan nie.  Dit is  presies wat godsdiens is!  Godsdiens het niks met die hart van die mens te doen nie, want godsdiens verseker dat die geeshart in dormansie bly en alle godsdienstiges is geklee met hierdie ou bruidsrokke.

  Ek luister ’n paar aande terug ’n praatjie oor Jehova se getuies en hoe hulle te werk gaan en ek kon nie help om dadelik te dink aan mense wat geklee is met ou, verslete bruidsrokke nie.  Volgens die praatjie wat ek gehoor het, is hulle groot doel om mense te betrek by hulle Bybelstudie…  As iemand hulle vra hoe hul gered kan word, antwoord hulle dat die mense hulle Bybelstudie moet bywoon en daar sal hulle leer hoe om gered te word.  Het Jesus nodig gehad om allerhande Bybelstudies by te woon om te leer hoe om Sy Vader te dien en te behaag?  Glad nie!  Hy het in afsondering gaan stilraak by Sy Vader en self by Hom die Waarheid geleer.  Daarna het Hy die leer van die Fariseërs weerstaan en Sy dissipels ook gewaarsku om weg te bly van die suurdeegbrood van die Fariseers af – suurdeegbrood is dwaalleringe.  Hy het gevoed op hemelse Brood wat net Abba Vader kan gee.  Mense wat nog nie gered is nie, gaan gebreinspoel word by hierdie Bybelstudies.  Die Woord word aan hulle geïnterpreteer deur mense en nie deur die Gees van God nie.  Ons het nodig dat die Gees van God die Woord van God aan ons interpreteer, nie mense nie!  En wanneer gebeur dit?  Wanneer jy tyd opoffer om in die teenwoordigheid van Abba Vader in te beweeg waar jy met tyd gekonnekteer kan raak aan die enigste Lewegewer.

Die mens moet ontslae raak van ou, verslete bruidsrokkke, want dit is godsdiens, tradisie en rituele wat die mens in die duister vasgeketting hou sodat die mens nooit die heerlikheid en glorie van Abba Vader kan aanskou of ervaar nie.  Dit weerhou die mens om gekonnekteer te raak aan Abba Vader, om gewortel te raak in Hom en in en deur Sy Liefde te leef.  Mense in ou bruidsrokke kan nooit vrugte van die Gees dra nie, en dis die vrugte wat Jesus in en deur ons dra, wat God verheerlik.  So as daar nie vrugte is nie, is daar geen heerlikheid tot Abba Vader nie, dus kan mense in ou bruidsrokke God nooit verheerlik of behaag nie.  Hulle kan nooit verhouding met Abba Vader hê nie, hulle gaan Hom nooit kan voel in hulle geesharte nie, hulle gaan nooit die borrelende gevoel van die Liefde van God ervaar nie.  So wat is die antwoord?  Kom weg uit groepe, raak in jou eie tyd stil met die Woord van God en gesels met Abba Vader.  Wanneer jy die Woord bestudeer, is dit soos ’n Lig wat op jou begin skyn en wanneer ons die tradisie, godsdiens en rituele kan begin raaksien wat nie reg is in die oë van God nie, sal die ou bruidsrokke stukkie vir stukkie begin afval net soos die skille van Paulus se oë afgeval het.  Dit is dalk hier waar die vangplek inkom, want die meeste godsdienstiges is oorlaai met trots en hoogmoed wat in die pad staan tussen hulle en God.  Hierdie trots en hoogmoed veroorsaak dat die mens nie sy sonde wil raaksien nie… hy wil ook nie die godsdiens in sy lewe raaksien en erken nie.  En as die mens nie hierdie boosheid in sy lewe kan raaksien nie, gaan hy dit ook nie erken aan God nie en wanneer ons nie ons sonde bly aan God nie, word ons ook nie vergewe en bevry daarvan nie.  So ons moet die Lig van die Woord toelaat om aan ons uit te wys of ons vasgevang is in godsdienstige groepe waar rituele nie tot eer van God is nie.  

Abba Vader wys ook dat die meeste mense bang is om alleen in afsondering voor Hom te verskyn en daarom verkies hulle om in groepe die Naam van God aan te roep, maar hoekom is mense bang vir God?  Dit laat my dink aan Adam en Eva wat weggekruip het vir God, wat te bang was om in Sy teenwoordigheid in te beweeg.  Hulle het skuldgevoelens gehad as gevolg van die sonde wat hulle gepleeg het, omdat hule toegegee het aan die versoeking van Satan.  Hulle het hulleself geklee met vyeblare, maar vyeblare is werke van eie-geregtigheid.    

Mense in groepe is geneig om soos mekaar te lyk, om dieselfde aan te trek, om dieselfde te praat, om dieselfde op te tree…  Dit is juis hoekom jy in afsondering voor die voete van Abba Vader moet wees sodat Hy jou kan wys wie jy waarlik is onder daardie swaar, ou bruidsrok.  Hy moet jou wys wie jy eintlik is onder die godsdiens, rituele en tradisie, want onder daardie bruidsrok, binne-in jou geeshart, is ’n saadjie wat Abba Vader geplant het en in daardie saadjie is die ware jy verberg!  Maar God se Lig moet skyn op daardie saadjie om te kan begin ontkiem.  Die bruidsrokke keer die Lig van God af om in jou hart in te skyn, so kerklike rituele en godsdiens keer die Lig van God af en keer dat jy nie die ware jy kan ontdek nie.  Dit wat God vir jou vooraf beplan het wat Hy deur jou wil werk, is ook opgesluit in daardie saadjie, so voordat ons waarlik vir God kan “werk”, moet ons ontslae raak van hierdie bruidsdrokke.  Dan eers kan God deur ons werk en Sy doel bereik deur ons.  Dit begin deur tyd by die voete van Abba Vader te spandeer.  Dit beteken om dalk van jou gunsteling wêreldse bedrywighede opsy te skuif en daardie tyd aan God te gee.  God vra opofferings van ons kant af ook!  Samewerking!  Ons kan nie verander as ons nie ons samewerking gee nie en dit begin weer by ’n keuse!  Jy het ’n keuse of jy in die groep wil bly met die swaar bruidsrok en godsdiens wil speel saam met die die groep mense en of jy waaarlik Abba Vader wil leer ken, want jy gaan hom alleenlik in jou binnekamer ontmoet en leer ken vir wie Hy waarlik is. 

So hoe raak ons onslae van verlete bruidsrokke?  Om jou sokkies op te trek, hoogmoed, trots en arrogansie eenkant toe te skuif, en in die teenwoordigheid van God in te beweeg… om af te sonder by Sy voete sodat Hy jou kan voed met hemelse Brood wat Waarheid is.  

 “Whenever they turn to face God as Moses did, God removes the veil and there they are – face to face.  They suddenly recognize that God is a living, personal presence…Our faces shining with the brightness of His face.  And so we are transfigured much like the Messiah, our lives gradually becoming brighter and more beautiful as God enters our lives and we become like Him”   2 Corinthians 3:16-18  (The Message) 

Opgesom:  Om die Bruilof van die Lam van God by te woon, moet ons geklee wees met die kleed van geregtigheid, wat die Lig van God is, maar die Lig van God kan nie deur ou bruidsdrokke ons harte bereik nie.  Ons moet ontslae raak van die bruidsrokke en dit kan alleenlik gebeur wanneer die Lig van die Woord die godsdiens, tradisie en rituele aan ons uitwys waarmee ons besig is;  wanneer ons dit bely aan Abba Vader en ons rug daarop draai.  Ons moet ontbloot staan in die Lig van God, alleenlik dan kan die Lig van God deurdring tot binne-in ons geesharte en kan ons harte aan die brand slaan met die Lig van God om ’n geestelike Lig te skyn en dit is hierdie Lig van God uit ons harte, wat die kleed van geregtigheid is.  

“I will sing for joy in God, explode in praise from deep in my soul!  He dressed me up in a suit of salvation, He outfitted me in a robe of righteousness.  As a bridegroom who puts on a tuxedo and a bride a jeweled tiara, for as the earth bursts with spring wildflowers, and as a garden cascades with blossoms, so the Master, God, brings righteousness into full bloom and puts praise on display before the nations.”

Isaiah 61:10  (The Message)