“So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.”
Jeremia 6:16
Jesus het vir ons die ware Weg kom skep en Hy het ook vir ons ’n voorbeeld kom stel hoe om daardie weg te bewandel. Dit is ’n lydingspad waar ons ons kruis moet optel en Jesus moet volg. Ons ken die Skrif in Mattheus 16:24-26 waar Jesus sê dat diegene wat Hom wil volg, homself moet verloën, sy kruis moet opneem en Hom moet volg. Jesus sê ook dat diegene wat hulle lewe wil behou, dit sal verloor, maar diegene wat bereid is om hulle lewe te verloor ter wille van Jesus, sal dit terugkry. Die ware Weg is nie ’n maklike pad waar alles altyd goedgaan nie en Jesus het ook vir ons die voorbeeld kom stel dat ons ten alle tye die wil van God moet aanvaar, maak nie saak hoe moeilik dit is nie. God het sekere klippe op sekere plekke op ons pad geplaas, nie om ons leed aan toe doen of om die lewe vir ons moeilik en onplesierig te maak nie, maar juis omdat Hy vir ons net die goeie beplan. Ons beleef hierdie klippe in ons pad as die moeilike omstandighede en situasies wat oor ons pad kom en vir ons as mens is dit moeilik om te verstaan dat God hierdie goed vir ons beplan het tot ons beswil, om vir ons ’n hoopvolle toekoms te gee, maar ons moet net altyd onthou…ons sien nie die groter prentjie soos God dit sien nie. Hy plaas daardie klippe, wat beproewinge is, op ons pad om ons te suiwer, om ons te laat groei, want alleenlik wanneer ons harte suiwer en skoon is, kom woon die Gees van God in ons harte. God sal nooit Sy Gees in ’n donker, onsuiwere hart laat woon nie.
Hierdie klippe, oftewel beproewings op ons pad, kom nie van Satan af nie, maar dit is die wil van God. Mense raak kwaad as ’n mens dit sê, want hulle haak vas by die punt dat God niks slegs met Sy kinders sal laat gebeur nie, maar ek sê weer soos voorheen: Dit wat ons sien as sleg, sien God nie as sleg nie. God laat hierdie dinge gebeur sodat daar stukkies van ons vleeslikheid kan afsterf, want alleenlik as daar stukkies van ons sterf, kan ons geestelik groei. Daar moet dus stukkies vleeslikheid sterf om ruimte te maak vir ons om geestelik te kan groei. Het daar al slegte goed in jou lewe gebeur, maar as jy ’n paar jaar later terugkyk op daardie sleg, kan jy sien hoe jy geestelik gegroei het daardeur? Sonder daardie klip in jou pad sou jy nooit geestelike gegroei het nie. Daarom is dit so belangrik dat ons sal bly op die ware Weg en die wil van God sal aanvaar, al is dit soms moeilik. Ons moenie teen die wil van God probeer spreek en dinge in die geestelike realm probeer verander sodat dit ons beter pas nie, want dan meng ons in met die planne van Abba Vader.
God ken elke kind van Hom deur en deur en Hy weet presies waar ek en jy verandering of verbetering in ons lewens nodig het en daarvolgens het God die klippe op ons pad geplaas. Hy weet presies op watter gebied van ons lewens ons nodig het om te sterf aan die self of die vleeslikheid en op daardie gebied sal ons beproef word. Hierdie beproewinge is die wil van God wat Hy alreeds voor ons geboorte in ons lewensboeke opgeskryf het.. tot ons eie beswil, maar nou gebeur dit dat die mens nie die wil van God vir sy lewe wil aanvaar nie en teen dit vasskop. Ons sê vir God: “Laat U wil geskied…” maar direk daarna smeek en versoek ons God om dinge te laat gebeur soos ons wil hê dit moet gebeur, sodat dit in ons vleeslike behoeftes moet voorsien. Dan tree ons mos teen die wil van God op en laat ons nie God se wil in ons lewens geskied nie. Ons leef dan nie dit wat God in ons Lewensboek geskryf het nie, maar ons skryf ons eie lewensverhaal wat nie tot eer van God is nie. As ons dit doen, verlaat ons die ware Weg van God…
En dit is nou net hier waar Satan en sy werkers op die toneel verskyn, want hy skep afdraaipaadjies op elkeen van ons se paaie waar hy ons probeer lok om eerder sy pad te bewandel as die ware Weg, want sy pad is ’n makliker pad sonder klippe en beproewinge… hy vra nie van ons om te sterf aan die self nie, maar help ons eerder om onsself verder op te bou en om te fokus op die self. Dit is so asof die mens homself as ’n god sien en hy van God verwag om in sy behoeftes te voorsien, hy verwag van God dat wanneer hy iets van God vra, God dit so moet laat gebeur. Mense gebruik die Skrif dat ons enigiets in die Naam van Jesus kan vra en ons dit sal ontvang, maar hierdie Skrif word misbruik deur die mensdom, want die mens gebruik dit as ’n toormiddel om te kan kry wat hulle wil hê…maar dit waarvoor jy bid, wat jy so graag wil hê…is dit die wil van God? Het God dit in jou lewensboek opgeskryf of is dit jy wat sake in eie hande neem en jou eie wil laat probeer geskied? As God dit nie bepaal het nie, gaan dit een of ander tyd flop…
Op een van die afdraaipaaie van Satan deel hy suurdeegbrood uit wat die mens leer dat hy outoriteit het oor Satan, dat hy oorlogvoering moet doen teen Satan, dat hy in sy omstandighede moet inspreek om sy omstandighede te verander en om selfs oor ’n ander persoon te spreek om die persoon se hart te verander of gesond te maak, of wat ookal… (Ek gaan nie nou uitbrei op oorlogvoering nie, lees gerus die saadjies wat daaroor handel) Hierdie mense wil nie die wil van God aanvaar nie, hulle wil nie dit aanvaar wat God in hulle lewensboeke opgeskryf het nie, nou probeer hulle dit wat God oor hulle lewe bepaal het verander deur blatant soos God te probeer optree deur “kragtige” woorde te spreek… Wat het Satan vir Eva gesê toe hy haar oorreed het om van die vrug te nuttig? “Jy sal soos God word!” Is dit nie wat Satan vandag nogsteeds doen nie? Hy oorreed vandag nogsteeds miljoene mense om te nuttig aan sy bose vrugte, want “dan sal hulle soos God word” en hulle sal die werke van God kan doen… hulle kan in die geestelike realm inspreek en dinge in hulle guns te verander… Natuurlik is Satan net te slim vir die mens en lei hy die mens om die bos met baie mooi praatjies en godsdiens, hy gaan verseker nie vir jou sê dat jy op sy breë weg is nie, hy gaan jou ook nie laat agterkom dat jy op sy suurdeegbrood voed nie, want sy suurdeegbrood is toegesmeer met lekker dik botter en konfyt. Maar as jy wel op ’n pad is waar jy deur mense of geestelike boeke geleer word dat jy situasies of omstandighede kan verander deur dit wat jy spreek, is jy verseker nie op die pad van God nie. As jy nie die wil van God wil aanvaar nie, is jy ook nie op die regte plek met God nie.
Die groot rede hoekom die mens nie die wil van God wil aanvaar nie, is omdat die mens sy eie behoeftes nog bo God stel. Wanneer ons vleeslike behoeftes vir ons nog TE belangrik is, gaan ons glad nie hou van die beproewinge op die ware Weg nie, want ons gaan nie daarvan hou om ons vleeslike begeertes vierkantig in die oë te kyk, te sien dat dit teen die wil van God is en dit teëstaan nie. Ons moet waak daarteen om altyd ons vleeslike begeerlikhede te wil bevredig. Romeine 13:14 sê ook:
“Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
Wanneer ons alles in ons vermoë probeer doen om in ons vleeslike behoeftes te voorsien, wanneer ons sake in eie hande neem, dan verlaat ons die ware Weg van God en beland ons op die afdraaipaadjies wat Satan vir ons geskep het. ’n Mens met hierdie benadering, het nog nie sy eie wil afgelê by die voete van Abba Vader nie, hy het nog nie sy eie wil of sy vleeslikheid afgesterf nie. Dit is dalk ook hoekom God beproewinge, in die vorm van klippe, op ons pad plaas – om die motief van die mensehart te toets. Die mens wat tot vals bekering gekom het, gaan weier om die wil van God te aanvaar en gaan die ware Weg baie vinnig verlaat en teruggaan na die wêreldse breë pad. Hierdie persoon het met die verkeerde motief in die kop die pad van bekering begin volg… dalk het hy gedink dat hy ’n baie geseënde lewe gaan hê op die ware Weg, dat dit net goed gaan met die mens wat op die ware Weg is, maar hierdie persoon ken dan nie die Skrif nie, want Jesus sê duidelik in Lukas 14:25-35 dat dit nie maklik is om Hom te volg nie, dat ons die koste mooi moet bepaal wat dit van ons gaan kos om Hom te volg. Sy pad is nie ’n maklike pad nie, dit is ’n lydenspad wat Hy kom stel het, dis ’n pad waar ons ons kruis moet dra, waar ons moet sterf aan die self en die eie wil, want alleenlik dan sal ons die wil van Abba Vader aanvaar.
Satan en sy werkers is soos wolwe in skaapsklere wat op die afdraaipaadjies staan en wag om mense weg te lok van die ware Weg af. Hulle belowe vryheid aan die mens, alhoewel hulle self slawe van die verdorwenheid is. Baie sal hulle verderflikhede navolg en om hulle ontwil sal die Weg van die Waarheid gelaster word. (2 Petrus 2) Hierdie mense begin dwaalleringe aanhang en glo elke woord wat uit ’n ander se mond kom. Ons moet ophou om met ons fisiese ore te luister, ons moet fokus om ons hartsore oop te kry sodat ons eerder by Abba Vader die Waarheid te hore kan kom. Die mens word besmet met alles wat by sy fisiese ore ingaan en die naïewe mens gaan ondersoek nie die nuutste lering wat hulle hoor in die Woord om te sien of dit Waarheid is nie, hulle glo dat hierdie “geestelike” mense by God die leringe ontvang het en hulle glo dit. Nie alles wat Goddelik klink, kom van God af nie! Ons het nodig om vir Abba Vader te vra om vir ons onderskeidingsvermoë te gee sodat ons die ware God van die valse god kan begin onderskei, want soveel mense wat op die afdraaipaaie is, glo uit hulle harte dat hulle op die regte pad is en dat hulle vir God aanbid op daardie pad, maar tog spreek hulle teen dit wat God vir hulle beplan het…
“…Do people take the wrong road and then just keep going? So why does this people go backward, and just keep on going – backward! They stubbornly hold on to ther illusions, refuse to change direction. I listened carefully but heard not so much as a whisper. No one expressed one word of regret… “
Jeremia 8:4-7
Die Here sê deur die monde van Jeremia dat Hy fyn geluister het na Sy volk, maar Hy hoor hulle spreek nie reg nie!!! Het die volk van God ook dalk soos vandag se mense uit hulle beurt gespreek asof hulle gode is? Het hulle ook omstandighede en situasies in eie hande geneem en dit probeer verander sodat dit hulle sal pas? Omdat hulle nie die wil van God aanvaar nie? Het hulle ook die wil van God probeer verander deur woorde in die geestelike realm in te spreek? God sê Hy hoor dit en hulle spreek nie reg nie! Dit is omdat hulle teen die wil van God spreek. Wat God wil hoor, is ware berou, dat ons moet raaksien ons is op die verkeerde pad en besig is met bose, verkeerde goed. Ons sal dit alleenlik kan raaksien wanneer ons baie tyd in die Woord spandeer sodat die Lig van die Woord ’n lig kan skyn op ons verkeerdhede, sodat ons kan sien dat God nêrens in die Woord vir ons die outoriteit gee om te spreek in die geestelike realm om ons omstandighede, situasies of ander mense se harte te verander nie. Ons moet begin raaksien dat ons ons eie wil moet afsterf en oorgee aan Abba Vader.
“Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, MAAR VOLGENS DIE WIL VAN GOD!!!“
1 Petrus 4:1-2
“Since Jesus went through everything your’re going through and more, learn to think like Him. Think of your sufferings as a weaning from that old sinful habit of always EXPECTING TO GET YOUR OWN WAY! Then you’ll be able to live out your days free to pursue what God wants instead of being tyrannized by what you want.”
Groepe mense het die ware weg van God verlaat en hang leringe van duiwels aan, want hulle DINK dit is die ware weg. Hoe gaan ek en jy weet ons is op die ware Weg? Hoe gaan ons weet dat dit wat ons beleef, van God af is of nie? Vra jouself die vraag of jy die wil van God in jou lewe aanvaar, of veg jy daarteen? God sal ons nooit beproef bo ons kragte nie! Hy het ’n plan met elke ding wat Hy laat gebeur in jou lewe… die vraag is net…wat maak jy daarmee? Hoe hanteer jy die klippe en die wil van God? As jy op ’n pad is waar jy geleer word om jou omstandighede, situasies of mense te manipuleer, kom weg van daardie pad af, keer terug na die ware Weg en aanvaar die perfekte wil van God. As jy Hebreërs 3 en 4 lees, sal jy sien ons kan alleenlik in die rus van God ingaan wanneer ons na die weë van God wandel, maar wanneer ons op hierdie snaakse paaie wandel, sal ons nooit rus en vrede ervaar nie, want ons sal altyd ons omstandighede probeer verander. Wanneer ons op die pad van God is en God se wil aanvaar, sal ons ook rus en en vrede ervaar, ons sal maklik kan oorgee aan God.
“So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel…
Jeremia 6:16