Alle lote word gesnoei

Johannes 15:1,2,6 (Afr.33/53) “Ek is die ware wynstok, en My Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.”

Terwyl ons van bome praat, kan ons ook dink aan die loot wat in die wynstok gevestig moet wees. Wanneer ons gewortel raak in die hart van God, is ons soos die loot wat uit die wynstok uit groei. Jesus is die wynstok wat die loot in staat stel om vrugte te dra, so as ons nie as ’n loot in Jesus gevestig is nie, kan ons ook nie vrug dra nie. God ondersoek Sy wynstok en Hy snoei gedurigdeur die stok. As daar nie vrugte aan ’n loot is nie, word die loot afgesny om in die vuur gegooi te word. As daar wel vrugte aan die loot is, maar nie genoeg nie, snoei Abba Vader ook hierdie loot terug sodat hy meer vrugte kan dra.

’n Loot wat waarlik in die wynstok gevestig is, sal leef deur die Lewe wat hy van die wynstok kry. Ons het gesien hierdie Lewe bestaan uit Liefde, Bloed en Lewende Water. Daar is dus Lewe teenwoordig in hierdie loot en wanneer hierdie loot gesnoei word om meer vrug te dra, sal die afgesnyde takkie nie weggegooi word nie, want daar is Lewe in die takkie ook. Alleenlik lote wat geen vrug dra nie, word in die vuur gegooi, want hierdie lote het beweer om gevestig te wees in die wynstok en om uit die wynstok te groei, maar as hy waaragtig in die wynstok gevestig was, sou die vrugte wat hy dra, ’n bewys wees daarvan. So lote wat geen vrug dra nie, bely net met die mond om te glo in Jesus Christus, hy bely net om bekeerd te wees. Dit is soos die mense wat kerk toe gaan en allerhande godsdienstige pligte uitvoer, maar hulle het geen verhouding met Abba Vader nie. Daar is geen band met Abba Vader nie, met ander woorde, daar is nie ’n penwortel wat hom anker in die hart van God nie. Daarom is daar nie Lewe in hom teenwoordig nie. As Abba Vader hierdie loot afsny van die wynstok af en Hy bestudeer die afgesnyde loot, is dit droog aan die binnekant, daar was dus geen Lewe in hierdie loot nie. Hy het dalk net baie mooi vertoon van buite af, want hy kon dalk baie mooier blare gedra het. Hy het dalk mooi gesond gelyk op die oog af, maar as jy tussen die blare begin soek vir vrugte, is daar niks. Hulle beland op die hoop droë lote wat in die vuur gegooi gaan word.

Die loot wat waaragtig in die wynstok gevestig is, sal vrugte dra, maar dalk nie genoeg nie, of die takkie groei te lank uit en ’n lang dun takkie kan nie die gewig van vrugte hou nie. Abba Vader gaan Sy snoeiskêr vat en die takkie versigtig ondersoek om hom op die regte plek en op die regte tyd te snoei. Abba Vader alleen weet wanneer die tyd reg is vir ’n loot om gesnoei te word, Hy sal dit nooit op ’n ongeleë tyd doen nie. Wanneer Hy die lewende loot knip, loop daar bloed uit die takkie uit wat ’n bewys is dat die Lewe van God teenwoordig was binne hierdie takkie. Dit is ook die Lewe wat die takkie laat vrugte dra het. Die kort takkie wat nou oorbly, bloei ook, maar dan raak Abba Vader met Sy vinger aan die bloeiende takkie en die takkie verseël (soos bloed wat ’n rofie maak). God het nou hierdie takkie verseël met Sy Seun se bloed en dan gebeur die wonderlikste: Daar groei nie net een takkie uit die afknipte tak nie, maar sommer ’n paar nuwe takkies wat in verskillende rigtings groei. Hierdie nuwe groei sal nou ’n goeie oes lewer deur die vrugte wat hy gaan dra deur die Lewe van God. Kyk hoe mooi sê hierdie Skrif:

Johannes 15:8 (Afr.33/53) “Hierin is My Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal My dissipels wees.”

Wanneer ons Goddelike vrugte dra, verheerlik ons God, so wanneer ons mense in vrede en vriendelikheid hanteer met liefde, respek, geduld, sagmoedigheid, goedheid, getrouheid en al die ander mooi eienskappe, dan verheerlik ons die Naam van God. Ons fokus is dan nie meer op die self en die self se behoeftes en begeertes nie, maar ons volle fokus is op God en die heerlikheid van God. Wanneer ons min vrugte dra, is die heerlikheid tot God nie so groot nie, maar hoe meer vrug ons dra, hoe groter is die heerlikheid tot God.

Mooi groen blare gaan die vals lote hier nie kan help nie, want Abba Vader weet hoe om vir ware vrugte te kyk. Godsdienstige werke en allerhande barmhartigheidsdade voor die mensdom kan dalk die mensdom bluf om hom te sien as is ’n goeie mens met goeie werke, maar dit is net goeie werke, dit is nie die vrugte wat God soek nie – dit is nie vrugte wat God verheerlik nie. Dit laat my ook dink aan Markus 11 waar Jesus die vyeboom vervloek het. Jesus het verby die vyeboom geloop en vrugte gesoek aan die boom, maar omdat daar geen vrug te vinde was aan die boom nie, het Jesus die boom vervloek en die boom het verdroog en gesterf.

Daar is ongelukkig baie lote wat valslik geheg is aan die wynstok en wat beweer om die werk van God te doen. Hulle deel vals leringe uit aan die mensdom, maar dit sal nie ongesiens verbygaan nie. Dit is hierdie lote wat op die oordeelsdag sal sê:

Mattheus 7:22 (Afr.33/53) “Here, Here, het ons nie in U Naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen nie?”

En dan sal Jesus sê:

Mattheus 7:23 (Afr.33/53) “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

Mattheus 7:21 (Afr.33/53) “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal ingaan in die koninkyk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is.”

Dit was toe al die tyd net godsdienswerke tot die eer van hulleself; hulle was toe al die tyd nie gevestig in die wynstok nie, maar hulle het net groen godsdienstige blare gedra. Wees versigtig vir die wolwe in skaapsklere!

Die snoeiproses is vir ons as mens nie lekker nie. Dit is die toetse en beproewinge waardeur ons gaan wat nie altyd so maklik is nie, maar Abba Vader toets ons geloof, ons gehoorsaamheid en ons liefde deur ons te snoei. Hy maak seker dat die bloed van Sy Seun binne ons teenwoordig is. Die uiteinde van ’n snoeiproses is altyd mooi en baie vrugbaar, so ons moet net aan Abba Vader vashou deur die moeilike tye. Dit is Abba Vader se manier om ons skoon te maak sodat ons meer vrug kan dra tot Sy heerlikheid. Ek kan net dink hoe glimlag Abba Vader wanneer Hy ons snoei en die engele rondom Hom hulle asem ophou om te sien of daar bloed uit die takkie gaan drup. Hoe groot gaan die blydskap wees wanneer die eerste druppeltjie bloed te voorskyn kom! Vir ons is dit seer, maar Abba Vader sal ons altyd weer opbou.

As Abba Vader jou moet snoei, wat gaan Hy vind? Gaan daar bloed begin uitdrup uit die takkie uit? Of is dit ’n lewelose loot wat net groen blare kon dra?

Leave a comment