Die bruilofskleed

“En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aan het nie.  En hy sê vir hom:  ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan?’  En hy kon geen woord sê nie.  Toe sê die koning vir sy dienaars:  ‘Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis.  Daar sal geween wees en gekners van die tande.  Want baie is geroep, maar min is uitverkies.”  Mattheus 22:12,13  (AFR33/53)

Die uitnodiging na die Bruilofsfees wat God aan elkeen van ons stuur, het ’n gedragskode waarop ons moet let:  Ons moet met die regte kleed geklee wees om deel te kan wees van die Bruilof van die Seun van God.  Die Boodskap stel dit op hierdie manier:  

“ Toe die koning die saal inkom, val sy oog egter op iemand wat nie sulke feesklere aanhet nie.  Die man wou natuurlik daar buite nie erken dat hy die uitnodiging nie wou aanneem en vriende met die koning wou wees nie. Tog het hy skelm by die fees ingeglip.  Die koning vra hom toe: ‘Ou maat, wat soek jy hier?  Jy het seker gedink jy kan skelm hier inkom, want as jy saam met my helpers hiernatoe gekom het, sou hulle vir jou ook mooi klere gegee het.  Toe hulle jou daar buite uitgenooi het, het jy natuurlik gemaak of jy jou nie aan hulle steur nie, nie waar nie?’  Die man was vas;  hy het nie geweet wat om te sê nie.” Mattheus 22:11,12 (DB)   

Hierdie Bruilofskleed, waarmee ons geklee moet wees, is die kleed van geregtigheid.  Dit is ’n kosbare, duur gekoopte, hemelse kleed waarmee Jesus ons klee wanneer ons deur Hom beweeg na die Bruilofsfees.  Ons weet Jesus is die enigste ingang na die Bruilof, Hy is die enigste DEUR, die enigste Weg en die enigste Waarheid.  God is pure Lig;  God skyn van heerlikheid en geregtigheid, Sy glorie omring Hom.  Die kleed van geregtigheid is soos ’n stukkie van God, dit is soos ’n stukkie Lig wat ons omgehang word.  Die enigste verskil is dat die nie van buite af met die blote oog gesien kan word nie, maar alleenlik in ons harte.  Die Lig van God kan alleenlik uit ons harte skyn en DIT is om geklee te wees met die kleed van geregtigheid.

Die enigste ware Weg na die Bruilof lei deur Jesus, daar is geen ander weg of manier wat deur die kruis van Jesus beweeg nie.  Wanneer ons die self afsterf aan die kruis, ontvang ons die kleed van geregtigheid.  Vals bekeerdes probeer op skelm maniere die Bruilof binnegaan deurdat hulle met ompaaie reis na die Bruilof, maar ompaaie lei nie deur Jesus nie, dus beweeg hulle nie deur die kruis van Jesus wat op Golgota geleë is nie.  Hulle het nie tot ware wedergeboorte gekom nie, hulle beweeg nie deur die korrekte DEUR die Bruilof binne nie en daarom is hulle sonder ’n bruidsgewaad.  Hierdie persoon gaan soos ’n seer oog uitstaan by die Bruilof en sal dadelik uitgegooi word die hel in. 

In die tyd wat Abba Vader my geleer het oor die kleed van geregtigheid, gee Hy een nag vir my die Naam van God – Jehova Tsidkenu.  Toe ek wakker word, is ek nuuskierig oor die betekenis van die Naam en tot my opgewondenheid, sien ek die Naam Jehova Tsidkenu beteken:  “Lord of my righteousness”,  God van geregtigheid!  Wat ’n pragtige bevestiging van die kleed van geregtigheid wat ons alleenlik kan kry by die God van geregtigheid!  

“Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God;  want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel – soos ’n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ’n bruid wat haar versier met haar juwele.”  Jesaja 61:10  (AFR33/53)  

Nou is die vraag:  Hoe word ons geklee met die bruilofskleed?  Voordat ons daarna kyk, moet ons net eers tot die besef kom dat ons almal eers geklee was met die wêreld se vyeblare en “filthy rags” en voordat ons geklee kan word met die kleed van geregtigheid, moet ons eers ontslae raak van al ons vyeblare en “filty rags”.  Kom ons gaan net eers vir ’n oomblik terug en kyk waar kom hierdie vyeblare en “filthy rags” vandaan…

“We are all infected and impure with sin.  When we display our righteous deeds, they are nothing but filthy rags.”  Isaiah 64:6 (NLT)

Nadat Adam en Eva gesondig het, het hulle bewus geraak van hulle naaktheid en het hulle dit met vyeblare probeer verbloem.  Vyeblare is werke van eie-geregtigheid, dit is om jou eie geregtigheid te probeer bekom.  Daar is baie goeie dade wat Christene kan doen om hulle goed laat lyk, wat hulle soos perfekte Christene laat lyk, maar wat belangrik is, is wat in die hart van die mens aangaan.  Wat is die motief agter die goeie dade?  Om raakgesien te word?  Om as ’n goeie mens gesien te word?  Niks wat ons DOEN kan ons in regstaande verhouding met Abba Vader bring nie, alleenlik deur aan Hom gehoorsaam te wees en baie tyd by Sy voete deur te bring.  As ons nie ’n ware, lewende verhouding met Abba Vader het nie, beteken goeie dade absoluut niks.  Meeste mense noem hulleself Christene en doen baie goedjies vir die kerk, maar meeste van die tyd is dit net om die wêreld se aandag op die goeie dade te vestig sodat niemand op die hart van die mens sal fokus en sal agterkom dat sy goeie dade nie uit sy hart uit kom nie.  Hierdie valse goeie dade, is vyeblare van geregtigheid wat ons nooit ware geregtigheid in die oë van Abba Vader kan gee nie.  Geen goeie dade kan ons ooit verhouding met Abba Vader gee nie, nie eers om teologie te gaan studeer of om die Woord deur die hele wêreld te verkondig nie.  Net so kan ons goeie dade ons nooit ’n plek in die Bruilof van God se Seun verseker nie.  Alleenlik deur op die ware Weg te stap na die Bruilof, deur die kruis van Jesus te beweeg en in regstaande verhouding met Abba Vader te wees.      

’n Goeie voorbeeld vir ons van mense met vyeblare, is die Fariseërs.  Jesus sê in Mattheus 23:4 dat die Skrifgeleerdes en Fariseërs pakke saambind wat swaar en moeilik is om te dra.  Hulle sit dit op die skouers van mense, maar self dra hulle dit nie.  Hulle maak hulle gedenkseëls breed, die some van hulle klere groot en hulle hou van die voorste plekke by die maaltye.  Ons moet ophou om ons te steur aan die sogenaamde belangrike mense in die wêreld;  diegene wie se gedenkseëls breed en wie se some van hulle klere groot is, want hulle is geklee met dit wat hulle belangrik laat voel en lyk in die wêreld.  Die meeste van hulle lei die mens op ’n dwaalspoor.  Hulle let op dit wat met die blote oog gesien kan word en nie op die opregtheid van hulle hart nie.  Al hulle godsdienstige reëls, wette, feeste en rituele word deur die mens raakgesien en hierdie vals mense word deur die naïewe mensdom bewonder, maar weereens kyk God na die opregtheid van die hart en nie dade nie.  Wees versigtig vir die samelewing se godsdienstige reëls, al die moets en moenies, want die Fariseërs van ons tyd gee nogsteeds vir ons swaar pakke om te dra.  Gooi af al die reëls van godsdiens waarmee jy grootgeword het en laat God toe om jou te bevry, want in vandag se tyd is godsdiens die grootste en gevaarlikste boosheid wat ons van God af weghou.  Dit is vyeblare.  Sommige mense dink hulle leef na aan God wanneer hulle elke nagmaal, fees of watter byeenkoms ookal bywoon, maar dis nie daardie goed wat ons klee met die kleed van geregtigheid nie, al hierdie goed klee ons net meer en meer met vyeblare.

Daar is NIKS wat ons kan DOEN om geregtigheid te verdien of te ontvang nie, daar is geen regte woorde wat ons kan spreek wat ons verlossing kan bied nie;  daar is geen korrekte kerk wat ons kan bywoon wat ons geregtigheid kan bied nie;  alleenlik ’n verhouding met Abba Vader wat ons verkry deur in Sy Seun te glo.  In Johannes 6:28,29 vra die mense vir Jesus wat hulle moet doen om die werke van God te volbring, maar Jesus antwoord hulle dat daar niks is wat hulle kan DOEN nie.  Die enigste manier is om te glo in die Een wat God gestuur het en om saam met Jesus die een ware Weg te volg na die Bruilofsfees.  Lees Efesiërs 4:17-32, ek haal ’n gedeelte aan uit Die Boodskap, maar lees asseblief die hele gedeelte.

Los julle ou manier van lewe – leef nuut “Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie.  Dit is wat die Here self wil hê.  Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie.  Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie.  Hulle gedagtes is met onbelangrike dinge besig en hulle kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie.  Daarom besef hulle nie eens dat God vir hulle ’n nuwe lewe wil gee nie.  Hulle is hardkoppig en wil nie na rede of goeie raad luister nie.  Daarom gaan dit so sleg met hulle.  Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of verkeerd is nie.  Hulle leef nou vieslike lewens en kan nie genoeg daarvan kry nie.   Julle het Christus egter nie so leer ken nie.  Toe julle van Hom gehoor het, het julle Sy volgelinge geword. So het julle geleer wat die Waarheid is, want dit is alleen as jy Jesus ken dat jy by die Waarheid uitkom. 

 LOS JULLE OU MANIER VAN LEWE!  SOOS ’N MENS VUIL KLERE UITTREK, MOET JULLE JULLE OU GEAARDHEID UITTREK, WANT DIT IS VOL SONDE EN WIL NET VERKEERDE DINGE DOEN.  

Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit.  Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink.  Hierdie nuwe lewensstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek.  Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk:  Ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy.”   Efesiërs 4:17-24 (DB)

Net soos ons ontslae moet raak van die vyeblare, moet ons die “filthy rags” waarmee ons eers geklee was, ook uittrek.  Dit beteken ons moet ons ou, sondige lewe afsterf!  Ons moet ons ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde.  Ons moet dus ons totale ou lewenswyse agterlaat en ons laat beklee met Jesus Christus. 

“Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid.”  Kollosense 3:12 (AFR33,53)

Ons moet ons beklee met Goddelike eienskappe, maar natuurlik kan ons dit nie self genereer nie;  ons kan alleenlik daardie eienskappe ontwikkel met Jesus in en deur ons, maar daarvoor moet ons eers ons ou lewe afsterf.  Lees Kollosense 3:1-17.  Ek haal ’n gedeelte aan uit The Message.

“Your old life is dead.  Your new life, which is your real life – even though invisible to spectators, is with Christ in God.  He is your life… That means killing off everything connected with that way of death:  sexual promiscuity, impurity, lust, doing whatever you feel like whenever you feel like it, and grabbing whatever attracts your fancy.  That’s a life shaped by things and feelings instead of by God.” 

You’re done with that old life.  It’s like a filthy set of ill-fitting clothes you’ve stripped off and put in the fire.  Now you’re dressed in a new wardrobe.  Every item of your new way of life is custom-made by the Creator, with His label on it.  All the old fashions are now obsolete…  So, chosen by God for this new life of love, DRESS IN THE WARDROBE GOD PICKED OUT FOR YOU:  compassion, kindness, humility, quiet strentgh, discipline.  Be even-tempered, content with second place, quick to forgive an offense.  Forgive as quickly and completely as the Master forgave you.  And regardless of what else you put on, wear love.  It’s you basic, all-purpose garment.  Never be without it” Collosians 3:9-11  (MSG)

Sien julle raak wat ek raaksien?  Die kleed van geregtigheid is nie ‘n fisiese kleed nie.  Dit is ’n totale nuwe lewe;  dit is Jesus wat in en deur ons moet leef!  Sonder Jesus kan ons dit nooit bekom nie!  Sonder Jesus kan ons nooit die kleed van geregtigheid ontvang nie, want die kleed van geregtigheid is die Lig en die Lewe van God wat ons harte oorneem.  Die kleed van geregtigheid is Jesus self wat ons totale harte oorneem, wat in en deur ons leef, maar voordat Jesus ons harte kan oorneem, moet ons eers die self afsterf.  Dit beteken ons moet deur die kruis van Jesus beweeg wat alleenlik op die ware Weg geleë is;  die kruis van Jesus is nie op die breë paaie nie.  Ons moet die vleeslikheid afsterf aan die kruis en ons moet geestelik in die graf geplaas word om na ’n sekere tyd as ’n nuwe mens op te staan.  Toe Jesus opgestaan het uit die dood, het die lappe eenkant in die graf gelê en net so moet ons ou, vuil klere eenkant in die graf lê.  Dit verteenwoordig ons ou lewe, ons ou geaardheid, die ou mens wat ons was.  In die graf verrig Abba Vader ’n hartsbesnydenis op ons waar ons Sy merk ontvang en wanneer ons die Gees van God in ons harte ontvang, is ons harte pure Lig!  Dan het ons die kleed van geregtigheid ontvang.  Dus ontvang ons die kleed saam met ons nuwe lewe en dit gebeur met wedergeboorte.  Wanneer Abba Vader die hartsbesnydenis op ons toepas, word ons ook gestempel met die seël van God.  Ons behoort dan aan God!  Ons word die mantel van geregtigheid omgehang en dan eers is ons korrek geklee vir die Bruilofsfees.  Dan het ons ware toegang tot die Fees… 

      Daar is ’n lering dat ’n mens elke oggend die wapenrusting moet aantrek of dat ons die wapenrusting oor onsself moet afbid, maar as jy al die bogenoemde Skrifte lees, sal jy sien die wapenrusting kom ooreen met die Lig van God wat ons ontvang wanneer ons sterf aan die self en God toelaat om in te meng in ons lewens om ons ’n Goddelike leefwyse te gee.  Die wapenrusting is nie iets wat ons fisies of met die mond kan aantrek nie, dis iets wat met ons hart moet gebeur.  Om die wapenrusting elke oggend oor jouself of oor jou kinders af te pleit, gee aan die mens vals hoop en vals verlossing wat mense lei om die korter, makliker paaie te volg.  Hierdie kortpaaie is ompaaie wat nie deur die kruis van Jesus beweeg nie en mense wat hierdie leringe volg, gaan met ’n skok by die Bruilof opdaag en besef hulle het nie die bruidsgewaad van Jesus aan nie, maar ’n vals wapenrusting wat nie die bruilofskleed van geregtigheid is nie.  Mense hou nie daarvan om te hoor dat dit wat hulle doen of dit wat hulle glo, vals is nie, want dis die vals maniere van verlossing wat maklik is!  Verlossing is nie sommer net so maklik nie, dis ’n opgee en afsterwe van die self en dis nie altyd ’n maklike pad om te stap nie.  Ons moet al die ou, vuil klere en vyeblare uittrek;  ons moet ontslae raak van ons sondes en ons ou lewensstyl.  Ons moet God toelaat om Jesus se karakter binne ons te omvorm en alleenlik deur die karakter van Jesus word ons as mens verander na die mens wat God wil hê ons moet wees.  Wanneer ons die vleeslikheid afsterf en ontslae geraak het van al die ou, vuil klere, is ons op die regte plek waar Jesus ons klee met Sy kleed van geregtigheid, wat die bruilofskleed is, en wat ons toegang verleen tot die Bruilofsfees.  Vir ons om deel te hê aan die Bruilofsfees van Abba Vader se Seun, moet die beeld van Jesus dus in ons aanwesig wees, wat die Lig van God is.  As ons harte sonder die Lig van God is, sal ons opgemerk en uitgegooi word…     

Mag ek en jy die keuse maak om alle onnodige klere uit te trek en ontbloot te staan in die Lig van God.  Dan kan God ons harte omvorm en ons klee met die Lig van God.  Die Lig van God werk altyd vanaf ons harte buitentoe, dit is nie iets wat met die blote oog gesien kan word nie, maar dit is wel sigbaar in die optrede en dade van die mens.    

As jy weer kyk na Mattheus 22 was daar mense wat nie geklee was met die bruilofskleed nie, maar hulle is dadelik uitgevang en uitgeooi.  Dit is die mense wat deur die vyand mislei was;  hulle het nie die stem van die ware Herder geken nie en het die verkeerde herder gevolg wat hulle gelei het om deur skelm plekke die Fees te betree.  Ons het gesien daar is net een ingang en dit is deur Jesus Christus.  Hierdie groep mense beweeg nie deur die DEUR (wat Jesus is) nie, maar hulle klim deur vensters en ontoelaatbare plekke.  Hulle het die vyand se maklike, breë paaie gevolg wat lei na verbode ingange;  hulle het nie die smal pad saam met Jesus gestap nie, want hulle het nie gehou van die klippe op die pad nie.  Hulle wou nie hulle sondes raaksien en bely nie, hulle wou nie gesuiwer word van hulleself nie.  Dit is die mense wat die Fees wou bywoon vir eie gewin of dat hulle nie in die hel moet beland nie.  Hulle het die uitnodiging met vals motiewe onderteken, want dit het nooit vir hulle oor Jesus gegaan nie, maar alleenlik oor die self.  God ken die motief van elkeen se hart en daarom is hulle uitnodiging nie gestempel met die bloed van Jesus nie.    

“Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God;  want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel – soos ’n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ’n bruid wat haar versier met haar juwele.”  Jesaja 61:10  (AFR33/53)  

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s