Wat is die Liggaam van God?

62A8CE50-4DF4-47FA-9455-4F92E0ADE0E1
In Daniël 2 het koning Nebukadnesar ’n droom gehad oor ’n groot beeld:  Sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.  Daar het toe sonder die toedoen van mensehande ’n klip losgeraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp.  Die yster, klei, koper, silwer en goud is tegelykertyd fyngestamp en dit het soos kaf geword van die dorsvloere wat die wind wegneem sodat daar geen spoor daarvan gevind is nie, maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.

 

God gee aan Daniël die uitleg van die droom:  Die koning is die hoof van goud;  daarna sal die een koninkryk na die volgende koninkryk opstaan, maar al bestaan al hierdie koninkryke uit die sterkste materie, sal hulle nie bly staan nie, want daar sal ’n tyd aanbreek wat hierdie koninkryke verbrysel sal word en ’n einde daaraan gemaak sal word.  God sal ’n Koninkryk verwek wat tot in ewigheid nie vernietig sal word nie;  dit sal vir ewig bly staan. (Daniël 2:44)

 

Daar is ’n groot verskil tussen ’n liggaam (kleinletter l) en die Liggaam (Hoofletter L) van God.  Hierdie beeld is niks anders as die sogenaamde wêreldse liggaam van God nie.  Kerke oor die hele wêreld gee aan hulleself die eer en heerlikheid as die liggaam van God, maar kan hulle regtig daardie eer aan hulleself toeskryf?  As hulle wortels hulle ontstaan uit God gehad het, sou hulle nog daardie eer gehad het, maar die meeste kerke en leraars het hulle ontstaan uit ideologie en nie uit God nie, so waar lê die oorsprong van kerke?  Waarin is kerke gewortel?  Waar kom al die leerstellings, ideologieë, rituele, wette en reëls vandaan?  Hoe seker is ons dit kom van God af?  Is dit nie net ’n spul verskillende idees uit die menslike brein nie?  Soveel van die kerke se idees stem nie eers ooreen met die Woord van God nie.  Dink bietjie terug aan al die kerkreëls jare terug… toe die kerk apartheid en rassisme aangewakker het, maar nogsteeds het die mens die kerk en sy reëls aangehang? Is dit regtig van God af om ander rasse so te hanteer as God die herskepper van mense se harte is, nitemin die kleur van de vel… Wat van al die verbonde van die kerk?  Dit staan nie in die Woord nie, so waar het dit dan sy ontstaan gehad?  Doen jouself ’n guns en gaan lees op oor die verbonde van die verskillende kerke, dit is skrikwekkend!

Die verskillende kerke kan nie eers saamstem oor verskeie sake nie, so selfs die kerke is verdeeld.  Hulle kan nie versmelt nie omdat hulle ontstaan uit verskillende bronne is.  As hulle ontstaan uit God was, sou hulle almal mos dieselfde idees van God af gehad het en sou hulle almal mos saamgestem het oor sake.  Die kerke vorm saam die beeld wat uit verskillende dele van verskillende materie bestaan wat nie met mekaar kan versmelt nie, maar as dit nie met mekaar kan saamsmelt nie, hoe kan dit saamwerk?  As elke deel van die beeld sy afkoms van dieselfde bron gehad het, sou die dele mos uit dieselfde materie bestaan het en dan sou hulle kon saamsmelt as ’n beeld in geheel.  Daar sou daar verstandhouding, eenheid en samewerking gewees het tussen die dele van die beeld, maar hoe kan byvoorbeeld yster en klei met mekaar vermeng?  Net so min kan die kerke met mekaar vermeng, so hoe kan die kerke hulleself die liggaam van God noem?  As hulle wel die Liggaam van God was, sou hulle as ’n eenheid kon saamwerk, maar nou wil hulle mekaar eerder vermorsel.  As die liggaam sy eie arm wil vermorsel, hoe kan so ’n liggaam saamwerk?  Wat van die bloed wat deur die liggaam pomp om lewe aan die liggaam te gee?  Kan dit God se bloed wees wat deur die liggaam pomp?  Of funksioneer elke deel met sy eie bloed sodat die liggaam ’n deurmekaarspul is van verskeie tipe bloed?  As die hele liggaam met dieselfde bloed funkioneer het, sou elke deel dieselfde nutriente ontvang het, dan sou almal se idees en voorstellings dieselfde gewees het, dan sou daar eenheid gewees het en sou die dele uit dieselfde materie bestaan het.  As hierdie die liggaam van God was, hoekom wil God dan die beeld verbrysel deur dit met ’n klip te tref dat dit in fyn stukkies spat en wegwaai in die wind?  Daniël 2:43 sê:

 

“Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het – hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.”  

 

Die Engelse vertalings sê:

 

“they will combine with one another in the seed of men;  but they will not merge (for such diverse things or ideologies cannot unite)

 

Alhoewel daar onderlinge gemeenskap is tussen die dele, sal hulle nie vermeng kan raak met mekaar nie;  hulle sal nie een kan raak met mekaar nie.  Dit is omdat elke deel op ’n ander fondasie opgebou is, elkeen se ideologie kom van ’n verskillende bron, dit kom nie van God af nie, dit bots met mekaar en daarom kan die dele nie vermelt nie.  Alhoewel hulle voorgee dat daar die wonderlikste gemeenskap onder mekaar is, bly daar altyd wrywing, daar bly altyd ’n  tipe van ’n geïrriteerdheid, kompetisie en jaloesie.  Die Skrif wat ieder en elkeen probeer gebruik om sy kerktradisie te beskerm, is Hebreërs 10:25 dat ons gemeenskap met die heiliges moet hê!  Hierdie Skrif is maar net weer een van die baie Skrifte wat nie deur die Gees van God aan die mens interpreteer nie.  As jy die Woord van God fyn gaan lees, gaan jy sien die Woord is deurtrek daarvan dat ons gemeenskap met Hom moet hê, dat ons in ’n verlore toestand is as ons nie met Hom gemeenskap het nie, maar daardie Skrifte sien die mens mos nie raak nie…  Hy sien en hoor wat hy wil sien en hoor, dit wat maklik en lekker is;  hy sien en hoor nie dit wat vir God belangrik is nie.

 

Waar kom kerke daaraan dat hulle die liggaam van God is? Daar is Skrifte in die Woord van God wat handel oor die Liggaam van God en hoe Hy Sy Liggaam oprig, maar ek kan nie verstaan hoe kerke daardie Skrifte kon vat en dit van toepassing maak op die fisiese kerk en sy gemeente nie.  Kerke is nog al die jare besig om die mensdom te breinspoel en hulle gemeentes gerus te stel dat hulle die liggaam van God is en mense glo hierdie blatante leuens!  Mense glo waaragtig as hulle kerk toe gaan en hoor Jesus het vir hulle sondes gesterf, hulle gered is tot in ewigheid en dat hulle deel is van die liggaam van God.  Die enigste liggaam waarvan hulle deel is, is die liggaam van die beeld van Daniël 2 wat God gaan verbrysel.  Hulle is nie deel van die Koninkryk van God nie, want God rig self Sy Koninkryk op!  God rig self Sy Liggaam op.  Hy vra nie aan mense om dit vir Hom te doen nie, want Hy weet die meeste mense gaan dit doen tot heerlikheid van hulleself.  God besluit self wie watter gawes moet ontvang en Hy stel self Sy herders, profete, leraars en evangeliste aan.  God gebruik nie die wêreld en sy teologiese of ideologiese sisteem as Sy werkers nie;  Hy bou self Sy Liggaam op.  Mense wat in die wêreld gewortel is, oftewel in die kerk, kan nie deel van God se Liggaam wees nie, want hulle is gewortel in die bose sand van die wêreld.  Om deel te wees van die Liggaam van God, beteken om eerstens in God gewortel te wees.

 

Kerke het ’n fyn manier om die mense om die bos te lei en hulle skuldig te laat voel wanneer hulle nie kerk toe gaan nie.  Ek luister nou die dag na ’n preek op die internet van ’n leraar aan wie se lippe ek gehang het nog voordat ek tot ware wedergeboorte gekom het.  Daardie tyd het ek geglo ek is ’n weergebore Christen, maar vandag weet ek ek was beslis nie.  Ek was deel van die beeld wat homself wil sien as die liggaam van God, wat die leuens van die wêreld en die kerk geglo het.  Die leraar manipuleer sy gemeentelede, asook die wat oor die internet luister, om te glo dat as jy nie deel is van ’n fisiese kerk nie, jy nie deel is van die liggaam van God nie en jy vir altyd verlore sal wees.  Met ander woorde, volgens hom, MOET jy kerk toe gaan en deel wees van ’n gemeente om aan God te behoort.  Waar in die Woord staan dit?  Volgens hom is ieder en elkeen wat nie aan ’n kerk behoort nie, geestelike siek en verlore en kan so ’n persoon nie in God glo nie…  Waar in die Woord staan dit?  Was Jesus deel van ’n kerk?  Nee, Hy was eerder vervolg deur die kerke en hulle leiers, Hy was weggejaag uit die kerke uit!  En hoekom?  Omdat Hy die Waarheid gepraat het en net soos vandag, wou daardie tyd se mense nie die Waarheid hoor nie.  Hulle wou hoor dat hulle gered en veilig is as hulle deel van die kerk is en maak soos die kerk sê!  As hulle al die reëls van die kerk volg, lei dit tot geestelike hoogmoed…  Was Jesus geestelik siek en verlore?  Inteendeel, wie was die mense wat regtig geestelik siek en verlore was?  Was dit nie die arrogante, hoogmoedige kerkmense nie?

 

Tog is dit interessant om te sien dat al hoe meer mense die valsheid in kerke begin agterkom en breek met die tradisie van kerk.  Alleenlik dan begin hulle Abba Vader persoonlik ken.  Dit is hulle wat ontwortel word uit die kerk wat dan direk in die hart van God ingroei en stewig geanker raak in Hom.  Hulle ontvang direk bloed en lewe vanaf Abba Vader, hulle het nie ’n medium nodig om God te ken nie… en Satan begin sidder!  Dit is juis wat hy probeer teëstaan!  Hy wil nie hê ek en jy en soveel daar buite moet in die hart van God gewortel raak nie, want hy weet ons gaan Abba Vader persoonlik leer ken en ons geestelike sintuie gaan begin ontwaak om al die leuens in die wêreld raak te sien.  Hy weet jy gaan dan raaksien wat regtig in kerke aan die gang is en hy probeer met alles binne hom dit keer.  Daarom preek hy deur leraars en probeer hy die mensdom manipuleer om nie die kerk te verlaat nie, want as jy die kerk verlaat, is jy nog een wat losbreek uit sy duistere, vuil, bose kloue!

 

Om deel te hê aan die Koninkryk of die Liggaam van God, beteken om direk in God gewortel en geanker te wees en dit kan alleenlik gebeur wanneer ons in afsondering baie tyd met Abba Vader spandeer in Sy Woord, asook in stilte by Sy voete.  Dit is die enigste manier hoe ons Abba Vader leer ken.  Dis regtig tyd dat die mens sy fisiese ore begin toedruk vir dit wat in die wêreld versprei word en sy ore begin spits by die voete van Abba Vader.  Dit is tyd dat God se kinders begin wakker skrik, die leuens begin raaksien wat hulle gevange hou in die duisternis en met ’n skok besef dat hulle al die jare gebreinspoel is deur die kerk en sy leuens.  Die mens word alleenlik deel van God se Liggaam wanneer hy gewortel raak in God, want dan ontvang die mens die lewe en die bloed direk van God af en leef Jesus in en deur ons.  Daar is ’n vers in The Message wat dit so mooi stel:

 

Ephesians 4:16
“His very breath and blood flow through us, nourishing us so that we will grow up healthy in God, robust in love.”

 

Dit kom alles maar net weer terug na een punt toe:  Ons moet gewortel raak in die hart van Abba Vader.  Alleenlik dan neem God ons oor en vloei Sy lewe en bloed deur ons.  Hy rus ons op hierdie manier toe vir ons Goddelike taak wat Hy deur ons wil doen en dan maak Hy ons deel van Sy Liggaam…nadat Hy ons opnuut verander het na Sy wil!  Lees ook asseblief die saadjie oor die seesterre wat saamgevoeg word in Liefde. Uitgewerpte seesterre
Eers wanneer God Sy kinder saamgevoeg het in Liefde, vorm hulle die Liggaam van God en dan eers het die kinders van God onderlinge gemeenskap met mekaar, maar dis baie belangrik dat ons besef ons moet eers gewortel wees in God;  ons moet eers Sy Liefde en bloed ontvang en daarop leef voordat ons ware gemeenskap kan hê met ons broers en susters wat ook deel is van die Liggaam van God.  Omdat dieselfde bloed en lewe deur die lede van God se Liggaam vloei, sal daar vrede en ware gemeenskap wees tussen die lede, nie skynheilige gemeenskap en eenheid nie.  Eers wanneer ons een is met God, kan ons een raak met die res van die heiliges wat alreeds ook een in God is.  Met ander woorde, eers gemeenskap met Abba Vader en dan gemeenskap met die Sy kinders.  Dit is so andersom as wat die wêreld se kerke dit wil doen:  Hulle sê die mens moet een raak met die kerk, gemeenskap hê met die heiliges en op so ‘n manier word jy deel van die liggaam van God.  Twee mense kan nie een met mekaar word en daarna saam in God versmelt nie, dit werk nie so nie.  Sommige kerke het net een gedeelte reg:  Hulle is wel ‘n liggaam, maar wat hulle nie besef nie, is dat hulle die liggaam met ’n kleinletter l is –  hulle is die liggaam of die kerk van die wêreld en nie van God nie.  Hulle is deel van die beeld in Daniël 2 wat met ’n rots getref gaan word en soos kaf in die wind verdwyn.  Dit is van geen nut nie!  Daar is geen nut daarin om gemeenskap met die heiliges te hê as jy nog nie eers gewortel is in God en gemeenskap met Hom het nie.

 

Mense raak bitter ongelukkig oor hierdie kerksake, maar hoekom?  Skud dit bietjie aan jou fondasie?  Ruk dit bietjie aan die punte van jou tradisie, kultuur en godsdiens om dit so bietjie uit proporsie te trek?  Vat dit jou “veiligheid” van jou af weg?  Die “veilige” gedagte dat jy gered is as jy deel is van ’n kerk?   Ons moet in ons eie harte begin, mense, want waar is jou hart gewortel?

 

Matthew 11:28-30 (The Message)
“Are you tired?  Worn out?   BURNED OUT ON RELIGION?  Come to Me.  Get away with Me and you’ll recover your life.  I’ll show you how to take a real rest.  Walk wit Me and work with Me – watch how I do it.  Learn the unforced rhythms of grace.  I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you.  Keep company with Me and you’ll learn to live freely and lightly.”