Lewensboeke

lewensboek

“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe:  dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”   Psalm 139:16  (AFR33/53)

In vandag se tyd is mense so vinnig om God die blaam te gee vir alles wat in die wêreld en in hulle lewens skeefloop, maar is dit regverdig om God die skuld te gee?  Om vinger na God te wys?  Is dit regtig God wat vir jou en my die sleg beplan het?  God sê tog deur die mond van Jeremia dat Hy vir ons ’n toekoms van voorspoed beplan, Hy beplan vir ons die mooi en niks slegs nie.  Maar dan moet ons ook na Hom toe draai;  ons kan nie aanleef in ons sonde en dink dit sal goedgaan met ons nie, want as ons leef in die duistere toestand en onsself oorgee aan versoekings en sonde, gaan God ons oorgee aan ons sondige natuur en gaan ons in ons eie vervloekte omgewing woon wat ons deur ons eie sondige lewenswyse skep…

Onder gebed stap ek af in ‘n lang wit gang met deure aan weerskante. Ek kom te staan voor ‘n massiewe groot, donker houtdeur en sien ‘n naambordjie op die deur. Ek probeer fokus om te sien wie se naam op die deur staan en sien toe dit is my naam. Ek draai die groot, goue, ronde deurknop oop en soos die deur stadig oopgaan, stap ek na binne.  Ek bevind my in ’n baie klein vierkantige kamertjie met rakke teen elke muur van bo na onder.  Twee van die vier mure se rakke is van bo na onder gevul met boeke.  As gevolg van my liefde vir boeke is ek nuuskierig om te weet watse boeke dit is en ek begin hier en daar ’n boek uit ’n rak uithaal en deurblaai.  Aan die rugkant, sowel as voorop, staan ’n datum op elke boek wat die begin- en eindtyd van die boek aandui;  die een boek volg op die volgende boek.  Soos ek deur die boeke blaai, lees ek hier en daar ’n sinnetjie of ’n paragraaf en kom ek tot die skokkende besef dat my lewe in hierdie boeke opgeteken is – al my doen en late.  Die boeke strek vanaf die begin van my lewe op aarde en soos my lewe aangestap het, is die boeke mooi netjies langsmekaar ingepak op die rakke.  Wat my opval van die boeke, is die verskillende kleurskakerings:  Die begin van my lewe se boeke begin met mooi ligte kleur skakerings, maar soos die tyd aanstap, verander dit na meer uitspattiger kleure.  Hier en daar is ‘n skokkende, swart boek… dan ‘n hele paar swaar, grys kleurige boeke, maar later word die boeke mooi silwer en goue kleure….

Abba Vader begin aan my verduidelik dat elke tree van my lewe opgeteken is in hierdie boeke. Die mooi sagte kleur boeke dui die tyd aan toe ek nog ‘n klein, onskuldige dogtertjie was.  Soos die tyd aangestap het, het ek my eie wil begin ontwikkel en daardie willetjie het my boeke begin inkleur met meer uitspattige kleure.  Ek het self besluit dat ek nie meer die onskuldige dogtertjie wou wees met sagte kleur boeke nie, so ek het self besluit om te verander in wie ek graag wou wees.  Die helder oranje-pienk boeke verander sommer oombliklik in swaar gryskleurige boeke en my moed wil-wil in my skoene sak.  Ek vermoed dit moes my tienerjare gewees het… en toe ek kyk na die datums op die boeke, was ek reg.   Aan die begin van daardie jaar is my broer weermag toe, vyf maande daarna is my pa skielik op ‘n baie vroeë ouderdom oorlede aan ’n hartaanval.  Dit het gevoel my wêreld stort ineen en ek was hartseer en alleen.  Ek was nog ’n kind wat nie die Here geken het nie;  ek het effe rebels geraak, ek het mense seergemaak en al daardie goed is opgeskryf in hierdie lelike kleur boeke.  Ek voel so bitter sleg oor al daardie boeke, oor daardie tyd van my lewe, ek wil nie eers daaraan vat nie, wat nog te sê lees…  

Na die spul lelike grys kleur boeke op die rak, begin die boeke stadig maar seker weer ’n mooi kleur kry soos die tyd aangestap het.  Die kleure begin weer ophelder en toe ek let op die datums van die boeke, is dit die tyd wat ek my man ontmoet het, ’n tyd wat ek mensliefde ontdek het.  Die mooi helder boeke volg op mekaar soos ons drie seuns geskenk is van God.  ’n Mooi boek wat ’n meer goue skakering wil-wil kry, volg, en ek weet instinktief dit is die jaar wat ek God begin soek het, die tyd toe ek my hart oorgegee het, ’n wonderlike tyd wat ek liefde in God ontdek het.  Maar dan volg daar nie nog goue skakering boeke nie, maar eerder ‘n ry vol swaar, donker, swart boeke, sommer verskillende skakerings van swart.  Toe ek dit sien, weet ek onmiddellik watse tydperk dit aandui en het ek snikkend neergesak op my knieë.  Dit is nog te seer om daardie boeke te sien, soveel haat en woede wat in daardie boeke opgeteken is.  Hoe ironies is dit … net toe ek die Here in my lewe begin soek en my hart begin oorhandig het aan Hom, is dit asof ons ’n wolweden ingestap het.  Die wolwe het ons omring en ons as gesin uitmekaar probeer skeur.  Ek sou kon moor in daardie tyd…  Dit was moeilike paar jare wat daarna gevolg het, maar uiteindelik begin die swart boeke weer omsit in mooi, silwer boeke wat later selfs begin blink het. Hier en daar is ook ‘n goue boek… Dit is toe ek God in my seer gevind het!

‘n Paar maande nadat Abba Vader my geskrewe lewensboeke aan my gewys het, vat Hy my op ’n dag weer na die kamertjie met my lewensboeke, maar hierdie keer is daar ‘n klein ronde tafeltjie in die middel van die kamer met ’n baie groot, dik boek op die tafeltjie wat nie die vorige keer in die kamer was nie (of ek het dit nie gesien nie).  Dit lyk asof die boek in ‘n leeromhulsel is, maar tog blink dit en die blaaie skyn goud en silwer.  Ek stap nader na die boek en wil-wil dit optel, maar dit lyk te swaar om op te tel.  Dan sien ek my naam voorop die boek gegraveer – nie my wêreldse naam nie, maar die naam wat Abba Vader my noem.  Ek is so verbaas om hierdie boek te sien, want dit lyk so anders as die boeke teen die muur – dis baie groter en blinker.  Stadig maak ek die boek oop en op die eerste blaai staan:

“Before I formed you in the womb, I knew you.  Before you were born, I set you apart for my holy purpose.”  Jeremiah 1:5 (GWT) 

My mong hang oop van verbasing en die trane rol van my wange af toe ek die boek begin deurblaai – volgens die Skrif is hierdie boek oor my lewe deur God geskryf lank voor my geboorte.  Dus, nog voor ons geboorte beplan God al ons lewe vir ons vooruit…  

“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe:  dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”     Psalm 139:16  (AFR33/53)

Lank voor ek en jy die Here gesoek het, het Hy alreeds vooruit bepaal wat ons doel op aarde sal wees.  God het alreeds besluit wat elke kind van Hom vir Hom sal doen op aarde.  Lank vooruit het God al beplan watter Goddelike gawes Hy aan elkeen sal skenk wanneer die tyd reg is sodat ons Sy werk op aarde kan doen tot Sy eer.  Soos ek die boek deurblaai, sien ek oral Skrif opgeteken wat op my lewe van toepassing is.  Alles wat God vooruit beplan het vir jou en my, is opgeskryf in Sy boek oor ons lewens.  

Soos ek die boek deurblaai, begin ek agterkom dat baie van die goed wat in my lewe gebeur het, opgeteken is in hierdie boek, maar baie van die slegte goed wat in my lewe gebeur het, is nie hierin opgeteken nie.  Baie van die mense wat deel uitmaak van my lewe, se name word genoem in God se boek, maar dan is daar mense wat my erge leed aangedoen het wie se name glad nie in hierdie boek staan nie.  Ek verstaan dit nie… Hoekom is al die slegte gebeure van my lewe opgeteken in die boeke wat ingepak is op die rakke, maar al daardie slegte goed is nie in God se boek opgeteken nie?  Hoekom is die mense wat my erge leed aangedoen het, se name in my boeke op die rakke opgeteken, maar nie in God se boek nie?  En Abba Vader antwoord my:

“Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”    Jeremia 29:11 (AfR33/53) 

Dan verduidelik Abba Vader aan my:  Toe God ons lewensboeke geskryf het, het Hy nooit vooraf beplan dat daar slegte of bose goed in ons lewens moet gebeur nie.  Alleenlik dit wat Hy vir ons beplan het, is in hierdie boek opgeskryf.  Elke klip op ons pad is ook in God se boek oor ons lewe opgeskryf en hier moet ons nou kophou en verstaan… God bedoel nie om ons leed aan te doen met dit wat Hy in ons lewens ingeskryf het nie.  Hy plaas beproewings op ons pad om ons te leer, om ons te dissiplineer, om ons te help om die vuil klere uit te trek en die mens te word wat God vooruit bepaal het ons moet wees.  Alles wat God vir ons lewe bepaal het, is vir ons eie beswil.  Wanneer ons by probleme in ons lewens te staan kom, ervaar ons dit baie keer as slegte omstandighede en kan ons nie verstaan hoekom sulke goed in ons lewe moet gebeur nie, maar as ons deur die krag van God die klippe oorkom en ons kyk later terug op ons lewe, is ons dankbaar vir elke klip wat God op ons pad geplaas het, want dan kan ons verstaan hoekom God dit vir ons beplan het en kan ons Hom loof en prys daarvoor.  

Daar is slegte goed wat in my lewe gebeur het wat nie opgeskryf is in die boek van God nie…  Baie dinge het in my lewe skeefgeloop omdat ek my eie wil gevolg het en daardie slegte goed is nie opgeskryf in die boek van God nie, dus het Hy dit nie vir my beplan nie, maar ek het dit self veroorsaak deur my eie swak besluite en sonde, daarom moes ek die gevolge daarvan dra.  Dan wys Abba Vader my daarop dat daar mense is wat my erge leed aangedoen het, maar hulle name is ook nie opgeskryf in God se boek oor my lewe nie, met ander woorde, God het nie daardie mense op my pad geplaas nie;  dit was nie deel van God se plan dat ek met daardie mense deurmekaar moes raak nie, dit was weereens deur my eie swak keuses en besluite. 

Ons lewens was al lankal deur God opgeskryf in Sy boek, maar as ons nie verhouding met Abba Vader het nie, ken ons Hom nie en word ons nie gelei deur Hom nie, dus leef ons nie die lewe wat Hy oor ons geskryf het nie.  Ons werk so verkeerdom, so dom!  Ons wil ons eie besluite neem sonder om God te raadpleeg en as ons klaar besluite het, vra ons Hom nogal om ons besluit te seën!  Ons probeer God en Sy seën in ons eie geskrewe boeke inskryf, maar dit werk nie so nie!  Al die keuses wat ons in die lewe moet maak, moet ons in die hand van God plaas en Hom toelaat om die besluit vir ons te neem.  Ons moenie God in ons lewens probeer inskryf nie;  ons moet ons lewens in Sy hande plaas en dit begin leef wat Hy oor ons geskryf het! 

Die verskillende kleur boeke op die rakke teen die muur, is boeke oor hoe ek my eie lewensstorie probeer skryf het – sonder God!  Die meeste daarvan het ek geskryf sonder om God te raadpleeg, dus het ek my eie wil gevolg en keuses op my eie gemaak sonder God.  Ek was nie op die pad van God nie!  Soveel van die slegte gebeure wat ek oor myself gebring het, het die Here nie oor my gedroom nie.  Dis as gevolg van ons eie wil dat daar soveel seer opgeteken is in ons eie geskrewe boeke…

Baie keer skep ons ons eie slegte omstandighede waarin ons moet leef.  Ons maak keuses om die self te bevoordeel sonder om God te raadpleeg.  Kom ons kyk net weer na Adam en Eva en leer by hulle:  Toe hulle gevoed het op die verbode boom, het hulle nie die wil van God gehoorsaam nie, maar hulle eie wil.  Hulle ongehoorsaamheid het vervloeking oor die natuur gebring en God het hulle uit die tuin uit weggestuur om te gaan woon in die vervloekte wêreld wat deur hulle eie toedoen vervloek is.  Elke keer wanneer ons optree en keuses maak om die eie wil te gehoorsaam pleks van die wil van God, veroorsaak ons vervloeking oor ons eie omgewing waarin ons dan moet oorleef.  Die mens bepaal in ’n groot mate sy eie toekoms en sy eie ondergang deur sonde en ongehoorsaamheid, deur nie die wil van God te soek en te volg nie, maar wanneer ons leef volgens dit wat God vir ons bepaal het en ons dus die wil van God gehoorsaam, sal God vooruit beweeg en die toekoms vir ons uitsorteer. 

Mag ek en jy die potlood of pen van ons eie lewe neersit;  ons lewens oorgee in die hand van God en Hom toelaat om ons te lei om die lewe te leef wat Hy vir ons vooruit bepaal het.  Ons dien ’n wonderlike God!  Hy is werd om geloof, geprys en geëer te word.  Mag ons God liefhê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand.  

“God rewrote the text of my life when I opened the book of my heart to His eyes.”  Psalm 18:24  (The Message)

Die mens skep sy eie vervloeking

“Hy het die vloek liefgehad en — dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en — dit het ver van hom af gebly.  Hy het die vloek aangetrek soos ‘n kleed en — dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.” Psalm 109:17,18

Hierdie onderwerp maak mense baie kwaad, want hulle argumenteer dat daar vandag geen vervloeking meer kan wees nie omdat Jesus gesterf het aan die kruis, maar in die vorige hoofstuk het ons gesien dat dit ’n leuen van Satan is wat die mens WIL glo sodat hulle kan aangaan met ‘n onheilige lewe.  Hulle glo hulle is gered en verlos deur die kruisdood van Jesus, so daar kan geen vervloeking meer bestaan nie, maar nogsteeds bly die feit staan:  As ons ongehoorsaamheid saai, gaan ons ’n vervloeking maai.  Net soos Adam en Eva se sonde die aarde vervloek het, vervloek die sonde van die mens nogsteeds sy eie omgewing.  Jeremia 2:19 sê ook:

“Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerigheid sal jou straf…” 

Vandag probeer die wêreld hierdie prentjie verander met die argument dat Jesus gesterf het aan die kruis en dat Hy ALREEDS al die vloeke vir die mens gedra het, en dat die mens dus nie meer in ’n vervloeking kan leef nie.  Dit gee aan die mens vryheid om te leef soos hy wil, want Jesus het mos ALREEDS gesterf vir almal se sondes, ons sondes is ALREEDS vergewe, ons is ALREEDS verlos en gered.  Dit is ’n baie gevaarlike siening wat maak dat die mens nie die wil van God soek en leef nie, maar dat hy sy eie lewensverhaal skryf;  hy maak besluite op menslikerwyse sonder God en dit gaan hom duur te staan kom.  Hulle bely net met die mond om in God te glo, maar hulle het geen verhouding met Abba Vader nie.  Hierdie maklike verlossing-leuen stel die mens gerus in sy sonde en is ’n maklike pad na die Koninkryk van God, maar dit is so in teenstelling met dit wat Jesus op aarde kom leer het: 

“Die Pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal.  Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra.  Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed.  Baie mense loop daarop.   Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”  Mattheus 7:14 (Die Boodskap)

Hoe kon die pad na die Koninkryk van God verander het na die kruisiging van Jesus?  Die Weg het geensins verander nie;  al wat verander het, is dat Jesus vir ons die Weg weer oopgemaak het en die Helper vrygestel het wat ons in staat stel om wel op die Weg te kan wandel.  Die mens wat nie op die ware Weg wandel nie, bewandel die breë pad waar ’n vervloeking hulle voorland is.  Dink net bietjie realisties hieroor:  As die kruisdood van Jesus alle vervloeking uitgekanselleer het en die mens glad nie meer in ’n vervloeking kan leef nie, hoekom gaan dit nie goed met almal nie?  Dan sou die wêreld mos ’n wonderlike plek gewees het… 

Daar staan wel in Galasiërs 3:13 dat Jesus ons losgekoop het van die wet deur vir ons ’n vloek te word, maar dit beteken nie die hele wêreld is verlos van vervloeking nie.  Dit beteken nie die mens kan leef soos hy wil en maar net glo dat Jesus gesterf het vir sy sonde en daarom kan hy nie in ’n vervloeking leef nie.  As jy die Woord baie mooi bestudeer, sal jy sien dat die mens eers Een met God moet wees voordat dit vir ons ’n realiteit kan raak dat Jesus ons losgekoop het van die vloek.  Ons moet weergebore wees, ons moet eers Een met Jesus word voordat Sy kruisdood en vergifnis van sonde op ons van toepassing kan wees.  Lees gerus 2 Korinthiërs 5:11-21, daar sal jy sien dat die mens eers ’n nuwe skepsel moet word;  die mens moet versoen word met Abba Vader en dan eers word ons vrygespreek deur ons eenheid met Jesus Christus. 

Ons moet ophou om die kruisdood van Jesus “for granted” te vat;  as daar nie eenheid met Abba Vader is nie, is daar geen verlossing nie.  Dit is baie arrogant van die mens wat net met die mond bely om God te ken, om die bloed van Jesus te vat en vir homself verlossing toe te staan daardeur.  As dit so maklik was, hoekom het Jesus dan gesê dat die mens wedergebore moet word om die Koninkryk van God te sien?  Hoekom het Jesus gesê dat die mens wat Hom wil volg, sy kruis moet opneem?  (Matt. 16)  Hoekom het Jesus gesê dat elkeen vergeld sal word volgens sy dade?  (Matt. 16:27) Hoekom het Jesus gesê dat die boom wat slegte vrugte dra, uitgekap en in die vuur gegooi sal word?  As dit so is dat die kruisiging van Jesus die lewe vir die mens makliker sou maak, sodat die mens kan leef soos hy wil omdat Jesus alreeds al sy sondes vergewe het, sou Jesus mos nie gewaarsku het oor al hierdie goed nie?  As jy Deuteronomium 28 lees, sal jy sien daar is ’n lys van seëninge en ’n lys van vervloekinge:

  “As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al Sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde.  Hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God” Deuteronomium 28:1-2

Lees gerus die lys seëninge wat volg in Deuteronomium 28 wat oor die mens sal kom wanneer ons God gehoorsaam.  Net so sal ons ’n vervloeking smaak as ons ons nie steur aan God nie:

  “As jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al Sy gebooie en Sy insettinge wat ek jou vandag  beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal…” Deuteronomium 28:15

Net soos Adam en Eva ’n keuse gehad het om God te gehoorsaam of nie, net so het die mense van die Ou Testament ’n keuse gehad om God te gehoorsaam of nie, en net so het ons vandag ’n keuse of ons God gaan gehoorsaam of nie.  Jesus het nie die vloeke uitgekanselleer met Sy kruisdood nie, maar Hy het ’n wel die ware Weg vir ons oopgemaak om te leef na die wil van God met die hulp van die Gees van God.

So ja, ons kan vandag nogsteeds ’n vervloeking leef as ons ongehoorsaam is aan God, want sonde veroorsaak nogsteeds vervloeking.  Ons skep vir onsself ’n vervloekte omgewing wanneer ons ons nie steur aan die Woord van God nie en dan kan daar allerhande slegte goed in ons lewens gebeur.  Net soos God vir Adam en Eva uit die gemaklike tuin uit weggestuur het om die vervloekte aarde te gaan bewoon en bewerk, net so gaan God vir my en jou ook oorlaat aan ons eie toedoen sodat ons self aansukkel in ons vervloekte omgewing – wat ons deur ons eie sonde geskep het.  Dit is nie God wat ons omgewing of lewe vervloek nie, dit is ons eie sonde!  Dit is ook nie Satan wat direk dinge met ons laat gebeur nie…  hy versoek die mens en die mens moet sy versoekinge kan raaksien en dit teëstaan.  Die mens wat in die slaggat van Satan se versoeking trap, veroorsaak vir homself vervloeking. 

“Wie onreg saai, sal onheil maai…” Spreuke 22:8

As jy glo dat Jesus se kruisdood alle vervloeking gekanselleer het en dat jy nie onder die juk van ’n vloek kan leef nie, glo jy ongelukkig, net soos Eva, een van die leuens van Satan!  As jy glo dat dit genoeg is om met die mond te bely om in Jesus te glo, om nou en dan kerk toe te gaan om te bewys jy is ’n Christen, maar jou Bybel lê êrens vol stof en jou knieë is nie lam en vol stof soos jy kniel voor die voete van Abba Vader nie, het jy geen verhouding met Abba Vader nie, en word jy net soos Eva om die bos gelei met een van die leuens van Satan.  Adam en Eva het die leuen van Satan geglo dat hulle nie sou sterf as hulle van die verbode boom se vrugte eet nie, maar dat hulle soos God sal word… Net so glo die grootste gedeelte van die mensdom vandag dat hulle nie die ewige dood sal sterf nie, want Jesus het mos alreeds gesterf vir hulle sondes;  hulle glo dat hulle kan aangaan met hulle lewe soos hulle wil en dat vervloeking nie meer bestaan nie, maar uitgekanselleer is deur Jesus se dood.  Hulle glo dit is genoeg om te bely om in Jesus te glo, hulle glo dat hulle die Heilige Gees daardeur het en dat hulle verlos is van alle vervloeking … al is hulle Bybels vol stof en knieë sonder stof!  Hulle glo die leuens van Satan!  Hy is die vader van alle leuens en hy wil hê die mens moet gemaklik in sy sonde leef en glo dat al sy sonde reeds vergewe is, en dat hy nie in ’n vervloeking kan leef nie.  Hoekom wil Satan hê die mens moet dit glo?  Want as die mens hierdie leuen glo, gaan hulle lekker gemaklik aan met ’n rustige lewe wat besmet is met sonde.  En wat doen sonde?  Dit weerhou die Lig van God uit jou hart!  So… so lank as wat jy rustig aangaan en dink jou kerklewe gaan jou red, bly jou hart duister en kan Satan jou beheer net soos hy wil – sonder dat jy dit besef!  Hy wil hê die mens moet glo dat God se genade genoeg is en dat dit al is wat hy nodig het;  hierdie leuens sus die mense in hulle godsdiens.  Hulle glo as hulle kerk toe gaan, (dalk) gedoop is en met die mond en bely om in Jesus te glo, dan het Sy kruisdood ALREEDS al hulle sondes vergewe..  die sonde wat hulle gister gepleeg het, die sonde wat hulle vandag pleeg en al die sonde wat hulle in die toekoms gaan pleeg… alles is ALREEDS vergewe.  As jy die Woord van God noukeurig bestudeer, sal jy die teendeel sien.  As jy die eerste 4 boeke van die Nuwe Testament lees waar Jesus se woorde aangehaal word, sal jy nie een keer vind dat Jesus direk gesê het dat Hy moet sterf om die wêreld se sondes te vergewe nie;  Hy het nie een keer gesê dat Hy moet sterf om die vervloeking van die wêreld uit te kanselleer of dat die mens nie meer ’n vervloeking sal kan leef nie.  Doen jouself ’n guns en gaan som Jesus se woorde op, dan sal jy sien hoeveel keer het Jesus eerder die mense vermaan om hulle sonde te laat staan en tot bekering te kom.  Wanneer Jesus gepraat het oor die dood wat Hy moes sterf, het Hy soveel keer gesê dat Hy moet sterf sodat die Gees van Waarheid, die Trooster, vrygestel kon word om ’n hulp vir die mens te wees.  Hy het nie een keer gesê dat die sonde van die mens sommer net in die niet gaan verdwyn nie;  Hy het nooit gesê dat Hy moet sterf sodat die mens nie vervloeking oor sy eie lewe kan bring nie;  Hy het nooit gesê dat die gebooie van God of die profete ontbind sal word nie.   As jy jou ore begin toedruk vir die praatjies van die wêreld en die antwoorde by die voete van Abba Vader en in Sy Woord begin soek, sal jy sien hoeveel leuens Satan aan die mensdom uitdeel.  Sy leuens gee aan die mens vals hoop en help hulle om rustig aan te gaan met godsdiens, kultuur en rituele in die duistere wêreld.

Maar wanneer is ons dan losgekoop van die vloek?

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word…” Galasiërs 3:13

Ons is eers losgekoop van die vloek wanneer ons een word met die kruisiging van Jesus;  wanneer ons die eie ek, die vleeslike egoïstiese mens afsterf en ons weergebore word deur die krag en liefde van God.  Dan is die Lewe van God teenwoordig in ons geesharte en dan is ons eers verlos van die vloek van die dood, maar dit gee nogsteeds aan niemand die vryheid om te leef soos hy wil nie.  Inteendeel, die mens wat beweer hy is weergebore, maar nogsteeds in die sonde van die wêreld baljaar, is vals, want die mens wat deur God weergebore is, sal die voorbeeld van Jesus volg.  Ons sal nooit sonder sonde wees nie, maar die kinders van God sal hulle gedra soos kinders van God en nie kinders van die duiwel nie.  

My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is.  Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.  Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.  Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. 1 Johannes 3:7-10 (Afr 33/5)

Die mens wat glo dat hy verlos en gered is van vervloeking, maar die pad stap waar bekering, heiligmaking, wedergeboorte en verhouding met Abba Vader nie noodsaaklik is nie, glo een van die grootste leuens van Satan.  Die Waarheid van God is dat die mens wat sonder die Gees van God leef, nie verhouding met Hom kan hê nie en hulle sal sterf in hulle sonde!  Sonde verwyder die mens van God en die mens wat ongehoorsaam is aan God, gaan die vrugte daarvan pluk.  Jakobus 1:14,15 sê:

“Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde;  en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

As dit die waarheid is dat Jesus gesterf het om alle vervloeking te kanselleer en dat die mens se sondes totaal vergewe is, hoekom anders leer die Woord ons dat ons sonde moet teëstaan?  As al ons sondes ALREEDS vergewe is, hoef ons mos nie die moeite te doen om die sonde teë te staan nie?  Hoekom anders sê Jakobus 4:7,8:

“Onderwerp julle aan God;  WEERSTAAN die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.  Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.  Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges.  Weeklaag, treur en ween.  Laat jule gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid.  Verneder julle voor die Here en Hy sal julle verhoog.”

Satan sal nooit ophou om leuens aan die wêreld te verkondig nie en ons opdrag is om sy leuens en versoekinge te kan raaksien en dit teë te staan;  om te heers oor sonde.  Om sonde te kan uitken, het ons die gebooie van God nodig, want hoe anders gaan ons weet wat is sonde?  Nou wil die sogenaamde Nuwe Testamentiese Christene die gebooie van God by die agterdeur uitgooi.  Hulle verwerp die Waarheid van God, glo die leuen van Satan en dit skep ’n verdere vervloeking oor hulle eie lewe;  dit ketting hulle stewiger vas in die duisternis wat lei na die dood.  Ongelukkig is hulle alreeds so verblind deur Satan dat hulle dit nie raaksien of agterkom nie.  2 Korinthiërs 4 sê dat die god van hierdie wêreld die sinne van die ongelowiges verblind:

“Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.  Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” 2 Korinthiërs 4:2-4  

Die Boodskap stel dit so:

“As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld.  Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe.  Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak.  Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker.  Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie.  Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is.  Christus is ook die ewebeeld van God.  Hy wys vir ons wie God regtig is.”

Moet asseblief nie die fout maak om te dink die ongelowiges is hulle wat nie in God glo nie… Nee, die ongelowiges sluit diegene in wat met die mond bely om in God te glo, wat bely om Christene te wees omdat hulle so grootgemaak is en omdat dit die regte ding is om te sê.  Hulle is besig met godsdiens en alhoewel hulle beweer om God te aanbid, is hulle eintlik besig met Baälisme…  Die god van hierdie wêreld het hulle verstand verduister en hulle geestelik verblind en daarom glo hulle so maklik die leuens van Satan.

“Die aarde treur, dit verwelk;  die wêreld versmag, dit verwelk;  en die hoogstes van die mense van die aarde versmag.  Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners;  want hulle het die wette oortree, die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek.  Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet…” Jesaja 24:4-6

“…As the serpent beguiled Eva by his cunning, your minds may be corrupted and led away fom the simplicity of pure devotion to Christ.” 2 Corinthians 11:3

As jy gaan toegee aan die versoekinge van Satan, voed jy op sy bose vrugte wat teen die wil van God is en skep jy vir jouself vervloeking wat in die toekoms vir jou lê en wag – net soos met Adam en Eva.  Dit het nie verander omdat Jesus gesterf het nie.  Wanneer jy keuses maak sonder om God te raadpleeg, maar jy die keuse maak om eerder in jou vleeslike behoeftes te voorsien, is jy besig om jou eie lewensverhale te skryf – dit is die boeke wat ingepak is teen die rak van die muur in jou lewenskamer.  Jy leef dan nie dit wat God vir jou beplan het nie, maar jy skryf jou eie boeke wat nie ’n goeie ding is nie.  Verkeerde keuses lei na vervloeking, dus slegte goed wat in ons lewens gaan gebeur –  God het nie hierdie sleg vir ons bepaal en beplan nie, maar ons eie verkeerde keuses het dit veroorsaak.

Hoekom het Jesus gesterf aan die kruis?

(Volg op “Verbode, bose vrugte”) Glo jy die leuens van Satan of die Waarheid van God?

Eva was naïef en het die leuen van Satan geglo toe hy vir haar gesê het dat hulle nie sal sterf as hulle van die verbode boom se vrugte eet nie.  Satan het vir God as ’n leuenaar afgemaak deur vir Eva te sê dat hulle geensins sal sterf nie, maar soos God sal word.  Net so het Satan al ’n spul leuens in die wêreld verkondig wat die lewe vir die mens makliker maak en een van die grootste leuens is dat Jesus gesterf het om almal se sondes te vergewe en niemand ’n ewige dood sal sterf nie.

Continue reading Hoekom het Jesus gesterf aan die kruis?

Pad van die dood VS Pad van Lewe

Onder gebed wys Abba Vader weer vir my die pragtige tuin van Eden en die vaal gebied (saadjie: Asvaal afgebrande gedeelte… )met die mense wat kap teen die glasmuur om in te kom.  Hulle wil by die verkeerde plek en op die verkeerde manier inkom.  Hulle kan nie die tuin sien deur die glasmuur nie, maar hulle weet dit is daar.  Tog kan die mense van die tuin deur die glasmuur sien en hulle harte bloei vir die mense in die asvaal gedeelte van verdoemenis, want hulle weet hulle self kan niks doen om die mense te red nie.  Geen mens kan ’n ander red nie;  God alleen red!  Abba Vader sê altyd vir my:  “Hoe kan een skaap ’n ander skaap red?”  Die Herder moet hulle red!  Moenie soos ’n wilde skaap wees en weghardloop van die Herder af nie!  HY is daar om jou te help.  Soms moet Abba Vader ’n halsstarrige skaap wat aan Hom behoort, laat siek raak, want ’n siek skaap sal gaan lê en nie meer krag hê om op te staan nie.  En dan kan die skaap nie meer vir die Herder weghardloop nie en kan die Herder hom versorg en gesond maak.  Hopenlik maak dit dat die siek skaap die Herder se stem herken en dat wanneer hy gesond is, hy agter die ware Herder sal aanstap en nie weer ’n vals herder sal volg nie.  Te veel skape volg ’n vals herder, hulle beweeg altyd in groot troppe, maar die vals herder lei altyd die skape na die asvaal gedeelte waar geen ware weiding is wat hulle gees kan voed nie.  NIKS in die vaal deel kan die gees van die mens voed nie en hulle sal altyd geestelik honger bly.  Daar is alleenlik ware, voedsame weiding in die tuin van Eden wat die gees van die mens kan voed, maar dit beteken om die ware Herder se stem te leer ken en Hom te volg.  Die arme mense in die vaal deel het gedink hulle volg die ware Herder na die Koninkryk van God, maar hulle was verlei deur dwaalleringe en die meeste van hulle is nogteeds oortuig dat hulle die ware Herder volg, maar eendag sal hulle weet dat dit toe nooit die ware Herder was nie.  Die grootste probleem wat weereens hier ingesluip gekom het, is dat hierdie mense nie gesterf het aan die self en weergebore is nie.  Hulle het nie tot ware bekering gekom nie en glo die leuens van die wêreld.  Hulle wil aangaan met hulle sondige lewenswyse terwyl hulle glo hulle is gered en verlos omdat Jesus gesterf het aan die kruis.  Maar Jesus sê duidelik in die Woord dat die mens alleenlik die Koninkryk van God sal sien as hy weergebore word.  Al die mense in die vaal deel is nie weergebore nie, het nie tot ware bekering gekom nie en het nie die self en hulle sondige lewenswyse afgesterf nie.  Hulle wil die tuin van Eden binnekom, maar hulle wil inkom met die hulp van dwaalleringe.  Die hele dilemma het begin met ’n keuse van die mens, want elke mens kom op ’n stadium van sy lewe by T-pad waar hy ’n keuse moet maak om links of regs te beweeg.    

Wanneer ons by die T-pad te staan kom, is daar ’n groot bord wat rigting wys en moet ons kies om links of regs te gaan.  Die mens moet ’n keuse maak!  Die pad wat links draai, is breed, mooi glad, sonder klippe, maar die regterkantste pad is wit, stowwerig, daar is klippe en dit pad is baie nou.  Mense hou daarvan om in groepe te beweeg en daarom kies baie om links te gaan, want die meerderheid kies mos om links te gaan.  Meeste mense kies om die beter pad te stap, die pad wat maklik is.  Abba Vader wys my toe wat staan agter op die bord wat die mense nie kan sien nie.  Aan die linkerkant staan “Die dood” en aan die regterkant staan:  “Die lewe”.

Die pad wat maklik is, is die pad waarop die mense geleer word dat Jesus gesterf het vir almal se sondes en dat almal se sondes outomaties vergewe is omdat Jesus gesterf het.  Hulle word geleer dat hulle kerk toe moet gaan om gered en verlos te wees, gedoop wees, hulle moet nagmaal gebruik, hulle moet ’n klomp godsdienstige rituele volg om gered te wees.  Hulle moet net glo dat Jesus vir hulle sondes gesterf het, dan is hulle sondes vergewe.  Op hierdie pad word nie geleer en klem gelê om hul sondes te laat staan nie, daar word eerder vir hulle ’n wiegieliedjie gesing wat hulle aan die slaap hou sodat hulle kan aangaan met hulle sondige lewenswyse.  Solank hulle aan die slaap gehou kan word, is hulle geestelik doof en blind en besef hulle nie hulle word gelei deur dwaalleringe na die vaal gedeelte nie.  Wanneer hulle die vaal gedeelte bereik, gaan hulle net aan met hulle ou lewenswyse.  Hopenlik kan hulle tot die besef kom dat hulle eintlik leweloos is, dat hulle in die vaal gedeelte vasgevang is.  Hulle probeer deurkom na die tuin van Eden en kap teen die muur om in te kom, maar hulle gaan nooit deur die muur kom nie.  

As jy Kollosense lees, sal jy sien hoofstuk 1 begin deur Paulus wat sê dat hy God se werk doen deur die wil van God.  Daar is ongelukkig baie mense wat God se werk wil doen, maar dan is dit nie die wil van God nie, maar deur die eie wil van die mens.  Hy wil dit doen om eer vir homself bymekaar te maak, so hy doen dit tot eer vir homself en nie tot eer van God nie.  Hulle leer en versprei nie die Waarheid  van God nie, maar bose saad wat baie maklik groei in ’n hart wat nog duister is… ’n hart wat nog nie geoffer is aan Abba Vader sodat HY dit kan skoonmaak en heilig nie… ’n hart wat nog nie die self afgesterf het en wedergebore is nie… ’n onbekeerlike hart.  Hulle het geen onderskeidingsvermoë nie, hulle is nog geestelik blind en doof, so hulle glo die leuens van die vals herders.  Hulle neem die bose saad in wat groei in hulle duister harte tot bome wat weer vrugte dra en wat is hierdie vrugte?  Watse saad bevat hierdie vrugte?  Die mens sal geken word deur die vrugte wat hy dra!  Kollosense 2 waarsku ons om op die uitkyk te wees vir vals leraars wat ’n klomp wette en reëls aan mense voorlê, maar self kan hulle dit nie onderhou nie.  Mattheus 7 waarsku ons ook oor die vals leraars met skaapsklere wat roofsugtige wolwe is, hulle lei die trop skape na die verderf op die breë pad (13), maar die pad wat na die Koninkryk van God lei, is smal en daar is min wat dit vind.  Mense glo maklik dat vals leraars ware herders is oor die wonderbaarlike kragte wat hulle doen, die duiwels wat hulle uitdryf, die mooi en die goeie wat hulle profeteer in die Naam van God, maar Jesus sê duidelik in Matt. 7 dat hulle Hom nie geken het nie.  Hulle het geen verhouding met Abba Vader gehad nie, hulle was nooit gewortel in die hart van God nie.  Hulle sal die groot skare lei en leer om gewortel te wees in godsdiens, rituele en die kerk… maar as ons nie gewortel is in die hart van God nie, is dit alles van geen nut of betekenis nie.  Dit lei na die verderf, na die vaal gedeelte!

Die enigste manier om by die tuin in te kom, is om teen die stroom op te beweeg, terug met die pad waarmee hy gekom het, terug na die T-aansluiting en om dan te kies om die nou, klipperige, stowwerige pad te kies.  Jy gaan daardie pad alleen stap, nie saam met ’n groep mense nie, maar jy is die gelukkige een, want hierdie pad stap ’n mens hand-aan-hand met Jesus!  Die mens wat nie ’n persoonlike verhouding met Abba Vader het nie, ken nie SY stem nie en sal die vals herder volg!  Leer ken die stem van Abba Vader in afsondering in Woord en gebed…. en gebed is nie om te vra, vra, vra nie;  gebed is om ’n ware gesprek met Abba Vader te voer, om met Hom te gesels, nie om Hom te vermaan, versoek of beveel nie.  Moet jou asseblief nie deur ’n mens laat lei nie, maar deur die ware Herder.  Hy is die enigste Een wat jou hart kan skoomaak sodat daar goeie saad in jou hart kan val en groei om vrug te dra tot SY heerlikheid.

Keer terug na die T-aansluiting!  Beweeg stroom-op!  Dit vat baie moed om dit te doen en jy gaan baie vriende verloor.  Dit is ’n harde pad om terug te stap na die T, maar dit is so die moeite werd.  Wanneer jy weer by die T-aansluiting kom, sal jy sien die bord is aan die paal vas sodat dit lyk soos ’n kruis.  Kniel voor daardie kruis, geee jou hart, jou lewe, jou ALLES aan Abba Vader.  Sterf die self af en laat God jou ’n nuwe mens maak.  Wanneer jy dan opkyk, sal jy Jesus voor jou sien staan, Sy hand uitgestrek na jou… neem Sy hand en begin die smal pad stap saam met Hom. 

Die bevestigende Skrifte wa Abba Vader my gegee het terwyl Hy my gelei het om hierdie te skryf, is Kolossense 1,2;  Mattheus 7 en Mattheus 13