Wat beteken “Toekoms” vir jou?

Toekoms “audio”

“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.” Jeremia 29:11

Soos ek werk aan die skryf van die boeke, dink ek so diep aan elke Skrif wat Abba Vader al as bevestiging gegee het en Jeremia 29:11 is een van daardie verse. En weer besef ek hoe verkeerd verstaan ons hierdie Skrif, veral jong gelowiges… die meeste van ons lees hierdie vers en dink: Wow, ja, God beplan vir ons net die goeie en ’n mooi toekoms sodat alles kan goedgaan in ons lewens, maar is dit regtig wat God met hierdie Skrif bedoel? Dink so bietjie dieper aan hierdie Skrif… Wat beteken dit as God praat van ’n toekoms? Praat Hy van ons fisiese toekoms? Wat is vir God die belangrikste? Ons lewe op aarde of die hiernamaals? Elkeen se doen en late op aarde beplan sy hiernamaals; keuses wat ons maak… gehoorsaam ons die vlees of gehoorsaam ons God? Verafgod ons ons aardse goed of is ons gefokus op Abba Vader en Sy werk in en deur ons? As ons gefokus is op die aardse goed, sien ons die “toekoms” uit wêreldse oë en dink ons aan ons fisiese toekoms op aarde. Dan sien ons net vrede, en geen onheil nie; ons sien seëninge uit God se hand wat ons kan geniet op aarde, wat ons lewe vir ons makliker kan maak op aarde, maar is dit regtig hoe God dit sien? Kom ons kyk eers hoe interpreteer die wêreld hierdie Skrif…

“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”  Jeremia 29:11

Die wêreld kyk met begeerlike oë na hierdie Skrif en sien dit dat God vir Sy kinders ’n geseënde, voorspoedige lewe op aarde wil gee… want dit is hoe die mens dit WIL sien.  Die wêreld is absoluut mal oor hierdie teksvers en hulle haal dit graag aan om die self en ander moed in te praat vir die toekoms en dat dit net beter sal gaan… Maar Jesus sê in die Woord dat hoe nader ons aan die eindtyd kom, hoe slegter sal dit gaan op aarde…  Die wêreld leer ons dat God aan ons net die goeie wil gee, dus mag ons Hom ook vir enigiets vra.  Ons moet tot Hom bid en Hom vra wat ons harte begeer, ons mag Hom dus versoek… (Lees ook gerus die Saadjie:  https://sonneblomsaadjies.com/2018/11/13/wat-vra-ons-van-god/)  Maar hoekom staan daar in die gebooie van God dat ons Hom nie mag versoek nie?  Die wêreld gebruik ook die Skrif in Lukas 11 wat sê as ’n kind vir sy pa ’n brood vra, sal die pa nie aan hom ’n klip gee nie…  Net soos ’n pa die goeie aan sy kind wil gee, net so wil God vir Sy kinders ook die goeie gee, maar weereens… is God gefokus gerig op ons vleeslike toestand of op ons geestelike toestand?  Mense wat God se goedheid wil misbruik, maak van Hom hulle “genie” soos in die storie, Aladdin.  Hulle vryf die towerketel tot hy lekker warm is en dan verskyn die “genie” aan hulle wat vir hulle alles sal gee wat hulle vereies of wat hulle by Hom afsmeek.  Dink julle regtig ons kan God so manipuleer?  Dink julle regtig ons kan woorde spreek en dat ons woorde soveel krag dra dat dit sal uitgaan en doen wat ons gespreek het?  As jy dit glo glo, is jy ’n god!  Met ander woorde, jy stel jouself gelyk aan God.  Dit is ook die mense wat glo hulle is reflekteer die beeld van God en daarom kan hulle ook sommer god speel op aarde.  Alles wat hulle doen is kragtig en alles wat hulle sê, dra krag…  Van een ding is ek seker:  Ek wil nie een van hierdie gode wees die dag as God Sy kinders kom haal nie, want ek wil nie voor die almagtige God staan en verduidelik hoekom ek myself so hoog geag het nie.  Geen mens is God nie, geen mens het dieselfde krag as God nie, geen mens het kragtige woorde nie en die wat wel het, is demonies van aard.  Dit is die mense wat soos God wil wees, maar almal wat soos God wil wees, sal tot ’n val kom net soos Eva tot ’n val gekom het… die slang het haar gevra of sy soos God wil wees en daarvoor moet sy net van die vrug van die verbode boom eet.  Sy wou graag soos God wees, sy wou gelykstaande aan God wees en daarom het sy gevoed op die verbode vrug.  Soveel mense vandag stel hulleself ook gelyk aan God, met ander woorde, hulle voed op die vrug van die verbode boom, hulle eet alles vir soetkoek op wat Satan hulle voorhou…  Hulle glo die leuens van Satan!

Ek het nou bietjie van die punt afgedwaal, so om terug te kom na die Skrif van Jer 29:11:  God het nie hierdie teksvers gegee dat dit op toepassing moet wees vir ons fisiese toekoms nie!  As God praat van ’n toekoms, sien Hy die groter prentjie, en wanneer Hy die groter prentjie sien, is ons lewe op aarde net ’n spikkeltjie.  Wat van belang is, is ons lewe ná ons aardse lewe… ons ewigheid!  DIT is ons toekoms!  Nie ons wêreldse, vleeslike toekoms op aarde nie!  Ek was geskok om te sien hoe soveel welbekende leraars nie hierdie Waarheid van God ken nie, maar dat hulle die leuen van Satan versprei dat God vir ons op aarde ’n hoopvolle toekoms wil gee… en dan las hulle daarby dat dit die rede is hoekom die mens enigiets van God mag vra.  Die mens MAG enigiets van God vra, want God WIL dit vir die mens gee.  Om die saak nog erger te maak, skryf hierdie leraars dat ons nie sal ontvang as ons nie vra nie… hulle ruk die Woord van God heeltemal uit verband uit om hulle skewe, valse, bose teologie te staaf.  Wanneer die Woord sê:  “Julle ontvang nie, want julle vra nie…” gaan dit geensins om wêreldse begeerlikhede te bevredig nie.  Net soos met die droogte van die land… die mens glo hy moet God smeek dat dit sal kom reën oor die droë dele van die land, dat God na hom as mens sal luister en in sy versoeke sal voldoen.  Maar wie is die bepaler van alles op aarde?  Die mens wat God so versoek, het geen respek vir God en Sy planne nie.  Hulle aanvaar nie die wil van God nie, maar probeer hulle eie wil op God afdwing.  Weet die mens regtig beter as God? https://sonneblomsaadjies.com/2018/11/12/hoe-versoek-ons-god/

 In die tyd wat Abba Vader hierdie saak met my deurgewerk het, het Hy pertinent 1 Petrus 1 gegee om te lees.  Bestudeer asseblief op jou eie tyd ook daardie hoofstuk.  Dan sal jy sien dat die mens in staat is om tot wedergeboorte te kom deurdat Jesus gesterf het aan die kruis.  As Jesus nie gesterf het aan die kruis nie, was die Gees van God nooit vrygestel nie en sonder die Gees van God, kan die mens nie tot wedergeboorte kom nie.  Wedergeboorte sonder die Gees van God is vals wedergeboorte en die meeste mense in kerke is vasgevang in vals wedergeboorte…  

Wedergeboorte is aan die kinders van God geskenk deur die gehoorsaamheid van Jesus.  Voordat ons tot ware wedergeboorte kom, is ons nog onegte kinders van God… onegte kinders is hulle wat nie die Gees van God in hulle geesharte het nie, maar beweer om weergebore te wees.  Onthou net, ons word nie die gebore met die Gees van God werkend in ons harte nie (Saadjie:  https://sonneblomsaadjies.com/2018/10/15/liggaam-siel-en-gees/), ons ontvang ook nie die Gees van God omdat ons kerk toe gaan, godsdienstig is, gedoop is as baba of as grootmens nie.  Ons ontvang ook nie die Gees van God omdat ons ’n gebed agter iemand aanbid en met die mond bely om ons harte aan God te offer nie;  nog minder ontvang ons die Gees van God wanneer iemand anders dit oor ons afbid of ons die hande oplê nie… onthou net altyd… daar is ’n vals heilige gees ook wat afkomstig is van Satan.

Met ander woorde, voordat ons tot WARE wedergeboorte kom, het ons nie die Gees van God in ons harte nie, wat ons onegte kinders van God maak.  Ons is dan nog nie ingeënt op die ware olyfboom nie, maar nog deel van ons vleeslike, fisiese stamboom.  Ons tree nog vleeslik op en stry en baklei om wêreldse dinge te bekom… kyk net hoe stry en baklei familielede onder mekaar as dit by die saak van hulle erfporsie kom… Om ’n wêreldse erfporsie te ontvang, is geensins so belangrik as om jou geestelike erfporsie te ontvang nie, en hierdie geestelike erfporsie is ons ware toekoms saam met Abba Vader wat ons sal ontvang wanneer ons afgesny is van ons vleeslike stamboom en ingeënt is in die olyfboom.  

Wanneer ons weergebore word en die Gees van God dwell in ons geesharte, reflekteer ons die beeld van God en ontvang ons ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemele vir ons bewaar word.  (1 Petr 1: )  Dit beteken egter nie dat ons ’n rooskleurige toekoms op aarde gaan hê nie, want God sal al Sy kinders beproef…  Hy toets Sy kinders om vas te stel wie egte en wie onegte kinders van Hom is.  Die onegte kinders (hulle wat met die mond beweer om wedergebore te wees) sal nie hou van die beproewinge op hulle pad nie, want dit is diegene wat God aanbid sodat dit beter in hulle lewens moet gaan… hulle aanbid God dus om iets daaruit te kan kry en nie uit liefde vir Abba Vader nie.  Hulle glo dus die leuens van die wêreld dat as jy glo in God, Hy aan jou ’n goeie en hoopvolle (wêreldse) toekoms wil gee en daarom kan jy vir Hom vra net wat jy wil hê…  As jy nie vra nie, gaan jy nie ook ontvang nie… dit is so lagwekkend…  Gaan God regtig vir hulle gee wat hulle wil hê en dit wat hulle van Hom versoek?  Gaan God regtig so met Hom laat speel?

Diegene wat waarlik die self afgesterf het en waarlik tot wedergeboorte gekom het, volg Jesus nie vir seën en voorspoed nie.  As hulle getoets word met beproewinge op hulle pad, raak hulle nie kwaad vir God nie, maar aanvaar hulle dat hulle gesuiwer moet word.  Hulle aanvaar die beproewinge as die heiligmakingsproses, want God sê in 1 Petr 1 dat Hy heilig is, en daarom moet ons ook heilig wees.  Ons kan nie heilig wees sonder God se heiligmakingsproses nie, en dit beteken dat daar dinge in ons lewe gaan gebeur wat moeilik en “sleg” is, met ander woorde, dit maak nie ons wêreldse toekoms altyd so maklik nie.  Boonop is daar verwerping van die wêreld se kant af, veroordeling en moddergooiery, selfs vanaf familie.  Dit is Abba Vader se manier om ons te leer en ons sterker te maak.  Dan weet God ons volg Hom nie vir wêreldse geluk en voorspoed nie, maar vir wie Hy is.  

Godsdiens laat glo die mens dat hulle ’n hoopvolle en goeie toekoms op aarde sal hê, maar so by so weerhou hierdie bose godsdiens die mens se ewige erfenis van hom, want godsdiens maak dat die mens glo hy is gered en verlos deur die rituele wat hy gehoorsaam… so daar is geen hoopvolle toekoms vir godsdienstige mense nie.  Godsdiens met al sy rituele maak dat die mens wat vasgevang is hierin, nie die ewigheid saam met God sal kan ingaan nie.  Godsdienstiges wat die beker opneem en die brood eet in die kerk tydens nagmaal, het gemeenskap met duiwels en nie met Abba Vader nie.  Dis omdat dit net ’n liggaamlike ritueel is, dit het niks met die geeshart van die mens te doen nie.  As hulle nie waarlik weergebore is en die Gees van God in hulle geesharte het nie, kan hulle nie gemeenskap met Abba Vader hê nie, so met wie het hulle dan anders gemeenskap as met die duiwel?  Nagmaal is eintlik veronderstel om “holy communion” met God te wees, met ander woorde, ’n hegte band en verhouding met Abba Vader is baie belangriker as die ritueel van wyn drink en brood eet.  Nog ’n godsdienstige gruwel, is die doop van babas…  Mense offer hulle kinders onwetend aan Molek wanneer hulle hulle laat doop as babas.  Godsdiens!  Wat ’n gruwel in God se oë!  Dit hou die mens weg van Hom af, dit weerhou ook die mens om God waarlik te soek en Hom te vind, om Hom te leer ken, want hulle glo deur hulle godsdiens dat hulle God ken, maar al die tyd weerhou dit die mens van ’n goeie toekoms wat God vir die mens bepaal.  ’n Hoopvolle toekoms is alleenlik vergkrygbaar as ons wegbreek van die aangeleerde tradisie, godsdiens en vals leringe soos die sny van bloedlynvloeke, want al hierdie goed is maar net ’n ‘kitsmanier’ waardeur mense ’n goeie vleeslike toekoms probeer verkry.  

Ons kan alleenlik die ewige toekoms instap as ons die beeld van God reflekteer, wat eers kan gebeur as ons die self en vleeslike begeertes afgesterf het;  wanneer ons die vyand se versoekinge kan teëstaan deur die Gees van God, en ons hart en lewens in die hande van Abba Vader is… wanneer ons leef na SY wil.  Alleenlik dan is ons besig om te werk aan ons toekoms.  Ons kan niks DOEN om dit te verdien nie, so godsdiens en rituele beteken niks… ons moet GLO in God-Drie-Enig, gemeenskap met Hom hê, dus gekonnekteer wees aan Hom en dan eers sal ons Sy wil vir ons lewens aanvaar – vir die goed en die sleg.  Dit is wanneer ons kan sê:

Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.

Habakuk 3:17,18

As julle die saadjie https://sonneblomsaadjies.com/lewensboeke/ lees, sal julle sien dat Abba Vader vir my Jeremia 29:11 gegee het toe Hy vir my gewys het dat die Goddelike Lewensboek wat Hy oor ons lewe geskryf het, verskil van die lewensverhale wat ons oor ons eie lewe skryf.  Dit verskil in die opsig dat daar slegte goed is wat in ons lewe gebeur (wat opgeskryf staan in ons eie lewensverhale), maar hierdie gebeure is nie opgeskryf in die Lewensboek wat God oor ons geskryf het nie.  Ek kon dit nie verstaan nie en toe sê Abba Vader dit is omdat Hy vir ons net die goeie beplan.  Menslik gesproke beteken dit vir ons dat God vir ons niks negatiefs beplan het nie, maar as elkeen sy Goddelike Lewensboek kon sien, sou jy gesien het dat God tog in elkeen se Lewensboek omstandighede en situasies beplan het wat ons as “sleg” ervaar.  Dis net die mens wat dit as “sleg” sien, maar God se plan was nie om ons aspris seer te maak deur hierdie moeilike omstandighede nie.  Hy het dit vir ons beplan om ons geloof te toets, om te sien of ons Hom gaan volg net om die goeie te kan ontvang;  Hy toets ons om ons liefde vir Hom vas te stel, ons getrouheid aan Hom.  Dit is die beproewinge in ons lewe en wanneer ons daardeur gaan, suiwer dit ons van onsself sodat ons hegter gekoppel kan wees aan Abba Vader.  Wanneer ons so gekonnekteer raak aan Abba Vader, verseker Hy ons van ’n goeie toekoms in die hemel. 

Our suffering is light and temporary and is producing for us an eternal glory that is greater than anything we can imagine. We don’t look for things that can be seen but for things that can’t be seen. Things that can be seen are only temporary. But things that can’t be seen last forever.

2 Corinthians 4:17,18 (GW)