Watse beeld reflekteer ons?

God se oorspronklike plan was om ’n mens te maak wat Sy natuur kon reflekteer en wat is God se natuur? Hoe lyk God? God is nie ’n mens nie, maar God is Lig, God is heerlikheid, God skyn soos die son… Met ander woorde, God wou die mens gemaak het om te skyn soos Hy. Nou sien die mens die beeld van ’n fisiese mens en dink die fisiese, liggaamlike mens verteenwoordig die beeld van God. Ons sit die pot totaal en al mis. Alles gaan om dit wat ons reflekteer. Reflekteer ek en jy die Lig van God? Want dan eers dra ons die beeld van God uit.

Voordat ek aangaan, wil ek net eers in ’n neutedop die werking van die liggaam, siel en gees van die mens verduidelik en uit watter deel van die mens die Lig van God gereflekteer word. God het die mens as liggaam, siel en gees geskep. Die liggaam is die buitenste dop met al die organe wat die siel en gees huisves. Ons siel is die gedeelte waar ons emosies, eie wil en denke lê. Ons gees is die diepste gedeelte van die mens waardeur God met ons werk. God het dus die gees van die mens geskep sodat Hy Sy Gees in ons kan laat woon en wanneer die Gees van God teenwoordig is in ons gees, dan reflekteer ons die beeld van God.

God het oorspronklik die mens gemaak na Sy beeld:

“God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na Sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”
Genesis 1:26

Toe God die mens in Genesis 1 na Sy beeld geskape het, het Hy die gees van die mens geskape waarin Hy kon “dwell”. Dit is die enigste manier hoe die mens die beeld van God kan uitstraal. Die Message sê dit so mooi:

“He created them Godlike reflecting God’s nature..”

Genesis 2:7 beskryf hoe God die liggaam van die mens formeer uit die stof van die aarde en hoedat Hy die asem van die lewe in die mens se neus inblaas sodat die mens ’n lewende siel kan word. Hier formeer God die liggaam en siel van die mens en hier word nie gesê dat God die liggaamlike mens volgens Sy beeld formeer nie. Dit versterk net die punt dat die liggaam en die siel van die mens nie na die beeld van God geskep is nie, maar dat die gees van die mens geskep is om die beeld van God te reflekteer, wat Lig is. Die Woord sê die mens het ’n lewende siel geword. Toe God in Genesis 1:30 aan die dier hulle voedsel voorgeskryf het, het Hy van die diere gepraat as wesens met ’n lewende siel en die mens in Genesis 2 word ook beskryf as ’n lewende siel. Met ander woorde, mens en dier is deur God geskep as ’n lewende siel en dit wys vir ons die siel van die mens is die menslike lewe van die mens. In Genesis 6:3 sê die Woord:

“Toe sê die Here: … Ek bring ’n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ’n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe.”

Alles op die aarde wat lewe, het dus ’n lewensgees in hulle en dit is die lewensasem wat God in mens en dier ingeblaas het wat van lewelose wesens, lewende siele maak. In Genesis 6 word alles wat lewe, beskryf as vlees waarin ’n lewensgees is. So daar is verseker ’n verskil tussen ’n lewensgees wat God aan mens en dier skenk, en die Gees van God. ’n Lewensgees gee fisies lewe aan ’n mens, maar ons reflekteer nie die beeld van God deur ’n lewensgees nie. Die lewensgees gee dus lewe aan die liggaam en siel. Die lewende siel is uit die aarde, aards! Dit is die natuurlike liggaam wat bestaan uit die liggaam en siel. In 1 Korintiërs 15:45 staan ook dat die eerste mens, Adam, ’n lewende siel geword het.

“Die eerste mens, Adam het ’n lewende siel geword…
Die eerste mens was uit die aarde aards…

Maar nogsteeds moet ons onthou dat God aan die begin eers die mens as gees geskep het om Sy beeld te reflekteer. As jy weer kyk na Genesis 1:26, het God die mens geskep as beeld van Homself, wat dus nie die natuurlike, vleeslike of aardse mens was nie, maar die gees van die mens, want alleenlik die gees van die mens kan die Lig van God uitstraal. Alleenlik die gees van die mens kan gekonnekteer wees aan God wanneer die Gees van God in die mens se gees teenwoordig is. Ons kan met God kommunikeer alleenlik wanneer ons gekonnekteer is aan Hom en ons kommunikeer nie deur ons liggaam of ons siel met God nie, maar deur ons gees. Dis hoekom Jesus in Johannes 4:23,24 gesê het:

“Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom so aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid moet in gees en waarheid aanbid.”

God het dus eers die gees van die mens geskep om Hom te aanbid en toe vir die gees ’n liggaam en siel gemaak uit die bogrond van die aarde. God het die mens oorspronklik gemaak om in die tuin van Eden te woon en om ’n baie hegte verhouding met Hom te hê, om met Hom te wandel en met Hom te kommunikeer. Adam en Eva was dus in staat om met God te wandel en met Hom te kommunikeer, want hulle gees was vol van die Lig en die Lewe van God, dus was hulle gekonnekteer aan God. Hulle was in so ’n mate gekonnekteer en gefokus op God dat hulle glad nie eers bewus was van hulle liggaam en siel nie, want hulle het nie hulle naaktheid raakgesien nie. God wou hulle graag in hierdie toestand hou, dis hoekom Hy vir hulle gesê het om nie van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie. God het geweet die verbode boom gaan die oë van hulle liggaam en siel oopmaak en wanneer die oë van die liggaam en siel oopgaan, verblind die oë van die gees en dit beteken sterfte van die gees. God het hulle gewaarsku dat as hulle van die verbode boom sou eet, hulle sou sterf. Hulle het dalk gedink dat hulle fisies sou sterf, maar God het eintlik bedoel dat hulle in hulle gees sou sterf, wat beteken hulle gaan die Lig van God uit hulle geesharte verloor. Wanneer die mens die Lig van God uit sy geeshart verloor, sterf sy gees en die mens kan nie meer met God gekonnekteer wees om met Hom te kommunikeer nie.

Ongelukkig het hulle eie wil oorgeneem en het hulle ingegee aan die versoeking van Satan om van die verbode boom te eet. Die oomblik toe hulle teen God rebelleer, het hulle liggaam en siel ontwaak, hulle vleeslike oë het oopgegaan en hulle het in voeling gekom met hulle liggaam en siel. Skielik het hulle gesien hulle is naak en hulle het dit probeer wegsteek met vyeblare. Met ander woorde, sonde het hulle vleeslike oë laat oopgaan wat in hulle liggaam gesetel is. Hulle sielsdimensie het ook in werking getree, want hulle het skuldgevoelens ontwikkel en het skaam gekry. Waar hulle emosies voorheen op die agtergrond was en hulle nie daarvan bewus was nie, het hulle nou skielik bewus geraak van hulle emosies. Omdat die geestelike mens verflou of gesterf het, het die aardse, vleeslike mens ontwaak en oor die mens geheers.

God het die tuin van Eden geskep vir Sy kinders wie Sy beeld reflekteer, want dit is ’n bewys dat diegene wat Sy beeld reflekteer, gekonnekteer is aan Hom en dat die Gees van God in hierdie mens se gees “dwell”. Die sonde van Adam en Eva, het die Lig in hulle geesharte uitgeblus en daarom het God hulle uit die tuin van Eden uit weggestuur om te gaan woon in die wêreld wat deur hulle eie toedoen vervloek is. Hulle het nou die beeld van die aardse, vleeslike mens verteenwoordig en hulle het nie meer die beeld van God reflekteer nie.

“You know the story of how Adam landed u in the dilemma we’re in – first sin, then death, no one exempt from either sin or death. Sin disturbed relations with God in everything and everyone…
So death is a huge abyss separating us from God…
One man’s sin put crowds of people at the dead-end abyss of separation from God… the verdict on that one sin was the death sentence…”
Rom 5:12

Die mens was dus oorspronklik geskep as geestelike wesens om die Lig van God te reflekteer, maar omdat hulle die Lig in hulle gees verloor het as gevolg van sonde, is hulle toe net aardse, natuurlike of vleeslike mense, mense uit die stof van die aarde, sonder die Gees van God in hulle gees. Die mens sonder ’n lewende gees is ’n half funksionerende wese, want God het die mens oorspronklik gemaak om as liggaam, siel en gees te funksioneer. ’n Mens wie se gees lewe van die Lewe van God, is dus ’n heel mens, maar as die werking van die gees ontbreek, is hy ’n halfmens.

Van daardie tyd af, was die liggaam en siel in beheer van die mens en was die gees van die mens in dormansie. ’n Geestelike dooie mens kan nie die beeld van God reflekteer nie. Hy reflekteer nou net die beeld van die aardse, vleeslike mens wat deur die liggaam en siel gereflekteer word. Onthou nou, Jesus het daadie tyd van die Ou Testament nog nie gesterf aan die kruis nie, so die Lig van God, asook die Gees van God, was nog nie vrygestel deur Jesus nie. Dus kon die mens nie verhouding met God hê nie, want hulle kon nie gekonnekteer raak aan God nie. Die wêreld was in geestelike chaos gedompel, die mense was goddeloos en God was spyt dat Hy die mens gemaak het en het besluit om die hele mensdom van die aarde af te vee met die vloed. God sê in Genesis 6 dat Hy ’n watervloed oor die aarde gaan stuur om alle vlees, waarin ’n lewensgees is, te verdelg. Dit beaam die feit dat ’n mens met ’n lewensgees, God nie kan behaag nie, want ’n lewensgees gee aan die mens se liggaam en siel lewe en nie aan sy gees nie. Hierdie mens reflekteer nie die Lig van God nie en omdat die mensdom nie meer die Lig van God kon reflekteer nie, wou God hulle almal van die aarde afvee. Dus kan ek weer sê: Die mens in sy menslike toestand soos ons dit sien, is nie die beeld van God! ’n Mens met die Gees van God binne hom, word deur God in staat gestel om gehoorsaam te wees aan God. Daar was wel een man wat God behaag het en dit was Noag en God het hom en sy gesin bewaar. Ek glo dat God deur die Ou Testamentiese tyd sekere mense vir Homself afgesonder het, wat wel op ’n spesiale manier met Hom gekonnekteer was en met Hom kon kommunikeer. God het deur hierdie mense met die volk probeer kommunikeer, maar die volk het in elkgeval ook nie na hulle geluister nie.

God het geweet die mens, op sy eie, sonder die Gees van God, sal Hom nooit kan behaag nie. Genadiglik het ons wonderlikbaarlike Vader besluit om op Sy gegewe tyd Sy geliefde Seun aarde toe te stuur om ’n mens met ’n liggaam, siel en gees te word waarin en deur God kon leef. Deur Jesus se gehoorsaamheid en Sy sterfte aan die kruis, het Jesus die dood en die sonde oorwin. Hy het ’n deurgang vir die mens geskep deur die kruis waar die mens die duistere toestand kan ontvlug en weer met God kan wandel in die Lig van God. Jesus het dit weer vir die mens moontlik gemaak om geestelik te lewe, om die Gees van God in sy hart te ontvang, om weer gekoppel te word aan God en om weer ’n verhouding met Abba Vader te kan hê waar ’n mens met Abba Vader kan kommunikeer. Maar die belangrikste van alles, is dat Jesus die deurgang na die Ligtoestand van God kom oopmaak het sodat ons weer die beeld van God kan reflekteer! Ons reflekteer alleenlik die beeld van God wanneer ons die natuurlike, aardse mens afsterf en weer gebore word. Daarom het Jesus gesê dat daar net een manier is om die Koninkryk van God te bekom en dit is om weer gebore te word deur water en die Gees.  ’n Mens word dus gebore as ’n natuurlike, aardse, vleeslike mens, dus word ons almal gebore as ’n lewende siel. Wat gebore word uit vlees is vlees! Hulle is gebore uit die bloed of uit die wil van die vlees. (Johannes 1:13) Die Gees van God “dwell” dan nog nie in ons nie, want ons moet eers ons natuurlikheid afsterf en weer gebore word.

Lees nou weer 1 Korinthiërs 15, dan sal jy verstaan wat die Woord vir ons sê, ek haal sekere gedeeltes aan:

“’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam en daar is ’n geestelike liggaam. Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewemakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.”

Die lewende siel is uit die aarde, aards! Dit is die natuurlike liggaam wat bestaan uit die liggaam en siel. Daar is ’n natuurlike mens en daar is ’n geestelike mens. ’n Geestelike mens word opgewek wanneer die natuurlike mens afsterf. Dit beteken nie dat die mens fisies moet sterf nie, dit beteken dat die natuurlike mens die self moet afsterf soos Jesus gemaak het. Dit beteken dat die natuurlike mens homself moet verloën, sy kruis opneem en Jesus moet volg.

Watse beeld reflekteer ek en jy? Is ons so gefokus en besig met die self, met die liggaam en die siel, dat ons net die beeld van die natuurlike, aardse mens reflekteer? Of word ons daagliks gevul met die Liefde en Lewe van God dat Sy Lig uit ons diepste wese skyn en ons die ware beeld van Abba Vader reflekteer? Onthou… elke keer wanneer ons oorgee aan die versoekings van Satan en eerder ons eie wil gehoorsaam as die wil van God, laat verflou ons die Lig in ons gees, en later blus sonde die Lig totaal uit ons gees uit, wat beteken ons gaan geestelik dood.

Mag ek en jy vertoef in die Liefde en Lewe van Abba Vader waar Hy ons sal volmaak met Homself sodat ons Sy beeld waarlik sal reflekteer soos Hy dit wil hê. Mag ek en jy God die Vader aanbid in waarheid en in Gees soos Hy dit wil hê!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s