Vrug van die boom

3A83F924-0F86-4CD1-BE30-19AE35F84B1F

“Bly in My, soos Ek in julle.  Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote.  Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;  want sonder My kan julle niks doen nie.”    
Johannes 15:4,5 (AFR33/53) 

’n Boom wat gewortel is in die hart van God, is gekonnekteer aan God deur die penwortel van geloof en deur hierdie band wat ons met God het, ontvang ons die Lewe van God. Alleenlik wanneer ons die Lewe van God ontvang, ontvang ons ook die vermoë om Goddelike vrugte te begin dra. Dit is baie belangrik dat ons besef dat dit nie die mens self is wat Goddelike vrugte dra nie; dit is as gevolg van die Lewe van Jesus wat deur ons are begin bruis, wat ons in staat stel om Goddelike vrugte te begin dra. Die menslike karakter kan nooit Goddelike vrugte dra nie, met ander woorde, die boom wat nie in die hart van God geanker is nie, sal nooit Goddelike vrugte kan dra nie. Eers wanneer die mens lewe deur die Lewe van God, is dit Jesus in en deur ons wat Goddelike vrugte dra.
Die penwortel van geloof is die enigste band wat ’n mens aan God kan verbind, dus is dit alleenlik deur hierdie band wat ons die Lewe van God kan ontvang – as daar geen penwortel is nie, is die krag en Lewe van God afwesig in ons wese en kan daar ook nie Goddelike vrugte wees nie. Met ander woorde, as ’n boom Goddelike vrugte dra, beteken dit hierdie boom is geanker in die hart van God deur ’n penwortelstelsel; hierdie persoon glo onteenseglik in Jesus en hy ontvang die Lewe van God en Jesus dra deur hom Goddelike vrugte. As ‘n boom geen goeie vrugte dra nie, getuig dit van die afwesigheid van ’n penwortel asook die afwesigheid van die Lewe van God binne die persoon – Jesus leef nie in en deur hom nie. Met ander woorde, vrugte van die Gees gaan gepaard met geloof in Jesus. ’n Persoon sonder geloof in Jesus, wat nie onteenseglik in Jesus Christus glo nie, kan nie Goddelike vrugte dra nie, maar die persoon met geloof in Jesus, se Goddelike vrugte sal getuig van die Lewe van Jesus Christus binne hom.
Johannes 15 maak nou so sin wanneer ons dit lees. God is die druiweboer en Jesus die spesiale druiwestok. God bewerk die wingerd en Hy hou die takkies wat uit die druiwestok groei, baie fyn dop. Takkies wat groei, maar geen vrug dra nie, is onvrugbaar en word deur die Boer afgeknip en in die vuur gegooi. Dit is vals takkies! Vals takkies wat beweer om in die druiwestok gevestig te wees, is mense wat beweer dat hulle tot bekering gekom het; hulle getuig dus met die mond om in God te glo, maar hulle harte is glad nie betrokke by hierdie saak nie. Daar is geen penwortel nie, die Lewe van God is afwesig in hulle wese en daarom kan hulle nie Goddelike vrugte dra nie. Die wêreld is besmet met mense wat goeie werke uit die self probeer doen sodat hulle eer van die wêreld kan ontvang en bekend kan staan as die “goeie mense”, maar die probleem is net dat God dieper kyk as die mens en Hy weet wanneer ons vrugte self-gegenereerde vrugte is. God weet deur wie of deur watter krag ons vrugte probeer genereer en die afwesigheid van ware Goddelike vrugte getuig dat daar nie ’n penwortel aanwesig is nie. Dit getuig van die afwesigheid van geloof, asook die afwesigheid van die Lewe van God en dat hierdie persoon geen verhouding met Abba Vader het nie. Daarom knip God hierdie onvrugbare takkie van die wingerdstok af om plek te maak vir ’n loot wat ware vrug sal dra.

In Mattheus 3 sê Johannes vir die Fariseërs (wat hulle wil laat doop) dat die bewys van hulle bekering moet lê in die vrugte wat hulle dra; hulle moet dus vrugte van bekering dra. Met ander woorde, as hulle wel tot ware bekering gekom het, sou hulle vrugte daarvan getuig het, want hulle sou ’n geloofspenwortel ontwikkel het waardeur hulle die Lewe van God sou ontvang, en die Lewe van Jesus in en deur hulle, sou Goddelike vrugte gedra het. Die Fariseërs het nie in Jesus geglo nie, en die mens wat nie in Jesus glo nie, glo ook nie in God nie, want Jesus en God is Een. Dus het hulle geen ware geloofspenwortel gehad nie, hulle het nie die Lewe van God binne hulle gehad nie en daarom het hulle geen Goddelike vrugte gedra nie (maar nogsteeds wou hulle hulle laat doop deur Johannes om veilig te speel). Hulle het staatgemaak op reëls, wette en regulasies wat onderhou moes word vir verlossing, maar dit het niks met Goddelike vrugte te doen nie en dit kan aan geen mens die vermoë gee om Goddelike vrugte te dra nie. Tradisie, reëls, wette, godsdiens en selfs om kerk toe te gaan, kan geen mens Goddelike vrugte laat dra nie. Galasiërs 5:4 sê as jy probeer leef volgens godsdienstige regulasies, word jy afgesny van Jesus…

“When you attempt to live by your own religious plans and projects, you are cut off from Christ…”
Galatians 5:4: (MSG)

Vals takkies wat deur godsdiens Goddelike vrugte probeer dra, gaan faal in hulle poging en God gaan die takkies afknip en in die vuur gooi. Takkies wat wel Goddelike vrugte dra, bewys daardeur dat hulle gevestig is in die druiwestok – dus in die hart van God. Die Boer versorg die vrugbare takkies baie mooi deur hulle te snoei en skoon te maak deur die Woord van God. Ons moet baie na aan God leef, net soos ’n takkie wat vasgegroei is aan die druiwestok, want ’n takkie wat eenkant lê kan nie vrug dra nie. Ons moet in die hart van God gewortel wees om ’n goeie vrugbare lewe te kan lei.  Bome wat buite die hart van God vrugte probeer dra, probeer dit uit hulle eie krag dra en op die ou end put dit die mens uit – op die ou end gaan die mens uitbrand, want dan is hy soos die takkie wat eenkant lê en nie gevestig is in die druiwestok nie… Dit is baie belangrik dat ons dit vasmaak in ons harte dat geen mens Goddelike vrug kan dra sonder om in God gewortel te wees nie.

’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom: Goeie bome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra, want hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Daar is baie mense wat maskers opsit en maak asof hulle God dien, maar wat wys hulle vrugte? Die antwoord lê in Mattheus 7:19-23

’n Boom sal geken word aan sy vrugte:

“Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtig wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie. So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hulle vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here!’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, het ons nie in U naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen nie?’ En dan sal Ek aan hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk’.”
Mattheus 7:15-20 (AFR33/53)

’n Boom in die wêreldse grond, gaan vleeslike vrugte dra:

“Die werke van die vlees (vrugte van die vlees) is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroëer gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die Koninkryk van God nie sal beërwe nie.”
Galasiërs 5:19-22 (AFR33/53)

Wanneer ons wel ten volle gewortel is in die hart van God, sal die Gees van God ons lewe beheer en sal ons volgens die Gees leef en nie meer volgens die vlees nie. Abba Vader sal dus aan die stuur staan van alles wat ons dink, doen en sê. Die gevolg is dat die sonde ons nie meer sal onderkry nie, want dit het geen houvas meer op ons nie. Ons kan nie een dag aan ons sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van Abba Vader staan nie – ons kan nie leef soos ons wil nie. Waar ons gewortel is, is duidelik te sien aan die vrug van die boom, want soos ’n boom wat goeie vrug oplewer, wys die mens wat in Abba Vader gewortel is, se lewe dat hulle aan Hom behoort. Hulle gee om vir ander, hulle lewe is vol vreugde, hulle ken en ervaar die vrede wat van Abba Vader af kom, hulle verdra ander mense, hulle straal van vriendelikheid en warmte, en hulle is vol deernis en ontferming. (Galasiërs 5:21-22 Die Boodskap)

“I pray that your love will overflow more and more, and that you will keep on growing in knowledge and understanding. May you always by filled with the fruit of your salvation – the righteous character produced in your life by Jesus Christ – for this will bring much glory and praise to God.”
Collosians 1:9,11 (NLT)

Waarom is dit so belangrik dat ons Goddelike vrugte dra? Sodat ons dit kan bied aan ons naaste. As ons gevul is met die Lewe van God, gaan ons deur Jesus Goddelike vrug dra en die mense om ons gaan ’n proeseltjie kry van hierdie vrugte. Een of ander tyd in hulle lewe gaan hulle ’n honger ontwikkel na meer van hierdie vrugte, dus sal die begeerte by hulle wakker word om meer van Jesus in hulle te hê. Hulle sal God begin soek met alles binne hulle en enigiemand wat God met ‘n opregte hart soek, sal Hom vind. So wanneer ons Goddelike vrugte dra en aan die mense om ons bied, versprei ons die liefde van God, wat op ’n Godgewe tyd hulle hongerte en begeerte na Jesus sal aanwakker. Ons hoef nie ons onbekeerlike geliefdes toe te gooi met die Woord van God nie, want die meeste van die tyd val dit in elkgeval op dowe ore en bring dit net verwydering tussen ons en hulle; ons hoef nie te ywer om hulle in te bring na die Koninkryk van God nie, want God het Sy plan met elke persoon en al wat Hy van ons wil hê, is om Sy vrugte te dra. Hy vra nie van ons om uit te gaan en mense te red nie, God doen dit self! Ons moet net Sy vrug dra en ons hoef nie te ywer om ons geliefdes tot bekering te bring nie. Al wat ons moet doen, is om te fokus op Abba Vader en verdiep te raak in Sy liefde; hoe dieper ons in Hom ingroei, hoe voller raak ons van Hom en hoe meer vrug dra Hy deur ons.
Wanneer ons in Liefde gewortel is, verander Abba Vader met tyd ons totale karakter en kom ons nie eers agter wanneer ander mense op die Goddelike vrugte, wat Jesus deur ons dra, voed nie. Jy gaan nie eers bewus wees wat jou vrugte aan ander mense doen nie en dit is heeltemal reg, want dit moenie oor die self gaan nie. Ons fokus moenie wees op wat ons aan ander kan bied nie, ons fokus moet wees op ons verhouding met Abba Vader alleen. Ons moet fokus om dieper en dieper in Hom in te groei en God sal die res doen. As jy byvoorbeeld ’n huweliksmaat het wat nog nie tot bekering gekom het nie, raak net rustig, fokus op Abba Vader en laat jou maat oor in die hand van Abba Vader. Sit jou hoop op Abba Vader, nie op jou maat nie. Ons moet regtig leer om ons fokus reg te kry, want as ons volle fokus op Abba Vader is, sal ons die vrug begin dra wat aan ons maat ’n proeseltjie van Jesus sal gee en op Vader se tyd sal jou maat ’n honger na Abba Vader ontwikkel.

Dieselfde met ons kinders – wees verdiep in die liefde van God en Sy liefde sal oorspoel na ons kinders. Om hulle van kleins af met die Bybel oor die kop te slaan, gaan hulle ’n weersin in die Woord gee. Ons moet eerder sorg dat Jesus binne ons leef sodat ons kinders kan grootword met happies Goddelike vrugte. Ons kan op seminare en kursusse en wat ookal gaan wat ons leer hoe om ons kinders Goddelik groot te maak; ons kan soveel “tips” daar leer as wat ons wil, maar as Jesus nie binne ons leef nie, gaan ons kinders nie Jesus proe in ons nie en gaan hulle Jesus nie leer ken deur ons nie. Ons moet altyd onthou – die woorde wat by ons mond uitkom, beteken nie veel nie, dis die woorde wat uit die hart kom, die gevoel wat ons kinders voel as hulle naby ons is… dis hoe ons ons kinders hanteer wat die verskil maak en nie een van ons kan ons kinders mooi hanteer as ons nie die Lewe en Liefde van God binne ons het nie.
Om hierdie saadjie op te som: Daar is geen manier dat ons liefde of enige ander Goddelike vrug uit onsself kan ontwikkel nie. Ons ontvang slegs ware liefde uit die hart van God wanneer ons in God se hart gewortel is en wanneer ons wortels in God gevestig is.  Die liefde van God verander ons van die natuurlike na die geestelike mens, dan eers is ons in staat om die vrugte van die Gees te ontwikkel deur Jesus. Wat baie belangrik is, is om te besef dat dit nie die mens is wat Goddelike vrugte genereer of dra nie, maar dat dit Jesus in en deur die mens is. Al die eer moet na God toe gaan en nie aan die self nie.
Die dade en lewenswyse van die mens verklap dus waar sy wortels begrawe is, want die mens wie se wortels gevestig is in die hart van God en wat ’n geloofspenwortel in die hart van God ingegroei het, leef deur die Liefde en Lewe van God en jy sal dit kan sien in so ’n persoon se lewe. Die Lewe van Jesus binne die persoon stel hom in staat om ’n goeie lewe te lei en gehoorsaam te wees aan Abba Vader. Die mens wat beweer om bekeerd te wees en wat dink hy is veilig gevestig in God, maar wat lewe soos hy wil, nie omgee vir ander nie en ook nie omgee om ander te kul en seer te maak nie, se dade getuig mos dat hy nie lewe deur die Lewe en Liefde van God nie. Slegte dade getuig dat Jesus nie teenwoordig is in sy hart nie wat weer daarop dui dat hy nie ’n penwortel in die hart van God gegroei het nie en as daar nie ’n penwortel in die hart van God is nie, is hierdie persoon nogsteeds in die wêreld gewortel. Dit is hoekom hy leef soos hy wil. Mense, asseblief…ons kan nie kerk toe gaan en dink ons veilig en gered nie; ons kan nie met die “mindset” leef dat ons gered is omdat Jesus gesterf het aan die kruis en ons sondes vergewe is nie. Ons kan nie jok, kul of ander met skerp tonge bykom en dink ons is veilig omdat ons kerk toe gaan nie. As ons hierdie lelike goed doen, moet ons selfondersoek doen oor die oorsprong van hierdie lelike vrugte…

“Ek is die wynstok, julle die lote.  Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;  want sonder My kan julle niks doen nie.”
Johannes 15:5 (AFR33/53)

“Then the way you live will always honor and please the Lord, and your lives will produce every kind of good fruit. All the while, you will grow as you learn to know God better and better.”
Collosians 1:10 (NLT)

Geneem uit die boek:  Lig Saadjies

IMG_1091

Leave a comment