
DEPRESSIE… ’n woord wat eerder vermy word, want saam met hierdie (soms ‘duiwelse’) woord kom baie veroordeling uit verskillende rigtings. Sommige mense sien dit as die duiwel wat jou beheer en wil net die duiwel uit jou uitdryf, ander breek weer bloedlynvloeke om dit stop te sit. Baie mense beweer dat mense met depressie nie die Heilige Gees het nie… dat hulle dalk meer kerk toe moet gaan om na die dominee te gaan luister…. sodat hulle die Heilige Gees kan kry… dan sal hulle genees word. Al hierdie uitlatings is uiters belaglike argumente en al wat dit doen, is om die depressie-lyer net nog slegter te laat voel.
Is depressie ’n geestessiekte wat uit jou gees ontstaan? Baie mense beweer dat dit wel so is, maar dis net diegene wat nie die siekte het nie, wat met ’n veroordeelde vinger staan en wys na depressie-lyers wat hulle mening probeer staaf… ek weet nie waarmee hulle dit probeer staaf nie, want ek het nog nie ’n Skrif in die Woord van God raakgelees wat hierdie opinie van hulle bevestig nie. Dit is baie maklik om ’n vinger van oordeel te wys na iemand as jy nie eers ook in daardie bootjie was nie… en ek glo dit is hoekom ek ook in daardie bootjie is… sodat ek nie ander kan veroordeel nie, maar meer as een les hieruit moet leer om weer te skryf daaroor om ander te kan help.
Ek verduidelik hoe Abba Vader my gelei en geleer het oor depressie. Abba Vader laat my nie toe om ’n saadjie oor ’n onderwerp te skryf as ek nie self daardeur gegaan het nie, met ander woorde, as ek dit nie self ook beleef het nie. Ek self stap ’n pad met depressie – nie soseer met depressie self nie, maar meer met angs, maar angs en depressie loop in elkgeval hand aan hand. Dit is baie moeilik vir die mens self en dit is net so moeilik vir die mense om hulle – hulle geliefdes. So ek skryf hierdie stukkie nie net aan depressie-lyers nie, maar ook aan diegene wat lief is vir hulle.
Ons word as vleeslike mense gebore in ’n gebroke wêreld. NIEMAND word vleeslik perfek aanmekaar geweef nie, NIEMAND het perfekte gene nie. Die mens word vleeslik gebore uit die wil van die mens met vleeslike gene – sommige goed en sommige sleg. Die slegte gene kan later in ons lewe in siektes ontaard, wat ookal die lewenswyse van die mens. Depressie is ’n siekte net soos enige ander siekte byvoorbeeld diabetes, ’n swak hart ensovoorts. ’n Professor in die mediese veld het eendag mooi aan ons verduidelik hoe iemand depressie kry – dit is ’n depressie-geen wat die moeilikheid veroorsaak. Nie almal het hierdie depressie-geen nie, net soos almal nie ’n geen van ’n swak hart dra nie. As een ouer ’n depressie-geen dra, kan daardie fisiese geen oorgedra word na die kind toe. Die kind word nie gebore as ’n depressie-lyer nie, maar nogsteeds dra hy die depressie-geen wat eers sluimerend lê en wag. Die depressie-geen is soos ’n ligskakelaar – dit kan aangeskakel word en dit kan weer afgeskakel word. Die “ding” wat die depressie-skakelaar aanskakel, se naam is TRAUMA! Nie een van ons is gevrywaar teen trauma nie, want daar gebeur slegte goed in ons almal se lewens. As jy wel die depressie-geen dra en trauma slaan toe in jou lewe, word die depressie-geen aangeskakel en skielik verval jy in ’n depressiewe gat. Met ander woorde: Om depressie te kan kry, MOET jy die depressie-geen dra. ’n Mens wat nie die depressie-geen dra nie, sal nooit in sy lewe depressie ontwikkel nie… hy kan wel ’n gemoedstoestand ontwikkel en ’n biejtie “af” voel vir ’n ruk, maar hy sal nie in ’n depressie-gat val nie, want jy MOET daardie einste depressie-geen dra om depressie te kan ontwikkel. Iemand wat nie die depressie-geen dra nie, is in staat om trauma op ’n heel ander manier te verwerk, maar ongelukkig sien hulle hulleself as “sterk” mense en nie as swakkelinge wat maklik in depressie verval nie. Dit is juis hulle wat die lewe vir depressie-lyers baie moeilik kan maak, want hulle verstaan nie en weet nie hoe dit voel om in ’n depressiewe gat te val nie. Hulle weet nie hoe dit voel om angsaanvalle te kry nie, want angs en angsaanvalle loop hand aan hand met depressie. Hulle sien depressie-lyers as “swak” mense en plaas hulleself op ’n troontjie as sterk mense wat enigiets kan hanteer. Hulle eerste reaksie teenoor ’n depressie-lyer is gewoonlik: “Ruk jouself reg!”. Dit is die ergste ding om vir ’n depressie-lyer te sê… ’n mens voel alreeds magteloos en swak, soos ’n verloorder, en ’n mens kan onmoontlik nie jouself net regruk nie. Wanneer die depressie-geen aangeskakel word, skei jou brein nie genoeg van ’n sekere chemiese stof af nie en dit beïnvloed ’n mens se totale gemoedstoestand. Dit is dus ’n siekte in die brein net soos iemand siek kan word van hulle niere, lewer, hart of enige ander orgaan. So depressie is ’n siekte wat ontstaan as gevolg van ’n wanbalans in die brein.
Wat interressant is,is dat dit medies bewys kan word dat die ouderdom van ’n mens ’n rol speel om die depressie-geen in werking te stel. As ’n kind (wat wel die depressie-geen dra) op ’n jong ouderdom aan trauma blootgestel was, beteken dit nie hy gaan onmiddelik aan depressie begin ly nie, maar depressie hou daarvan om toe te slaan in die tienerjare wanneer die hormone ook nog deurmekaaar en nog nie so lekker in plek is nie. Na die tienerfase, kan die depressie verbeter, maar hulle reken dat die meeste mense wat die depressie-geen dra, op 40 weer in ’n depressiewe gat kan val. Daar is ontsettend baie mense daar buite wat ly aan depressie of angs, maar nie die waarheid in die oë wil staar nie, want hulle reken hulle is te “sterk” om aan depressie te ly. Hulle kies eerder om met die probleem saam te leef as om hulp te kry. Dit is nie maklik om met hierdie siekte saam te leef nie en gewoonlik maak depressie-lyers (wat nie op medikasie is nie) die lewe vir die mense om hulle baie onsmaaklik, want depressie veroorsaak woede-uitbarstings, frustrasie, ongeduld, liefdeloosheid teenoor homself en ander, hulle het nie lus vir die lewe nie… Dit is onregverdig van ons om die lewe vir ons geliefdes moeilik te maak omdat ons nie die waarheid in die oë wil staar nie… omdat ons nie geklassifiseer wil word as ’n depressie-lyer nie en omdat ons nie medikasie wil neem om ons te help nie… want ons is mos sterk….
Is depressie ’n siekte van die gees?
As julle die saadjie lees het oor Liggaam, siel en gees, sal julle verstaan dat die brein ’n orgaan is wat in die liggaam geleë is. Die brein is nie ’n deel van die gees nie, so hoe kan iemand sê depressie is ’n siekte van die gees as depressie ’n wanbalans in die brein is? Jou brein lê nie in jou gees of in jou siel nie – jou brein is ’n orgaan wat in die liggaam gevestig is. Hoe kan ’n mens sê dat iemand depressie het omdat hy nie die Heilige Gees in sy lewe het nie? Heilige Gees werk vanuit ons gees, nie vanuit ons liggaam nie. Ons liggame is net ’n fisiese “spacesuit” wat ons siel en gees huisves. Ons liggame sal tot niet gaan eendag, dit sal terugkeer tot stof, maar die gees bly lewe. So depressie het niks met jou gees te doen nie; dit is ’n depressie-geen wat in jou liggaam geleë is wat weer jou brein beïnvloed wanneer die geen “aangeskakel” word.
Gaan jy ontslae kan raak van depressie deur bloedlynvloeke te sny?
As ’n mens nou logies daaroor dink: Die mense wat glo in die vals lering oor die sny van bloedlynvloeke, sien depressie as ’n swak toestand van die gees, en as hulle nou in die gees die bloedlynvloek van geestesversteuring breek, sal die depressie verdwyn. Maar die oorsaak van depressie lê in die gene in die liggaam, en nie in die gees nie. As depressie ’n siekte van die brein is as gevolg van ’n fisiese depressie-geen in die fisiese liggaam, wat gaan dit help om bloedlynvloeke te sny? Die sny van bloedlynvloeke kan mos nie jou fisiese gene gou-gou verander nie, want as hulle so in die gees bloedlynvloeke sny, werk hulle mos in die geestesrealm… in jou gees. Moet tog asseblief nie so naïef wees nie! Om in die gees te spreek, kan baie gevaarlik wees en mense probeer daardeur God speel.
Wat van bevryding?
Kan bevryding nie dalk jou depressie wegvat nie? Daar is seker sommige gevalle waar bevryding nodig is, maar dit is nie die geval met ware depressie nie, want depressie is ’n siekte wat ontstaan uit ’n depressie-geen. Dit is nie ’n demoon nie! Ek glo daar is demone wat mense siek kan maak, maar dit is nie altyd die geval met depressie nie. Wanneer jy na aan God leef en Sy Lig skyn uit jou hart, kan die werkers van Satan (demone) in elkgeval nie naby aan jou kom nie. Maar nou moet ons hierdie saak uit alle rigtings bekyk, lees gerus die saadjie: Verwoesters in ons siel om hierdie gedeelte ook mooi te verstaan. As jy jouself simbolies kan sien as ’n boom, moet die top van jou boom oopgesny wees sodat die Lig van God geestelik binne-in jou kan inskyn. Wanneer die top van jou boom nog nie oopgesny is nie, kan die Lig van God jou ware menswees (jou geeshart) nie bereik nie, en as die strale van God nie tot binne-in jou siel en gees kan inskyn nie, kan daar verwoesters (demone) in jou siel wees wat ook simptome van depressie kan veroorsaak soos woede-uitbarstings, humeurigheid, geïrriteerdheid, ongeduld, tye van liefdeloosheid, ensovoorts. Hierdie verwoesters sal alleenlik padgee as die top van jou boom oopgesny word en die strale van God op hulle skyn. So as jy simptome het van depressie en die top van jou boom is nog nie oopgesny nie, kan dit wees dat daar verwoesters in jou siel is wat die simptome van depressie namaak. Dan gaan medikasie (anti-depressante) nie vir jou help nie, want die medikasie gaan fisies op jou brein werk, maar die verwoesters werk nie op jou brein nie, hulle werkskaf in jou siel wat jou emosies omkrap en omvergooi, jou humeurig en sommer ’n mislike mens maak. Die medikasie gaan dus nie die demone kan wegjaag nie, so dit gaan nie help vir die persoon nie – die simptome gaan maar net aangaan, al neem hulle medikasie. Al wat hulle gaan help, is om verhouding met Abba Vader te bou, om hul sondes raak te sien en te bely, om die Woord van God te bestudeer en om in die hart van God gewortel te raak. Dan word die top van die boom oopgesny en die werkers van Satan vlug. Die simptome van depressie sal dan verdwyn. Dit beteken hierdie mens het nooit die geen van depressie gehad nie, so die simptome van depressie was nie ’n wanbalans in die brein die, maar was veroorsaak deur demone.
As jy wel depressie het as gevolg van ’n wanbalans in jou brein (wat ‘n siekte is) en jy loop wel hand aan hand met Jesus (het verhouding met Abba Vader), sal die top van jou as boom oopgesny wees en kan die strale van God tot binne-in jou gees en siel inskyn. Daar sal dan nie verwoesters in jou siel kan wees nie, want hulle kan die Lig van God nie verdra nie en geepad onmiddelik as die Lig van God in jou inskyn. Dit is dan dus nie verwoesters in jou siel wat jou die simptome van depressie gee nie, maar ’n wanbalans in die brein en daarom sal medikasie kan help vir jou.
Onthou altyd – Satan en sy werkers kan die Lig van God nie hanteer nie en daarom sal hulle vanself padgee as die Lig van God op hulle val. Dit is baie gevaarlik om vir bevryding te gaan as die top van jou boom nog nie oopgesny is nie, want dit beteken jou siel en gees is nog duister en Satan en sy werkertjies is mal oor duisternis. Nou word hulle met groot woorde en ’n gebulder aangevat en uitgejaag, maar nogsteeds skyn God se Lig nie in jou in nie… en wat gebeur dan? Die werkers van Satan kom terug, maar hierdie keer bring hulle nog ’n paar maatjies saam wat jou toestand gaan vererger.
Met ander woorde, as die top van jou boom oopgesny is en die strale van God vul jou, sal jy weet of jou simptome veroorsaak word deur verwoesters in jou siel en of jy ’n swak depressie-geen het wat vasgevang is in jou vleeslike DNA. Ek glo dat God almagtig is en dat enigiets moontlik is met Hom, so ek glo Hy kan ons help om die depressie-geen weer af te skakel, maar dan sal dit gebeur op God se tyd.
Kan God ons genees van depressie?
Natuurlik kan God ons genees! Enigiets is moontlik vir Hom! Hy kan ons help om die depressie-geen weer af te sksakel sodat ons sonder medikasie kan funksioneer, maar nou moet ons ook net weer versigtig wees om nie die aangesig van God te soek nét om genesing te kry nie. Ons moet nooit net die hand van God soek nie, ons moet die hart van God soek, ons moet gewortel raak in die hart van God. Ons moet ophou fokus op onsself en ons fokus moet verskuif na Abba Vader, om te leef tot Sy heerlikheid en om vir Hom vrugte te dra. As God praat van totale genesing in die Woord van God, is dit eerstens genesing van ons geeshart… om die toestand van ons geeshart te herstel en genees, want dit is ons geeshart wat vir God belangrik is, nie ons fisiese liggame nie. Ek sê ook nou nie ons fisiese liggame is nie vir God belangrik nie, maar verstaan asseblief wat ek probeer sê dat ons geesharte vir God die belangrikste is, want dit is die toestand van ons geeshart wat ons aan God koppel of nie. ’n Dormante geeshart sonder die Lig van God, is nie gekoppel aan God nie, maar dit is waaroor dit vir God gaan – dat ons verhouding met Hom moet hê, dat ons Sy Beeld sal reflekteer. As jy die saadjie gelees het: Die mens as die beeld van God? sal jy sien ons reflekteer die Beeld van God uit ons gees, dit het niks met ons liggame te doen nie, dit het niks met ons vleeslikheid te doen nie, en die depressie-geen lê nie in ons gees nie, dit lê in ons vlees – in ons liggaam. So niemand kan met die argument kom dat ons gemaak is (vleeslik) na die Beeld van God en ons daarom nie gebore kan word met slegte fisiese, vleeslike gene nie – dan kan ons kwansuis nie gebore word met ’n depressie-geen nie, maar gee ’n demoon dit vir ons. Dit kan nie so wees nie. Om die Beeld van God te reflekteer, het niks met ons liggame te doen nie, dit het alles met die toestand van ons geeshart te doen. So as jy ly aan deperessie, is dit nie omdat jy nie ’n kind van God is nie, dit is omdat jy ongelukkig ’n fisiese depressie-geen geëerf het by een van jou ouers. Dit het niks met jou gees te doen nie en dit kan ook nie jou gees beïnvloed nie. Ons moet net bly vertoef in die Woord en die teenwoordigheid van Abba Vader, maak nie saak wat in ons liggame aangaan nie. Dit gaan nie oor jou vleeslike DNA nie, dit gaan oor jou Goddelike DNA, daardie saadjie wat Abba Vader binne jou geplaas het… daardie saadjie waarop die Lig van God moet val sodat dit kan ontkiem om te groei binne-in die hart van God in… dan sal die Lewe van God vanuit jou geeshart begin borrel. Die Lewe word versprei na jou sielsdimensie (jou gedagtes, emosies en eie wil) en dit begin jou as mens verander. Jou gedagtes, waardes en beginsels begin verander en hoe meer die Lewe van God ons verander, hoe meer raak ons gefokus op die heerlikheid van God, om gehoorsaam te wees aan Hom, maak nie saak of ons ’n swak depressie-geen dra nie! Raak gefokus, gevestig en gewortel in die hart van Abba Vader.