Hierdie saadjie loop hand aan hand met die saadjie “Die Brood van die Lewe”. As jy dit lees, sal jy sien die mense in Johannes 6 was nie tevrede met die Brood van die Lewe wat God aan hulle gebied het nie, dit was nie vir hulle genoeg nie, hulle het gesmag na meer, na genesing en wonderbrood … Jesus het geweet hulle volg Hom net vir dit wat hulle daaruit kan kry, daarom het Hy dit wat hulle van Hom wou hê, nie aan hulle gegee nie, maar het Hy Homself aan hulle as die Brood van die Lewe gebied. Hulle wou eers ’n wonderwerk of ’n teken van Hom sien voordat hulle in Hom sou glo. Jesus het aan hulle verduidelik dat hulle op Hom moes voed en dat Hy die enigste Brood is en wat het gebeur? Hulle het omgedraai en weggeloop. Hulle kon nie verstaan wat Jesus bedoel deurdat Hy sê Hy is die Brood van die Lewe en dat hulle op Hom moet voed nie. Hulle sou in Hom glo as Hy aan hulle ’n teken gee en wonders doen, maar hulle kon nie in Hom glo net omdat Hy sê Hy is die Brood van die Lewe nie. Hoekom sal hulle volg as Hy nie aan hulle tekens en wonders wil wys nie? Mense wat ’n teken soek as voorwaarde om in Jesus te glo, is soos die Fariseërs wat Jesus versoek het in Mattheus 16 en Jesus sê vir hulle:
“Julle weet mos goed om die weer te voorspel. In die aand sê julle: Môre gaan dit mooi weer wees. Kyk net hoe rooi is die lug. En wanneer die lug toegetrek is sê julle: vandag gaan dit onweer wees. As julle so goed is met die weer, hoekom kan julle dan nie die tyd reg lees nie? Kan julle nie sien wie nou by julle is nie? Julle spul sondaars is op soek na tekens. Julle wil ’n bewys hê dat God deur My werk. Weet julle dit is net My vyande wat allerhande tekens wi hê. Die enigste teken wat Ek bereid is om vir julle te gee, is die van Jona wat drie dae lank in die maag van ’n vis was. My lewe sal ook vorentoe soos die van Jona verloop. Jesus het toe omgedraai en weggestap.”
Niks het verander nie. God bied vandag nogsteeds aan ons die Brood van die Lewe om op te voed, maar vir baie mense, veral jong gelowiges, is dit net nie genoeg nie, hulle soek meer, hulle soek wonders en tekens om waarlik te glo. Die Woord is vir hulle vervelig om te lees, hulle soek iets meer interessant, hulle soek opwinding, hulle wil dinge sien gebeur… en daarom staan Satan en wag vir hulle met ’n lekker vet stuk “steak”, wat dieselfde is as die suurdeegbrood – dit is deurtrek met dwaalleringe. Jong gelowiges is ‘n baie maklike prooi vir Satan, want hy weet hulle het nog geen onderskeidingsvermoë nie, al dink hulle hulle het. Satan lok hulle na hom met interessante leerstellings in geestelike boeke, praatjies, DVD’s en samekomste, en dis hier waar hy die giftige vleis aan hulle bedien wat hulle gees vergiftig. Hulle besef dit nie, want die boeke, praatjies ensovoorts gaan dan oor God, dit is gebasseer op Skrif, maar hulle besef nie wie die Skrif aan die skrywers geïnterpreteer het nie.
God sal nooit aan ’n jong, onvolwasse gelowige geestelike vleis gee om te eet nie, want net soos ’n baba wat leef op melk, is sy maag nog nie sterk genoeg om vleis te kan verteer nie. Net soos jy nie vir ’n baba ’n stuk vleis gaan gee om sy honger te stil nie, net so kan ’n jong gelowige, wat nuut op die pad van God is, nie op geestelike vleis voed nie, maar alleenlik op melk, en dit is die onvervalste Woord van God.
“Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.”
1 Petrus 2:2 (Afr. 33/53)
“Milk is for beginners, inexperienced in God’s ways; solid food is for the mature, who have some practice in telling right from wrong.”
Hebrew 5:14 (The Message)
God gee vir ons die Woord as die onvervalste melk om op te voed, sodat ons daardeur kan opgroei en volwasse in die geloof raak. Eers wanneer ons volwasse in die geloof raak, gee God aan ons geestelike onderskeidingsvermoë. Hebreërs 5:13,14 sê dat vaste spys vir volwassenes is wat geestesvermoë besit, wat goed en kwaad van mekaar kan onderskei, dus, wanneer God weet ons is gereed, sal Hy ons aan meer as melk voorstel – wanneer Hy weet ons sal kan onderskei of dit Waarheid of leuens is.
Mense wat wondertekens wil sien as voorwaarde om te glo in Jesus Chrisus, plaas hulleself in ’n lewensgevaarlike situasie, hulle is Satan se prooi omdat hulle baie maklik sy leuens glo. Satan is baie listig en hy weet baie goed wie hierdie mense is wat wondertekens soek. Hy kan sekere wonders en gawes van God naboots en hy bied hierdie wonders en gawes aan honger mense wat nie op die melk van die Woord voed nie, maar wat dadelik wonders en tekens wil sien. Hy weet hulle gaan nie agterkom dat dit alles leuens is nie.
Kyk wat het gebeur met die mense in Numeri 11 – terwyl die Israeliete deur die woestyn getrek en God vir hulle gesorg het, het Hy aan hulle manna gegee om op te voed, maar hulle was ontevrede daarmee en het gemurmureer na meer – hulle wou vleis hê. Die onvergenoegdheid van die volk het God baie kwaad gemaak, want God gee altyd die beste. As Hy geweet het vleis is goed vir die volk, sou Hy aan hulle vleis voorsien het, maar God het geweet manna is die beste vir hulle. Hy het hulle ’n les geleer deur kwartels te laat neerreën…
“Die vleis was nog tussen hulle tande, hulle het nog nie begin kou nie, toe ontvlam die toorn van die Here teen die volk. Hy het baie van hulle om die lewe gebring.”
Numeri 11:33 (Afr. 33/53)
Net soos God aan die Israeliete manna gegee het, gee Hy aan ons die wonderbaarlike Woord om op te voed. Hy weet dis die beste vir ons, veral wanneer ons nog jong gelowiges is. Soek en leer ken vir Jesus deur die Woord en nie deur ander geestelike boeke nie. Ons moet die Woord eers goed ken sodat ons later, wanneer ons ander boeke lees, kan onderskei of die inligting daarin waarheid of leuens is. As ons nie die Woord goed ken nie, hoe gaan ons weet die inligting in ander boeke is van God af? Hoe gaan ons weet dit is die Waarheid en wat moet ons glo?
Moet asseblief nie so naïef wees en die fout maak om van die een geestelike bykoms na die volgende te hardloop om tekens en wonders te sien nie. Ons moet Jesus deur die Woord leer ken en nie deur tekens en wonders nie.
As jy die saadjies gelees het wat handel oor die boom wat gewortel moet wees in God, sal jy weet dat wanneer ons alleenlik voed op die Woord van die Lewe, ons worteltjies in die Woord ingroei. Net so groei daar worteltjies vanaf die Woord in ons wese in, oppad na ons geeshart. Soos die wortels van die Woord in ons ingroei, skyn dit ’n lig op al ons oortredinge sodat ons dit kan raaksien, besef dit is verkeerd, die keuse maak om ons rug daarop te draai en God om vergifnis vra daarvoor. Die Woord maak ons dus skoon en as ons nie suiwer Woord inneem nie, word ons nie geheilig en skoongemaak nie. Jesus sê vir Sy dissipels in Johannes 15:3 dat hulle alreeds rein is deur die Woord wat Hy spreek. Efesiers 5:26 sê ook ons word gereinig deur die waterbad van die Woord – sonder hierdie skoonmaakproses sal ons nie in die hart van God kan ingroei nie, want soos God ons vergewe, breek die blokkasies oop en stel dit die wortels in staat om dieper in ons wese in te groei totdat dit ons geeshart bereik en ons geesmens uit dormansie wakker skrik. Dan eers kan ons waarlik in God begin glo en wanneer ons met ons hele hart in God glo, ontwikkel ons ’n penwortel wat ook in die Woord van God ingroei, maar hierdie penwortel is so kragtig dat hy deur die Woord tot binne-in God se hart kan groei. Die penwortel se naam is ‘’Geloof” en wanneer die wortel die hart van God bereik, kan die wortel die Lewe van God opneem, dit terugneem na die geeshart van die mens waar dit dan deur die hele wese van die mens versprei word. Die mens is dus nou gewortel in God en gevul met die Lewe van God. Ons word alleenlik gevul met die Lewe van God wanneer ons begin by die begin en voed op die Lewende Woord.
Wanneer die Woord vir ons te verveeld is om op te voed en ons kies om eerder te voed op allerhande interessante geestelike dinge, kan ons nooit wortels in die Woord van God ingroei nie. Daar groei geen wortels in die Woord van God of in die hart van God in, deur geestelike boeke, wat net die Woord aanhaal nie. Ons groei ook geen wortels in die Woord of in die hart van God in deur allerhande geestelike byeenkomste by te woon nie. Diegene wat kies om te voed op iets anders as die Woord, word gewortel in die dwalinge waarop hulle voed. Dwaalleringe kan jou ook nie skoonmaak soos die Woord nie, so daar is geen heiligmaking nie. As jy nie gevul is met die Lewe van God nie, het jy ook geen onderskeidingsvermoë nie en sal jy nie kan onderskei tussen leuens en Waarheid nie. Om die leuens van Satan te kan raaksien, het jy nodig om die Woord van God baie goed te ken, nie net te ken nie, maar God moet die Woord aan jou oopbreek en verduidelik. Die Gees van God interpreteer die Woord aan ons eers wanneer ons gewortel is in die hart van God, want dan eers ontvang ons ook die Gees van God in ons harte, wat die Woord aan ons gaan interpreteer.
Met ander woorde, aan die begin van ons wandel met God, moet ons onsself dwing om alle geestelike dinge uit te los en alleenlik te voed op die Woord van God. Dit kom maar net weer daarop neer dat ons in afsondering moet inbeweeg, dat ons moet vas van al die wêreld se verdraaide leringe en ons moet God toelaat om ons te leer deur Sy Woord. Wanneer ons kies om eerder te voed op allerhande geestelike dinge, is die kans baie groot dat ons wortels in dwaalleringe gaan ingroei wat gesetel is in die bose sand van die wêreld. So, as jy geestelike boeke, praatjies, DVD’s ensovoorts verkies bo die Woord van God, gaan jy tien teen een die leuens van Satan gevoer word, gaan jy dit glo en gaan jy daarin gewortel wees. Bome wat gewortel is in die dwaalleringe van die wêreld, groei baie hoë, “impressive” bome, gewoonlik met baie mooi groen blare en geen vrugte nie. Dwaalleringe pomp bome vol trots, hoogmoed en arrogansie, dit is wat van hulle sulke hoë bome maak en dit is gewoonlik die eerste tekens wat jy ook sal optel aan ’n mens wat oorgelewer is aan dwaalleringe. Hulle druk hulle ore toe vir die Waarheid, hulle wil glad nie luister as ’n mens die Waarheid met hulle wil deel nie. Hulle glo dat net hulle reg is, dat net hulle die uitverkorenes is en hulle sien baie maklik neer op ander mense wat nie in hulle dwalinge wil glo nie. Hulle is gewortel in trots, hoogmoed en arrogansie en hierdie lelike eienskappe laat groei hulle so hoog dat hulle hulle toppe bo die wolke in die hemel wil insteek. Dit laat my dink aan die hoogmoed van Jesaja 14:13,14:
“En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogstes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste.
Hierdie bome glo hulle is gered, dat hulle weergebore is, maar al die tyd is hulle nie eers in God gewortel nie en ontvang hulle nie die Lewe vanaf God nie. Hulle kerns is dus droog en dood omdat hulle nie die Lewe van God deur ’n penwortel van geloof ontvang nie. Mense wat oorgelewer is aan dwaalleringe, is geestelike dood.
Mense raak vir my baie kwaad omdat ek behoortlik alles dwaalleringe noem, maar ek dink nie ons besef hoe verskriklik besmet die wêreld met dwaalleringe is nie, en as ons daarmee deurmekaar is, is ons aan Satan se kant. Die maklikste manier om dwaalleringe uit te ken, is dat dit glad nie vir ons uitgestip is in die Woord nie. Alles is uit die duim uitgesuig en daar is baie dinge wat hulle beweer, wat hulle nie duidelik uit die Skrif kan bewys nie. Hulle haal Skrif aan wat hulle dink betrekking het op hulle dwaling, maar hulle lei dit dan net af van die Skrif, dit bevestig niks.
Wat my bekommerd maak, is hoe lank God se geduld nog sal wees met die mensdom wat hulle vergryp aan die vleis van Satan en nie wil voed op die suiwer melk van Sy Woord nie? Net soos Hy die aarde kon laat verspoel en net 8 mense gered het van die vloed; net soos Hy vuur op Sodom en Gomorra kon laat neerreën het, net so kan Hy in vandag se tyd nodgsteeds Sy woede op die menskom uitgiet. Gaan ek en jy as boom staande kan bly as God Sy grimmigheid oor die aarde uitgiet?
Die groot probleem wat hoë bome met droë kerns het, is dat God de laaste boom op aarde gaan toets met vuur. Bome wat in Hom gewortel is, wie se kerns lewe met die Lewe van God, kan nie aan die brand slaan nie en sal nie hulle geloof verloor nie, maar sal eerder van krag tot krag gaan. Daarteenoor, sal hoë bome met droë kerns se kerns aan die brand slaan en sal die geloof, waarin hulle gewortel is, tot as verbrand. Dit is dan die doel van God…Hy kan vuur stuur, om hoë bome wat gewortel is in leuens en dwaalleringe, tot op die grond af te brand, sodat die mens self kan besef dat hy heeltyd ’n leuen geglo het.
“So sê die Here my God: “Ek gaan jou aan die brand steek. Elke groen boom en elke droë boom in jou gaan verbrand. Die vlamme sal nie geblus word nie, dit sal elke gesig skroei, van die suide van die land af tot in die noorde. Als wat leef, sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het. Dit sal nie geblus word nie”
Esegiël 20:47-48 (Afr. 33/53)
Mag God ons genadig wees.