Verwoesters in ons siel

images

“Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale…”
Maleagi 4:2 (AFR83)

Onder gebed wys Abba Vader my ’n woud waar die bome baie na aan mekaar staan en die toppe van die bome is baie dig – so dig dat daar geen lig in die woud kan inskyn nie. Die woud is in pikdonkerte gehul. Ek sien ’n beweging tussen die bome en probeer fokus om te sien wat dit is… Tussen die bome hardloop klein, swart mannetjies vinnig rond met klein byltjies in hulle hande en soos hulle hardloop, kap hulle die baste van die bome stukkend. Dit lyk asof hulle iets probeer uitkerf op die boombaste, iets soos ‘n merk of ‘n teken, maar wat hulle ookal doen, hulle is verseker besig om die baste van die bome te verwoes. Wanneer hulle my sien, hardloop hulle vinnig weg en kruip agter ander bome weg. Nou en dan loer hulle om die bome, so asof hulle net wag dat ek my rug moet draai sodat hulle kan aangaan met hulle verwoesting.
Abba Vader begin my verduidelik dat die toppe van die bome so dig is met die gevolg dat die Lig van God nie kan inskyn op die stamme van die bome nie, daarom is dit so donker en duister in die woud. Die stamme van die bome simboliseer die siel van die mens en die verwoesters is die werkers van Satan, dus demone. So lank as wat die siel van die mens in duisternis gehul is en God se Lig nie daar kan inskyn nie, kan die werkers van ongeregtigheid onverpoos aangaan met verwoesting in die siel van mens.
Die digte takke simboliseer sonde en verkeerde dade van die mens wat nie bely word aan Abba Vader en afgesny word nie. Wanneer ons tot ware bekering kom en ons ons sondes vierkantig in die oë kyk om dit aan God te bely, sal Hy ons daarvoor vergewe, en soos ons deur die krag van God die sonde oorkom, sny Hy die takke oop. Die mens wat net met die mond tot bekering kom, maar sy sondes nie laat staan nie, se takke word nie oopgesny nie.
Ek stel my fokus in op die blaredak en let toe op dat die blare regtig baie mooi, diep groen en massief is. Baie blare aan ’n boom is nie ’n goeie ding nie, want dit simboliseer dooie werke – as jy ’n boom sien met mooi groot, groen blare, lyk die boom tog op die oog af baie gesond, maar is daar vrugte tussen die mooi blare teenwoordig? As jy van bo af na so ‘n boom kyk, gaan jy ook nie deur die mooi blaredos die boombas kan raaksien wat so verwoes word deur die onheilswerkers nie. Moet jou nie laat flous deur ’n boom met mooi, groen blare wat gesond lyk nie, want hierdie mooi groen blare is net ’n masker sodat die res van die wêreld nie eintlik moet sien wat gaan aan in die dieper wese van die mens nie. Die toestand van die geeshart word dus weggesteek agter die pragtige blaredos. Adam en Eva het hulle geestelike sterfte probeer wegsteek deur groot vyeblare, maar God sien dwarsdeur blare en Hy sien en weet presies wat in die geesmens aangaan. Fariseërs kruip weer weg agter mooi, groen blare van godsdienstige werke, reëls en wette. Hulle vertoon aan die wêreld ’n mooi prentjie van ’n gesonde boom deur al die uiterlike dinge reg te doen, maar wat gaan in hulle harte aan? Is daar Goddelike vrugte tussen die baie blare? Hulle werke is dooie werke of werke van eie-geregtigheid wat werke sonder vrug is en ons weet wat maak God met ’n boom sonder Goddelike vrugte. Jesus sê in Mattheus 7:

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in U Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk.”
Mattheus 7:21-23 (AFR33/53)

Omdat die blaredak so dig is, kan die Lig van God nie skyn op die boombas (die persoon se sielsdimensie) nie. Takke van sonde tesame met baie blare van dooie werke, keer die Lig van God om nie dieper die mens in te skyn nie. As God se Lig nie in ons wese inskyn nie, kan die duisternis binne ons nie verdwyn nie. 1 Johannes 1:5 sê dat God Lig is en daar waar God teenwoordig is (die Lig) vlug alle duisternis (die bose). Vir so lank as wat die Lig van God nie deur die digte blaredak kan inskyn nie, vir so lank kan al die verwoesters aangaan met hulle verwoesting in die emosies en denke. Hoe kry ons hulle weg? Wat is die antwoord? Moet ons vir bevryding gaan? Ek glo dat daar sekere gevalle is (waar mense regtig beheer word deur demoniese werking) wat eers vir bevryding moet gaan voordat hulle verder hulp kan ontvang, maar nie in alle gevalle nie. Dink gou vir jouself… die mens gaan vir bevryding voordat hy waarlik tot bekering gekom het; hy stap dus nog nie die pad saam met Jesus het. Die verwoesters word met die bevrydingsessie weggejaag uit sy siel, maar gaan hulle wegbly? Onthou net, hulle vlug alleenlik wanneer die Lig van God permanent in ons inskyn. Omdat hierdie persoon nog nie tot ware bekering gekom het nie, het hy ook nog nie sy sonde aan God bely nie, dus is die sondetakke van die mens nog nie oopgesny nie. As die sondetakke nog nie oopgesny is nie, is die sielsdimensie van die mens nogsteeds in duisternis gehul en onheilswerkers hou van duisternis… hulle sal terugkeer na die duisternis, want Lukas 11:24-26 sê dat wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het’. Hy kom en vind dit uitgevee en versierd; dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hyself, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste… So, dit is Satan se droom dat die mens moet gaan vir bevryding sonder dat die onvrugbare takke oopgesny is, want dan is God se Lig nog nie teenwoordig binne die mens nie en kan Satan sommer nóg demone saamstuur… hoe meer demone in die mens gehuisves is, hoe beter het Satan beheer oor die mens en sy lewe, en hoe meer gaan die mens al Satan se leuens glo wat hy die mensdom voer. Lees of luister ook asseblief die saadjie wat handel oor suurdeegbrode, want hierdie tipe bevrydingskursusse is die einste plekke waar Satan jong gelowige en naïewe mense om die bos lei en aan hulle suurdeegbrood voer. Dit is hier waar hy hulle vasvang in sy strikke en hulle lei op sy pad na die hel. Direk na ’n bevrydingskursus voel die persone baie goed en vry, maar gee tyd… as die demone hulle vesting mooi skoon vind, stroom hulle op strepe terug. Hulle het die reg om terug te keer, want die boomtoppe is nie oopgesny nie, dus is God se Lig nie aanwesig in die persoon nie. Waar die Lig van God nie skyn nie, is duisternis, en waar duisternis is, krioel die werkers van Satan
Om hierdie rede is dit baie gevaarlik om vir bevryding te gaan as jou hart nog nie ten volle aan God behoort nie of as die Lig van God nog nie ten volle in en deur jou skyn nie. Dit voel vir my mense gebruik bevryding (saam met die sny van bloedlynvloeke) as ’n kitsoplossing om beter te voel of dat dit beter met hulle moet gaan… dan gaan dit mos oor die mens en sy eie behoeftes en glad nie oor liefde vir Abba Vader nie. Al wat verwoesters permanent laat padgee, is die ware Lig van God, want daar waar God se Lig teenwoordig is, vlug die bose. Ons het dus nie nodig om te gaan vir ’n bevrydingskursus nie, ons het die Woord van God nodig om aan ons ons sondetakke en groot blare uit te wys. Vir die Lig van God om te skyn op ons sielsdimensie, is dit noodsaaklik dat ons eers ontslae raak van al die baie groot blare en takke van sonde en daarvoor moet ons vir God vra om ons sondes aan ons uit te wys sodat ons dit kan erken en aan Hom kan bely. Vir so lank as wat ons aangaan met vals godsdienswerke, sonde en onheilighede, sal ons nooit God se Lig op ons hart of siel ervaar nie, en dan sal ons ook nooit geestelike genesing kan ontvang van die verwoesting wat die bose aanrig nie. Die werk van die bose binne ons veroorsaak dat ons humeurig en frustreerd raak, dat ons soveel onvrede beleef, ongelukkigheid, twisgierigheid en ons word sommer net moeilikheid-makerig… al hierdie negatiewe optredes en gevoelens kom uit ons siel, en so lank as wat God se Lig nie skyn op hierdie verwoesters nie, sal ons nie beter kan voel nie. Vir so lank as wat God se Lig nie op ons hart en siel skyn nie, het hierdie verwoesters die volste reg om te knaag aan ons van binne af. Hulle veroorsaak oneindige skade aan die binnekamers van ons siel en hart.

1 Johannes 1 sê dat as ons ons sondes bely, God getrou is en Hy sal ons vergewe vir ons ongeregtighede. As ons die keuse maak om ons rug op die sonde te draai en te bely aan God, snoei Hy die boomtop oop sodat Sy Lig kan val op die verwoesters van ons lewe. Dit is baie belangrik dat ons die wortel van kwaad uitroei voordat God die tak gaan afknip. Hierdie verwoesters kan die Lig van God nie verdra nie, dit verblind hulle en hulle sal vinnig ’n ander heenkome soek. Die Lig van God ontbloot dus al die werke van die onheilswerkers binne ons.

Die volgende oggend, na Abba Vader die boonste gedeelte vir my verduidelik het, gee Hy vir my Psalm 74. Kyk die mooi bevestiging:

DIE VERWOESTE HEILIGDOM
“Hef u voete op na die ewige puinhope: alles het die vyand in die heiligdom verniel;  U teëstanders het binne-in U vergaderplek gebrul; hulle het hul tekens as tekens gestel. Dit lyk soos wanneer iemand BYLE omhoog hef in die DIGTE PLEK BOME, die houtsnywerk daarvan het hulle alles met BYL en HAMERS stukkend geslaan.”
Psalm 74:3-6 (AFR33/53)

Die Boodskap sê: Ons vyand het alles wat ons het, verwoes, ook U woonplek. Die vyand het met die hulp van sy werkers die heiligdom van God verwoes. Hierdie heiligdom is die tempel waarin God wil woon, en ons is die tempel waarin God wil woon, want 1 Korintiërs 3:16 sê:

“Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”
1 Korinthiërs 3:16 (AFR33/53)

Om hierdie saadjie op te som: Die Lig van God is ’n noodsaaklikheid wat moet skyn tot binne-in ons siel, maar ons sondes en verkeerdhede is die baie takke en blare wat keer dat God se Lig nie in ons wese kan inskyn nie. Ons moet ons sondes en verkeerdhede waarvan ons bewus is, verwerp uit ons lewe, dit voor God bely sodat Hy ons kan vergewe en dit wegsny uit ons lewens. Dan kan God se goue, genesende strale binne ons siel inskyn. Om hierdie groot vrugtelose takke te laat afsny, is JOU besluit, jy moet die regte keuse maak en besluit om sekere dinge in jou lewe te laat vaar. Baie keer is dit mense wat ons nog (of dalk weer) moet vergewe. As jy sekere dae vreeslike buie ervaar, soos hartseer, humeurigheid, fustrasies ensovoorts, is daar dalk klein swart mannetjies wat kap aan jou siel se bas… Jy kan vry kom daarvan. Jesus kan jou vry maak van hierdie seer. Gaan sit by Jesus se voete en praat met Hom, vertel Hom van jou seer soos jy dit aan ‘n persoon sal vertel. God sal deurkom vir jou op die regte tyd. Op God se tyd sal Hy jou genees van daardie seer, maar dit gaan moeite en toewyding van jou kant af ook vat. Jy moet tyd maak vir God, vir Sy Woord, om te bid en met Hom te gesels. Soek God in die Woord en jy SAL Hom vind. Hy is die enigste Weg, Waarheid en Lewe. Hy is die enigste Geneesheer wat jou graag van die klein swart mannetjies wil bevry. Hy wag dat jy moet vra daarvoor. Hy wag dat jy jou sondes bely voor Hom… Moenie uitstel nie, dit is absoluut die moeite werd as jy eers vir God gevind het en Hom leer ken vir die liefdevolle en goeie God wat Hy is. Demoniese bevryding alleen is nie die antwoord nie. Jesus is die enigste Weg, Waarheid en Lewe. As ons bewus is van groot, groen, ongoddelike blare, ongoddelike vrugte of selfs vrugtelose, digte takke, moet ons onsself verneder voor God sodat Hy ons kan reg snoei, anders staan ons die gevaar dat God ons sal afbrand met vuur. Dit kom maar net weer terug na Mattheus 7:19 wat sê dat daar groot probleme wag vir bome wat slegte vrugte dra, want hulle gaan afgekap en in die ewige vuur gegooi word. Kyk ook wat sê Maleagi 4:1,2:

“Die dag kom en hy brand soos n oond. Die wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal soos kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie n WORTEL, NIE ‘n TAK OORBLY NIE. Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die SON VAN REDDING SKYN MET GENESING IN SY STRALE.”
Maleagi 4:1,2

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s