Waar kom siekte vandaan?

Waar kom siektes vandaan?  Kom dit van God af?  Is dit Hy wat mense tref en hulle siek maak of is dit die werk van Satan?  Of bring mense siektes oor hulleself deur sonde en verkeerde keuses?  Is dit dalk iets wat jou voorouers verkeerd gedoen en sodoende ’n vervloeking op jou lewe geplaas het?

As jy die vorige saadjies gelees het, sou jy sien dat ons as sondige, vleeslike mense gebore word met ’n vleeslike DNA.  Niemand is perfek nie en almal het maar hier en daar ’n ’n swakker geen wat ons fisies by ons ouers gekry het wat ons kan siek maak.  Ek glo dat Abba Vader daardie geen sluimerend kan laat lê, met ander woorde, dat hy nie geaktiveer word om ons siek te maak nie.  As die siekte-geen wel geaktiveer word, is dit soos ’n skakelaar wat aangeskakel word, maar ek glo dat Abba Vader daardie skakelaar weer kan afskakel.  Dus, ons vleeslike, liggaamlike gene wat ons fisies by ons ouers geërf het, kan ons wel siek maak…  Om meer hieroor te lees, lees gerus die saadjie oor Depressie…  

Dan is daar die geval waar ons siekte oor onsself kan bring deur verkeerde keuses!  Wanneer ons nie op die pad van God wandel en nie Sy wil soek nie, maak ons verkeerde keuses wat God nie verheerlik nie en wat vir ons slegte omstandighede in die toekoms kan veroorsaak, byvoorbeeld kanker.  Lees gerus die vorige saadjie oor verkeerde keuses wat ons maak wat KANKER – dit kan ‘n wortel van bitterheid wees 

Ontstaan siekte deur bloedlynvloeke?

Hierdie groep mense glo dat siekte ontstaan as gevolg van ‘n generasievloek en dat die sonde van die voorouers aan hulle openbaar moet word sodat hulle vergifnis kan vra vir die spesifieke sonde van die voorouers –  dan sal die vloek wat byvoorbeeld siekte veroorsaak, gebreek word deur hulle kragtige woorde en sal hulle vry wees van die vloek van die voorouers en sodoende sal hulle genesing ontvang.  Die probleem is net:  Die breek van generasievloeke word nêrens in die Woord gestaaf nie.  Inteendeel, in Johannes 9 het Jesus verby ’n man gestap wat van geboorte af blind was.  Sy dissipels vra Hom toe:

“Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?”

Maar Jesus antwoord hulle:

“Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie;  maar die werke van God moet in hom openbaar word.”

Met ander woorde, die dissipels het ook gedink dat die sonde van die voorouers ’n vervloeking op die nageslag kan plaas met die gevolg dat iemand in die nageslag gestraf sal word met siekte.  Hier sê Jesus self die siekte van die blinde man is nie as gevolg van sy ouers of sy eie sonde nie, maar dat die werk van God in hom openbaar kan word.  Nêrens in die Nuwe Testament waar Jesus aan die woord is, het Hy ooit ’n generasievloek gebreek om ’n mens gesond te maak nie.  Hy het nooit die blaam op ’n generasievloek geplaas nie.  Esegiël 18 sê ook direk dat die kind nie gestraf sal word vir sy ouers se ongeregtighede nie, maar dan moet die kind nie aangaan met die ongeregtighede van die ouers of voorouers nie.  As die voorouers deel was van ’n ongoddelike sekte en die kind maak ook deel uit van die sekte, plaas die kind vervloeking op homself!  Hy moet breek met die sonde van sy voorouers, met ander woorde, kinders moenie aangaan met die sondes van hulle ouers nie.  Hulle moet die sonde kan raaksien as rebellie en ongehoorsaamheid teenoor God en nie die voorbeeld van die ongehoorsame ouers volg nie – dan is daar geen manier wat die kind gestraf sal word vir die sondes van die ouers nie.  Elke mens dra die gevolge van sy eie sonde, so nee, dit is nie die sondes van jou voorouers wat ’n siekte op jou gelê het nie.  Die lering  oor die sny van bloedlynvloeke om genensing te bekom, is van die duiwel af waarvan mense hou, want dit is ’n “quick fix”.  Om meer te lees oor die vals lering oor die sny van boedlynvloeke, lees gerus die saadjies oor bloedlynvloeke…

Kan Satan vir ons siektes gee? 

Deur sy werkers… demone…verseker!  Kyk net in die Woord van God hoeveel keer het Jesus ’n demoon uit ’n mens weggejaag en dan was die persoon gesond.  Hou nou in gedagte dat Jesus op daardie tydstip nog nie die Gees van God vrygestel het nie, so niemand het die Lig van God uit hulle harte geskyn nie en daarom kon die werkers van Satan seëvier onder die mense.  Later het Jesus gesterf aan die kruis en het Hy die Gees van God vrygestel op aarde om in ons harte te kom woon sodat ons die Beeld van God kan reflekteer.  ’n Persoon wie se hart nie skyn met die Lig van God nie, se hart is duister en hierdie persoon het geen verweer teen die werkinge van Satan nie.  Moet ook nou asseblief nie die fout maak en dink dit is net sataniste wie se harte oorgegee is aan Satan nie…  Die kerke is ook vol mense met duistere harte, mense wat met die mond getuig om in Jesus te glo, wat beweer hulle is bekeerd en wedergebore, maar wat geen verhouding met Abba Vader het nie en leef soos hulle wil… want Jesus het mos alreeds gesterf om hulle sondes te vergewe;  hulle dink dat solank hulle met die mond getuig om ’n Christen te wees, hulle veilig en verlos is van die bose… Die mensdom is ongelukkig so mislei!  Die mens wat nie ’n daaglikse verhouding met Abba Vader het nie, se hart is nie gevul met die Gees van God nie, dus skyn die Lig van God nie uit hierdie persoon se hart nie en as daar geen Lig uit ons harte skyn nie, is ons ongelukkig oorgelewer in die hand van die bose.  Kerke leer ook dat Christene nie demone kan hê nie en ongelukkig glo almal wat in die kerk sit dat hy/sy ’n Christen is en dus nie demone kan hê nie… en Satan lag lekker vir hierdie mense, want hy beheer al die tyd die sogenaamde “Christene” wat net met die mond tot bekering gekom het.  Hy kan enigiets in hulle lewens laat gebeur.  Om terug te kom na die vraag:  Kan Satan siektes veroorsaak…  As die Lig van God nie uit die hart van die mens skyn nie, is daar niks wat Satan op ’n afstand hou nie, want alleenlik die Lig van God hou vir Satan op ’n afstand, so ja, die mens wat nie opreg tot bekering en wedergeboorte gekom het nie, kan nogsteeds deur Satan geteister word deur siektes.  Hoe raak ons ontslae daarvan?  Deur bevryding?  Daar is mense wat beweer dat hulle duiwels uit ander uitdryf en dat die mense dan gesond sal wees, maar dink nou bietjie hieroor:  Wat gaan dit help as daar demone uit die mens uitgejaag word, maar nogsteeds skyn die Lig van God nie uit hierdie persoon se hart nie?  Die demone gaan net eenvouding terugkom, maar die keer bring een demoon sommer sewe maatjies saam… die persoon gaan op die ou end erger daaraan toe wees as aan die begin. (Matt 12:43-45)  God het van die begin van tye af die mens gewaarsku dat hy moet heers oor sonde en Jak 4:7 sê ook:

“Weerstaan die duiwel en hy sal van jou af wegvlug!” 

Net so kan ons die vraag vra:  “Kan sonde ons siek maak?”  In Johannes 5 het Jesus ’n man genees en Jesus het vir hom gesê:

“Kyk, jy het gesond geword;  moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”  Johannes 5:14  

As ons ’n sondige leefwyse leef, bewys dit mos ons harte is nog duister;  dat die Gees van God nie teenwoordig is in ons lewe nie, dus heers ons nie deur die Gees oor sonde nie.  Om deur die Gees oor sonde te heers, moet ons ook weet wat ons sonde is en daarom het God aan ons die Lig van die Woord gegee – om aan ons ons sondes te openbaar.  Sonder om elke dag tyd eenkant te sit en te spandeer in die Woord van God en in gebed, sal jy nooit weet watse sondes tussen jou en God staan en moeilikheid in jou lewe veroorsaak nie.  Maar soos ons tyd afsonder om met Abba Vader en Sy Woord te spandeer, sal die Lig van die Woord ons sondes uitwys en soos ons die keuse maak om die einste sondes te laat staan en deur die krag van God daaroor te heers, hoe meer sal die Lig van God deur ons harte begin skyn en alleenlik hierdie Lig gee aan die mens beskerming teen die bose.  Alleenlik Jesus in en deur ons, gee aan ons outoriteit oor Satan en sy werkers en kan hulle niks aan ons doen nie. 

Met ander woorde, wanneer ons ’n sondige leefwyse leef, is dit ’n bewys dat die Gees van God nie in ons harte teenwoordig is nie.  Daar is geen Lig wat Satan verhoed om verwoesting in ons lewe te saai nie – so ja, ’n sondige leefwyse nooi die vyand en sy werkers in ons lewe in wat ons siektes kan gee.    

Wanneer ons wel opreg weergebore is, die Lig van God uit ons harte skyn en ons deur die krag van God sonde teëstaan, sal die Lig van God die werke van Satan afkeer en sal demone hierdie mens nie kan siek maak nie.  Onthou net altyd… Satan en sy werkers sidder vir die Lig van God;  nie vir ’n mens sonder die Lig wat net Woord spreek nie.  En dit is hoekom Jesus aarde toe gekom het, gely en gesterf het… sodat die Gees van God vrygestel kan word en die Gees Sy woning in ons harte kan maak sodat ons weer die Lig van God kan rekflekteer… maar dan moet ons sterf aan die self en weergebore word deur die Gees van God.  DAN eers is ons onderworpe aan God.  Kan julle sien hoekom dit ’n mens met ’n duister hart niks gaan baat om demone uit hom te laat wegjaag nie?  Hierdie mens het eerder nodig om gelei te word deur ’n ware herder om ’n dissipel van Jesus te word en Jesus waarlik uit sy hart te volg.  Wanneer ons ’n dissipel van Jesus word en Hom volg om die regte redes, sal Hy ons verander en sal Sy Lig geestelik uit ons skyn wat die demone sal laat padgee.  Dit is hoekom ’n ware dissipel van Jesus altyd ’n hartsverandering sal ondergaan – dit is Jesus in en deur hom wat hom verander en die werkers van Satan van hom af weghou.  Daar is soveel mense wat vasgevang is in die dwaalleringe wat glo hulle het outoriteit, mag en krag oor Satan en dat hulle oorlogvoering teen hom kan doen, hom kan aanspreek soos hulle wil, maar waar in die Woord het Jesus in elkgeval ooit ’n bekgeveg met Satan opgesit?  Waar het Jesus vir ons daardie voorbeeld gestel?  Ons kry outoriteit oor Satan alleenlik wanneer Jesus in en deur ons leef – dan is dit Jesus in ons wat die outoriteit oor Satan het, nie jy as mens nie!  Mense moet regtig van hulle troontjies begin afklim wat Satan vir hulle bou van stokkies, want daardie troontjies maak dat soveel mense verlore gaan.  Dit is eintlik so snaaks en lagwekkend wanneer ’n mens die dwaallering geleer word dat jy outoriteit oor Satan het en dat jy hom moet aanvat.  Jy word geleer om hom met outoriteit aan te vat, om met ’n sterk stem te praat… As jy saggies en sonder outoriteit gaan praat, gaan Satan nie vir jou skrik nie… jy moet praat en bulder soos ’n leeu!  Jy moet hom wys jy is nie bang vir hom nie… jy moet hom wys jy is nie ’n muis nie, maar ’n leeu!  Watse lagwekkende nonsens die mensdom nog gaan uitdink…    Satan vrees geen mens nie, maak nie saak hoe stewig jy kan staan en hoe hard jy kan bulder nie… as Satan nie vir Jesus in jou kan sien nie, skrik hy nie vir jou nie en sal hy aanhou om jou te verpes… maak nie saak met hoeveel Skrif jy hom bombardeer nie!  As hy nie die Lig van God in jou kan raaksien nie, maak jy net ’n spektakel van jouself.  Hierdie mense hou hulleself en vir Satan besig met lagwekkende werke – dooie werke.  Al dryf ons duiwels uit ander uit, al “profeteer” ons in die Naam van God, al doen ons watse groot kragte in die Naam van God, maar ons ken Hom nie, ken Hy ons ook nie. (Matt. 7:21-23)  So die antwoord is:  Onderwerp jou aan God en die bose sal van jou af wegvlug!  Onderwerp jou aan die wil van God!

Kan God vir ons ’n siekte gee?  

As dit God se besluit is om ’n kind van Hom terug te laat keer tot stof, moet ons God se doel en plan respekteer en mag ons nie teen die wil van God optree nie.  God is Almagtig en Hy weet die beste.  Hy het klaar beplan wanneer elkeen van ons se lewens sal eindig op aarde en Hy kan dit ook doen deur middel van ‘n siekte.  Wie is ons as mens dan om God te smeek om Sy besluit te verander?  Abba Vader se wil sal altyd geskied en as ons in Sy rus bly, sal Hy ook aan ons die krag gee om Sy wil te aanvaar.  Dit bly ’n hartseer saak om ’n geliefde te verloor en ja, nie een van ons verstaan hoekom babatjies moet doodgaan of kindertjies erge siektes moet kry nie… dit bly moeilik, maar eendag sal ons verstaan.

So fisiese, liggaamlike siekte kan ontstaan uit soveel verskillende bronne en faktore, maar die belangrikste waaroor ons eintlik bekommerd moet wees, is die toestand van ons geeshart!  Is ons geeshart gesond of siek?  Reflekteer ons geeshart die Lig van God of is dit duister?  ’n Duistere geeshart is ’n siek geeshart!  Moet ons nie meer fokus op genesing van die geeshart pleks van genesing vir ons liggaamlike probeme nie?  Almal gaan so aan dat ons moet bid vir genesing vir siek mense, maar genesing van ’n siek gees is baie meer belangrik as genesing vir ’n siek liggaam.  As God in die Woord sê dat daar vir ons genesing gekom het deur die wonde van Jesus, beteken dit nie fisiese, liggaamlike genesing nie, dit beteken genesing van ’n siek en dooie gees –  genesing vir ’n duistere hart!  ’n Mens met ’n siek liggaam, maar ‘n gesonde geeshart wat die Lig van God reflekteer, is 100% beter af as ’n mens met ’n gesonde liggaam, maar ’n siek en dooie gees.  Ek bid eerder vir genesing van ’n mens se siek gees as wat ek bid vir ’n liggaamlike siek mens, want al het ons al die krag en mag van Jesus, en kan ons hordes mense genees van siektes, wat van hulle geestelike welvaart?  Jesus het BAIE mense genees, maar hoeveel van hulle het waarlik in Jesus geglo?  Hoeveel ware volgelinge het Jesus regtig gehad?  Het genesing van die liggaam vir hulle genesing van die gees beteken?  Kyk maar net weer na Johannes 6 waar die skare mense agter Jesus aangeloop het… hoekom het hulle agter Jesus aangeloop?  Omdat hulle geglo het Hy is die Seun van God?  Nee, hulle het agter Hom aangeloop sodat Hy hulle kon genees en kos gee.  Die oomblik toe Hy aan hulle verduidelik dat hulle geestelik honger is en op Hom moet voed deur in Hom te glo, het hulle almal omgedraai en weggeloop.  Dit moes darem ’n verskriklike vernedering vir Jesus gewees het…  Jesus het die stede waarin die meeste van Sy kragtige dade (soos genesings) plaasgevind het, verwyt omdat hulle Sy dade gesien en beleef het, maar nogsteeds wou hulle hulle nie bekeer nie.  (Matt. 11:20-24)  God het Jesus in die gestalte van ’n mens aarde toe gestuur om al hierdie wonderwerke en kragtige dade te doen sodat die mense kon sien en besef Hy is waarlik die Seun van God.  Jesus het dit nie gedoen om vir my en jou ’n voorbeeld te wees om Sy mag, krag en outoriteit op te neem om links en regs mense die hande op te lê en hulle te genees nie.  Hoe ongelukkig moet dit God maak as Hy alreeds besluit het om ’n mens te laat terugkeer tot as, en sogenaamde “Goddelike mense” bid genesing oor hierdie mens… dan spreek en bid hulle mos teen die wil van God?  Is hierdie “Goddelike mense” dan regtig een met God?  As hulle een is met God, sal hulle mos Sy wil aanvaar en nie teen Sy wil hulle mag en krag gebruik om ’n mens gesond te bid nie…  Die mens moet begin afklim van hul eie mensgemaakte troontjies af en besef hulle is nie God nie.  Hulle gebruik die naam van God om vir hulleself dissipels te maak wat agter hulle sal aanloop.  God roep Sy kinders om dissipels vir HOM te maak, nie vir die self nie, want dit is presies wat mense doen wat dink hulle kan loop, en links en regs mense genees van siektes.  Daar is hopeloos te veel mense daar buite wat die krag en outoritiet van Jesus vir hulleself opeis, maar dan skyn die Lig van God nie eers uit hulle gees uit nie – mense met ’n siek gees!  Hulle dryf demone uit mense uit, spreek Woord oor mense en omstandighede en glo daar is krag in hulle woorde.  Wat gaan God eendag vir hierdie mense sê?

 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in U Naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedrywe en in I Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”  Mattheus 7:21-23

Hierdie mense het nog nie gesterf aan die self nie en is ook nog nie wedergebore nie.  Wanneer ons weergebore word, haal God ons siek geeshart uit en doen Hy ’n hartsoorplanting op ons.  Hy gee ons ’n nuwe, lewende hart wat waarlik LEWE waardeur Sy bloed pomp.  Dan eers is ons geestelik gesond en kan die geestelike gesondheid deurspoel na ons siel en ook na ons liggaam – en dit is hoekom ek glo dat God ons swakker, siek gene soos ’n skakelaar kan afskakel en ons wel kan genees van ’n siekte.  Maar daarvoor moet ons fous verskuif vanaf die self na God, vanaf die liggaamlike na die geestelike, om te strewe daarna om te sterf aan die self en genesing vir die geeshart te ontvang pleks van genesing vir die liggaam.  As ons God in alle omstandighede van ons lewe soek en Hom in alles eerste stel, sal Hy die res aan ons toevoeg op SY bepaalde, perfekte tyd. 

Die slotsom van hierdie saadjie is dat ons God se hart moet soek, en nie Sy hand van genesing nie.  Siekte kan van soveel verskillende bronne af kom, maar ons moet ophou fokus op ons liggaamlike siektes en ons fokus op Jesus plaas.  Ons doelwit en motief moet wees om God beter te leer ken en ’n verhouding met Hom te bou – nie sodat Hy ons kan genees nie, maar sodat ons deur Hom vrugte kan dra wat Hom verheerlik.  Die mens wat alleenlik fokus op sy liggaaamlike, gaan sukkel om God te vind in sy lewe, want sy fokus is verkeerd.  Verskuif die fokus vanaf liggaamlike gesondheid na geestelike gesondheid en die res sal vir ons bygevoeg word deur Abba Vader.    

Soek die hart van God, nie die hand van God nie!