Hoe vervul ons die wet?

Romeine 13

8  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.

9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

11  En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.

12  Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.

13  Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.

14  Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Ek is stil op my blog, want ek is besig om aan ’n paar boeke te skryf.  Abba Vader bly net so getrou en lei my elke dag deur omstandighede en situasies om die lesse van die lewe neer te skryf.  Vir die laaste paar dae is ek besig oor die onderwerp oor vervloeking in ons lewe.  Daar is so baie mense wat kwaad raak oor hierdie onderwerp en niks daarvan wil hoor nie, want hulle meen dat Jesus gesterf het vir ons sondes en dat Hy alle vloeke gekanselleer het, maar as jy tyd by die voete van Abba Vader spandeer en die Gees van God toelaat om die Woord van God aan jou te verduidelik en interpreteer, sal jy baie vinnig die teendeel sien wat verkondig word in die wêreld. 

 Vanoggend het ek ’n sterk gevoel gekry om Romeine 13 te lees en die laaste vers sê presies DIT waaraan ek skryf:  Ons moet ophou om in ons vleeslike behoeftes te probeer voorsien, want daardeur maak ons keuses sonder om die wil van God te soek, en as ons keuses maak teen die wil van God, skep ons vir onsself vervloeking.  Dit kom neer op ongehoorsaamheid aan God en wanneer ons ongehoorsaam is aan God, oortree ons die 10 gebooie van God.  Baie mense meen die gebooie van God het verval, maar dit het nie!  Om meer te lees oor die gebooie, lees gerus die saadjie:   Het die gebooie van God verval?  Wat  wel verval het, is die al die ander wette wat God aan sy volk gegee het – al die tradisie, rituele en godsdiens.  Dit is nie meer nodig vir ons om ’n dier te offer aan God nie, om al daardie feeste te hou of om al die rituele uit te voer wat hulle destyds gedoen het nie.  Maar ons kan nie die gebooie van God eenkant toe gooi en maak asof dit nie meer bestaan nie.  Mense wat die leuens van die wêreld glo, glo dat hulle maar kan leef soos hulle wil, want Jesus het mos alreeds vir hulle sondes gesterf…. hulle glo dat as hulle hou by die tradisie om kerk toe te gaan, hulle babas te laat doop, nagmaal gebruik ensovoorts, wys dit mos hulle ’n Christen is en gered is… verder kan hulle leef soos hulle wil… die deur na die koninkryk van God is mos alreeds vir hulle oopgemaak deur Jesus, maar tog sê Jesus baie duidelik dat die mens nie die Koninkryk van God sal sien as hy nie wedergebore is nie.  Om kerk toe te gaan, as ’n baba of volwassene gedoop te wees, om ’n rympie op te sê agter die dominee aan, om bloedlynvloeke te breek…. nie een van hierdie wêreldse gebruike gee aan jou toegang tot die Koninkryk van God  nie;  alleenlik wedergeboorte!  Alleenlik wanneer ons wedergebore is, het ons gesterf aan die self en leef Jesus in en deur ons.  Alleenlik wanneer Jesus in en deur ons leef, kan ons God gehoorsaam, kan ons dus die gebooie van God nakom en word die wet deur ons vervul. 

Kyk weer vers 8 van  Romeine 13… om ’n ander lief te hê, vervul ons die wet.  In Mattheus 5 sê Jesus Hy het nie gekom om die gebooie te ontbind nie, maar om dit te vervul.  Geen mens op aarde kon die wet van God (gebooie) vervul nie, alleenlik ’n Goddelike mens en daarom moes God Sy Seun in die vorm van ’n mens stuur.  Deur Sy gehoorsaamheid het  Hy die wet vervul en ook die Gees van God vrygestel.  Die Gees van God kan die hart van die mens oorneem alleenlik wanneer die mens die self afsterf en dan leef die Gees van Jesus in en deur ons.  Alleenlik dan kan ons die gebooie gehoorsaam, maar dis weereens nie die mens wat so wonderlik is om die gebooie te gehoorsaam nie, dit is die Lewe van Jesus binne ons wat ons in staat stel om gehoorsaam te wees aan God.  Om jou naaste lief te hê soos jouself, beteken om nie ’n ander te na te kom nie;  om jou naaste lief te hê, is nie ’n emosie of ’n gevoel nie, dit is om ’n ander met respek te behandel, om nie vir mekaar te jok, te moor, te steel van n ander nie, ensovoorts.  Maar nie een van ons kan dit uit ons eie regkry nie, alleenlik as Jesus in en deur ons leef!  Dan vervul Jesus deur ons die gebooie van God en dit is hoekom Jesus gekruisig moes word… Hy is nie gekruisig sodat almal se sondes op die daad vergewe word en jy maar kan lewe soos jy wil nie… Hy het gesterf om die wet te vervul en Sy Gees vry te stel sodat Sy Gees in ons harte kan kom woon en ons in staat stel om ons naaste lief te hê, want as ons ons naaste liefhet, is dit ’n bewys dat ons kinders van God is.  1 Johannes 3 is baie harde woorde oor hierdie saak, gaan raak asseblief stil daarmee.  

Dis tyd om wakker te skrik!  God se geduld is besig om min te raak met die mensdom.  Dit is tyd om te besef hoeveel mense in die duisternis vasgeketting is, maar glo hulle is gered!  Word wakker uit die diepe slaap;  hou op met rituele, godsdiens en allerhande snaakse tradisie-maniere wat oorgerdra is van die voorouers.  Hou op om die leuens van die wêreld te glo en kry die Waarheid by die voete van Abba Vader in afsondering.  Die mens is nie outomaties gered wanneer hy beweer om Jesus te glo nie;  die mens se sondes is nie outomaties vergewe omdat Jesus gesterf het aan die kruis nie.  As die wet nie deur jou vervul word nie, is dit ’n bewys dat jy nie wedergebore is nie, want dit bewys dat Jesus nie in en deur jou lewe nie….en as jy nie wedergebore is nie, sal jy nie die Koninkryk van God kan ingaan nie… dan behoort jy nie aan God nie.  Jammer vir die harde woorde, maar soms het ons harde woorde nodig om wakker te skrik en te reflekteer wat in ons lewe aan die gang is.  As ons die self en ons eie wil afgesterf het, sal ons die wil van God vir ons lewens aanvaar en Hom gehoorsaam… nie uit ons eie krag of “goedheid” nie, maar deur Jesus wat in en deur ons leef… dan vervul Jesus deur ons die wet van God (gebooie) en sal ons in alles wat ons doen, God gehoorsaam.

Tekens dat die self nog nie afgesterf het nie, is om nog vas te hou aan die voorouers se tradisies, kultuur en godsdiens met al sy rituele.  Om te glo jy is gered omdat jy kerk toe gaan, omdat jy met die mond getuig om te glo in Jesus, maar waarvan getuig jou lewe?  ‘n Lewe vol sonde, al is dit ook hoe gering, getuig van ‘n boom wat vrot vrugte dra, want die vrugte getuig waar jy gewortel is.  Vrot vrugte, dus sonde, getuig dat die mens nog nie wedergebore is nie, dus is die persoon nie gered nie, maak nie saak hoeveel werk jy vir die kerk doen, en of jy die dominee of pastoor van ‘n kerk is nie.  Word die wet deur jou vervul?     

         

        

Ignoreer die wil van God en skep vir jouself vervloeking

appel

“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.”                           2 Korinthiërs 11:3  

(Hierdie is ‘n uittreksel uit een van die boeke waaraan ek werk).  Ons almal ken die verhaal van Adam en Eva in die tuin van Eden…  God het die tuin geskep vir Sy mensekinders wat verhouding met Hom het, wat met Hom wandel en wat met Hom kommunikeer.  God het die mens geskep na Sy beeld wat beteken hulle geesharte het geskyn met die Lig van God, want God is Lig!  God se Lig was dus teenwoordig binne die mens en wanneer die geeshart van die mens lewe met die Lig van God, is die mens gekonnekteer aan God en kan Hy met God kommunikeer.  Satan haat die Lig van God, want dit is alleenlik die Lig van God wat hom op ’n afstand kan hou.  

God het die mens met ’n eie wil toevertrou en daarom is die mens in staat om keuses te maak.  Reeds aan die begin, in die tuin van Eden, het God aan die mens die reg gegee om te kies tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, dus het God aan die mens die reg gegee om te kies om Sy wil te volg of om die eie wil te gehoorsaam.  God het Adam en Eva vooraf gewaarsku dat daar gevolge sal wees as hulle ongehoorsaam is aan Sy wil – Hy het hulle gewaarsku om nie van die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie, en as hulle daarvan  sou eet, sou hulle sterf.  Natuurlik het die listige slang geweet dat die mens ’n eie wil het, dat die mens die reg het om keuses te maak, en hy het ook baie goed geweet dat ongehoorsaamheid aan die wil God, vir die mens gevolge sal inhou.  Satan het hom nie twee keer laat nooi nie en het toe vir Eva ’n heerlike vrug op ’n goue skinkbord aangebied.  (Of dit regtig ’n vrug was, sal ons wel eendag uitvind…).  Eva het baie goed geweet dat sy nie die vrug mag nuttig nie, maar haar eie wil het in haar pad gestaan.  Die slang het haar gevra hoekom hulle nie van die boom se vrugte mag eet nie, en sy het hom vertel dat God hulle gewaarsku het dat hulle sou sterf as hulle daarvan sou eet.  Satan het gelag en haar met ’n leuen oortuig dat hulle nie sal sterf nie, maar dat hulle inteendeel soos God sal word!  Eva moes ’n keuse maak… Na wie gaan sy luister?  Na die slang of na God?  Na die leuen of na die Waarheid?  Gaan sy gehoorsaam wees aan God en hierdie onweerstaanbare vrug ignoreer en weier om toe te gee aan haar eie wil?  Of gaan sy toegee aan haar eie wil wat die ontoelaatbare begeer?  Ongelukkig het Eva die verkeerde keuse gemaak en gekies om haar eie wil te gehoorsaam bo die wil van God.  Die slang het Eva verlei en sy het weer op haar beurt vir Adam verlei om teen God se wil op te tree.  Daarna was God se woorde aan hulle: 

“Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil;  met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.”   Genesis 3:17,18

Satan het baie goed geweet dat hy die mens net sover moes kry om sy eie wil te gehoorsaam deur hulle in die versoeking te lei, want hy het geweet dat ongehoorsaamheid aan die wil van God sonde is, en dat sonde die geestelike hart van die mens verduister.  Wanneeer die geeshart van die mens duister is, skyn die Lig van God nie uit die hart van die mens nie, so die mens het dan geen outoriteit oor Satan nie.  Die mens sonder die Lig van God in sy geeshart, kan deur Satan beheer word soos ’n mariontpop en dit is hoekom Satan die mens sover moes kry om te sondig.  Oorspronklik het God die mens geskep na Sy beeld, wat beteken hulle geesharte was vol van die Lig van God, maar sonde het die Lig van God uit hulle harte geblus.  Dit is hoekom God gesê het hulle gaan sterf as hulle eet van die verbode boom – Hy het nie bedoel dat hulle fisies sou sterf nie;  Hy het bedoel dat hulle geestelik gaan sterf.  Met ander woorde, sonde blus die Lig van God uit die hart van die mens en dit veroorsaak dat die mens geen konneksie met God het nie.  Sonde veroorsaak ’n kloof tussen mens en God.  Wanneer die mens sondig, speel hy direk in die hand van Satan in en gee hy aan Satan mag, krag en beheer oor hom.   

Sonde het die verhouding tussen mens en God verwoes, en die mens kon nie meer met God wandel en met Hom kommunikeer nie.  Omdat God die tuin van Eden alleenlik geskep het vir Sy gehoorsame kinders wat met Hom wandel en Hom gehoorsaam, kon Hy nie toelaat dat Adam en Eva langer in die tuin woon nie.  Die tuin was dus apart van die wêreld, en die sonde van die mens het die wêreld vervloek, maar nie die tuin van Eden nie.  God het hulle toe uit die tuin uit weggestuur om te gaan woon in die wêreld wat deur hulle eie rebellie en ongehoorsaamheid vervloek is.  Hy het die tuin van Eden toegesluit en aan engele opdrag gegee om die tuin te bewaak.  Dit is dus nie God wat die aarde vervloek het nie, maar die aarde is vervloek deur die sonde van die mens, oftewel die verkeerde keuses van die mens deurdat hulle eerder hulle eie wil gevolg het as om God se wil te gehoorsaam.  Die gevolg was dat die mens ’n sukkelbestaan moes gaan maak in die wêreld wat deur sy eie toedoen (sonde) vervloek is.  God het dus die mens oorgelaat aan sy eie lot, want deurdat die mens die verkeerde keuse gemaak het, het hy opsetlik teen die wil van God opgetree.  Hulle was versoek deur die vyand en het die keuse gemaak om eerder die leuen van Satan te glo as om gehoorsaam te wees aan God en daardeur het hulle vervloeking oor die aarde laat losbars wat die lewe vir mens, dier en natuur baie moeilik maak. 

Omdat die Lig van God uit die hart van die mens geblus en sy hart nou duister was, kon die mens God nie gehoorsaam in die vervloekte wêreld nie.  God het berou gehad dat Hy die mens gemaak het en het almal van die aarde afgevee met die vloed, behalwe Noag en sy geliefdes.  Die populasie het weer gegroei en meer geword, maar nogsteeds kon hulle God nie gehoorsaam nie.  Hoekom nie?  Omdat die Gees van God nie in hulle harte teenwoordig was nie.  God het wel Sy Gees aan Sy profete gegee om aan die mensdom rigting en leiding te gee, maar die mensdom wou nie luister na die profete nie en het hulle eerder doodgemaak.  Daarna het God besluit om Sy Seun te stuur, want deur Sy Seun se gehoorsaamheid kon die Gees van God vrygestel word op die aarde om weer Lewe te gee aan die kinders van God en hulle Hom kan gehoorsaam.  Alleenlik wanneer die Gees van God Sy inwoning maak in die hart van die mens, is die mens in staat om gehoorsaam aan God te wees, dus om die wil van God te volg.  Alleenlik met die hulp van die Gees van God in die hart van die mens, is die mens in staat om sy eie vleeslike wil teë te staan, maar sonder die Gees van God, bly die hart van die mens duister en solank as wat die hart duister is, het die mens geen wilskrag om sy eie vleeslike wil teë te staan nie.  Ons het die Helper nodig!  Sonder die Helper – die Gees van God – is ons mense wat bestaan uit ’n leë dop – ’n dop sonder enige ware Lewe binne ons.  Ons word gebore as ’n vleeslike mens, gebore uit die wil van die mens, ons word nie gebore met die Gees van God in ons harte nie.  Niemand word heilig gebore nie!  Jy ontvang ook nie die Heilige Gees wanneer jy gedoop word as ’n baba nie, en ook nie wanneer jy as grootmens gedoop word nie.  Jy ontvang alleenlik die Gees van God wanneer jy sterf aan die ou mens en daar ’n Goddelike wedergeboorte binne jou plaasvind (Johannes 3).  Jesus het dus nie gesterf sodat ieder en elkeen wat vleeslik gebore word, sonder sonde gebore word nie.  Jesus het ook nie gesterf sodat elke Jan Rap en sy maat net die woorde kan sê:  “Ek glo in Jesus”, en gered is nie.  Jesus het nie gesterf om die wêreld vir ons ’n beter plek te maak nie – ek dink ons almal kan dit sien deur die chaos om ons.  Jesus het nie gesterf sodat ons almal se sondes op die daad vergewe is en ons maar kan aanleef soos ons wil nie.  Jesus het gesterf uit gehoorsaamheid aan Abba Vader om die Gees van God vry te stel wat die mens gekort het, want sonder die Gees van God in sy hart, bly sy hart duister en het Satan altyd beheer oor hom.  Sonder die Gees van God, volg die mens sy eie kop en sy eie wil wat altyd vir hom vervloeking sal skep.  Ons skep dus vir onsself vervloeking wanneer ons ons eie wil leef en net soos God vir Adam en Eva uit die tuin uit weggestuur het om te gaan woon in die vervloeking wat hulle vir hulleself geskep het, net so gaan God ons ook oorlaat aan ons eie lot wanneer ons vir onsself vervloeking skep deur ongehoorsaam te wees aan die wil God.  Ons het die Gees van God meer nodig as wat ons suurstof nodig het, maar die Gees van God sal alleenlik Sy inwoning maak in die hart van die mens wanneer die mens die keuse maak om sy lewe oor te gee in die hand van Abba Vader.

Ons kan weer die verhouding met Abba Vader hê wat Adam en Eva met Hom gehad het voor die sondeval, dit is wat God van ons wil hê!  Verhouding met Hom!  Om tyd saam met Hom te spandeer!  Om die dinge van die wêreld bietjie eenkant toe te skuif en Hom ons eerste prioriteit te maak.  En hierdeur sê ek nie ons moet ophou werk om ’n lewensbestaan te maak nie, want om fisies te lewe, sal ons altyd moet werk, maar ons kan ’n balans hê en God verheerlik in ons alledaagse werk, solank God altyd eerste kom in ons lewe.