Is die hele wereld se sondes op een slag vergewe?

 

IMG_1164

Hierdie is weer een van daardie “een-uur snags wakker word” saadjies. Vermanings, klaagliedere en ’n gesug… Die grootste leuen wat die mensdom glo en wat hulle met mooi woordjies lei na die pit van die hel…

Wat word ons geleer deur kerke vandat ons klein is, of laat ek eerder sê… waarmee word ons gebreinspoel en geïndoktrieërd vandat ons klein is? Elkeen van ons moet mooi gaan besin oor wat ons glo, want dit wat jy glo, is toe al die tyd dalk nie die Waarheid nie. Dit wat jy uit ’n leraar se mond hoor, is nie altyd die Waarheid nie. Waar kry hulle hulle kennis vandaan? Direk van God af? Nee, hulle besluit hulle is geroep om Teologie te gaan studeer en laat hulle dan leer deur ’n sisteem wat deur wie ookal uitgedink is. Dit wat hulle Teologie noem, is net kennis wat met die verstand ingeneem en vasgelê word om weer aan die wêreld uit te deel vir eer en erkenning vir hulleself. Hulle kennis kan met tye so hoogdraend en heilig klink dat ’n mens te dom voel om dit te kan verstaan. Die inligting wat hulle gee, word weer deur die brein van die mens opgeneem waar dit omgesit word in data vir die mens om te verstaan. Dit het niks met die gees van die mens te make nie. So min leraars praat of preek op so manier dat dit aan die punte van jou geeshart ruk, maar dit is wat ons nodig het in hierdie duistere tyd. Ons geesharte moet uit die slaap uit wakker geskud word! Die mens wie se geeshart nogsteeds sluimer, nogsteeds slaap, se verhouding met Abba Vader is nie in orde nie, hierdie persoon is nog nie gered nie. Dit maak nie saak of jou einste kerkbank elke Sondag warm gesit is nie, die vraag is… Is jou geeshart warm? Brand jou hart met die vuur van God? Is jou geeshart al lewendig? Dan sou Abba Vader al vir jou ook hierdie leuens uitgewys het en sou jou plek in die kerkbank nie meer so warm gesit gewees het nie.

Die grootste leuen wat versprei word, is die een in verband met die kruisiging van Jesus, vergifnis, verlossing of redding. Hoe word die wêreld gebreinspoel oor die kruisiging en vergifnis… Vra jouself die vraag: Hoekom moes Jesus kom sterf het aan die kruis? En die meeste se onmiddelike antwoord is Hy moes kom sterf vir die mens se sonde. Dit is nie ’n leuen nie, Jesus het kom sterf sodat ons sonde vergewe kan word, maar die leuen word aan mense oorgedra dat as jy jou “hart vir die Here gee”, jou sondes alreeds vergewe is en word jy skoongewas. Nou is jy gered.  Die Bybel wat ek lees (noukeurig lees), se Skrifte sê baie duidelik dat ons sondes vergewe word as ons in verhouding met Abba Vader staan en wat baie interresant is, is dat daar nie een duidelike Skrif in die Bybel is waar Jesus direk sê dat Hy moet sterf sodat die mens se sondes vergewe kan word nie. Gaan soek gerus self in die Bybelboeke Mattheus tot Johannes waar Jesus aan die woord is…nie een keer het Jesus gesê Sy hoofdoel om te sterf, is om die sonde van die mens te vergewe nie. Hy sê wel in Johannes 8:12:

“Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die Lig van die lewe hê”

Maar gaan ondersoek self die Skrif en gaan kyk wat het Jesus gesê wat die groot rede is hoekom Hy moes sterf…dit was om vir ons ’n Helper te stuur!!! ’n Helper wat ons kan help om uit die duisternis die pad na die kruis van Jesus te vind sodat ons kan sterf aan die self en weer gebore word. Die nuwe mens is waarlik ’n nuwe mens wat die beeld van Jesus uitstraal en as Abba Vader na ons kyk, sien Hy net Sy Seun in ons! Dan is ons sondes vergewe en is ons gered.  Om meer te lees oor die duistere toestand teenoor die Ligtoestand, lees gerus die saadjie: Twee Toestande + Audio

Om ’n gebed agter die dominee aan te bid en te sê jy gee nou jou hart vir God en dat jy volle vergifnis van jou sondige lewe aanvaar, is ’n leuen waarmee die grootste gedeelte van die mensdom gevang word. Om daardie besluit in die kerk te maak, beteken nie jy het nou verhouding met Abba Vader nie, want daar is ’n pad om te stap voor ons verhouding met Abba Vader het. As jy in die week nie tyd kan maak om stil te raak voor die voete van Abba Vader nie, maar dit wil regverdig deur Sondag kerk toe te gaan, het jy nie verhouding met Abba Vader nie. As jy regtig ’n verhouding met Abba Vader het, sal jy baie goed in jou lewe opoffer om tyd by Sy voete deur te bring. Die kerke en soveel leraars maak dit so maklik vir die mens: Sê net vir God jy gee nou oor aan Hom en Hy sal al jou sondes vergewe en jy is gered – Jesus se kruisdood het alreeds jou sonde vergewe.  Die wêreld maak verlossing so maklik, hulle maak dit “cheap”, al die tyd lei hulle die mensdom na ’n vals koninkryk.

Ek onthou op skool, met ons belydeniskamp, het die oom wat ons gelei het, ook aan ons verduidelik dat Jesus gesterf het vir ons sondes en daarom kan ons Sy vergifnis net aanvaar. Jy moet net glo jy is vergewe. Dit is al! Ons was ’n ’n klompie wat op daardie kamp was, en ek kan nie help om te wonder hoeveel van ons het na jare besef watse leuens ons gevoer was nie! En nogsteeds word hierdie leuen aan jong, naïewe mense geleer. Dit laat hulle veilig voel, want hulle is mos nou vergewe, so hulle kan maar aangaan met hulle lewe. Wanneer hulle wel in die slaggat van sonde trap, is dit nie te erg nie, want hulle is alreeds vergewe daarvoor… Wat ’n groot leuen!

Jesus het gesterf om die kinders van Abba Vader te verlos van die duisternis, Hy het gesterf en Sy bloed het gevloei vir die mense wat in Hom sou GLO. Daar is ’n reuse verskil om in Jesus te glo en om waarlik aan Jesus te GLO met jou hele hart en verstand, dus om of onteenseglik aan Hom te GLO. Enigiemand kan met die mond bely om in Jesus te glo en die grootste gedeelte van die mensdom bely dit in elkgeval net met die mond en nie met die hart nie. (Matt 15:8) Dit is lou Christene, hulle aanvaar hulle sondes is ALREEDS vergewe deur Jesus, dalk omdat hulle as baba gedoop is, dalk omdat hulle deur hulle kerk aanvaar en voorgestel is? Omdat hulle gemeenskap met die heiliges het elke Sondag? En wat van die res van die week? Wat van gemeenskap met Abba Vader? As jy Hom nie persoonlik ken nie, gaan Hy jou ook eendag nie persoonlik ken nie, want lou Christene gaan uit Sy mond gespuug word.

Jesus het nie gesterf om die hele wêreld skoon te was van sonde en nou is almal verlos en gelukkig nie. Hy het gesterf sodat jy die Gees van God kan ontvang as n Helper en n Lig om jou sondes aan jou wys sodat jy dit kan bely. Die Helper help ons op die pad van bekering, wat n lang pad is, na die kruis van Jesus waar ons die ou mens moet afsterf om geestelik weer gebore te word.  Dan is ons sondes vergewe!  Jesus het dus gesterf, nie sodat die hele wêreld se sondes op die daad vergewe kan word nie, maar om ’n deurgang te bewerk sodat die mens voor die voete van Abba Vader kan gaan sit om skoongewas te word.
Hy het nie gesterf om die wêreld ’n beter plek te maak nie, want Hy sê self in Matt 10:34 dat Hy nie gekom het om vrede op aarde te bring nie, maar die swaard. Hy het nie gesterf sodat die tien gebooie nie meer belangrik is nie. Daar word geleer dat die tien gebooie aan die Ou Testament behoort en ons nie meer vas is aan die gebooie nie, maar gaan kyk al die Skrifte in die Nuwe Testament waar Jesus self sê die gebooie sal nie verval nie. Matt 5:17-19; Matt 19:17-19; 1 Joh 2:3-5; Joh 14:21; Joh 14:15. Dit is maar net ’n paar van die Skrifte. Soveel kerke en vals leraars skep vir die wêreld ’n baie lekker pad om op tel loop wat kwansuis lei na die Koninkryk van God. Hier is massas mense oppad na die hel en vir julle wat nie glo dat daar ’n hel kan wees nie, hoekom het Jesus hierdie woorde gesê:

“Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele…”
Mattheus 25:41

“die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikleblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”
Mattheus 13:41,42

…maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.”
Mattheus 3:12

Dit is maar net ’n paar van die Skifte, gaan ondersoek die Woord en jy sal sien niemand kan stry dat daar nie ’n hel is nie. Die lou Christene sal nie toegelaat word in die Koninkryk van God nie, so is jy ’n warm of ’n koue kool? Is jou hart aan die brand?  Lees asseblief daardie saadjie ook om die verdere leuen te sien wat in die wêreld verkondig word.

“Die waaragtige Lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld… Hy het na Sy eiendom gekom, en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo, wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.”

Lees Johannes 3 ook weer mooi. Jesus sê daar ook uitdruklik dat die mens weergebore moet wees om in die Koninkryk van God te kan ingaan. Wedergeboorte is ’n proses wat ons hand aan hand met Jesus moet stap, dit is ’n heiligmakingsproses, dit is nie ’n keuse van die mens en woeps…nou is jy weergebore nie. Om jou te laat doop met water, beteken nie jy is wedergebore nie! Die doop gee jou ook nie toegang tot die Koninkryk van God nie. Om te sê jy het tot bekering gekom, is ook nie die antwoord nie, want dra jy vrugte van bekering? Die Fariseërs het geen vrugte van bekering gedra nie, maar wou hulle nogsteeds laat doop net om die toorn van God vry te spring. Ja, dit is nog ’n leuen… daar word verkondig dat God nie ’n God van toorn is nie, dat Hy net Liefde is. Ek stem saam, God is ’n God van Liefde, maar dat God die mens tugtig, kan ons nie eenkant toe skuif nie. Johannes 3:36 is duidelik hieroor:

“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”

As God dan net ’n God van Liefde is en daar geen hel is nie, geen straf vir die ongehoorsame nie, hoe verduidelik ’n mens hierdie Skrif en nog soveel meer in die Woord van God wat duidelik verwys na die toorn van God? Waar, dink julle, kom die chaos vandaan wat in ons land aangaan? Die droogte, storms ens… Mense beweer dit is Satan wat dit veroorsaak en wil hom nou beveg met vreeslike groot woorde, maar is dit regtig Satan wat dit veroorsaak? Wil julle regtig soveel mag en krag aan hom gee? Gaan kyk in die Ou Testament hoe het God Sy volk gestraf, wanneer hulle ongehoorsaam was aan Hom en ander gode aanbid het, het Sy toorn losgebars oor Sy volk. Het God verander? Het die sterfte van Jesus enigsins iets in daardie konteks verander? God sal nooit in der ewigheid verander nie, die God wat die God van die Ou Testament was, is vandag nogsteeds God! God alleen skep storms en God alleen maak storms stil…

“Want Hy het gespreek en ’n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het. Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes – hulle siel het vergaan van wee. Hulle het getuimel en gewaggel soos ’n dronk man, en al hulle wysheid is verwar. Toe het hulle die Here aangeroep in hulle benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ’n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.”  Psalm 107:25-29

Die aarde en alles daarop is deur God gespreek en in die lewe gebring. Ongelukkig is die natuur onderworpe aan die vervloeking wat die mens oor die aarde gebring het, maar punt bly staan…die natuur is God s’n en die natuur sal Hom gehoorsaam. Jesus het die storm op die see aangespreek en die storm het stil geword. Wil God nie dalk hê dat ons ook so angsbevange moet raak deur die storms en chaos wat aangaan in SA nie? Wil God nie dalk ook maar net die wysheid van die wyse manne verwar nie? Hulle wat die leuens verkondig… Wil God ons nie dalk wakker skud uit ons diepe slaap nie? Moet ons nie net ons ore begin toedruk vir die gesus en gepaai wat in die kerke aangaan nie? Moet ons nie al die leuens van die wêreld begin teëstaan nie? Maar om die Waarheid te bekom, vat baie tyd en deursettingsvermoë by die voete van Abba Vader, dis die enigste plek waar ons Waarheid ontvang… tyd in jou binnekamer…net jy en Abba Vader! Weg van die geraas en geblaas van die wêreld in jou ore…

Jesus se stefte het niks aan die geestelike realm van die wêreld verander nie, die geestelike realm van die wêreld het duister gebly. Jesus het as Lig aarde toe gekom, Hy het gesterf aan die kruis sodat die voorhangsel kon skeur, want wanneer die voorhangsel geskeur is, kan ons in die teenwoordigheid van Abba Vader inbeweeg. Jesus het die kruis kom plant tussen die geestelike duisternis van die wêreld en die Lig van God. Voor Jesus se kruisiging was daar geen deurgang nie, maar nou is die kruis van Jesus die deurgang na die Lig van God toe, na die teenwoordigheid van God en wanneer ons onteenseglik begin GLO in God, kan ons beweeg vanaf die duisternis na die Lig. Daarom sê Jesus in die volgende Skrif dat elkeen wat in Hom GLO, nie meer in die duisternis sal bly nie. En die mens wat nie in die duisternis verkeer nie, is in die Lig van God. En dit beteken nie ons moet fisies eers doodgaan nie, dit beteken dat ons waarlik in die teenwoordigheid van Abba Vader kan en mag inbeweeg, daar waar dit Lig is.

“Ek het as die Lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”
Johannes 12:46

Die mensdom se sonde is nie alreeds vergewe omdat Jesus gesterf het nie, want dan gee dit die mens toestemming om te leef soos hy wil. Dit gee aan mense die reg om te sê die gebooie tel nie meer vir vandag nie. Die grootste rede hoekom Jesus moes gesterf het, was om Sy Gees vry te stel om vir ons as Helper te wees. Wanneer ons die Gees van God in ons harte ontvang, is die Lewe van God teenwoordig in ons geeshart en die Lewe van God bestaan uit Sy Liefde, Lewende Water en die bloed van Jesus. Wanneer die Lewe van God dus in ons geeshart teenwoordig is, dan eers word ons skoongewas van al ons sondes, ons word gereinig deur die bloed van Jesus.  Dan is ons ’n nuwe mens, die oue het gesterf en die nuwe een leef deur die Lewe van God. Die ou mens met al sy sonde en lelike leefwyse, moet sterf sodat die nuwe mens gebore kan word. Daar staan duidelik ons sondes word vergewe wanneer ons gemeenskap het met God en wat beteken dit? Dit is wanneer ons Een word met Abba Vader en Sy Lewe in en deur ons spoel.

“As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die Lig wandel soos Hy in die Lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons van alle sonde”
1 Johannes 1:6,7

Wanneer wandel ons in die duisternis? Wanneer ons geen verhouding met Abba Vader het nie, wanneer ons lewe soos ons wil, wanneer ons vrot vrugte dra. Niemand kan gemeenskap met God hê as hy/sy nog in die duistere wêreld vasgevang is nie, wat beteken die persoon se sonde word nie vergewe nie. Hier staan duidelik in die Skrif wanneer ons in die Lig wandel, word ons gereinig van sonde.  Ons moet eers deurbeweeg na die Lig van God!  Daar is nie outomatiese vergifnis en reiniging terwyl ons kies om in duisternis te verkeer nie.  Daar is nie vergifnis op die bree pad nie.

God is ’n God van orde en Hy doen dinge volgens Sy orde. Ek se nie met hierdie saadjie dat ons nie ons sondes aan God hoef te bely nie, sondebelydenis is een van die eerste goed wat in ons lewe moet gebeur.  Ons moet besef ons is verlore, dat ons geestelik dood is sonder Jesus, ons moet dit bely aan Abba Vader.  Soos die Lig van dieWoord ons sondes aan ons uitwys, moet ons dit bely aan Abba Vader en ons rug daarop draai!  Ek glo ons word vergewe daarvoor as ons die sonde oorkom het en die Gees van God help ons hiermee.  Maar nêrens staan geskryf dat die mens se sondes op die daad vergewe word en jy nou totaal gered is nie, die kerke lieg vir die mense. Hulle maak ’n grap van God se genade. Daar moet eers bekering wees, daar moet eers ’n hartsverandering wees, daar moet vrugte van bekering wees… Ons moet in verhouding met Abba Vader wees voordat ons totaal gered is.  Om dit alles mooi op te som: As die Lewe van God (Liefde, lewende Water en bloed van Jesus) nie in jou hart teenwoordig is nie, straal jy nie die beeld van Jesus uit nie! God moet Sy Seun binne ons sien, dan is ons totaal  vergewe en gered! Dit gebeur alleenlik met wedergeboorte!

Mag jou geestelike oë en ore genees word en mag jy die Waarheid van die leuen begin onderskei…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s