“Sy moet geklee wees in rein en blink, fyn linne en die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.” Openbaring 19:8
Onder gebed wys Abba Vader my ’n groot skare mense en wat my dadelik opval, is die bruidsrokke wat hulle aanhet. Dit is nie wit nie, maar geel; dit is erg verslete en oral is skeure wat met ander stukke materiaal gelap is. Dit lyk soos lae en lae verouderde, geskeurde materiaal oor mekaar, want die stukke materiaal wat veronderstel is om die skeure te verbloem, is nie nuwe materiaal nie, maar ook ou en geskeurde lap. Dit is ’n hengse deurmekaarspul, want die tekstuur van die gelapte stukke materiaal is ’n totaal ander tekstuur as die oorspronklike bruidsrokmateriaal en selfs die gelapte stukke materiaal se teksture verskil van mekaar. Ek kon selfs die oudheid van die lappe ruik, dit was ’n nare reuk. Die skare mense draai om en ek kyk na hulle gesigte, maar elkeen het ‘n sluier oor sy gesig. Dit is sulke vreeslike swaar, dik sluiers dat ek nie kan verstaan hoe hulle daardeur kan sien nie. Die sluiers is ook van baie ou materiaal gemaak, dit is ook verouderd, geel en gelap. Ek het dadelik besef dat hierdie mense so erg versluier is dat hulle nie die Waarheid van God kan sien of hoor nie, hulle is geestelik blind en doof. In 2 Korinthiërs 4:4 staan dat die god van hierdie wêreld die ongelowiges verblind om nie die Waarheid raak te sien nie.
Hierdie versluierde mense staan in baie groot groepe en hulle glo hulle is korrek geklee om die Bruilofsmaal van God by te woon, hulle DINK hulle is gered en verlos, maar al die tyd is hulle so erg verblind en is hulle eintlik net deel van godsdienstige rituele. Die bruidsrokke wat hierdie skare mense aanhet, gaan hulle beslis nie toegang verleen tot die Bruilof van die Lam nie. Dit is so in teenstelling met die bruidsgewaad wat die Woord beskryf in Openbaring 19:8 (Afr. 33/53)
“Sy moet geklee wees in rein en blink, fyn linne en die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”
Die linne van hierdie skare mense se bruidsrokke is beslis nie blink en fyn nie en dit gee ’n mens verseker nie die idee van reinheid nie… veral nie die reuk wat dit afgee nie. Hierdie bruidsrokke is mensgemaak en dit het sy afkoms van tradisie, kultuur en godsdiens. Mense in verouderde, geel, gelapte bruidsrokke probeer geregtigheid of verlossing verkry deur godsdiens wat sy ontstaan het uit die wortels van rituele en tradisie wat oorgelewer is vanaf die voorvaders waaraan mense vasklou. Dis ’n klomp nagebootste religieuse, mensgemaakte wette en reëls wat nie hulle oorsprong van God af het nie en wat hulle geestelik blind en doof maak vir die Waarheid as gevolg van die swaar sluiers wat oor hulle gesigte hang.
“Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.” Mattheus 13:14-15 (Afr. 33/53)
Mense wat geklee is met swaar, ou bruidsrokkeen sluiers, se geestelike oë is nog blind en hulle geestelike ore is nog doof, met ander woorde, hulle geesharte is nog in dormansie, en wanneer die geeshart in dormansie is, skyn daar geen Lig uit die hart van die mens nie. Omdat die geeshart nie lewe nie, kan hulle nie geestelik hoor of sien nie en daarom gaan alles wat hulle hoor, by die een oor in – waar dit deur die brein verwerk word as logiese inligting – en dan gaan dit weer by die ander oor uit. Die geeshart van die mens is gladnie betrokke in hierdie proses nie en daarom kan die mens geestelik niks verstaan nie. Dit is presies wat godsdiens is! Godsdiens het niks met die hart van die mens te doen nie, want godsdiens verseker dat die geeshart in dormansie bly en alle godsdienstiges is geklee met hierdie ou bruidsrokke.
Ek luister ’n paar aande terug ’n praatjie oor Jehova se getuies en hoe hulle te werk gaan en ek kon nie help om dadelik te dink aan mense wat geklee is met ou, verslete bruidsrokke nie. Volgens die praatjie wat ek gehoor het, is hulle groot doel om mense te betrek by hulle Bybelstudie… As iemand hulle vra hoe hul gered kan word, antwoord hulle dat die mense hulle Bybelstudie moet bywoon en daar sal hulle leer hoe om gered te word. Het Jesus nodig gehad om allerhande Bybelstudies by te woon om te leer hoe om Sy Vader te dien en te behaag? Glad nie! Hy het in afsondering gaan stilraak by Sy Vader en self by Hom die Waarheid geleer. Daarna het Hy die leer van die Fariseërs weerstaan en Sy dissipels ook gewaarsku om weg te bly van die suurdeegbrood van die Fariseers af – suurdeegbrood is dwaalleringe. Hy het gevoed op hemelse Brood wat net Abba Vader kan gee. Mense wat nog nie gered is nie, gaan gebreinspoel word by hierdie Bybelstudies. Die Woord word aan hulle geïnterpreteer deur mense en nie deur die Gees van God nie. Ons het nodig dat die Gees van God die Woord van God aan ons interpreteer, nie mense nie! En wanneer gebeur dit? Wanneer jy tyd opoffer om in die teenwoordigheid van Abba Vader in te beweeg waar jy met tyd gekonnekteer kan raak aan die enigste Lewegewer.
Die mens moet ontslae raak van ou, verslete bruidsrokkke, want dit is godsdiens, tradisie en rituele wat die mens in die duister vasgeketting hou sodat die mens nooit die heerlikheid en glorie van Abba Vader kan aanskou of ervaar nie. Dit weerhou die mens om gekonnekteer te raak aan Abba Vader, om gewortel te raak in Hom, en in en deur Sy Liefde te leef. As jy die Boom-boek gelees het, sal jy weet hierdie mense is gewortel in tradisie en godsdiens – in mensgemaakte reëls en wette; hulle is nie gewortel in die hart van God nie. Daar is geen penwortel nie. Mense in ou bruidsrokke kan nooit vrugte van die Gees dra nie, en dis die vrugte wat Jesus in en deur ons dra, wat God verheerlik. So as daar nie vrugte is nie, is daar geen heerlikheid tot Abba Vader nie, dus kan mense in ou bruidsrokke God nooit verheerlik of behaag nie. Hulle kan nooit verhouding met Abba Vader hê nie, hulle gaan Hom nooit kan voel in hulle geesharte nie, hulle gaan nooit die borrelende gevoel van die Liefde van God ervaar nie. So wat is die antwoord? Kom weg uit groepe, raak in jou eie tyd stil met die Woord van God en gesels met Abba Vader. Wanneer jy die Woord bestudeer, is dit soos ’n Lig wat op jou begin skyn en wanneer ons die tradisie, godsdiens en rituele kan begin raaksien wat nie reg is in die oë van God nie, sal die ou bruidsrokke stukkie vir stukkie begin afval net soos die skille van Paulus se oë afgeval het. Dit is dalk hier waar die vangplek inkom, want die meeste godsdienstiges is oorlaai met trots en hoogmoed wat in die pad staan tussen hulle en God. Hierdie trots en hoogmoed veroorsaak dat die mens nie sy sonde wil raaksien nie… hy wil ook nie die godsdiens in sy lewe raaksien en erken nie. As die mens nie hierdie boosheid in sy lewe kan raaksien nie, gaan hy dit ook nie erken aan God nie, en wanneer ons nie ons sonde bely aan God nie, word ons ook nie vergewe en bevry daarvan nie. So ons moet die Lig van die Woord toelaat om aan ons uit te wys of ons vasgevang is in godsdienstige groepe waar rituele nie tot eer van God is nie.
Abba Vader wys ook dat die meeste mense bang is om alleen in afsondering voor Hom te verskyn en daarom verkies hulle om in groepe die Naam van God aan te roep, maar hoekom is mense bang vir God? Dit laat my dink aan Adam en Eva wat weggekruip het vir God, wat te bang was om in Sy teenwoordigheid in te beweeg. Hoekom? Hulle het skuldgevoelens gehad as gevolg van die sonde wat hulle gepleeg het, omdat hulle toegegee het aan die versoeking van Satan. Hulle het hulleself geklee met vyeblare, maar vyeblare is werke van eie-geregtigheid. Ons het geen rede om bang te wees vir Abba Vader nie. Omdat mense bang is vir God, verkies hulle om te funksioneer in groepe, maar mense in groepe is geneig om soos mekaar te lyk, om dieselfde aan te trek, om dieselfde te praat, om dieselfde op te tree, om dieselfde leuens te glo… Hulle funksioneer in groepe omdat hulle bang is om God alleen te face. Maar alleenlik wanneer jy Hom alleen face kan Hy aan jou die Waarheid openbaar , kan Hy jou met hemelse Brood voed wat jou geeshart gaan laat ontwaak. Dit is juis hoekom jy in afsondering voor die voete van Abba Vader moet inbeweeg. Hy wil jou die Waarheid leer, Hy wil jou wys wie jy waarlik is onder daardie swaar, ou bruidsrok – die ware mens wat wegkruip agter godsdiens, rituele en tradisie. Onder daardie swaar bruidsrok, binne-in jou geeshart, is ’n saadjie wat Abba Vader geplant het en in daardie saadjie is die ware jy verberg! Maar God se Lig moet skyn op daardie saadjie om te kan begin ontkiem. Die probleem is dat die swaar bruidsrokke die Lig van God afkeer om in die hart van die mens te skyn, so kerklike rituele en godsdiens keer die Lig van God af en keer dat jy nie die ware God leer ken nie en daarom kan jy ook nie die ware jy ontdek nie. Dit wat God vir jou vooraf beplan het wat Hy deur jou wil werk, is ook opgesluit in daardie saadjie, so voordat ons waarlik vir God kan “werk”, moet ons ontslae raak van hierdie bruidsrokke. Dan eers kan God deur ons werk en Sy doel bereik deur ons. Dit begin deur tyd by die voete van Abba Vader te spandeer. Dit beteken om dalk van jou gunsteling wêreldse bedrywighede opsy te skuif en daardie tyd aan God te gee. God vra opofferings van ons kant af ook! Samewerking! Ons kan nie verander as ons nie ons samewerking gee nie en dit begin weer by ’n keuse! Jy het ’n keuse of jy in die groep wil bly met die swaar bruidsrok en godsdiens wil speel saam met die die groep mense en of jy waarlik Abba Vader wil leer ken, want jy gaan Hom alleenlik in jou binnekamer ontmoet en leer ken vir wie Hy waarlik is.
Hoe raak ons onslae van verslete bruidsrokke? Om jou sokkies op te trek, hoogmoed, trots en arrogansie eenkant toe te skuif, en in die teenwoordigheid van God in te beweeg… om af te sonder by Sy voete sodat Hy jou kan voed met hemelse Brood wat Waarheid is. Elkeen moet hierdie saak op sy eie met Abba Vader uitmaak. Raak stil voor die voete van God en vra Hom om aan jou bekend te maak waarmee jy geklee is wat Hom nie gelukkig maak nie en Hy sal deur die Lig van die Woord aan jou bekendmaak wat jou verkleef wat nie van Hom af is nie. Soms vat dit tyd en sal Hy oor ’n bepaalde tydperk aan jou begin uitwys waarmee jy geklee is en soos Hy dit aan jou bekendmaak, moet jy dit aan Hom bely en die keuse maak om dit uit te trek en by Sy voete neer te lê. God roep ons om Lig te wees in ’n donker wêreld, maar alles wat onheilig is soos vuil klere, vyeblare, verouderde bruidsrokke en sluiers moet eers van ons verwyder word, anders kan ons nooit die Lig van God na buitentoe skyn nie. Al hierdie goed is soos ’n skerm wat keer dat die Lig van God na binne of na buite skyn.
Opgesom: Om die Bruilof van die Lam van God by te woon, moet ons geklee wees met die kleed van geregtigheid, wat die Lig van God is, maar die Lig van God kan nie deur ou bruidsdrokke ons harte bereik nie. Ons moet ontslae raak van die bruidsrokke en dit kan alleenlik gebeur wanneer die Lig van die Woord die godsdiens, tradisie en rituele aan ons uitwys waarmee ons besig is; wanneer ons dit bely aan Abba Vader en ons rug daarop draai. Ons moet ontbloot staan in die Lig van God, want alleenlik dan kan die Lig van God deurdring tot binne-in ons geesharte en kan ons harte aan die brand slaan met die Lig van God om ’n geestelike Lig te skyn en dit is hierdie Lig van God uit ons harte, wat die kleed van geregtigheid is.
“Whenever they turn to face God as Moses did, God removes the veil and there they are – face to face. They suddenly recognize that God is a living, personal presence…Our faces shining with the brightness of His face. And so we are transfigured much like the Messiah, our lives gradually becoming brighter and more beautiful as God enters our lives and we become like Him” 2 Corinthians 3:16-18 (The Message)