“Waarom doen julle al die moeite om My te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in My dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het.”
Johannes 6:26 (DB)
Dink jouself die volgende scenario in asof jy deel is daarvan: Jy stap tussen die mense wat deel uitmaak van die groot skare siek en kreupeles wat van die Man van Nasaret gehoor het. Jy hoor hoe kerm en kreun die honger, siek en emosioneel afgetakelde mense om jou. Hulle het gehoor van al die wonderwerke wat die Man van Nasaret doen en dat daar soveel siek mense is wat Hy aangeraak en genees het. Die skare het gehoor dat die Man hierdie kant van die see van Galilea is en hulle is opsoek na Hom. Dan sien hulle Hom met Sy dissipels waar hulle saamsit op ’n berg. Een vir een begin mense uit die skare vinger na Hom wys en uitroep: “Daar is die Man wat genees! Daar is die Man wat ons siektes kan wegneem!” Die woord versprei baie vinnig onder die skare mense en soos hulle in die rigting van die berg stap, word die skare mense al hoe groter. Die kreupel en siek mense word teen die berg opgehelp na die Man wat genees – almal hoop dat Hy hulle sal aanraak en genees.
Jesus kyk af na die skare mense en Sy hart krimp ineen vir hulle van jammerte, want Hy weet hoe honger hulle fisies is, maar hy weet ook hoe honger hulle geestelik is. Jesus kyk na Filippus en vra: “Waarvandaan sal ons brood koop sodat hierdie mense kan eet?” Die dissipels kyk na mekaar en skud hulle koppe, want hulle weet dit gaan baie kos om hierdie skare mense te voed en nie een van hulle het soveel geld nie. Hier is wel ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies, maar al breek hulle dit op, sal net ’n paar mense elkeen ’n proeseltjie kan kry. Nogtans sê Jesus die mense moet op die gras gaan sit. Hy neem die brood en vissies by die seuntjie, dank die Here vir die voedsel en begin wonderbaarlik die brood en vissies breek en uitdeel aan die mense. Hoe meer Hy die brood en vis breek, hoe meer word dit… Die mense kyk verbaas na mekaar en dan na Jesus, maar hulle eet en eet en eet totdat hulle versadig is. Toe almal klaar geëet het, sê Jesus aan Sy dissipels om al die brokstukke bymekaar te maak sodat niks verlore sal gaan nie. Hulle gooi al die stukke in mandjies en toe hulle klaar is, is daar twaalf mandjies gevul met brokstukke. Dis asof die realiteit by die skare mense begin insink oor wat sopas gebeur het en onder mekaar begin hulle bespiegel: Is Hy waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom? Want as Hy is, moet hulle Hom dadelik kroon as koning! Dink hoe wonderlik kan Hy die lewe vir hulle maak… Hy kan aan hulle voedsel verskaf, Hy kan hulle siektes genees… Dink net… ’n Koning wat wonderwerke doen en die lewe vir hulle so maklik as moontlik kan maak, ’n Koning wat in hulle fisiese behoeftes kan voorsien, dit kan mos wonderlik wees! Die skare mense raak skoon opgewonde en wil Jesus met alle geweld kroon tot koning, maar toe Jesus hoor dat hulle Hom wil kroon as koning, gaan Hy alleen die berg op…hartseer… want Hy weet die mense sien net die mens agter die wonderwerk raak, hulle sien en besef nie dat God hierdie wonderwerke deur Hom doen sodat die mense in Hom kan glo as die Seun van God nie.
Al die werke wat Jesus op aarde gedoen het, getuig dat Hy die Seun van God is en dat God direk in en deur Jesus gewerk het, dat Hulle Een is, maar die mense se geestelike oë was geslote en daarom sien hulle net die fisiese mens raak wat wonderwerke doen en die lewe vir hulle so maklik en lekker as moontlik kan maak. Jesus weet hierdie mense wil nie regtig hoor wat Hy vir hulle wil leer nie; Hy weet hulle soek Hom nie vir wie Hy IS nie; hulle soek Hom nie omdat Hy die Brood van die Lewe is en Hy aan hulle die Ewige Lewe kan gee nie; hulle soek Hom nie om hulle honger gees te voed nie… Nee, hulle soek Hom omdat hulle die wondertekens gesien het, omdat hulle gesien en gehoor het van al die siekes wat Hy genees het. Hulle soek Hom nie om eer aan Hom te gee nie, maar eerder dat Hy hulle ook genees en dalk kos kan gee.. hulle soek Hom om in hulle fisiese en vleeslike behoeftes te voorsien. Hulle soek Hom vir wat Hy vir hulle kan doen en wat Hy vir hulle kan gee, nie vir wie Hy IS nie! Hoe misbruik moes Jesus nie gevoel het nie…
Daardie dag en nag versprei die woord baie vinnig tussen die mense in die dorpie oor die Man van Nasaret wat aan hulle brood en vis gegee het en die volgende dag is die skare mense nog groter en begin hulle al vroegdag na Jesus soek – nog meer mense met siektes wat smag na genesing, nog meer mense wat fisies honger is – miskien kan Hy weer aan hulle brood gee om hierdie dag se honger te vul… miskien kan Hy hulle ook vandag genees… Hulle verwag om Hom hierdie kant van die see op te spoor, maar verbasend vind hulle Hom aan die oorkant van die see en besef Hy moes oor die waters loop soontoe. Hulle het Hom dadelik uitgevra hoe Hy hierdie kant gekom het, maar Jesus vra vir hulle:
“Waarom doen julle al die moeite om My te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in My dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het.”
Johannes 6:26 (Die Boodskap)
“You’ve come looking for Me not because you saw God in My actions but because I fed you, filled your stomachs – and for free.”
John 6:26 (MSG)
Kan jy die hartseer van Jesus indink? Hy het vir die skare ’n wonderwerk gedoen sodat hulle God in Sy dade moes raaksien, dat hulle kon besef God werk deur Hom, maar hulle kon dit nie raaksien en besef nie. Hulle sien net die wonderwerke raak omdat dit iets aan hulle bied, hulle sien nie vir God of Jesus raak in die wonderwerke nie… en daarom is die skare mense die tweede dag nog groter… nog meer mense wat fisies honger is wat kos soek, nog meer mense wat genesing soek. Jesus weet baie goed hoekom die skare die tweede dag groter is en daarom gee Hy hierdie dag nie aan hulle wonderbrood nie. Hy probeer hulle geestelike oë oopkry deur aan hulle te verduidelik dat Hy self die Brood van Lewe is waarop hulle moet voed, waarin hulle moet glo…
“Ek is die Brood van die lewe; wie na My toe kom sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.”
Johannes 6:35 (AFR33/53)
Die skare antwoord Jesus dat hulle eers sal glo wanneer Hy vir hulle nog ’n wonderteken sal doen… die vermetelheid van die mens! Hier staan die Seun van God wat siekes genees het, wat net die vorige dag vir hulle brood en vis vermeerder het, maar hulle vereis wraggies eers nóg ’n wonderwerk voordat hulle sal glo in Hom. Hierdie mense het ’n massiewe groot probleem: Hulle het ’n probleem met selfsug en die eie ek; alles draai vir hierdie mense net om hulleself en daarom kon hulle nie in Jesus glo nie. Hulle kyk met vleeslike, fisiese oë na Jesus en al wat hulle van Hom wil hê, is om in hulle fisiese behoeftes te voorsien sodat hulle ’n lekker lewe kan hê, ’n lewe van voorspoed en gesondheid. Hulle voed nog op die verbode boom se vrugte wat hulle harte in duisternis hou en hulle geestelike oë en ore is geslote. Hulle hoor die woorde van Jesus met die fisiese ore wat deur die brein geïnterpreteer word en in logiese inligting omgesit word, maar hierdie woorde van Jesus kan nie met die brein verstaan word nie. Dit is vir hulle moeilik om te glo dat Jesus van God af kom. Hoe is dit moontlik? Hulle redeneer onder mekaar dat Hy tog die seun van Josef is, so hoe kan Hy dan sê Hy het uit die hemel neergedaal? Hoe kan Hy sê hulle moet op Hom voed?
“My vlees is waarlik spys, en My bloed is waarlik drank. Wie My vlees eet en My bloed drink, bly in My en Ek in hom.”
Johannes 6:55,56 (AFR33/53)
Die vleeslike mens kan hierdie woorde met sy fisiese verstand glad nie kan verstaan nie, want dit is nie logies nie – hoe moet ’n mens Jesus se vlees eet en Sy bloed drink? Die skare het onder mekaar begin murmureer en so te sê die hele skare het omgedraai en weggestap. Net Jesus se getroue dissipels het agtergebly. Jesus moes so misbruik gevoel het – om te weet hierdie groot skare mense het net om een rede agter Hom aangeloop – hulle wou iets van Hom hê! Hulle wou fisies brood gehad het, sommige wou genesing gehad het… maar die punt is, hulle wou hê Jesus moes in hulle vleeslike en fisiese behoeftes voorsien. Alles het net om hulleself gedraai. Hulle geestelike honger sal nooit geles word nie.
“Terwyl die ete aan die gang was, vat Jesus ‘n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die brood, breek Hy dit in stukke en gee dit vir Sy dissipels. ‘Vat dit en eet dit’ sê Hy. ‘Dit is my liggaam’. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie daarvoor en gee dit vir Sy dissipels om te drink. ‘Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan’.”
Mattheus 26:26,27 (AFR33/53)
Wat sou ek en jy gedoen het? Sou ons deel van die skare gewees het wat agter Jesus aanloop om iets daaruit te kry? Om ’n wonderwerk in ons eie lewe te beleef of om te sien hoe dit in ander se lewens gebeur? Stel ek en jy voorwaardes aan God voordat ons in Hom glo? Moet Hy ook eers iets goeds in ons lewe laat gebeur voordat ons glo? Sou ons ook ons gesigte op ’n frons trek wanneer ons hoor ons moet op Jesus voed? Of sou ons een van die ware dissipels gewees het wat waarlik in die Seun van God geglo het?
Ons harte is opreg as ons smag na Jesus omdat Hy is Wie Hy is, nie vir wat Hy vir ons kan gee of doen nie. As ons bely om in Jesus te glo sodat ons sondes vergewe kan word, is die motief van ons hart nie opreg nie. Ons moet seker maak ons hartsmotief is reg en as dit nie is nie, bely dit voor Abba Vader. Jy hoef dit nie aan ’n mens te bely nie, maar gaan praat met Abba Vader daaroor, Hy sal jou vergewe en jou hart aanraak as dit jou hartsbegeerte is.
“Ek is die Brood van die lewe; wie na My toe kom sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.”
Johannes 6:35 (AFR33/53)