1. Oorsprong van toestande

Audio…

“Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe.” 2 Timoteus 1:10 (DB)

Aan die begin het God die mens geskape as liggaam, siel en gees.  Die liggaam is ons fisiese, tasbare deel van die mens wat al die organe bevat.  Die siel is die gedeelte wat die gedagtes, emosies en eie wil van die mens bevat.  Die gees is die diepste gedeelte van die mens wat totaal onsienbaar is vir die fisiese oog.  God het die gees van die mens vir Hom gemaak, want die mens kan alleenlik aan God gekonnekteer wees deur die gees.  Ons kan nie met ons liggaam een wees met God nie en ook nie met ons siel nie.  Alleenlik wanneer God Sy Gees in ons geesharte laat woon, is ons gekonnekteer aan God, en alleenlik wanneer ons gekonnekteer is aan God, kan ons met Hom kommunikeer en ’n verhouding met Hom bou.  Ons geeshart bevat ook ons geestelike sintuie, en vir ons geestelike sintuie om te werk, moet ons geesharte lewe… en ons geesharte lewe alleenlik wanneer die Gees van God teenwoordig is in ons.  Sien julle hoekom sê ek God het die gees van die mens vir Hom gemaak?  Hy werk deur ons gees met en in ons. 

  God het die mens na Sy beeld geskape om met Hom te wandel en met Hom te kommunikeer.  God het dus die mens geskape om Sy beeld te reflekteer… ek wil nie nou in diepte ingaan oor hierdie onderwerp nie, maar in kort… God is nie ’n mens nie;  God is Lig! Met ander woorde, toe God die mens na Sy beeld geskape het, het Hy nie ‘n fisiese, liggaamlike mens geskep wat ons met die oog kan sien nie, want God is nie in die gedaante van ‘n fisiese mens nie.  As die Woord sê God het die mens na Sy beeld geskape, het God die mens as ’n stukkie van Sy lig gemaak.  Alleenlik die gees van die mens kan die Lig van God bevat;  die liggaam en siel van die mens kan nooit die Lig van God bevat nie.  Met ander woorde, toe God die mens as beeld van Homself gemaak het, het Hy eers die gees van die mens geskep as Sy beeld.  Hy het dus Sy lig in ons geesharte ingeblaas en daarna het  Hy vir die gees ’n liggaam en siel gegee om in te woon.  Die Lig van God het dus in die geeshart van die mens gedwell en daarom was die mens een met God.  Hy was gekonnekteer aan God en daarom kon hy met God wandel en met Hom kommunikeer.      

God het die tuin van Eden gemaak vir Sy kinders om in te woon.  Die tuin van Eden was dus in die Lig-toestand geleë as ’n woonplek vir die mens wat die Lig van God bevat;  die mens wat een is met God en met Hom kan kommunikeer.

  God het vir Adam gewaarsku dat hulle nie van die boom van kennis van goed en kwaad mag eet nie, en as hulle ongehoorsaam aan Hom is en wel daarvan eet, sou hulle sterf.  God het nie bedoel dat hulle fisies sou sterf nie, Hy het bedoel dat hulle geestelik sou sterf, met ander woorde, dat hulle die Lig van God uit hulle geesharte sou verloor.  Adam en Eva het gekies om hulle eie wil te gehoorsaam;  hulle het oorgegee aan die versoeking van Satan en het geëet van die verbode boom… en wat het gebeur?  Hulle het geestelik gesterf!  Sonde het die Lig van God uit hulle geesharte geblus en hulle was nie meer een met God nie.  Hulle het nie meer die beeld van God reflekteer nie,  hulle was nie meer gekonnekteer aan God nie en daarom kon hulle nie meer kommunikeer met God en met Hom wandel nie.  Nog ’n gevolg, was dat die aarde vervloek is:

“VERVLOEK IS DIE AARDE OM JOU ONTWIL!  Met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.  Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring;  en jy sal die plante van die veld eet.”  Genesis 3:17 (AFR33/53) 

Die sonde van die mens het dus die duistere toestand op die been gebring.  Dit het ook die verhouding tussen mens en God vernietig en daarom mag hulle nie langer in die tuin van Eden gewoon het nie.  (Hou in gedagte dat die tuin van Eden in die Lig-toestand van God is, dit is nie deel van die wêreld nie).  God het hulle uit die tuin uit weggestuur om te gaan woon in die wêreld wat deur hulle eie toedoen vervloek is.  Omdat die aarde vervloek was deur hulle eie sonde, het bestaan vir die mens baie moeilik geraak.  Van hier af was die geestelike realm van die wêreld duister en vervloek.  Daarteenoor was die geestelike atmosfeer van die tuin van Eden nie vervloek nie, maar God het aan engele die opdrag gegee om die tuin te bewaak sodat geen mens met ’n duistere hart weer toegang tot die tuin kon verkry nie.  God het dus die Lig-toestand vir die mens verberg.  Die mens was vasgevang in die duisterde, vervloekte wêreld en kon nie daarvan ontsnap nie, want daar was nêrens om heen te ontsnap nie.  

Romeine 5:12 van die Boodskap sê dat die wêreld in so ’n groot gemors is as gevolg van die sonde van Adam.  Omdat hy nie na God geluister het nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep.  God se reaksie op die sonde van Adam was kort en kragtig:  ’n Doodsvonnis vir die ganse wêreld.  Vanaf die sonde van Adam en Eva, was almal vasgevang in die duistere toestand waar  dood en sonde oor hulle geheers het.   

Die Gees van God was teenwoordig in die tuin van Eden, maar die Gees van God het nie “gedwell” in die duistere wêreld nie.  So die Gees was nie teenwoordig in die wêreld om as Helper vir die mens op te tree nie.  Daarom kon die mense nie konnekteer met God nie, hulle kon nie verhouding hê met God of met Hom kommunikeer nie;  die mensdom was ongehoorsaam aan God omdat hulle nie die hulp van die Gees van God gehad het nie.  Daar was natuurlik uitsonderings waar die Gees van God wel deur mense gewerk het soos Moses, Noag, Abraham en die profete.  Hulle het wel ’n verhouding met God gehad, hulle kon die stem van God hoor en die boodskappe van God oordra aan die mense.  Ek glo hulle was direk gestuur van God as boodskappers om die mensdom te help.

Die mensdom was goddeloos – so erg dat God besluit het om die totale mensdom uit te wis deur die vloed.  Ná die vloed het ’n nuwe geslag mense ontstaan, maar nogsteeds kon hulle God nie behaag nie… hoekom nie?  Want hulle het nie die Gees van God as ’n helper gehad nie.  Die wêreld was nogsteeds in geestelike duisternis gedompel en almal was verlore.  

Genadiglik het Abba Vader nie die wêreld in die chaotiese duisternis gelos en Sy rug daarop gedraai nie en daarom het Hy Sy Seun gestuur om te sterf sodat die Gees van God vrygestel kon word wat as Helper vir die mense kon dien.  Deur die gehoorsaamheid van Jesus, het Hy die kruis geplant tussen die duistere wêreld en die tuin van Eden.  Eers was daar geen deurgang na die tuin nie, maar Jesus het die kruis as deurgang daargestel.  Jesus het dit vir die mens moontlik gemaak om terug te beweeg na die tuin van Eden, wat ook die Lig-toestand is, maar die mens MOET deur die kruis daarheen beweeg wat beteken die mens moet eers sy vleeslikheid afsterf.  Dit is die enigste manier!  Voor die kruisiging van Jesus, was daar geen deurgang nie, so Jesus en die kruis is die enigste deurgang vanaf duisternis na Lig.  Galasiërs 1:4 van die Boodskap sê dat Jesus Sy lewe vir ons opgeoffer het sodat ons sondes nie meer soos ’n muur tussen ons en God staan nie.  Jesus het dit vir ons gedoen om ons uit die kloue van die sondige wêreld te bevry. 

“Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek.  Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe.” 2 Timoteus 1:10 (DB)   

Nou moet ons asseblief nie die fout maak om te dink alleenlik die Ou Testamentiese mense was vasgevang in die duistere toestand, en dat ons die gelukkiges is wat leef in die Lig-toestand omdat Jesus vir ons sondes kom sterf het nie.  Die waarheid is dat die grootste gedeelte van die mensdom vandag nogsteeds vasgevang is in hierdie duistere toestand, alhoewel die meeste Christene DINK hulle is gered en verlos…  Inderwaarheid beoefen hulle net godsdiens wat nie verhouding met God is nie.  Godsdiens kan jou nie verbind aan God om ’n verhouding met Hom te hê nie, alleenlik die Gees van God kan jou aan Hom verbind.  Hoe kan ek sommer net prontuit so sê?  Want ek was ook daar!  Ek het ook elke Sondag in die kerk gesit, my tiende gegee, gedink ek is gered, gedink ek ken God, maar die dag toe Abba Vader my aan my hand uit die stormwaters uitgeruk en teen Sy bors vasgedruk het, het ek besef dat ek Hom eintlik nooit geken het nie.  Ek was naïef en ek het die leuens van die wêreld geglo.  Een groot leuen wat die laaste tyd weer kop uitsteek, is leraars wat verkondig dat daar Ou Testamentiese Christene was, maar dat ons almal nou Nuwe Tesamentiese Christene is.  Waar op dees aarde kom hulle aan sulke nonsens?  Daar bestaan nie so iets nie;  daar is wel kinders van God of kinders van die duiwel.  Die sogenaamde Nuwe Testamentiese Christene wat die Ou Testament eenkant toe skuif en verkondig dat ons ons nie meer hoef te steur aan die Ou Testament of aan die gebooie van God nie, sit toe al die tyd nogsteeds vasgeketting in hierdie duistere toestand.  Niemand ontvang outomatiese verlossing omdat Jesus gesterf het aan die kruis nie!  Jesus se sondevergifnis kan nie sommer net deur die mens opgeslurp word en skielik is almal gered nie.  Selfs nie elkeen wat met die mond bely om in Jesus te glo, is gered nie!  God weet wat gaan in elkeen se hart aan, Hy weet wie Hom waarlik liefhet en wie Hom en Sy Seun se kruisdood net wil misbruik.    

Jesus se sterfte het nie die duistere toestand uitgekanselleer nie.  Inteendeel, Jesus se gehoorsaamheid het ’n deurgang bewerk na die Lig van God.  Jesus het ook nie gesterf sodat almal wat gebore word na die kruisiging, in die Lig-toestand van God ingebore word nie.  Nee, die mens word nogsteeds in die duistere wêreld ingebore!  Dit is hoekom Jesus gesê het die mens moet weer gebore word!  Alle mense word in die duistere toestand ingebore en moet geestelik weer gebore word om in die Lig-toestand van God te kan inbeweeg.  Romeine 3:9-20 sê ons almal is in die greep van die sonde vasgevang, of ons nou Jode is of nie.  Niemand op aarde leef reg nie, niemand probeer om volgens God se wil te leef nie.  Almal het die spoor byster geraak en het in sonde verval.  Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie.  Dus word ons almal eers in die duistere toestand ingebore deur ons vleeslike ouers.  Efesiërs 2:1-3 is ook ‘n bewys dat ons in die duistere toestand ingebore word: 

“You were once dead because of your failures and sins.  You followed the ways of this present world and its spiritual ruler.  The spriritual ruler continues to work in people who refuse to obey God.  All of us once lived among these people, and followed the desires of our corrupt nature.  We did what our corrupt desire and thoughts wanted us to do.”  Ephesians 2:1-3 (GWT)

Romeine 8:5-9 wys ook vir ons daar is twee verskillende toestande waarin mense kan funksioneer.  Die mense in die duistere toestand laat toe dat die sonde oor hulle heers en daarom is hulle heeltyd besig met sonde.  Hulle denke en dade is in die greep van die sonde vasgevang en hulle leef in die dood.  Dan is daar weer aan die ander kant mense wat toelaat dat die Gees van God hulle lewens beheer en hulle koppe is heeltyd besig met dinge wat vir God belangrik is.  Hulle denke en dade is in die greep van die Gees van God vasgevang en hulle ken die ware lewe en vrede.  Hier is duidelik twee tipes mense in twee verskillende toestande.  Die Engelse vertaling stel Romeine 8:5-9 (GWT) op hierdie manier:    

“Those who live by the CORRUPT NATURE have the corrupt nature’s attitude.  But those who live by the SPIRITUAL NATURE have the spiritual nature’s attitude.  The corrupt nature’s attitude leads to death.  But the spritual nature’s attitude leads to life and peace.  This is so because the corrupt nature has a hostile attitude toward God.  It refuses to place itself under the authority of God’s standards because it can’t.  Those who are under the control of the corrupt nature can’t please God.  But if God’s Spirit lives in you, you are under the control of your spiritual nature, not your corrupt nature.“  

Die voorreg wat ons dus in vandag se tyd het bo die Ou Testamentiese mense, is dat ons nou ’n deurgang vanaf die duisternis na die Lig het.  Die deurgang is die kruis van Jesus.  God gee aan ons ’n kans om deur die kruis van Jesus te beweeg na Sy Lig-toestand, maar dan moet ons eers saam met Jesus sterf aan die kruis om weer gebore te kan word in die Lig-toestand van God.   Jesus het in Johannes 3 aan Nikodémus die volgende geleer aangaande wedergeboorte:

 “Jesus antwoord en sê vir hom:  ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  Nikodémus sê vir Hom:  ‘Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?’  Jesus antwoord:  ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.  Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.  Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.’   Nikodémus antwoord en sê vir Hom:  ‘Hoe kan hierdie dinge gebeur?’  Jesus antwoord en sê vir hom:  ‘Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie.  As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?  En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.  En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.  En dit is die oordeel:  dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig;  want hulle werke was boos.  Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.  Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.”

Duister na LIG 1

Audio – Om die Audio te luister oor die Inleiding van die boek “Duister na Lig”, kliek asseblief op die volgende link:

duister na lig 1

Die lering oor die twee verskillende toestande het Abba Vader my geleer deur vir my ’n baie lang, reguit lyn op papier te wys wat van links na regs strek.  Reg in die middel van die lyn is ’n kruis wat die skeiding aandui tussen die regter- en linkerkant;  daar is ’n baie groot verskil tussen die twee kante!  Die totale gedeelte aan die linkerkant van die kruis is swart en in duisternis gehul, waarteenoor die totale gedeelte aan die regterkant van die kruis, lig en helderkleurig is soos die kleure van ’n reënboog.  

Abba Vader verduidelik dat daar twee geestelike toestande is wat nie met die blote oog gesien kan word nie, en word van mekaar geskei deur die kruis.  Daar is die duistere toestand aan die linkerkant van die kruis, en die Lig-toestand aan die regterkant van die kruis.

Abba Vader wys my daarop dat die beginpunt van die lyn aan die linkerkant die begin van lewe in die wêreld aandui, en dat die duistere tydperk verloop tot by die kruis van Jesus.  Direk na die kruis van Jesus, begin ’n “nuwe” tydperk wat in Lig gehul is.  Die kruis is dus die skeiding tussen duisternis en Lig.

Dink nou eers ’n bietjie oor die prentjie wat ek nou geskets het… Hoe verstaan jy hierdie prentjie?  Ek het dadelik met my menslike brein gedink dat die duistere toestand, aan die linkerkant van die kruis, die ou Testamentiese tyd is en dat die Lig-toestand, aan die regterkant van die kruis, die Nuwe Testamentiese tyd is.  As jy ook so daaraan gedink het, is ons albei verkeerd, want Abba Vader wys dat die oorgrote meerderheid van vandag se mense nogsteeds in die duistere gedeelte vasgevang is.  Hoe kan dit wees?  As Jesus gesterf het, is almal mos veronderstel om in die Lig-toestand te wees wat mos die nuwe tydperk aandui…  Hoe kan die oorgrote meerderheid van mense dan nogsteeds vasgevang wees in die duistere toestand?  Ek vertel deur die loop van hierdie kort boekie hoe Abba vader my geleer en onderrig het oor die verskillende toestande…

Stille, sagmoedige gees van ‘n vrou

“Julle versiering moet nie uiterlik wees nie:  haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”  1 Petrus 3:3-4 (AFR33/53)

Op ’n dag wys Abba Vader vir my ’n ontstellende prentjie:  Jesus stap met Sy volgelinge op die stowwerige, klipperige, wit pad.  Die vrouens het niks “fancy” aan nie en hulle voete is vol stof, maar dit pla hulle glad nie, want hulle is nie ingestel op hulleself nie, net op Jesus.  Hulle klere word vuil en vol stof wanneer hulle kniel by die voete van Jesus, maar dit kan hulle ook nie pla nie.  Langs die pad staan’n paar vrouens wat uitgedos is in die beste, duurste uitrustings met vreeslike hoë hakskoene.  My fokus het op hulle skoene stilgeraak en ek het begin wonder hoe ’n mens op die pad agter Jesus kan aanstap met sulke skoene.  Hulle gaan baie swaarkry op die pad, want hulle gaan OF hulle skoene moet uittrek en agterlaat, OF Jesus nie volg op Sy pad nie.  Die “grand” vrouens het die kaalvoetvrouens aangegaap met hulle hande oor hulle monde van verbasing.  Hulle kon nie glo hierdie kaalvoetvrouens gee nie om om so vuil te word op die stofpad nie.  Maar weet julle – die stowwerige vrouens lyk maar net vir die wêreld stowwerig, maar hulle het die voorreg om elke dag te kniel voor die voete van die groot almagtige Koning.  Hulle ervaar elke dag die liefde wat uit Jesus uitvloei en daarom het hulle nie nodig om te klee vir aanvaarding van die wêreld nie.  Hulle weet wie hulle is en aan wie hulle behoort.  Hulle het tot die besef gekom dat dit nutteloos is om opgetof langs die pad te staan op soek na komplimente en aanvaarding.  Hulle het die voorreg dat Jesus elke dag hulle stowwerige voete was en hulle elke dag opnuut klee met klere uit Sy hemelkas.  

Daardie dag het ek besluit ek is klaar met die modes van hierdie wêreld, ek gaan beslis nie dat modegiere en hoëhakskoene tussen my en God staan nie.  Nie een van ons het mooi skoene, klere of behangsels nodig in ons lewenswandel saam met Jesus nie.  Ek sê nie hoëhakskoene is ’n euwel nie, maar dis wel ’n euwel as ons weier om dit uit te trek om Jesus te volg.  Dis ’n euwel as dit tussen ons en Jesus staan en dis ’n euwel as jy op jou hoëhakskoene die res van die mense uit die hoogte aanstaar en ’n hand voor jou mond hou, want “kyk hoe lyk daardie mense…” 

Dit wat in ons geeshart gebeur, werk vanuit ons geeshart na ons siel, wat weer op sy beurt oorspoel na die liggaam, met ander woorde, alles wat in ons gees gebeur, spoel op sy beurt weer oor na ons siel en dan na ons liggaam.  Die verandering in ons gees, sal mettertyd weerspieël in ons siel en liggaam.  Net so sal ons nuwe bekleding van ons gees, deur Jehova Tsidkenu, op sy tyd deurspoel na ons manier van dink en doen, asook ons fisiese manier van klee.  

Daar is niks mee fout as ons mooi aantrek en onsself versorg nie, maar waar die probleem wel inkom, is tot watter mate ons optof en ook wat die motief is daaragter…  Wat is ons beweegrede?  Is dit om goed of beter oor onsself te voel?  Is dit om gekomplimenteer te word?  Is dit om eer van die wêreld te ontvang?  Die ergste van alles – Is dit om aandag te trek en mense twee keer te laat kyk, veral om mans se oog te vang?  

Onder gebed wys Abba Vader vir my die mooiste, sagste pienk blom en vra ek moet die blom aan Hom beskryf.  Die eerste woord wat by my opgekom het, was die woord “sag”.  Daardie blom het vir my alles wat mooi, sagmoedig, liefdevol, vredevol en vroulik is, verteenwoordig.  Abba Vader gee toe vir my 1 Petrus 3 om te gaan lees en sê Hy wil graag hê Sy vrouens op aarde moet soos hierdie blom lyk en dit verteenwoordig…

“Julle versiering moet nie uiterlik wees nie:  haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”  1 Petrus 3:3-4 (AFR33/53)

“Wanneer is ’n vrou regtig mooi?  Vir ’n Christen sit skoonheid nie aan die buitekant nie, maar dit kom van binne.  Moenie julle te veel daaroor bekommer of julle klere in die mode is en julle hare pragtig versorg is nie.  Mooi juweliersware is ook nie nodig om julle mooi te maak nie.  Nee, ’n vrou se eintlike skoonheid kom van binne af.  Hoe mooi is dit nie as ’n vrou sag en vriendelik optree nie.  Of ’n vrou nou oud of jonk is, hierdie soort mooiheid kan jy nie van haar af wegvat nie.  In God se oë is dit die kosbaarste juwele wat ’n vrou kan dra.” (DB)

Ek is jammer oor wat ek nou gaan sê, maar dis die reine waarheid…  Ek is ook ’n vrou, so ek wys nie vinger na ander nie, maar ek hoop dat elke vrou wat hier lees, selfondersoek sal gaan doen.  Vanaf Eva se tyd is dit so maklik vir die vrou om die man te verlei – om hom agter haar aan te lei die sonde in en om haar gode te dien.  Onthou net, mans verloor half kop as hy ’n mooi vrou sien, veral as sy nog sensueel geklee is daarby.  Sommige mans het al mooi geleer – hulle kyk eerder weg as hulle so ‘n vrou sien, maar daar is mans wat nie hulle oë in toom kan hou nie.  Ongelukkig is daar te veel vrouens wat versot daarop is om mans se koppe te laat draai.  Dit laat die vrou beter voel oor haarself, dit doen iets binne haar, dit voed ook seker haar honger gees, maar dit is ’n bose daad uit die pit van die hel!  Mans is swak as dit by vrouens kom, want hulle sien net een ding…  soveel mans loop nie agter ’n mooi vrou aan vir hoe sy lyk nie, maar vir dit wat sy hom kan bied – of dit seksueel van aard is en of sy vir hom ’n trofee is om hom beter oor homself te laat voel…  Ek weet alle mans is nie so nie, daar is egter min wat uitloklike vrouens kan teëstaan en ’n doelbewuste besluit maak dat ’n vrou hom nie sal mislei nie.  Daar is vrouens wat die vermoë het om mans se fokus weg te vat van God en hulle werk vir God – hierdie vrouens doen die werke van Satan!  Dit is in teenstelling met wat God van ons vrouens vra!  Hy vra van ons ’n sagte, stille en sagmoedige gees wat nie mans uitlok met die uiterlike nie, maar wat mooi van binne is.  Ons kan dit alleenlik by Abba Vader ontvang;  alleenlik Hy kan ons omvorm in die mooi, sagte, pienk blom.  ’n Vrou by die voete van die Meester gaan beslis nie uitloklik aantrek nie, dit is so in teenstelling…

 “…want ’n mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie.”       Mattheus 7:16  (AFR33/53)   

God duld nie goed wat in teenstelling met mekaar is nie, want hy duld nie lig en duisternis wat vermeng word met mekaar nie – dit is presies wat satan wil hê, nie God nie.  Ek was gekonfronteer met die argument dat ’n vrou se voorkoms en die manier waarop sy aantrek, niks met haar hart te doen het nie, maar as ek die Bybel lees en ek let op dit wat Abba Vader my leer, kan ek geensins daarmee saamstem nie!  ’n Boom word geken aan sy vrugte!  As ’n boom gewortel is in God, gaan hy vrug dra wat God verheerlik – die vrou wat gewortel is in God, sal klee om God te verheerlik.

“Julle is duur gekoop.  Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Korinthiërs 6:20  (AFR33/53)

As ons hart, siel en gees aan God uitverkoop is, gaan ons klee volgens ons hart om God te behaag en nie om die mens se oë te behaag nie;  ons gaan WIL lyk soos die pienk blom.  Ek oordeel geen vrou oor haar kleding nie, maar deur die kleding van ’n vrou oordeel sy haarself.  Ons liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees, dit huisves die Gees van God en ons liggaam behoort nie aan onsself nie.  As die Gees van God binne ons woonbaar is, gaan ons gewete ons aankla wanneer ons klee om die fokus op ons liggame te plaas, want dan verheerlik ons God beslis nie.  Daarom moet en sal ons klee met die oog op Jesus, om Hom te verheerlik deur ons liggaam, nie om ons eie liggame te verheerlik nie.  As ons beweer ons behoort aan God, maar tog uitloklik klee, is ons besig om onsself te flous.  As ons harte deur God verander is, as ons deur Jehova Tsidkenu die kleed van geregtigheid ontvang het, gaan ons in elk geval geen behoefte hê om te klee met die doel om koppe te laat draai nie!  Ons gaan geen behoefte hê om mans te verlei nie, en as ons dit wel doen met die punt om mans te laat struikel, gaan ons moet verduidelik eendag…

As ons mooi aantrek en ons behang met versiersels met die doel om mooi te lyk aan die buitekant, wat gaan aan in ons binnekant?  Ek sê weereens:  Ek wys vinger na niemand, want ek het ook deur hierdie proses gegaan, so ek weet!  Ons plaas die fokus op die buitekant sodat ander nie moet fokus op ons harte nie….  laat hulle eerder ons buitekant bewonder en nie loer wat aangaan in ons hart nie.  As ons klee om raakgesien te word, doen ons dit om aanvaar en gekomplimenteer te word, maar niemand op aarde kan vir ons die aanvaarding gee wat ons nodig het nie.  En wie se aanvaarding wil ons regtig hê?  Die mens s’n, of God s’n?

 Wanneer ons geestelike klere van God ontvang, gaan ons nie meer WIL klee om ander te beïndruk nie, want as ons ons harte aan die enigste Geneesheer gee en Hy dit heelmaak, gaan ons self begin fokus op wat in ons hart aangaan en nie meer fokus op ons buitekant nie.  Jehova Tsidkenu maak ons so vol van binne, Hy voldoen in al ons behoeftes, soos liefde en aanvaarding, dat ons nie nodig het om dit in die wêreld te soek nie.  Ons hoef nie meer onsself te verkoop aan die wêreld nie, want ons is uitverkoop aan Jesus Christus en Hy verander ons van binne af buitentoe.  Hy klee ons met Homself wat liefde, vrede, vreugde en sagmoedigheid uitstraal – dan eers kan ons die pienk blom verteenwoordig wat God van ons verwag.   

“Verder het die Here gesê:  ‘Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel, daarom sal die Here die skedel van die dogters van Sion skurf maak, en die Here sal hulle skaamte ontbloot.  In die dag sal die Here wegneem die sieraad van die voetringe en die sonnetjies en die maantjies;  die oorversiersels en die armbande en die sluiers, die hoofversiersels en die voetkettinkies en die pronkgordels en die reuklflessies en die towermiddels;  die vingerringe en die neusringe;  die feesklere en die manteltjies en die tjalies en die handsakkies;  die handspieëltjies en die hemde en die tulbande en die wye mantels.  Dan sal daar in plaas van ‘n balsemgeur mufheid wees, en in plaas van ’n gordel ’n tou, en in plaas van gevlegte hare kaalheid, en in plaas van ’n pronkgewaad ’n roukleed, brandmerk in plaas van skoonheid’.” 

Jesaja 13:16-24 (AFR33/53)

Mag ons as vrouens klee om God te verheerlik met ons liggame en nie om eer aan onsself te bring nie!  Mag ons kniel voor die voete van Jesus sodat Hy ons kan skoonwas van binne sodat ons nie meer ons harte sal probeer wegsteek deur die fokus te plaas op die uiterlike nie.  Mag ons bereid wees om die juwele, handsakkies, reukwerk, mooi klere en hoëhakskoene eenkant te plaas sodat ons die stowwerige, wit grondpad sal aandurf saam met Jesus.  Mag ons oorgee aan God dat Sy saad binne ons sal begin groei sodat ons kan begin blom na buite met ’n stille, sagmoedige gees.  Mag God ons krag en sterkte gee om nie te fokus op die toeskouers wat ons met verbasing aangaap nie, maar om altyd ons fokus op Jesus te hou en om eerder te bid dat Abba Vader aan die toeskouers ’n hongerte en brandende begeerte na Hom sal gee.

“What matters is not your outer appearance – the styling of your hair, the jewelry you wear, the cut of your clothes –  but your inner disposition.”   1 Peter 3:3,4 (MSG)