Waar is jy gewortel?

04ABC818-F2AB-4C4C-A674-422FFF74CB5B

Een van die eerste goed wat Abba Vader my geleer het oor ’n geestelike boom is die volgende:  Ek sien ’n groot, kloppende hart op die seesand en om die hart staan ’n aantal bome, maar pleks dat die wortels van die bome in die sand ingroei, groei die wortels direk na die hart waar elkeen direk gekonnekteer is aan die hart deur die hoofslagaar.  Wat my opval, is dat die konnektasies nie onder die grond is soos gewone wortels nie, maar dit is duidelik sigbaar bo die grond.  Ek sien duidelik die are waardeur die bloed vanaf die lewende hart na die bome vloei en ek kan duidelik sien hoe pomp die bloed na die bome.  Die bome is afhanklik van die bloed wat vanaf die hart pomp, sonder dit kan hulle nie lewe nie.  Terwyl Abba Vader dit vir my wys, verduidelik Hy dat dit is hoe Sy kinders as bome gewortel moet wees in Hom.  Met hierdie beeld en verduideliking, gee Abba Vader vir my Efesiërs 3 om te gaan lees:

Ephesians 3:17 (Amplified)

“May Christ through your faith dwell in your hearts.  May you be rooted deep in love and founded securely on love…”

 

Ons kan net op een van twee plekke gewortel wees:  Óf ons is gewortel in die sand van die duistere wêreld, waar ons oorgegee is aan die leringe en genietinge van die wêreld,  waar die vyand mag en beheer oor ons het (al weier ons om dit te glo);  óf ons is gewortel in die hart van God waar ons oorgegee is aan die wil van God.  Ons kan nie beide plekke gewortel wees nie;  ons kan nie met een voet in die duistere wêreld en ’n ander voet in die Koninkryk van God staan nie.  Dit is soos 1 Korinthiërs 10:21 sê dat ons nie deel kan hê aan die tafel van die duiwels asook aan die tafel van die Here nie.  Daar is ’n duidelike keuse om te maak!

 

Waar is ons gewortel?  In die hart van God of in die sand van die duistere wêreld?  Om dit vir onsself eerlik te antwoord, het ons nodig om ons trots, arrogansie en selfversekerdheid eenkant te plaas en moet ons nie die fout maak om te dink dat alleenlik die groot sondaars, soos die moordenaars, in die sand van die wêreld gewortel is nie.  Moet asseblief nie die fout maak om te dink dat alleenlik kerkmense in die hart van God gewortel is en die res verlore is nie… al is dit wat leraars verkondig.  Wat maak een sondaar in elkgeval beter as ‘n ander sondaar?  Hoe meet ons sonde?  Niemand is veilig net omdat hy deel is van ’n kerk of ’n gemeente nie!  Geen kerkmens is beter as die moordenaar op straat nie, want as die kerkmens se hart nie in die regte toestand is nie, is hy saam met die moordenaar gewortel in die bose, duistere sand van die wêreld en is daar geen verskil tussen die twee mense nie. Omdat jy kerk toe gaan, beteken nie jy is NIE in die sand van die wêreld gewortel nie…

 

Die grootste fout wat die mens kan maak is om te dink hy is “veilig”, gered en verlos as hy deel van ’n fisiese kerk of gemeente is.  Die meeste kerke is gewortel in die dooie sand van die wêreld, so die mense wat gewortel is in hierdie kerke, is saam met die kerk gewortel in lewelose sand waar hulle onder die mag en invloed van Satan is.  Hy gebruik die kerk, waar sy vuil voelers ingeslaan is, om derduisende dwaalleringe te versprei wat mense net nog dieper in die duistere wêreld anker.  Selfs Openbaring waarsku oor kerke wat sinagoges van Satan is, maar die mens dink sy kerk is “reg”, want die Naam van God word genoem in sy kerk;  God word “geworship” in sy kerk;  hulle gebruik nagmaal, hulle bid…alles klink dan net so “reg”, hoe kan ek dan sê kerke is sinagoges van Satan?  Want dit staan in die Woord van God.  Ek was al in ’n kerk waar die einste pastoor kinders seksueel gemolesteer het, maar dan hang almal sy/haar lippe aan, want hy/sy praat mos oor God… en dis nie net skinderstories nie, want ek het eerstehandse ondervinding daarmee gehad.

 

Kerk en teologie is niks anders as menslike ideologie, reëls en wette nie, so die mens wat in ’n kerk gewortel is, se wortels lê diep in die leringe, ideologie, wanvoorstellings en dwaalleringe van mens-uitgedinkte reëls en wette.  Die mensdom word so gemanipuleer om deel van die kerk te wees en wee jou siel as jy nie deel is van ’n kerk nie…  Dis mos die eerste vraag wat kerkmense vreemdelinge vra… In watse kerk is jy?  En as jy nou nie in ’n kerk is nie, is jy sommer dadelik van die duiwel af in hulle oë.  Ek het al meer as een keer gehoor dat as jy nie deel is van ’n kerk nie, jy ’n koue kool is wat eenkant lê en besig is om dood te gaan, maar gaan lees asseblief die saadjie oor die kool (Is jou hart aan die brand)  Ek het selfs op ‘n keer gehoor dat ons as gesin ’n oop teiken vir Satan is omdat ons alleen staan en nie deel is van ’n kerk of gemeente nie.  Dit is alles maniere wat Satan gebruik om die mensdom te manipuleer, om hulle “bang” te praat sodat hulle tog maar êrens deel van ’n kerk moet wees, want as hulle deel is van ’n kerk, is hulle saam met die kerk gewortel in die bose sand van die wêreld;  almal en alles wat in die sand gewortel is, word beheer deur Satan… so natuurlik gaan hy enige en ander storie uitdink om die mens bang te praat wat kerkloos is, want diegene wat kerkloos, maar nogsteeds in die hart van God geanker is, is ’n baie groot gevaar vir Satan.  Kerke en kerkmense is geen gevaar vir Satan nie, hulle is vir hom geen bedreiging nie;  omdat hulle in groepe funksioneer in die kerk, staan hulle nie vir hom uit as ’n teiken nie en is hulle geen gevaar vir hom nie.  Saadjie:  “Is jy ’n oop teiken”

 

Ons moet as ’n boom DIREK in die hart van God gewortel wees, ons hoef nie deur ’n kerk aan God verbind te wees nie.  Ons moet wees soos die bome wat rondom die kloppende hart staan en DIREK gekoppel is aan die hart van God…  Dít is hoe God Sy kinders in Hom gewortel wil hê.  As Hy wou gehad het ons moet deur ’n kerk aan Hom gekoppel wees, sou Hy vir my bome gewys het wat gekoppel is aan ’n fisiese kerk met ’n kerktoring, wat dan weer aan Hom gekoppel is, maar dis nie Abba Vader se hartsbegeerte nie.  Die mens het nie ’n medium nodig waardeur hy hoef te werk om in God gewortel te wees nie, want Jesus het dit vir ons moontlik gemaak om DIREK met God gemeenskap te kan hê, om direk in Hom gewortel te kan wees en ’n verhouding met Hom te kan bou.  Ons het nie ’n kerk nodig om gewortel te wees in Abba Vader nie.  Die voorhangsel het geskeur wat daarop dui dat die weg oop is na die troon van Abba Vader, dat ons voor die voete van Abba Vader mag kniel en direk met Hom gemeenskap kan hê.  Alleenlik wanneer ons so direk met Abba Vader gemeenskap het, kan jy gewortel en geanker raak in Hom.  Daar is nie ’n manier hoe jy dit gaan regkry deur die kerk nie.  As jy die kerk nodig het om gemeenskap met God te hê, is dit waar jou wortels begrawe is… in die kerk… wat in die sand van die wêreld is… dan is jy nogsteeds nie in God gewortel nie.

 

Dink nou weer aan die bome wat rondom die hart van God staan en direk gekoppel is aan die hart – hierdie bome kry eerstehands die bloed en lewe van God af deurdat hulle nie deur ’n medium werk nie.  Hulle weet verseker die bloed en die lewe word nie verdun, vervals of besmet nie, want hulle kry dit direk van Abba Vader af!
As jy ’n kerkganger is wat die stof van jou Bybel moet afblaas voordat jy Sondae kerk toe gaan, is jy nie in God gewortel nie, want om in Hom gewortel te wees, beteken om ’n baie hegte verhouding met Hom te hê.  Ons kan dit alleenlik hê deur elke dag met Abba Vader gemeenskap te hê, om Hom elke dag in Sy Woord te vind, om elke dag voor Sy voete stil te raak…
Ek was ook gewortel in die kerk, so ek weet hoe dit voel om “veilig” te voel in die kerk en te DINK jy is gered deur die genade van God, maar net so weet ek ook hoe dit voel om die ware God te leer ken en om ’n verhouding met Hom te bou.  Ons word van kleins af geleer om kerk toe te gaan, so ons word van kleins af gedwing om gewortel te wees in die kerk.  Net so word ons van jongs af gewortel in tradisie, kultuur en godsdiens sonder dat ons dit besef;  ons aanvaar dit is hoe dit moet wees en dat dit reg is, maar dit is net omdat ons grootgeword het daarmee.

 

Waar is jy gewortel?  Is jy een van die bome wat direk in die hart van God gewortel is waar jy direk die lewe en die bloed van God ontvang?  Of is jou wortels ingeslaan in die sand van die wêreld waar dit moet groei agter vals liefde, aanvaarding en die genietinge van die wêreld aan?  Is jou wortels dalk in ’n gebou met ’n toring geanker?  Of is jou wortels in jou ouers en voorouers se tradisie, kultuur en godsdiens in forseer?  Ons moet van ’n kant af begin en God toelaat om ons harte te deursoek en aan ons te wys waar ons gewortel is sodat ons ontwortel kan word en in die hart van Abba Vader kan ingroei.

 

Ephesians 3:17 (Amplified)

“May Christ through your faith dwell in your hearts.  May you be rooted deep in love and founded securely on love…”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s