
Hoofstuk 3 : “Van duister na LIG”
“Vroeëer was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei. Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met Sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie!” 1 Petrus 1:18-19 (DB)
In die duistere toestand word daagliks derduisende boksies aanmekaar geslaan deur die beheerder van die wêreld. Daar is boksies van verskillende vorms en verskillende kleure – enigiets waaraan jy kan dink. Die binnekant is met lekker sagte materiaal uitgevoer om dit so lekker en gemaklik as moontlik te maak vir die boksiebewoners. Dit is die mens se “comfort zone” en ons weet mos hoe gemaklik is ons in ons spasie en dat dit nie altyd so lekker of maklik is om ons “comfort zone” te verlaat nie… dit is die boksies! Daar is soveel verskillende boksies en in elke boksie woon ’n sekere groep mense – daar is ’n vriendeboksie, kerkboksie, skoolboksie, kultuurboksie, tradisieboksie en dan die gevaarlikste een – die godsdiensboksie! En so kan ons aangaan en aangaan met die klomp verskillende boksies…daar is selfs soveel verskillende kerkboksies en elke persoon vind ’n boksie waarin hy/sy die gemaklikste voel, daar waar hy aanvaar en geliefd voel deur die res van die boksiebewoners. Kyk al die oorloë en gemors wat aangaan oor die wêreld – die meeste daarvan is as gevolg van verskillende boksies van mense wat weier om die ander boksies te respekteer en te aanvaar en sodoende staan die een boksie teen die ander boksie op. Die een nasie staan op teen ‘n ander; die een kerk staan op teen ’n ander kerk… en Satan lag lekker agter die skerms, want hy het die verskillende boksies van gelowe, tradisie en kultuur geskep en dit vir die mens so lekker en gemaklik as moontlik gemaak om in hierdie boksies te woon. Omdat die een boksie mense nie die volgende boksie kan respekteer nie, begin hulle oorlog voer teen mekaar – dit laat my dink aan ’n spul bliksoldaatjies.
Binne die boksies lyk dit oral dieselfde en dis ’n baie hartseer gesig, want elke persoon in die boksie se arms en bene is vasgeboei aan toue en kettings wat beheer word deur ’n sentrale beheerpunt. Elke mens word dus beheer soos ’n blinde marionetpop wat nie vir homself kan dink en besluit nie. 2 Timoteus 2:26 sê dat Satan die mense vasboei en hulle geestelik dwing om te doen wat hy wil hê hulle moet doen. Hy dwing dus die mens om sy eie wil te gehoorsaam, pleks van die wil van God, en hy slaag in sy plan deur goed te gebruik soos godsdiens, tradisie, rassisme en verskeie sondes wat die mens vasketting in die duistere boksies. Kettings en bande van godsdiens, wette en reëls is sekerlik die sterkste kettings wat die mens gevange hou en weerhou om ’n lewende verhouding met Abba Vader te kan hê, want deur wette, reëls en godsdiens word kinders om die bos gelei en geleer om God te dien met die mond en nie met die hart nie. Hulle glo van jongs af dat hulle verlos is, maar hulle is alles behalwe, want hulle dien God op grond van reëls en regulasies, en nie omdat hulle uit die hart in Hom glo nie.
“The Lord says: ‘These people worship Me with their mouths and honor Me with their lips. But their hearts are far from Me, and their worship of Me is based on rules made by humans.’” Isaiah 29:13 (GWT)
Tradisie is ’n ketting van onheil wat deur die mens uitgedink en oorgelewer word van geslag tot geslag; dit grens aan die aanbidding van voorvadergeeste en is ’n baie sterk band wat die mens vasketting aan al die sondes van sy voorouers omdat hy aangaan met die sonde en nie daarmee breek nie. Kollosense 2:8 sê ons moet versigtig wees dat ons nie in die verkeerde rigting gelei word deur teorieë en argumente wat deur mense uitgedink is nie, want dit kom in der waarheid van die onsigbare magte wat in die wêreld aan die werk is. Dit word oorvertel van die een geslag na die volgende geslag en later glo almal dit. Wees versigtig om nie tradisie aan te hang en te volg nie, pleks daarvan om God te volg.
“Be careful not to let anyone rob you of this faith, through a shallow and misleading philosophy. Such a person follows human traditions and the world’s way of doing things rather than following Christ.” Colossions 2:8 (GWT)
Kettings kan ook sonde van verskeie aard wees. Dit kan sonde wees wat ons in ons ouerhuise aangeleer het, met ander woorde, sonde wat vanaf die voorouers aan ons geleer word, maar dit kan ook ons eie sondes wees wat ons vervreem van God. Sonde heers dan oor ons; ons is ’n slaaf van sonde en Satan is die beheerder van ons lewe. Ongelukkig word almal vleeslik in hierdie boksies in gebore deur ons vleeslike familie. Kollosense 1:13 sê ons was almal eers in die donker mag van God se vyand vasgevang, wat nog ’n bevestiging is dat ons in die duistere toestand ingebore word. God kies vir elkeen van ons ’n ouerpaar en ons word deur hulle in ‘n boksie grootgemaak waar ons vleeslike karakter gevorm en gebuig word. Al die godsdienstige reëls en lewenswette waarmee hulle grootgemaak was, word oorgedra aan ons en omdat ons grootword daarmee, aanvaar ons dit as reg en kan ons nie fout sien daarmee nie. Ons waardes, persepsies en beginsels word dus vasgelê vanaf ons geboorte deur ons ouers in die boksies. Ons word as’t ware gebreinspoel om te dink soos ons ouers en sodoende kry ons dieselfde “mindset” as hulle… wat weer die “mindset” by hulle ouers gekry het. Die gevolg is dat ons min of meer gaan dink en doen soos ons ouers en ons gaan dit weer oordra aan ons eie kinders – dit word ’n ellelange kringloop wat goed of sleg kan wees. Dit kan vir ons tot seën wees as ons Godvresende ouers gehad het wat ons reg geleer het, maar dit kan ook lei tot ’n vervloeking as ons ouers ongehoorsaam aan God was en hulle ons op hulle ongehoorsame pad grootgemaak en gelei het… Dan is ons net so blind en ignorerend teenoor die Waarheid soos ons ouers, maar dis omdat almal eers geestelik blind is. Almal word verblind deur die god van die wêreld…
“Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” 2 Korinthiërs 4:3,4 (AFR. 33/53)
“As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is.” 2 Korinthiërs 4:3,4 (DB)
Reblogged this on YAHWEH-NISSI.