SA, Sodom en regverdiges

gebed 2

Hoe meer ek die Ou Testament lees, hoe meer sien ek SA raak in hierdie geskrewe stukke van die Woord.  Soveel mense steur hulle nie aan die Ou Testament nie en sien dit net as geskiedenis, maar dit is omdat die mens nie die naakte waarheid wil raaksien nie.  

Jesaja 1:7 (AFR33/53)

“Julle land is ’n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ’n wildernis soos by ’n omkering deur vreemdes.”

Klink dit nie soos SA nie?  En hoekom? Want niemand steur hulle aan die ware God nie, niemand soek Hom in die Woord nie, niemand soek meer die Waarheid nie.  Hulle luister na leuens wat deur sogenaamde profete versprei word en die ander groot probleem is dat hulle net wondertekens soek.  As hulle nie iets daaruit kan kry om God te dien nie, wil hulle Hom ook nie dien nie.  As Hy nie die lewe vir hulle die moeite werd gaan maak nie, stel hulle ook nie belang om Hom te ken nie.  As Hy nie verby hulle sonde wil kyk nie, wil hulle Hom ook nie ken nie.  Hulle wil leef soos hulle wil, ander seermaak, lieg en bedrieg tot hulle voordeel, maar as die vervloeking (wat hulle self skep deur hulle sonde) hulle inhaal, blameer hulle God daarvoor.  As dit sleggaan in die land, word God blameer.  As daar droogte is, word God blameer.  Moet ons nie net bietjie fokus op ons eie harte nie?  Is dit nie tyd dat elkeen net gaan stilraak en sy eie lewe in perspektief neem nie?  Is daar ’n verhouding tussen jou en Abba Vader?  Of ken jy Hom net deur dit wat jy in die kerk hoor?  

Die een samekoms na die volgende een word opgeroep, die skare moet groter en groter word…  Gaan God luister na die gebede as die skares groter word? As die geroep harder word?  Dit laat my eerder dink aan Elia met die Baälprofete – hulle het so hard geroep as wat hulle kon, maar hulle gode het nie geantwoord nie.  En moenie ’n fout maak nie… hulle het gedink hulle is reg, hulle het gedink hulle aanbid die enigste ware God… maar hulle het Hom eintlik glad nie geken nie.  Hoeveel mense wat so agter hierdie samekomste aanhardloop, ken God op ’n persoonlike vlak?  Aanbid God op ’n persoonlike vlak?  Kyk wat sê God deur Jesaja:

Jesaja 1:15  (AFR33/53)

“As julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle;  ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie:  julle hande is vol bloed.” 

Al word die gebed vermeerder, al groei die skare tot watse derduisende getal, dit gaan nie maak dat God luister en SA verander nie, want God luister en gee ag op die gebed van die regverdige, nie na die skynheilige nie.  Kyk wat sê Spreuke 28:9:

“Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel.”

  Al wat SA gaan verander, is wanneer die harte van die mense verander.  God is moeg vir die skynheiligheid van die Afrikaner, vir die hoogmoed en arrogansie.  Hou op om vinger te wys na die anderkleuriges met hulle aanbidding van die voorvadergeeste.  Rig bietjie die oë op die eie hart en ondersoek ’n biejie jou eie hart.  Hou op fokus op ander, begin fokus op ’n ware, opregte verhouding met Abba Vader waar Hy die hart van die mens verander, want alleenlik as die hart van die mens verander, gaan hy regverdig voor God staan en alleenlik wanneer hier genoeg regverdiges in SA is, sal God nie toelaat dat SA verwoes word nie.  Maar as God nie genoeg regverdiges hier gaan kry nie, gaan SA die volgende Sodom en Gomorra word.  

Lees Genesis 18 oor Abraham wat as voorbidder opgetree het vir Sodom.  Abraham het vir God gevra of Hy Sodom sou verskoon as daar ’n paar regverdiges gevind sou word en God het gesê dat Hy wel die stad sal verskoon ter wille van die regverdiges.  God het toe nie die plek verskoon nie en dit verwoes nadat Lot, sy vrou en sy dogters deur die engele uit die plek uit weggestuur is.  Met ander woorde, Lot en sy gesin was die enigste regverdiges in Sodom.  Dit is waarna ons moet streef!  Regverdigheid voor God!  Om in regstaande verhouding met Abba Vader te wees.  Niemand gaan dit verkry deur in skares die hande in die lug te gooi en te smeek vir redding van ons land nie.  God soek regverdigheid, nie ’n gesmeek nie.  Hy wil hê ons moet Sy Lig reflekteer en ons kan dit alleenlik doen as Hy in en deur ons leef, as ons gekonnekteer is aan Hom.  Jy word nie gekonnekteer aan God deur jou kerk of gemeente nie!!!  (Saadjie:  Waar is jy gewortel?) Gaan kerk toe as jou tradisie jou nog so vashou, maar sorg dat jy alleen in afsondering vir God leer ken.  Alleenlik daar ontvang ons die Waarheid, daar by Abba Vader se voete.  

God het na Sodom en Gomorra gekyk en wat het Hy gesien?  Het Hy enigsins regverdiges gesien?  Hy het net duisternis gesien, geen helderkleurige Lig wat uitgestraal word nie, met ander woorde, geen regverdiges nie.  Die een regverdige wat daar was, was gered deurdat God hom en sy gesin uit die stad uit weggestuur het voordat die stad verwoes is.        Ek het in die saadjie “Uitroep van samekomste” vertel van die persoon wat die swart bolle rookwolke afskei teenoor die mens wat die helderkleurige lig skyn.  Wat sien God as Hy na SA kyk?  Is hier nie net te veel swart bolle rookwolke wat die land verduister nie?  Is hier nie net te min helderkleurige lig wat skyn nie?  Dan is SA oppad na dieselfde oordeel as oor Sodom en Gomorra.  God soek regverdigheid, Hy soek regverdiges, Hy soek mense wat Sy Lig reflekteer!  Hy soek nie samekomste nie, want geen samekoms kan jou hart verander nie.  God soek jou hart!  God soek jou lewe!  Hy wil jou hart verander, maar kan dit alleenlik doen as jy bereid is om in afsondering jou hart in Sy wonderbare hande te plaas!  Dit is elkeen se eie keuse!  Dink ’n bietjie oor die volgende vers:  

Jesaja 1:9 (AFR33/53)

“As die Here van die leërskare vir ons nie ’n klein oorblyfsel oorgelaat het nie – soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.”

 Hierdie oorblyfsel waarvan die Woord praat, is God se kinders wat wel Sy Lig uitstraal, hulle wat God geregverdig het, hulle wat waarlik weergebore is en wat ‘n opregte, ware verhouding met Abba Vader het.  SA het meer van dit nodig!  Nie samekomste nie.  SA het nodig dat meer mense in afsondering inbeweeg en Abba Vader leer ken en om Sy Lig te reflekteer.  

“Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kindes van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld…” 

Filippense 2:14,15 (AFR33/53)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s