Hoë bome, droë kerns en vuur

1 Samuel 16:7 (Die Boodskap) “Moenie kyk hoe hy lyk of hoe groot hy is nie… Dis nie wat ’n mens kan sien wat tel nie. Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ’n mens se hart!”

In Daniël 4 het koning Nebukadneser ’n droom gehad van ’n boom in die middel van die aarde en sy hoogte was groot. Die boom het groot en sterk geword, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik. Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel. Onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon. ’n Engel het uit die hemel neergedaal en hardop geroep:

Daniël 4:14 (Afr. 33/53) “Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke. Laat sy hart anders word as die van ‘n mens en ’n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan.”

Daniël was vir ’n oomblik verstom en sy gedagtes het hom verskrik, maar nogsteeds het hy die droom vir die koning uitgelê: Die hoë, groot en sterk boom wat mooi blare en baie vrugte gedra het; wat ’n woonplek en skuilplek was vir baie diere, was ’n simbool van koning Nebukadneser. Die boom is die koning wat groot en sterk geword het, maar die koning was gewortel in die grond van die wêreld en nie in God nie. Trots het hom in hierdie groot indrukwekkende boom laat groei wat tot gevolg gehad het dat hy in homself geglo het, homself as ’n god geag het en daarom het God ‘n profesie oor hom gebring sodat hy na die tydperk van 7 jaar sou erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dat Hy dit gee aan wie Hy wil. Daniël het die koning gewaarsku om ag te slaan op die droom en te breek met sy sondes en ongeregtighede, maar na twaalf maande het die koning gesê:

Daniël 4:30 (Afr. 33/53) “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?”

Nadat die koning gewaarsku was dat alleenlik God mag het oor die koningskap, het hy homself nogsteeds verhef en aan homself die eer gegee vir sy briljante vermoë om Babel so te kon opbou! Dat ’n mens in soveel hoogmoed en trots homself kan verheerlik as dit God was wat hom opgebou het… Terwyl die woorde nog in sy mond was, kom daar ’n stem uit die hemel wat die koningskap van koning Nebukadneser ontsê. Die woord van God het in vervulling gekom en hy is uit die mensdom verstoot. Hy het plante geëet soos ‘n bees en sy hare en naels het lank geword soos die van ’n arend. Na sewe jaar het Nebukadnesar sy oë na die hemel opgeslaan, sy verstand het na hom teruggekeer en hy kon die Allerhoogste loof en prys as Koning. Hy het erken dat God alleenlik die koningskap kan bevestig en dat alles uit Sy hand kom. God het koning Nebukadnesar se koningskap herstel en toe kon hy bely:

Daniël 4:37 (Afr. 33/53) “Nou prys ek en roem en eer ek die Koning van die hemel; al Sy werke is waarheid en Sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.”

Elkeen van ons moet selfondersoek doen oor waar ons gewortel is en of ons nie ook ’n hoë boom is nie, want die groot probleem is, God gaan elke boom toets:

Esegiël 17:24 (Afr. 33/53) “En al die bome van die veld sal weet dat Ek, die Here, die hoë boom verneder, die nederige boom verhoog; die groen boom laat verdroog en die droë boom laat bloei het. Ek die Here, het dit gespreek en gedoen.”

Voordat ons aangaan, moet ons in gedagte hou dat daar drie verskillende tipes bome is: Daar is die bome wat waarlik in God gewortel is, dan is daar bome wat glad nie daarin belangstel om God te ken of om in Hom gewortel te wees nie en dan is daar bome wat beweer om in God gewortel te wees, maar in werklikheid is hulle nog in die sand van die wêreld gewortel. Ek fokus nie op die hoë bome wat God nie wil ken nie, want hulle ding mee met mekaar op die wêreldse terrein om die hoogste boom te wees. Ek fokus op die bome wat hulleself Christene noem, wat beweer om in God gewortel te wees, maar wat in der waarheid hoë bome in die sand van die wêreld is. Dit is die vals Christene wat hulleself Christene noem vir die eer wat hulle daarvoor kan ontvang.

Die penwortel van ’n geestelike boom groei vanuit sy hart na die hart van God, dus groei die penwortel uit die kern van die boom wat daarop dui dat die kern van die boom uit dormansie wakker geword het. As hy nog in dormansie was, sou hy nie ’n penwortel kon groei nie, maar die boom met ’n penwortel, is ’n mense wie se gees ontwaak het deur die Lig van die Woord. Deur die penwortel, ontvang hierdie boom nou Lewe vanaf God, wat deur die kern van die boom beweeg en versprei word na die res van die boom. Die kern is dus vogtig van al die liefde, lewende water en bloed van Jesus Christus, en omdat die boom die Lewe van God ontvang, is hy in staat om Goddelike vrugte te dra.

Wêreldse hoë bome is nie in die hart van Abba Vader gewortel nie, dus is daar geen wortels wat uit sy kern groei nie; al sy wortels groei uit sy vlees uit. As daar nie ’n penwortel uit die kern groei nie, beteken dit die kern is dormant, dus ontvang hierdie boom nie Lewe van God nie en kan hy ook nie Goddelike vrugte dra nie. Sy kern is droog en daar is geen Lewe daarin nie, maar tog beweer soveel hoë-boom-mense om bekeerd te wees. So baie van hulle doen ook die werk van God waar hy mense vir homself kan wen deur mooi woorde uit sy mond wat vals is. Die mens wat nie onderskeidingsvermoë het nie, gaan waarlik dink en glo die leier is ’n Godsman. Die wêreld kan nie onderskeid tref tussen ’n wêreldse boom teenoor ’n Goddelike boom nie, want die oë van die mens sien net raak wat aan die buitekant is, maar die Woord sê:

1 Samuel 16:7 (Die Boodskap) “Moenie kyk hoe hy lyk of hoe groot hy is nie… Dis nie wat ’n mens kan sien wat tel nie. Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ’n mens se hart!”

Dit is net mense wat opkyk na hoë bome en hulle belangrik ag, maar God kan sien waar die boom gewortel is. Hy alleen weet ook of die kern van die boom Lewe in het of nie… God weet wat gaan aan in ons harte; Hy kyk nie na die buitekant van ’n mens nie, want God het oë wat die kern van die hart raaksien.

Mattheus 23 is ’n perfekte voorbeeld van hoë- boom-mense wat in der waarheid vals leraars en profete is, maar hulle ag hulleself baie belangrik. Die ergste is dat hulle dwaalleringe versprei aan ’n naïewe mensdom wat opkyk na hulle. Die hoë bome ontvang eer en heerlikheid van die mense en dit bevorder groei en die hoogte van die boom. As die naïewe mens maar net die kern van die boom kan sien om te kan sien dat daar in der waarheid geen Lewe in hierdie bome is nie. Al wat vir hierdie hoë-boom-mense belangrik is, is die eer en heerlikheid wat hulle kry, byvoorbeeld soos die belangrike dominee wat in die gang van die kerk afgelei moet word wanneer die laaste lofsang liedjie gesing word. Almal kyk op na die dominee en gee aan hom die eer en dit is presies wat hierdie hoë bome nodig het; hulle kan nie funksioneer sonder om eer en heerlikheid te ontvang nie. Die eerste teken van so ’n leraar is dat hy altyd sy gehoor sal sus met mooi, strelende woorde wat in der waarheid net ’n spul leuens is, maar ongelukkig hou die wêreld van mooi woorde wat nie hulle gewete aankla nie. Hulle vertel keer op keer aan hulle gemeentes dat hulle veilig is; dat hulle gered en verlos is omdat hulle deel is van die liggaam van die God… hulle leer die mense dat die fisiese kerk die liggaam van God is! Wat ’n groot leuen! Hulle leer die mense dat hulle rustig kan wees, want Jesus het klaar vir hulle sondes gesterf en hulle word gered alleenlik uit die genade van God. Hulle anker eintlik maar net hierdie wêreldse bome stywer vas in die kerk en die meeste kerke is sinagoges van Satan. Dit is hoekom sy leuens daar so lekker uitgedeel word as soetkoek. ’n Kerk waar ek baie jare terug betrokke was, se leraar het eendag gesê dat iemand hom gevra het hoekom praat hy nooit oor sonde nie? Hoekom sê hy nooit vir die mense dat hulle hulle sonde moet laat staan nie? Hy het kwaad geword en gesê God is alleenlik ’n God van Liefde en hy sal preek net oor die Liefde van God en as jy wil hoor dat jy jou sondes moet laat staan, moet jy maar ’n ander kerk gaan soek. Ek het toe ook so gemaak… en ook nie ’n ander kerk gevind nie. Daardie kerk groei tot vandag toe nog met derduisende gemeentelede, want dit is mos lekker om te hoor van die Liefde van God en dat jy glad nie gestraf sal word vir sonde nie; dat al jou sonde wat jy gedoen het alreeds vergewe is en al die sonde wat jy nog gaan doen, alreeds vergewe is. Hy preek ook dat jy glad nie bekommerd hoef te wees nie, want as jy gewortel is in God, word al jou sondes sommer net outomaties van jou afgesny. Daardie leraar lei soveel mense na die breë pad.

Alles gaan vir hulle oor wat die mens van hulle dink en sê, maar wat God van hulle dink, is nie hoog op hulle prioriteitslys nie, solank hulle die eer kan ontvang – al is dit onder die Naam van God. Hulle is soos die Fariseërs wat nie omgee hoe vuil die binnekant van die skottel is nie, solank die buitekant, wat die mensoog raaksien, skoon lyk. Die vrotheid van hulle harte kan hulle nie pla nie; hulle is nie gepla om skoon en rein voor Abba Vader te staan nie; hulle kan nie omgee hoe hulle lyk vir Abba Vader nie, solank hulle net Sy Naam kan gebruik om belangrik te lyk. Hoë-boom-mense word dadelik gesien aan hulle trots, arrogansie en hoogmoed; hulle wil die hoogste bome wees sodat hulle hulle top in die wolke kan insteek. Dit laat my dink aan Jesaja 14:

Jesaja 14:14 (Afr. 33/53) “Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!”

Die groot gevaar van droë-kern-bome is dat God de laaste boom gaan toets met vuur, so God toets of daar Lewe in die kern van ’n boom is of nie. ’n Boom wat in Hom gewortel is, se kern gaan vogtig wees van die Liefde van God; sy kern kan nie aan die brand slaan nie. Wanneer God hierdie boom toets met vuur, sal hy brand soos die brandende bos waardeur God met Moses gepraat het… Die bos het gebrand, maar dit kon nie uitbrand nie. Die vlamme kon gesien word, maar nie die blare of die takke van die boom het geskroei of uitgebrand nie. Net so sal ’n Goddelike boom se takke en blare nie skroei deur die Vuur van God nie omdat die boom deurtrek is met die Lewe van God. Hierdie bome gee ook nie rook af soos ’n gewone vuur nie, maar dit gee ’n aangename geur af wat God behaag.

‘n Droë-kern-boom daarenteen, se kern gaan dadelik aan die brand slaan omdat die Lewe van God nie teenwoordig is in die boom se kern, takke of blare nie. Hierdie bome gaan rook, ’n aaklige stank afgee en hulle gaan totaal uitbrand totdat daar net ’n hopie as op die grond agterbly.

Esegiël 20:47-48 (Afr. 33/53) “So sê die Here my God: “Ek gaan jou aan die brand steek. Elke groen boom (groen a.g.v al die blare) en elke droë boom in jou gaan verbrand. Die vlamme sal nie geblus word nie, dit sal elke gesig skroei, van die suide van die land af tot in die noorde. Als wat leef, sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het. Dit sal nie geblus word nie.”

Fariseërs dra mooi, groot, groen blare van godsdienstige werke, reëls en wette. Hulle prent aan die wêreld ’n mooi prentjie van ’n gesonde boom deur al die uiterlike dinge reg te doen, maar wat gaan in hulle harte aan? Dit is alles werke sonder vrug, want hierdie bome is nogsteeds nie in die hart van God gewortel nie, dus is hulle kerns droog en dood. Jesus sê:

Mattheus 7:21-23 (Afr.33/53) “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons nie in U Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen nie?’ En dan sal Ek aan hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk.’”

As jy Esegiël 31 lees, sal jy sien God het ’n boom geplant en dit mooi laat groei, maar trots het ongelukkig die oorhand gekry oor hierdie boom (net soos Nebukadnesar in Daniël 4) en hy het gedink hy is beter as die ander bome. Hy het gedink hy kan sy top in die wolke indruk en daarom het God hierdie boom laat val. Dit kan so maklik met enige een van ons gebeur; daarom moet ons op ons tone bly en elke dag die Gees van God toelaat om ons te ondersoek vir selfs die kleinste sondetjies sodat ons dit aan God kan bely en Hy ons kan skoonwas en reinig voordat daar ’n bitter wortel van trots, hoogmoed of arrogansie in ons groei. God is getrou en as dit ons hartsbegeerte is om skoon en rein tot eer van Hom te lewe, sal Hy ons altyd help!

Psalm 86:5 (Afr. 33/53) “U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.”

In die kerk waar ek grootgeword het, het die predikers ons geleer dat Jesus se sterfte ons sondes alreeds vergewe het. As die predikers dit dalk anders bedoel het, is ek jammer, maar dit wat ek gehoor en verstaan het, het my laat glo dat ons nie te sleg hoef te voel oor sonde nie, want God het baie genade en Jesus het klaar gesterf vir ons sonde – ons sonde is alreeds vergewe. So die verkeerde prediking help baie mense om aan te gaan met hulle sondige lewens! Hulle bly funksioneer in die duisternis waar hulle gewortel geraak het in die dogmas van die kerk wat hulle sus in hulle sonde. Hoeveel leraars vermaan hulle gemeente oor die dra van slegte vrugte? Hoeveel gemeentes word gewaarsku dat ’n boom met vrot vrugte afgekap en in die vuur gegooi gaan word? ’n Boom met vrot vrugte het nie gemeenskap met Abba Vader nie en sy sonde is nie outomaties net vergewe nie.

1 Johannes 1:7 (Afr.33/53) “As ons in die Lig wandel soos Hy in die Lig is, het ons gemeenskap met mekaar en die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle ongeregtighede.”

Gaan kyk in ander vertalings ook – almal sê AS ons in die Lig wandel, reinig die bloed van Jesus ons. Alleenlik wanneer ons gemeenskap met God het, kan ons die bloed van Jesus ontvang wat ons reinig van ons sondes. Diegene wat in die wêreld gewortel is, is nie teenwoordig in die Lig van God nie en as ons nie in die Lig van God is nie, kan ons ook nie gemeenskap hê met God nie. Ons het die bloed van Jesus nodig om ons skoon te was van ons sondes en hoe kan ons die bloed en vergifnis sommer net opraap as ons in die duisternis gewortel is en geen gemeenskap met Abba Vader het nie? Dit is eers wanneer ons harte uit dormansie wakker geword het deur die Lig van die Woord; wanneer ons ’n penwortel begin groei het wat strek tot in die hart van God…dan eers het ons gemeenskap met Abba Vader. Dan ontvang ons die Lewe van God, wat bestaan uit die Liefde, Bloed en Lewende Water. Alleenlik dan word ons skoongewas van ons sondes en alleenlik dan is ons gered.

Dit is so belangrik dat ons Abba Vader vra om ons te help dat die Lig van die Woord aan ons kan openbaar hoe ons lyk as ’n boom. Is ek en jy gewortel in die hart van Abba Vader waar ons Liefde, Bloed en Lewende Water van Hom ontvang? Is ons blare op so ‘n manier gerangskik sodat die Lig van God tot in ons diepste wese kan inskyn en aan ons elke foutiewe ding in ons lewe uitwys? Of is ons ’n pragtige boom met mooi groen blare wat vrot vrugte probeer versteek? Ontvang ons die Lewe van God? Leef en teer ons op die Lewe van God of op dit wat die wêreld ons kan bied? Vrae wat ons onsself nog kan afvra, is dinge soos: Waarmee hou ons onsself die meeste van die tyd besig? Hoeveel tyd spandeer ons elke dag in die teenwoordigheid van Abba Vader waar Hy ons uit die Woord leer en waar ons met Hom kommunikeer? Is daar sekere wêreldse dinge wat vir ons belangriker of lekkerder is om te doen as om tyd met God en Sy Woord te spandeer? Waarin is ons gewortel? In die suiwer Woord van God of in geestelike boeke en praatjies? Luister ons na wat God sê of luister ons na wat ander mense sê? Ons kan onmoontlik nie gewortel wees in die hart van God as ons voed net op geestelike boeke en praatjies nie, dit moet suiwer Woord wees.

Hierdie is ’n saak tussen jou en Abba Vader. As jy Hom soek vir die regte redes, sal Hy jou nooit teleurstel nie en sal Hy aan jou openbaar hoe jy lyk as boom. Dit is vir Hom belangrik hoe jy lyk as boom, want Hy wil vrug dra deur jou en Hy kan nie vrug dra deur ’n boom wat in die duisternis geplant is nie.

72

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s