Abba Vader is goed vir Sy kinders en Hy wil hulle seën deur Woord oor hulle uit te spreek. Die Woord wat God oor Sy kinders wil spreek, moet in hulle geesharte kan inval, maar daarvoor moet hulle harte ontvanklik wees daarvoor. Die probleem wat hier insluip, is dat daar ’n swart sambreel oor soveel van God se kinders se koppe hang en hierdie swart sambreel keer dat die Woord van God in hulle geesharte inval.
In ’n vorige saadjie Uitroep van samekomste het ek vinnig vertel hoe Abba Vader wys dat daar mense is wat geestelik ’n Lig uit hulle harte skyn en net so is daar mense wat geestelik swart rookbolle uit hulle harte uit afskei. Hierdie swart rookbolle gaan hang in die gees soos ’n swart wolk om die mens. ‘The Message’ beeld hierdie swart rookbolle op hierdie manier uit:
Ephesians 2:1 “You filled your lungs with polluted unbelief, and then exhaled disobedience.”
Hierdie swart rookbolle gaan hang soos ’n swart sambreel oor die koppe van die mens en keer die Woord en die seën van God af. Maar waar kom hierdie swart rookbolle vandaan en hoe kan ons ontslae raak daarvan? ’n Swart hart skei dit geestelik af, ’n hart wat verduister is en waarom is mense se harte verduister? Omdat hulle voed op die bose vrugte wat Satan aan hulle bied. (Lees gerus die saadjie Vrug van die bose boom oor die effek wat verbode vrugte op die mens het.) Om ontslae te raak van die swart sambreel, het ons die Lig van God nodig, want alleenlik die Lig van God kan die duisternis verbreek.
Hierdie swart sambreel is soos ’n vervloeking wat oor ’n mens se kop hang en soveel mense gee vir Satan die skuld daarvoor, daarom probeer hulle die rookbolle “wegtoor” deur oorlogvoering of om sekere woorde te spreek, maar die probleem is dat oorlogvoering teen Satan en aangeleerde woorde wat net gespreek word, nie die swart hart van die mens kan verander nie. Solank as wat die hart verduister is, met ander woorde, so lank as wat die mens toegee aan die versoekings van Satan, sal die mens ’n swart sambreel oor sy kop hê.
Ander sal weer met die argument kom dat die swart sambreel afkomstig is vanaf die sondes van hulle voorouers en hulle sal weer bloedlynvloeke sny in ’n poging om die swart sambreel uit die weg te ruim, maar weereens… gaan ’n verduisterde hart verander word deur bloedlynvloeke te sny? Alles, alles, alles draai om die toestand van die hart, die motief van die hart… dit is ons harte wat moet verander!
Hierdie swart sambreel ontstaan dus uit sonde, vals voorwendsels van die hart en ongeregtighede… pleinweg gesê: Ongehoorsaamheid aan Abba Vader! Dit weerhou Woord en seëninge van die mens! Dit is soos ’n muur tussen mens en God. Jesaja 59:2 sê:
“…julle ongeregtighede het ’n skeidmuur geword tussen julle en God…”
’n Swart sambreel ontstaan omdat die mens nie heers oor sonde nie… omdat die mens lewe soos hy wil en hom nie steur aan die wil van God nie. Die swart sambreel gaan nie verdwyn wanneer die mens kerk toe gaan of dinge vir die kerk doen nie, dit gaan alleenlik verdwyn wanneer die mens se hart oorgegee is aan Abba Vader en Sy Lig uit ons harte uit skyn. Nou is die probleem weer dat geen mens uit sy eie oor sonde kan heers nie, ons kan alleenlik oor sonde heers deur die Gees van God in ons harte… en dit is hoekom God Sy Seun aarde toe gestuur het… om die Gees van God vry te stel om vir die mens as Helper te dien. Sonder die Gees van God sal ons altyd verlore wees, sal ons altyd ’n swart sambreel oor ons lewens hê. Vals kerke verkonding dat Jesus gesterf het om almal se sondes uit te kanselleer, dat Jesus alle vloeke gebreek het, dat almal se sondes outomaties ALREEDS vergewe is, maar dit is leuens soos hierdie wat die mens gevange hou in die duisernis, wat hulle weerhou om Abba Vader regtig te leer ken, wat hulle weerhou om die Gees van God te ontvang, want dit gee aan die mens ’n vals gevoel van gerusstelling… dan maak dit mos nie saak as ek sondig nie, want Jesus het mos ALREEDS vir my sondes gesterf, die sonde wat ek gedoen het en al die sonde wat ek nog gaan doen, is mos ALREEDS vergewe deur die kruisdood van Jesus (Saadjie – Wanneer word ons sondes vergewe?) So vals kerke gaan vir die mens vertel dat die kruisdood van Jesus alreeds die swart sambreel wat oor hulle koppe hang, weggeneem het en dat hulle al die seëninge van God uit genade sal ontvang… Maar die Waarheid is dat die meeste mense wat hulleself as Christene ag, se harte nog verduister is, (sonder die Lig van God) en dat hulle deur sonde swart rookbolle afskei wat soos ’n swart sambreel oor hulle koppe hang en die seën van God afkeer. Hulle het nog nie die Gees van God in hulle harte ontvang nie. Moet asseblief nie die leuen glo dat ons gebore word as heiliges en dat jy die Heilige Gees in jou hart het van kleins af nie, want hoekom anders het Jesus gesê dat die mens eers moet sterf aan die self voordat hy in die Koninkryk van God sal kan inkom? Die mens moet ’n hartsverandering ondergaan en om dit te ondergaan, moet die mens eers sterf aan die ou, sondige mens, hy moet geestelik in die graf beland waar Abba Vader ’n hartsoorsplanting doen en Sy Gees in die hart van die mens vrylaat. Daar moet eers ’n hartsbesnydenis plaasvind en dit kan nooit plaasvind sonder dat die mens die ou, sondige mens in homself kruisig nie. Die leuens van die wêreld weerhou die mens om te sterf aan die self en tot ware wedergeboorte te kom, want dit is te maklik om net te aanvaar dat jy alreeds verlos en gered het, dat jy “veilig” is, dat jy deur genade alleen gered is… maar in der waarheid hang daar ’n swart bose sambreel oor die mense se koppe. Hiermee sê ek nie daar is iets wat ons self kan doen om verlossing te bekom nie, maar ons kan ook nie terugsit, maak soos ons wil en net aanvaar ons verhouding met Abba Vader gaan groei nie. Daar is goed in die lewe wat ons moet prysgee in ’n poging om tyd met Abba Vader te spandeer en alleenlik dan sal ons verhouding met Hom groei. Alleenlik wanneer ons gewortel raak in die hart van Abba Vader, ontvang ons die Lewe van God wat ook die Lig van God is. Alleenlik die Lig van God kan die swart sambreel oor ons koppe verbrysel.
Ons kan alleenlik heers oor sonde deur die LEWE van God binne ons. Die mens wat dus met ’n opregte hart tot bekering en wedergeboorte gekom het, wat gewortel is in die hart van God, se hart skyn Lig uit en hierdie persoon is ontvanklik vir die Woord van God; daar is nie ’n muur tussen hom en God nie, daar is niks tussen hom en God wat die Woord afkeer nie… en die Woord sal soos val soos die reën wat op die droë, dorre land val; dit sal die geeshart se dors les deur strome Lewende Water…
“Soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal My Woord wees wat uit My mond uitgaan; dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” Jes 55:10,11
Abba Vader gee ook Deuteronomium 11 om te gaan lees, wat ’n wonderlike bevestiging! In Deutr 10 begin die gedeelte met die hoofopskrif: “Nuwe vermaning tot gehoorsaamheid”. God eis van ons om Hom te vrees, om in Sy weë te wandel, om Hom lief te hê en Hom te dien met ons hele hart en ons hele siel, om die gebooie te onderhou… en dan eindig vers 13 met die woorde: “…sodat dit met jou goed kan gaan!”. Dit kan met ons goed gaan wanneer daar nie ’n swart sambreel oor ons koppe hang nie, wanneer die Woord wat God oor jou en my wil spreek, direk in ons harte kan inval.
Ongehoorsaamheid aan God = ’n swart sambreel met geen seën van God. Gehoorsaamheid aan God = seën van God.
“Kyk, Ek hou julle vandag seën en vloek voor – die seën as julle luister na die gebooie van die Here julle God wat ek julle vandag beveel; en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die Here julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.” Deuteronomium 11:27,28
Gehoorsaamheid begin by ’n keuse! Ons kan kies om die sonde en boosheid in onsself raak te sien, om die Gees van God toe te laat om ’n Lig te skyn op die lelik binne ons sodat ons dit kan erken en aan God kan bely, want dit is hierdie lelike goed binne ons wat ’n muur tussen ons en God veroorsaak. As die mens nie sy eie swart hart wil raaksien nie, is daar nog te veel hoogmoed en trots, en hierdie eienskappe word direk aan Satan gekoppel, want dit is hoekom hy uit die hemel uitgeskop is!
Kom ons kom terug na die groot probleem: Mense wat ’n swart sambreel oor hulle koppe het, kan nie die seëninge van God ontvang nie. Hulle moet eers ontslae raak van die swart sambreel! Om ontslae te raak daarvan, moet ons dit kan raaksien en erken, ons moet die oorsprong van die swart rookbolle kan identifiseer en dit is ook hoekom ons die Woord van God het. Die Woord van God werk saam met die Helper van God om ons verkeerdhede aan ons uit te wys, maar ons moet sterk genoeg wees om dit te kan erken en bely aan Abba Vader. Soos die Gees van God ons help om ons sondes te oorkom, asem ons geestelik al hoe minder swart rookbolle uit, so die swart sambreel begin krimp. Hoe meer tyd ons in die Woord en by die voete van Abba Vader spandeer, hoe meer begin ons hart Sy Lig uitskyn totdat Sy Lig so helder uit ons uitskyn dat die swart rookbolle totaal verdwyn. Dan staan ons oop onder die hand van Abba Vader en sal die Woorde wat Hy oor ons spreek, direk in ons harte kan inval!
Dit alles kom weereens terug na ’n opregte hart, tyd spandeer met die Woord van God, verhouding met Abba Vader en dit alles lei na gehoorsaamheid aan God. Abba Vader se woorde aan my was die volgende:
“Showers of blessings will be pouring and raining over you. You will leap for joy”
Op ‘n ander keer het Abba Vader ook gesê:
“Soos die lelies van die veld – so vrolik – so sal jy blom oor al die seëninge van reën van bo. Ek wil vir jou net die beste gee. Lief My met jou hele hart en Ek laat gebeur die onmoontlike. Vertrou My volkome en Ek sal jou die beloftes laat sien. Dien My. Eer My. Gehoorsaam My!”