Mattheus 6:33 (Afr.33/53) “Julle moet óf die boom goed maak en sy vrugte goed, óf julle moet die boom sleg maak en sy vrugste sleg; want aan die vrugte word die boom geken.”
Die samelewing van vandag het ’n verwronge siening oor ’n goeie mens en Goddelike vrugte. Hulle sien ’n mens wat uit sy pad sal gaan om dinge vir ander te doen, as ’n goeie mens, maar hoeveel van hierdie “goeie” mense doen die “goeie” dinge net om raakgesien te word? Of om as ’n “goeie” mens gemerk te word? Dan is al hierdie “goeie” dinge nie die resultaat van Goddelike vrugte nie, maar van vleeslike vrugte in ’n poging om die eie vlees en siel te voed. Hulle wil raakgesien word deur die wêreld as goeie mense, met ander woorde, hulle wil die eer ontvang en as die mens die eer ontvang, is daar geen eer aan God oor nie. Hulle vlees en siel moet geëer word, maar die hartseer van hierdie saak is dat hierdie “goeie vrugte” nie eers deur God raakgesien word nie. Die wêreld hou van mense wat vir hulle dinge doen en skryf dadelik hulle naam op in die goeie boekies as goeie mense. Volgens hulle dra die goeie mense Goddelike vrugte, maar dit wat die mens sien as Goddelike vrugte en dit wat God sien as Goddelike vrugte is twee verskillende goed. God sien die binnekant van die vrugte raak, en mense nie – die binnekant van daardie vrugte is gewoonlik vol manipulasie en beheer. Hierdie mense doen goeie goed aan ander net om die mense in hulle “mag” te kry, en sodra hulle iemand in hulle “mag” het, beheer hulle die arme, onskuldige mens. Dit is nie iets wat net op die televisie gebeur nie, hierdie goed gebeur onder ons neuse, maar omdat ons met wêreldse, vleeslike oë kyk en nie onderskeidingsvermoë het nie, sal ons dit nie kan raaksien nie. Hierdie manipulerende mense sal aan die wêreldlinge goed doen solank die wêreldlinge hulle op ’n troontjie hou, maar bewaar die persoon se siel wat hom nie op daardie troontjie wil hou nie – hierdie persoon sal ’n groot hap van die vrot vrugte kry. Moenie dat goeie werke van mense jou flous nie, want daar skuil gewoonlik ’n geheime agenda daaragter…
’n Boom met baie, mooi, groen blare lyk soos ’n baie gesonde boom, maar geestelik is dit nie so ’n gesonde boom nie. Baie blare aan ’n boom dui op dooie werke en kan dus dui op ’n vals boom wat beweer om in God gewortel te wees, maar in werklikheid is die boom nogsteeds gewortel in die sand van die wêreld. Hierdie persoon probeer op ’n mensliker wyse die geregtigheid van God bekom; dus deur goeie werke, maar Jesus sê self in Johannes 6 dat daar niks is wat die mens kan doen nie, behalwe om te glo in Hom. Om godsdienstige dinge toe doen, gee nie aan ons geregtigheid nie; om kerk toe te gaan en as die Christen van die jaar bekend te staan, gee nog minder vir ons geregtigheid. Selfs om op uitreikings te gaan en die evangelie te verkondig, maar die persoon het geen verhouding met Abba Vader nie, is dit dooie werke. Hoeveel predikers wat “goeie werk vir God doen” is besig met dooie werke… hulle doen hierdie werke om ’n plek in die hemel te bekom, so hulle doen dit nie uit liefde en eerbied vir God nie. Hoeveel leraars is daar buite wat op die hande van die gemeente gedra word, daar word opgekyk na hom, maar in werklikheid verkondig hy net dit wat hy geleer het as teologie. Hy het geen ware verhouding met Abba Vader nie en agter toe deure word daar nog gekonkel ook. Mense wat ’n godsdienstige beeld probeer skep om as ’n heilige bekend te staan, steek gewoonlik iets weg; hulle skuil net agter die heilige beeld. Die kans is groot dat hierdie persoon net ’n masker opsit in die publiek, maar by die huis in sy privaatheid is hy ’n ander mens. Ek sê weer: Daar is niks wat ons kan DOEN om Goddelike geregtigheid te kry nie; nie eers om die werk van God te doen nie. Ons verkry alleenlik geregtigheid deur in regstaande verhouding met Abba Vader te staan en onteenseglik in Hom te glo. Mense met baie blare bely net met die mond om te glo in Abba Vader, maar die baie blare is toe al die tyd net ’n skyn van godsdiens.
Mattheus 7:15-20 (Afr. 33/53) ’n Boom sal geken word aan sy vrugte:“Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtig wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie. So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hulle vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here!’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, het ons nie in U naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen nie?’ En dan sal Ek aan hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk.’”
Deur hierdie woorde van Jesus sien ons duidelik dat ons nie almal moet glo wat kwansuis die werk van God doen nie. Daar is baie wolwe in skaapsklere. Ons het baie onderskeiding deesdae nodig, want die duiwel is baie listig en hy loop rond soos ’n brullende leeu op soek na iemand om te verslind en die maklikste manier om dit te doen, is op ’n godsdienstige wyse. Dis hoekom dit so belangrik is om God se Lig BINNE ons te hê en nie net ’n skyn van godsaligheid nie, want Satan en sy werkers weet baie goed wanneer dit God se Lig is wat uit ons skyn en of dit net ’n skyn van godsdiens is.
Mattheus12:34 (Die Boodskap) “Julle spul valse mense. Julle is vrot van binne, maar nogtans hou julle aan met al julle vroom praatjies.”
Jesus sê in Mattheus 6 dat ons nie ons liefdadigheid voor die mense moet probeer bewys om deur hulle raakgesien te word nie; dat ons linkerhand nie moet weet wat ons regterhand doen nie; dat wanneer ons bid, ons nie moet wees soos die geveinsdes nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid sodat die mensdom hulle moet raaksien. Weereens, dit maak deel uit van die groot groen blare om bewonder te word deur die wêreld, maar in werklikheid is hulle nie eers gewortel in die hart van Abba Vader nie. ’n Boom met baie, mooi, groen blare vertoon pragtig en baie gesond van buite af, maar Jesus waarsku ons in Mattheus 12:33-37 om op te let na die vrugte; dus moet ons leer om dieper te kyk en nie na die baie blare nie. Ons moet ’n boom deeglik ondersoek en die oorsprong van die vrugte probeer vasstel. Getuig die mens se lewe van leuens, onsedelikheid, valsheid en alle dergelike dinge? Dan vertel die vrugte alreeds vir jou waar die boom gewortel is. Die blare is soms so groot sodat dit die afwesigheid van Goddelike vrugte kan verbloem. ’n Mens wat net “goeie” werke kan toon, maar aan die ander kant ’n nare mens teenoor ander is, probeer deur “goeie werke”, wat blare is, wegsteek dat hy nie goeie vrugte dra nie. Hy wil hê die wêreld moet eerder verby die feit kyk dat hy nie goeie vrugte dra nie, maar dat die wêreld net die goeie dade sal raaksien.
Mense, ons moet Abba Vader vra om ons oë oop te maak sodat ons nie verder in die verderf ingelei word nie. Nie alle mense wat goed voorkom, is altyd so goed nie. Kyk verby die manipulerende maskers en die groen blare; let op na die ware vrugte wat die mens dra, let op na die versteekte dade. Waarvan getuig dit as ’n persoon in sonde leef en nie die gebooie van God nakom nie, maar hy probeer sy bes om goed te doen vir ander? Daar is net een rede…die persoon wil raakgesien word deur die wêreld as ’n goeie mens of ‘n heilige Christen. Sy lewe sal hand aan hand loop met leuens en ongeregtighede. Wys dit uit en jy sal die vrot vrugte sien. Die volgende Skrif sê dit so duidelik:
1 Johannes 3:6-10 (Die Boodskap) “Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. My kinders, laat niemand julle mislei nie: Wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is. Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat Sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.”
Die tyd is min! Dit is tyd dat ons ons eie groot, groen blare sal begin raaksien en dit oorgee aan Abba Vader. Dit is tyd dat ons sal ophou met godsdienstige speletjies en ernstig raak oor ons verhouding met Abba Vader. Die enigste manier hoe ons bewus kan raak van die groot groen blare, is om ons lewens en ons harte oor te gee aan Abba Vader en alleenlik op Hom te begin fokus. Met tyd sal Hy alles aan jou bekend maak.
Mattheus 6:33 (Afr.33/53) “Julle moet óf die boom goed maak en sy vrugte goed, óf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.”