“Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroepe van samekomste – Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!” Jesaja 1:13 (AFR33/53)
Ek was besig om Sagaria 7 te lees wat handel oor vas. Die volk wou weet of hulle op ’n sekere tyd moes vas soos in die verlede en God het hulle deur die profeet Sagaria die volgende antwoord gegee:
“…het julle werklik ter wille van My gevas?” Sagaria 7:5 (AFR33/53)
Hoekom het die mense gevas? Was daar droogte in hulle land? Was daar geweld, moord en doodslag in hulle land? Het dit finansieël sleg met hulle gegaan? Het hulle gevas, gebid en God aangeroep sodat God moes ingryp en hulle help? Sodat Hy vir hulle reën moes stuur? Sodat Hy die geweld sal stopsit? Sodat dit beter in hulle land moes gaan… sodat dit beter met hulle moes gaan? Oor wie het dit nou eintlik hier gegaan? Oor God of oor die welstand van die mens? God se antwoord kortliks aan hulle was dat hulle eerder ’n eerlike vonnis moet uitspreek, dat hulle liefde en barmhartigheid aan ander moet bewys, dat hulle nie die onbevoorregtes moet verdruk nie. Wat God eintlik vir hulle probeer sê is dat hulle moet ophou met ongeregtighede. Hulle kan nie lewe soos hulle wil en dink God moet op aandag staan en aan hulle vereistes voldoen wanneer hulle skielik begin vas nie, want God gaan dan nie na hulle luister nie.
“En as julle julle hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.” Jesaja 1:15 (AFR33/53)
Abba Vader het eendag vir my ’n beeld gewys van ’n mens wat gekonnekteer is aan Hom, met ander woorde, wat verhouding met Hom het. Hierdie mense het geestelik ’n lig uitgestraal wat al die kleure van die reënboog is. Toe het Hy ook vir my ’n mens gewys wat nie aan Hom gekonnekteer is nie, wat nie verhouding met Hom het nie en hierdie mens het geestelike swart rookbolle afgegee wat om hom en sy omgewing bly hang het. Hou nou hierdie beeld in gedagte terwyl ek die volgende vertel:
’n Paar oggende terug praat Abba Vader weer oor wat in ons land aangaan en dat die mens te veel fokus op dit wat in die land gebeur as wat hy fokus op Abba Vader. Hy wys my SA weer van bo af en dan sien ek hoe beweeg baie mense van oraloor weer na ’n sekere punt. Daar is alweer ’n samekoms uitgeroep! Die groot skare mense wat saamkom, bid, gooi hulle hande in die lug en smeek God vir uitkoms. Dan beweeg elke mens weer terug na sy eie woning en Abba Vader vra my: “En nou? Hoeveel van hierdie mense het ware verhouding met My? Hoeveel mense se harte het verander?” Ek sien geen reënboogkleurige lig wat uitstraal van die mense wat by die samekoms was nie, maar eerder bolle en bolle swart rookwolke. Enigiemand kan op sy knieë neersak en hande in die lug gooi as hy iets wil hê. Waaroor gaan hierdie samekomste eintlik? Oor die mens self! Verseker nie oor God nie! Hoe kan ’n mens die leuen glo dat hoe groter die samekoms, hoe meer sal God luister na die skare se gesmeek? Daar staan tog baie duidelik in die Woord dat die gebed van die regverdige beantwoord sal word. Die regverdige is die een wat verhouding met Abba Vader het, wat gekonnekteer is aan Abba Vader en wat die wil van Abba Vader gehoorsaam. Die wil van die mens en die wil van God is twee totaal verskillende goed. Die mens is veronderstel om sy eie wil by die voete van Abba Vader af te lê en sy lewe oor te gee aan God. Dan sal hy tot die besef begin kom wat die wil van God is en sal hy die wil van God begin leef. Maar die mens wat voorspoed, seën en alles wat mooi is, afbid by God, is besig met afgodediens en al bid hy tot God, sal God nie luister nie.
God is almagtig! God besluit wat wanneer sal gebeur! God het besluit hoe lank die droogte sou wees en net so het God klaar besluit wat die lot van SA sal wees. Geen mens gaan vir God kan voorskryf nie, dit is baie arrogant van die mens; wie dink die mens is hy? God spreek oor die natuur en die natuur gehoorsaam Hom, vanaf die kleinste grassie tot die hoogste boom. God praat met die wind en die wind gehoorsaam Hom. Die natuur probeer nie sy eie wil op God afdwing nie, maar aanvaar die wil van God en gehoorsaam wanneer God spreek. Moet ons nie by die natuur leer hoe om God te gehoorsaam nie?
Net soos God deur Sagaria vir die volk gevra het: “…het julle werklik ter wille van My gevas?” net so vra God vandag of hierdie samekomste werklik ter wille van Hom uitgeroep word? Of gaan dit maar net weer oor die welstand van die mens? God verdra nie die uitroep van samekomste waar daar tot Hom genader word, maar met vals motiewe nie, want die mense van SA nader net tot God wanneer hulle iets uit Hom wil uitkry. Vir die rukkie wat almal by die samekoms bymekaar is, is almal vreeslik heilig, maar wat gebeur wanneer elkeen terugkeer na sy eie woning en aangaan met sy lewe? Straal die mens dan reënboogkleurige lig of swart bolle rookwolke af?
“Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en hulle ore toegestop om nie te hoor nie. Ook het hulle hul hart soos ’n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie…”Sagaria 7:11,12
Wil julle nie eerder gehoor gee aan die roepstem van God nie? God roep Sy kinders om hulle harte te oorhandig aan Hom, sodat Sy wil kan geskied in hulle lewens, maar dis asof die mens wegdraai en eerder na ’n dominee of een of ander self-aangestelde herder luister. Hulle luister eerder na diegene wat samekoms na samekoms uitroep. Julle is besig om die wolf in skaapsklere te volg!
“Daarom, soos Hy geroep en hulle nie gehoor het nie – so sal hulle roep, maar Ek nie hoor nie, het die Here van die leërskare gesê.”Sagaria 7:13
’n Uur nadat Abba Vader met my gepraat het oor die samekomste wat vir Hom ’n gruwel is, kry ek deur ’n sms ’n video en ek kon maar net my kop skud toe ek sien waaroor die video gaan… nog ’n samekoms is sopas uitgeroep!!! Mag julle geestelike oë en ore oopgaan om die Waarheid raak te sien! 2 Kron 7:14 sê duidelik dat die mens God se aangesig moet soek en hy hom moet bekeer van sy bose lewe, dan sal God na hom luister. Maar gaan God regtig luister as al die mense van die samekoms terugkeer na hul eie omgewing om net aan te gaan om swart rookbolle af te skei?
“Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroepe van samekomste – Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!” Jesaja 1:13 (AFR33/53)
Lees ook: Aanbid ons God of Baäl vir meer oor hierdie onderwerp.
Sjoooeee! So waar! Ek is so bly jy het dit gesê, want met elke samekoms weier ek om te gaan omdat ek kan sien wat aangaan. Die mense dink God is ‘n “genie” wat hul “wense” moet waar maak en eintlik is ons verhouding met Hom van kardinale belang.
Ek gaan nie vir ‘n vreemdeling uithelp met R1000 nie, maar vir ‘n vriend verseker. ‘n Vriend met wie ek gereeld gesels en gereeld sien, wat my ook kontak soveel soos ek hom/haar. Nie ‘n mooiweers vriend nie…
Ons gemeente het ‘n gebedsaksie waar ons elke dag 7:14 bid vir 4 goed. Huwelike. Genesings. Persoonlike deurbrake. Finansies. Ons sien winderwerke gebeur! En dit is soos jy sê, dit gaan oor verhouding met God en nie hoeveel mense bymekaar kom nie.