
“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.” 2 Korinthiërs 11:3
(Hierdie is ‘n uittreksel uit een van die boeke waaraan ek werk). Ons almal ken die verhaal van Adam en Eva in die tuin van Eden… God het die tuin geskep vir Sy mensekinders wat verhouding met Hom het, wat met Hom wandel en wat met Hom kommunikeer. God het die mens geskep na Sy beeld wat beteken hulle geesharte het geskyn met die Lig van God, want God is Lig! God se Lig was dus teenwoordig binne die mens en wanneer die geeshart van die mens lewe met die Lig van God, is die mens gekonnekteer aan God en kan Hy met God kommunikeer. Satan haat die Lig van God, want dit is alleenlik die Lig van God wat hom op ’n afstand kan hou.
God het die mens met ’n eie wil toevertrou en daarom is die mens in staat om keuses te maak. Reeds aan die begin, in die tuin van Eden, het God aan die mens die reg gegee om te kies tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, dus het God aan die mens die reg gegee om te kies om Sy wil te volg of om die eie wil te gehoorsaam. God het Adam en Eva vooraf gewaarsku dat daar gevolge sal wees as hulle ongehoorsaam is aan Sy wil – Hy het hulle gewaarsku om nie van die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie, en as hulle daarvan sou eet, sou hulle sterf. Natuurlik het die listige slang geweet dat die mens ’n eie wil het, dat die mens die reg het om keuses te maak, en hy het ook baie goed geweet dat ongehoorsaamheid aan die wil God, vir die mens gevolge sal inhou. Satan het hom nie twee keer laat nooi nie en het toe vir Eva ’n heerlike vrug op ’n goue skinkbord aangebied. (Of dit regtig ’n vrug was, sal ons wel eendag uitvind…). Eva het baie goed geweet dat sy nie die vrug mag nuttig nie, maar haar eie wil het in haar pad gestaan. Die slang het haar gevra hoekom hulle nie van die boom se vrugte mag eet nie, en sy het hom vertel dat God hulle gewaarsku het dat hulle sou sterf as hulle daarvan sou eet. Satan het gelag en haar met ’n leuen oortuig dat hulle nie sal sterf nie, maar dat hulle inteendeel soos God sal word! Eva moes ’n keuse maak… Na wie gaan sy luister? Na die slang of na God? Na die leuen of na die Waarheid? Gaan sy gehoorsaam wees aan God en hierdie onweerstaanbare vrug ignoreer en weier om toe te gee aan haar eie wil? Of gaan sy toegee aan haar eie wil wat die ontoelaatbare begeer? Ongelukkig het Eva die verkeerde keuse gemaak en gekies om haar eie wil te gehoorsaam bo die wil van God. Die slang het Eva verlei en sy het weer op haar beurt vir Adam verlei om teen God se wil op te tree. Daarna was God se woorde aan hulle:
“Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” Genesis 3:17,18
Satan het baie goed geweet dat hy die mens net sover moes kry om sy eie wil te gehoorsaam deur hulle in die versoeking te lei, want hy het geweet dat ongehoorsaamheid aan die wil van God sonde is, en dat sonde die geestelike hart van die mens verduister. Wanneeer die geeshart van die mens duister is, skyn die Lig van God nie uit die hart van die mens nie, so die mens het dan geen outoriteit oor Satan nie. Die mens sonder die Lig van God in sy geeshart, kan deur Satan beheer word soos ’n mariontpop en dit is hoekom Satan die mens sover moes kry om te sondig. Oorspronklik het God die mens geskep na Sy beeld, wat beteken hulle geesharte was vol van die Lig van God, maar sonde het die Lig van God uit hulle harte geblus. Dit is hoekom God gesê het hulle gaan sterf as hulle eet van die verbode boom – Hy het nie bedoel dat hulle fisies sou sterf nie; Hy het bedoel dat hulle geestelik gaan sterf. Met ander woorde, sonde blus die Lig van God uit die hart van die mens en dit veroorsaak dat die mens geen konneksie met God het nie. Sonde veroorsaak ’n kloof tussen mens en God. Wanneer die mens sondig, speel hy direk in die hand van Satan in en gee hy aan Satan mag, krag en beheer oor hom.
Sonde het die verhouding tussen mens en God verwoes, en die mens kon nie meer met God wandel en met Hom kommunikeer nie. Omdat God die tuin van Eden alleenlik geskep het vir Sy gehoorsame kinders wat met Hom wandel en Hom gehoorsaam, kon Hy nie toelaat dat Adam en Eva langer in die tuin woon nie. Die tuin was dus apart van die wêreld, en die sonde van die mens het die wêreld vervloek, maar nie die tuin van Eden nie. God het hulle toe uit die tuin uit weggestuur om te gaan woon in die wêreld wat deur hulle eie rebellie en ongehoorsaamheid vervloek is. Hy het die tuin van Eden toegesluit en aan engele opdrag gegee om die tuin te bewaak. Dit is dus nie God wat die aarde vervloek het nie, maar die aarde is vervloek deur die sonde van die mens, oftewel die verkeerde keuses van die mens deurdat hulle eerder hulle eie wil gevolg het as om God se wil te gehoorsaam. Die gevolg was dat die mens ’n sukkelbestaan moes gaan maak in die wêreld wat deur sy eie toedoen (sonde) vervloek is. God het dus die mens oorgelaat aan sy eie lot, want deurdat die mens die verkeerde keuse gemaak het, het hy opsetlik teen die wil van God opgetree. Hulle was versoek deur die vyand en het die keuse gemaak om eerder die leuen van Satan te glo as om gehoorsaam te wees aan God en daardeur het hulle vervloeking oor die aarde laat losbars wat die lewe vir mens, dier en natuur baie moeilik maak.
Omdat die Lig van God uit die hart van die mens geblus en sy hart nou duister was, kon die mens God nie gehoorsaam in die vervloekte wêreld nie. God het berou gehad dat Hy die mens gemaak het en het almal van die aarde afgevee met die vloed, behalwe Noag en sy geliefdes. Die populasie het weer gegroei en meer geword, maar nogsteeds kon hulle God nie gehoorsaam nie. Hoekom nie? Omdat die Gees van God nie in hulle harte teenwoordig was nie. God het wel Sy Gees aan Sy profete gegee om aan die mensdom rigting en leiding te gee, maar die mensdom wou nie luister na die profete nie en het hulle eerder doodgemaak. Daarna het God besluit om Sy Seun te stuur, want deur Sy Seun se gehoorsaamheid kon die Gees van God vrygestel word op die aarde om weer Lewe te gee aan die kinders van God en hulle Hom kan gehoorsaam. Alleenlik wanneer die Gees van God Sy inwoning maak in die hart van die mens, is die mens in staat om gehoorsaam aan God te wees, dus om die wil van God te volg. Alleenlik met die hulp van die Gees van God in die hart van die mens, is die mens in staat om sy eie vleeslike wil teë te staan, maar sonder die Gees van God, bly die hart van die mens duister en solank as wat die hart duister is, het die mens geen wilskrag om sy eie vleeslike wil teë te staan nie. Ons het die Helper nodig! Sonder die Helper – die Gees van God – is ons mense wat bestaan uit ’n leë dop – ’n dop sonder enige ware Lewe binne ons. Ons word gebore as ’n vleeslike mens, gebore uit die wil van die mens, ons word nie gebore met die Gees van God in ons harte nie. Niemand word heilig gebore nie! Jy ontvang ook nie die Heilige Gees wanneer jy gedoop word as ’n baba nie, en ook nie wanneer jy as grootmens gedoop word nie. Jy ontvang alleenlik die Gees van God wanneer jy sterf aan die ou mens en daar ’n Goddelike wedergeboorte binne jou plaasvind (Johannes 3). Jesus het dus nie gesterf sodat ieder en elkeen wat vleeslik gebore word, sonder sonde gebore word nie. Jesus het ook nie gesterf sodat elke Jan Rap en sy maat net die woorde kan sê: “Ek glo in Jesus”, en gered is nie. Jesus het nie gesterf om die wêreld vir ons ’n beter plek te maak nie – ek dink ons almal kan dit sien deur die chaos om ons. Jesus het nie gesterf sodat ons almal se sondes op die daad vergewe is en ons maar kan aanleef soos ons wil nie. Jesus het gesterf uit gehoorsaamheid aan Abba Vader om die Gees van God vry te stel wat die mens gekort het, want sonder die Gees van God in sy hart, bly sy hart duister en het Satan altyd beheer oor hom. Sonder die Gees van God, volg die mens sy eie kop en sy eie wil wat altyd vir hom vervloeking sal skep. Ons skep dus vir onsself vervloeking wanneer ons ons eie wil leef en net soos God vir Adam en Eva uit die tuin uit weggestuur het om te gaan woon in die vervloeking wat hulle vir hulleself geskep het, net so gaan God ons ook oorlaat aan ons eie lot wanneer ons vir onsself vervloeking skep deur ongehoorsaam te wees aan die wil God. Ons het die Gees van God meer nodig as wat ons suurstof nodig het, maar die Gees van God sal alleenlik Sy inwoning maak in die hart van die mens wanneer die mens die keuse maak om sy lewe oor te gee in die hand van Abba Vader.
Ons kan weer die verhouding met Abba Vader hê wat Adam en Eva met Hom gehad het voor die sondeval, dit is wat God van ons wil hê! Verhouding met Hom! Om tyd saam met Hom te spandeer! Om die dinge van die wêreld bietjie eenkant toe te skuif en Hom ons eerste prioriteit te maak. En hierdeur sê ek nie ons moet ophou werk om ’n lewensbestaan te maak nie, want om fisies te lewe, sal ons altyd moet werk, maar ons kan ’n balans hê en God verheerlik in ons alledaagse werk, solank God altyd eerste kom in ons lewe.