Hoe versoek ons God?

Hoe weet jy of jy waarlik tot God bid en of jy God versoek / toets?

Ek dink aan die verhale in die Ou Testament, veral in die tyd toe God soveel plae oor Egipte gebring het;  Hy het soveel wonders voor die oë van die mense laat afspeel.  Hy het dit nie gedoen om mense tevrede te stel of om die smeekgebede van mense te gehoorsaam nie.  Inteendeel, ek kan nie eers dink dat die mens kon dink aan ’n enkele plaag voordat God dit gedoen het nie.  Nie Moses of die volk het hierdie plae afgebid of afgesmeek voor God nie, so hulle het nie eerste die gedagte aan plae gehad nie.  Hulle het nie God se planne geken nie… Dit is nie hulle wat met die puik gedagte opgekom het dat God plae moet stuur oor Egipte nie;  nog minder sou hulle daaraan gedink het om God te vra om die see vir hulle oop te kloof sodat hulle op droë grond kan deurbeweeg.  Sonder dat hulle gevra het vir al hierdie goed, het God dit net gedoen.  Hy het Sy almag getoon aan Sy volk en aan sy nie-volk.  God het nie hierdie wonderwerke gedoen omdat die mense dit van Hom gesmeek en versoek het nie, Hy het dit gedoen omdat Hy getrou is en om Homself aan die mens te bewys as “EK IS”.  God het dit nie gedoen om mense se opdragte te gehoorsaam nie.  HY is God en Hy alleen is God!  HY beplan alles vooruit en sit ’n datum op elke gebeurtenis soos Hy weet die beste is.  Die mens gaan nie vir God vertel hoe om Sy beplanning te doen of uit te voer nie.  Ons is die skape van Sy weide, HY is die Herder en ons moet soos gehoorsame skapies agter Hom aanloop en Hom vertrou.  Skape vertel nie vir die Herder wat hulle wil hê en hoe die Herder dit moet doen nie, die Herder weet wat goed is vir hulle en Hy sal hulle daarheen lei. 

As jy Psalm 78 lees, sal jy sien God is kwaad vir Sy volk omdat hulle Hom versoek het…  Dink net:  Hulle het al die wonderwerke beleef wat God in Egipte laat gebeur het en toe het hulle voor die see gestaan met die Egiptenare op hulle hakke, seker daarvan dat dit hulle einde is… maar toe maak God vir hulle die see oop om op droë land deur te beweeg.  Niemand het dit van God afgebid en gemeek nie, want dit was God se plan!  God wou hê die volk moes sien hulle kan Hom vertrou.  Nadat die volk al hierdie wonders van God beleef het, wou hulle nogsteeds nie in Hom glo nie en het hulle wederstrewig teen Hom gehandel… al het hulle nie in Hom geglo nie, het hulle God nogsteeds getart deur vir Hom kos te vra… die selfsug van die mens!  Hulle het die God van wonders beleef in Egipte, hulle het gesien hoe Hy vir hulle water uit ’n rots laat vloei om hulle dors te les, maar nogsteeds wou hulle nie in Hom glo en gehoorsaam aan Hom wees nie.  Hulle wou God net misbruik om in hulle vleeslike behoeftes te voorsien en toe hulle kos wou hê, het hulle God nie vertrou om vir hulle kos te gee op Sy manier nie, maar het hulle Hom versoek vir kos.

“En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin.”  Psalm 78:18 (AFR33/53)

     Die Engelse vertalings sê “they tempted” God, hulle het Hom getoets.  Hulle het vir God voedsel gevra na hulle eie sin!  Die Amplified sê:

“…they tempted God in their hearts by asking for food according to their selfish desire and appetite.”

Hulle het God versoek en Hom gesmeek om in hulle vleeslike behoeftes te voorsien.  Hulle kon nie omgee wat die wil van God is nie, solank God net in hulle eie wil voldoen deur in hulle vleeslike behoeftes te voorsien.  Hierdie is baie teenstrydig:  Dit is ’n volk wat wederstrewig is teen God, hulle is ongehoorsaam aan God, maar tog gaan kniel en smeek hulle vir dit wat hulle graag wil hê… maak nie saak wat God se wil is nie.  Hulle het geen respek vir God gehad nie, hulle het die goedheid en wonders van God misbruik.  Hulle het net na Hom toe gehardloop wanneer hulle iets wou hê!  Hulle het hulleself so belangrik geag dat hulle gedink het God moet hulle dien en nie hulle vir God nie.  Maar die toorn van God het ontvlam teen die volk omdat hulle in Hom nie geglo en op Sy hulp nie vertrou het nie, maar Hom versoek het.  

God het wel hulle begeerte bevredig, maar die voedsel was nog in hulle mond toe die toorn van God teen die volk opgegaan en Hy ’n slagting onder hulle aangerig het.  ’n Mens sal dink dat die volk sou stilraak en dink oor hierdie saak, maar hulle het eerder verder aangehou sondig wat maar net weer die toorn van God ontlont het.  Elke keer, direk nadat God hulle gestraf het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek en dan het hulle vir ‘n rukkie daaraan gedink dat God hulle Rots is, hulle verlosser, maar…

“Hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg;  maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in Sy verbond nie.”  Ps 78:36,37 (AFR33/53)

Hierdie is vir my baie hartseer.  God is so goedhartig, Hy is so getrou, maar dan probeer die mens Sy goedheid misbruik deur goed van Hom te eis wat nie God se wil is nie, maar wat in hulle vleeslike behoeftes sal voorsien.  En die ergste van alles is dat hulle wraggies dink hulle kan vir God flous deur met ’n vroom gesiggie Hom te aanbid, net om maar net nog versoeke aan Hom te rig… hulle vlei Hom met die mond en belieg Hom met die tong… dit is vals “worship” met die doel om God te versoek.  Lees gerus ook die saadjie wat handel oor ware “worship” en wat dit regtig is… dit is om in geregtigheid voor God te leef wat ons alleenlik kan doen wanneer ons in ’n hegte verhouding met Hom is.  Wees versigtig dat godsdiens en gebed nie soos ’n muur tussen jou en God kom staan nie, want dit wat mense as gebed sien, sien God as die mens wat Hom versoek en dit is omdat die mens nie vra na die wil van God nie.  Om die kop te laat sak en ’n skietgebed te prewel, is nie ware gebed nie.  Lees gerus die saadjie “Gebed en verhouding”.   

Kom ons dink aan vandag se lewe…Wat doen die mens vandag?  Hy versoek en smeek God vir alles wat hy wil hê om die lewe vir homself makliker en lekkerder te maak.  Nog erger… sommige mense spreek sommer dinge in die geestelike realm aan om te gebeur, sien hulleself as ’n god en probeer ook sommer God speel.  Sogenaamde profete reis die land deur en profeteer oral waar hulle kom… dit is net ironies dat hulle weet hoe om die mooi en die voorspoed te profeteer, maar die sleg kan hulle nooit raaksien nie.  As jy kyk na die profete van ouds, het hulle die mense altyd gewaarsku oor die sleg wat gaan toeslaan, maar vandag se profete kan nie sleg “sien” nie;  alles is mooi, goed en voorspoedig…dit is net ironies dat die Woord keer op keer sê dat alles slegter sal gaan hoe nader ons na die eindtyd beweeg, dit is net jammer dat deesdae se profete die teenoorgestelde “sien”.  Is dit regtig van God af?     

Ek het al die belaglikheid gehoor dat God die mens nodig het om ’n sekere gebed te bid of ’n sekere ding van Hom af te smeek voordat Hy dit laat gebeur.  Hoe belaglik!  God het nie die mens of sy smeekgebede nodig om iets te laat gebeur nie, ek dink dit grief God eerder, want dit is om God te versoek.  God het nie die Israeliete (wat nie eers in Hom geglo het nie) nodig gehad om Hom te smeek om die waters van die see oop te maak nie, God is almagtig, Hy kan doen wat Hy wil wanneer Hy wil en Hy doen altyd die beste.  Wat God van Sy kinders wil hê, is ’n lewende verhouding, daar waar jy Hom in stilte ontmoet en jou hart met Hom deel;  nie om smeekgebede af te bid sodat God jou moet gehoorsaam nie.  God het klaar alles rondom Sy kinders se lewens bepaal, van die begin tot die einde.  Hy het alreeds ’n lewensboek oor elkeen van Sy kinders geskryf, die keuse is ons s’n of ons dit gaan leef wat God vir ons beplan het en of ons ons eie lewensboeke wil skryf waar ons God gaan smeek om ons eie wil te bevredig.  Dit is soveel makliker om net in die weë van God te volg en Sy wil te gehoorsaam.  En dit kom maar net weer terug na verhouding met Abba Vader, want om te weet wat die wil van God vir ons lewens is, is dit nodig om ’n baie hegte band met Hom te hê.  Wanneer ons dan bid, sal ons bid volgens die wil van God.  Mense is baie lief vir die Skrifte in die Woord wat sê dat ons enigiets van God kan vra en Hy sal dit vir ons gee of doen, maar gaan ondersoek bietjie daardie Skrifte… Kyk mooi na al die verse in die Woord wat sê dat God ons gebede verhoor.  As jy die hele stuk lees, sal jy sien dit gaan altyd eerste daaroor om in God geanker te wees, om ’n verbinding met God te hê, want wanneer ons verbind is aan God, werk die Gees van God in ons harte en sal ons bid volgens die wil van God.  Ek haal net 2 versies aan:   

“As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”  Johannes 15”5

“En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons vehoor as ons iets vra volgens Sy wil.”  1 Johannes 5:14

Alleenlik wanneer ons in God bly, dus verbind is aan Abba Vader, sal ons nie meer bid om in ons eie behoeftes te voorsien nie (sal ons God nie versoek nie), maar sal ons bid soos die Gees van God ons lei.  Dan sal ons bid na die wil van God en alleenlik wanneer ons bid na die wil van God, sal God na ons luister.

Hoe versoek ons dus vir God?  Om God te smeek en voor te skryf hoe om ons lewens te reël, om vir God goed te vra sodat dit beter in ons lewens moet gaan, sodat ons vleeslike behoeftes bevredig kan word; om tot God te bid sonder om ‘n verhouding met Hom te hê!  Die volk van God (ek bedoel nie die Afrikaner nie, ek bedoel die kinders van God) moet Hom nie versoek nie, maar Hom vertrou om Sy planne te uit te voer, want God weet die beste.  As ons in God glo, sal ons Hom vertrou en Hom nie probeer voorskryf nie.  As ons God liefhet en ons lewe is in Sy wonderbare hande, gaan Hy ons nie los om te vergaan in ’n land van chaos nie, maar gaan Hy ook die see vir ons oopmaak en vir ons ’n uitkoms gee.  Maar SA se mense moet eers ophou om vir God te versoek…

Daar is baie mense wat net met die mond en tong getuig om in God te glo, wat nie met hulle harte in God glo nie, wat nie hulle lewens in die hande van God wil plaas nie, want hulle wil nog lewe soos hulle wil.  Nogsteeds buig hulle die hoofde, “aanbid en worship” hulle God en versoek hulle God sodat dit met hulle kan goedgaan.  Hulle is in dieselfde bootjie as die Israeliete wat God versoek het, maar nie met hulle harte in Hom geglo het of aan Hom gehoorsaam was het nie.  God se toorn gaan ontvlam hieroor…  

“Julle mag die Here julle God nie versoek… nie.”  Deuteronomium 6:16

Links:

Ware worship VS vals worship

Wat is gebed en verhouding met God?

Lewensboeke

One thought on “Hoe versoek ons God?”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s