Anderhelfte of huweliksmaat

 

anderhelfte

Op soek na ons anderhelfte

Het jy al die spreukwoord gehoor: “Ons soek ons anderhelf”!!! Dis presies wat dit is!!! Ons is halfleë mense opsoek na die ander helfte van onsself! Diep binne ons besef ons daar is ’n deel van ons wat nie funksioneer nie, daar is ’n deel van ons wat “weg” is. Ons probeer daardie leë helfte opvul met ’n maat, maar die meeste van die tyd vind ons ’n lewensmaat wat ook ’n halwe mens is. Diep binne is jou maat ook opsoek na die ander helfte van homself. Dink net gou bietjie of hierdie scenario kan werk – twee halwe mense wat saamsmelt, maar albei se kerngedeeltes is leeg… Nou hoe gaan twee leë helftes mekaar kan volmaak as albei se kerns leeg is? Die twee doppe gaan probeer saamsmelt om ’n dubbele deurmekaar dop te vorm, maar die deurmekaar dop gaan ’n dubbele grootte leë kern hê. So sien julle ’n man of ’n vrou kan NOOIT ons anderhelfte wees nie, want ’n man of vrou kan NOOIT die leemte van ons hart vul nie. Omdat ons geesteshart deur God gevorm is, is daar is net Een wat ons leë helftes of ons putte kan opvul en ons volwaardig mens maak en dit is Jesus Christus!

Ons kan maar net kyk na huwelike! Die meeste is in ’n gemors gedompel en staan op die drumpel van egskeidings! Nou kan ons beter verstaan hoekom… dit is 2 halfmense wat gedink het hulle het hulle “soulmate” gevind, hulle het gedink die pot het sy deksel gevind, hulle het gedink hulle het hul anderhelfte gevind, want hulle het vir ’n kort rukkie geliefd gevoel deur hul “anderhelfte”, maar dit is toe al die tyd net die vleeslikheid wat vir ’n kort rukkie bevredig is. Die liggaam en die siel is bevredig, maar nie die honger gees nie. Die twee halwe mense dink hulle het liefde gevind, maar hulle is so mislei…

Twee halwe mense het een probeer word, maar dit is onmoontlik, want nie een van die twee se leë kerngedeeltes was gevul met Jesus nie, dus was Jesus nie deel van hierdie proses nie en daarom kan die twee mense nooit een word nie. Die eenheid in Jesus moet twee mense laat saamsmelt, maar omdat nie een van die twee vir Jesus in hulle kerns gehad het nie, is hulle nie saamgesmelt deur Jesus nie. Hulle kerns kon glad nie een word nie, want albei s’n was dolleeg. Hulle is onder die indruk dat liefde hulle een gemaak het, maar nie een van hulle het Liefde in hulle nie, want nie een van hulle het Jesus in hulle nie en as Jesus nie teenwoordig is in ’n mens nie, het die persoon geen liefde nie. Dit wat hulle gedink het liefde is, was in der waarheid wellus! Wellus is die giftige gom van satan wat twee halfmense aan mekaar verkleef. Skielik kan hierdie twee mense glad nie sonder mekaar lewe nie, maar ook nie met mekaar nie – wat hulle gedink het liefde is, is toe al die tyd ’n “trick” van satan, want hulle is net een in liggaam, maar nie een in gees nie. 1 Kor 6:16 en 17 sê dat wanneer ’n mens met ’n ander verbind, word hulle een mens, dus in die vlees, dus in liggaam. Maar die mens se gees kan alleenlik met God een word. Dus kan twee halfmense nogsteeds nie ’n volmens raak nie, want albei se kerns is dolleeg, dus kan twee halfmense nooit as ’n eenheid funksioneer nie, want een van die drie dele van die eenheid is nog leweloos. As jy dit in ’n prentjie kan sien soos ek dit sien, maak dit meer sin. Die halfman en die halfvrou word gegom deur wellus en is nou een in liggaam, maar elkeen se denke, emosies en wil behoort nog aan homself en elkeen wil nog net sy eie wil gehoorsaam, en daarom kan die siele van twee halwe mense ook nie verenig nie en daarom die hewige gevegte… Al is hulle in liggaam een, is hulle nogsteeds twee mense wat totaal van mekaar verskil en solank hulle so verskil, sal hulle nooit in vrede kan leef nie.

Matt 19 sê twee mense wat mekaar aankleef word een in vlees, hulle is nou nie meer 2 mense nie, maar een vlees. Nou hoe skei ’n mens 2 mense wat alreeds in die vlees een geword het? Die een is klaar deel van die ander een liggaamlik, hulle is liggaamlik vermeng. Vat bv bestanddele wat jy saamgooi om ’n koek te bak – hoe gaan jy daardie bestanddele weer kan skei as dit een geword het? Soos die geel en die wit van ’n eier – jy kan dit nooit skei nie! Die een sal altyd ’n deeltjie van die ander een in hom hê, ’n stukkie van die een sal altyd voortleef in die ander een. Dit is liggaamlik, vleeslik! As 2 mense net in liggaam een is, gaan hulle siel nooit kan saamstem nie en gaan dit ’n baie moeilike huwelik wees, baie struwelinge, want in liggaam is hulle nou een, maar in siel kan hulle nie een wees nie. Daarom is buitehuwelikse seks vir God ’n gruwel – met elke persoon waarmee jy een word, leef daar dan ’n stukkie van daardie persoon in jou…

Kom ons fokus vir ’n oomblik op die teendeel van die saak: wat gebeur binne die halfmens as hy Jesus in sy lewe toelaat?

Halfmens word heelmens

Alleenlik die liefde van Jesus Christus kan deur ons leë harte geabsorbeer word en soos ons eens leë hart dit absorbeer, word ons gevul met die liefde van God. Ons word gekonnekeer met die bron van Lewende Water en ons put of ons leë ruimte word gevul met die Liefde van God. Dis die enigtste Liefde wat ons waarlik kan heelmaak, wat ons kan volmaak en wat ons kan genees van binne na buite. Soos ons putte volraak met die Lewende Water, wat ook Jesus is, begin Hy ons oorneem vanuit ons harte en begin Hy deur ons leef. Die Liefde spoel oor na ons sielsdimensie en stadig maar seker begin God ons waardes, persepsies en beginsels verander vanaf ’n wêreldse siening na ’n Goddelike siening. Ons begin die lewe, omstandighede en alles om ons uit ander oë raaksien, want ons begin nou die oë van Jesus kyk. Ons raak meer standvastig en gegrond in dit wat God sê. Grys areas begin verdwyn en daar is net ’n reg of verkeerd, geen tussenin areas nie. Ons begin deur die HG ons eie wil verwerp en begin ons onderwerp aan die wil van God en deur HG begin ons God gehoorsaam. Later spoel die Liefde van God ook oor na ons liggaam waar dit ons kan genees van allerhande kwale en God ons help om ons liggame op die regte manier te sien en hanteer en nie ons liggame te laat misbruik nie. Ons weet nou die liggaam is ’n tempel van God wat ons moet oppas. Wanneer ons elke dag stilraak by die voete van God, word ons putte opnuut volgemaak met die Liefde van God en daarom sal ons geen behoefte hê om te teer op die liefde, aanvaarding en erkenning van ’n mens nie. Ons sal kan begin liefde uitdeel sonder om iets terug te verwag. Die halwe mens met die leë kern het nou ’n heelmens geword en omdat Jesus in en deur ’n mens leef en ons volmaak met Sy Lewende Water kan ons ander begin liefhê met die liefde van God. So dit raak nou duidelik hoekom 2 halwe mense nooit mekaar kan gelukkig maak nie…

Ware lewensmaats

’n Mens se gees kan alleenlik een word met God. Wanneer 2 halfmense se geeste verenig met God en albei is gevul is met die HG, kan hierdie twee mense se gees nou versmelt want dieselfde God heers oor albei se gees. Wanneer God 2 heelmense bymkeaar sit, gaan hulle eerstens versmelt en verenig in die gees, en nie in die liggaam of siel nie, want albei se gees is nou gevul met die HG wat die twee mense vanuit die hart een maak. Dit is die enigste manier hoe ’n huwelik kan werk! Die kerngedeeltes van die mens word eerste een, dan spoel dit na buite waar die siel van die twee mense ook een kan word.
Ons het gesien die liefde van God spoel vanaf die gees van die mens na die siel van die mens waar God ons denke, emosies en wil totaal kom verander om Goddelik te wees. Omdat die liefde van God nou deur albei halfmense afsonderlik gewerk het, sal die twee persone nou dieselfde Goddelike waardes en persepsies hê. Hulle sal nou dieselfde siening en menings oor dinge van die wêreld hê, albei sal deur die oë van Jesus na die wêreld kyk, want God heers nou in en deur albei, dus sal die twee mense nou ook in die meeste gevalle saamstem. Omdat albei se siele beheer word deur God, kan hulle sielsdimensies nou ook een word. En later van tyd kan die twee se liggame ook een word en is dit reg in die oë van God dat die twee mense een vlees word.

Ongelukkig werk dit alles so verkeerdom in die wêreld… Mense raak eers een in die vlees deur saam te slaap en wanneer dit gebeur, neem wellus oor en verbind wellus die siele aanmekaar vas wat maak dat hulle nie sonder mekaar kan lewe nie, al wil hulle mekaar vermorsel en doodmaak. Hulle sielsdimensies word geheg aan mekaar, maar elkeen het nog die waardes en beginsels waarmee hy grootgemaak is, dus gaan daar baie verskille wees in hulle denke en optredes. Hulle waardes en persepsies gaan nog totaal van mekaar verskil, daar gaan heeltyd ’n blokkasie wees tussen die twee halfmense en hulle sal nooit in vrede kan saamleef nie.

Prakties

Moet ons elkeen nie maar net tot stilstand kom en selfondersoek doen nie? Hoe kan ons ons huweliksmaat die skuld gee vir ongelukkigheid as die probleem eintik in onsself lê? Want die probleem lê nie by ons huweliksmaats nie, dit lê by ons eie liefdeloosheid en vir daardie probleem is elkeen self verantwoordelik. Want enigiemand wat lei aan liefdeloosheid, het ’n gebrek aan Lewende Water, so dit is so onregverdig as ons ons maat soos ’n spons probeer uitdruk vir ’n duppeltjie liefde. Die regte pad is reguit na God, Hy is altyd daar vir ons! Hy luister as ons Hom aanroep en Hy sal ons nooit in die steek laat nie! Soek Hom eerste! Voed op die Brood wat God ons bied, soek antwoorde in Sy Woord, praat met Hom, spandeer tyd met Hom sodat Hy jou leemte kan begin vul, sodat Hy jou put met Lewende Water kan begin volmaak. Die behoefte om jou maat uit te put vir liefde sal begin verdwyn, en die wonderlike is dat ons self kan begin liefde uitdeel as om bakhand te staan om te ontvang. Ons moet net geduldig wees, want dit is nie ’n oornagproses nie, dit alles vat tyd.

Nou kan dit gebeur dat net een van die twee halfmense aangeraak word deur God en dat net daardie een die behoefte het om een te raak met God. Die ander helfte glo dit dalk glad nie of dink nie dit is nodig is. Dit is ’n moelike saak, want 2 Kor 6:14-18 sê: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtige, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? Watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle Vader wees en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige”

Die probleem wat hier gaan ontstaan is dat die persoon wat een word met God, van binne af verander gaan word deur God. Hy gaan vanuit sy gees begin verander na ’n heelmens en die anderhalf, of die halwemens, gaan nie daarvan hou nie. As die halfmens God verag, gaan hy die heelmens ook begin verag, want die heelmens word nou een met God. Dit gaan baie struwelinge bring, maar ons moet sterkstaan om nie in te gee nie! Ons kan nie weer terug verander na die beeld van die wêreld nie… En ons halfmens-maat gaan dit baie moeilik respekteer, want hy gaan dit in die eerste plek nie verstaan nie. Halfmense steur hulle nie aan sonde nie, en hulle het geen behoefte om skoon en rein voor die Here te leef nie – dit is omdat hulle God se Gees nog nie in hulle het nie. Maar ons mag nie ingee nie, ons kan nie ons standaarde weer verlaag om die wêreld te pas nie, want vir wie wil jy behaag? God of die wêreld? As ons kan sterkstaan in hierdie saak en nie ons Goddelike waardes en beginsels prysgee nie en ons maat besluit om ons sienings te respekteer, en nie probeer om ons terug te verander na die ou mens nie, dan sê 1 Kor 7:12-15 in DB: “Oor wat verwag word van ’n Christen wat met ’n nie-Christen getroud is, het die Here nie destyds met ons gepraat toe Hy op aarde was nie. Laat ek vir julle sê wat ek dink: as die nie-Christen gewillig is om met die Christen getroud te bly, moet hulle nie skei nie. (as hy die volmens se waardes kan respekteer). As ’n nie-Christen met ’n Christen getrou is, beteken dit nie dat die Here daardie huisgesin verwerp nie. Dit sou mos beteken dat Hy die kinders van die huisgesin ook verwerp. Dit doen die Here nie. Die Here aanvaar daardie huisgesin en daardie kinders behoort aan Hom. Maar as die nie-Christen wil skei, laat hy dit doen. Die Christen hoef in so ’n geval nie te voel hy doen iets verkeerds as die nie-Christen sy goed vat en loop nie. Dit is beter so as om in onmin saam te leef, want God wil hê sy kinders moet in vrede leef. As jy sê dat jy in onvrede getroud wil bly om so jou ongelowige huweliksmaat ’n Christen te probeer maak, waag jy ’n goot kans. Hoe weet jy of jou plan sal uitwerk?

Kan ’n halfmens en ’n volmens saam funksioneer? Kan dit maklik wees? Die volmens is nou vol Lewende Water en as die volmens die keuse maak om nie van sy Goddelike beginsels te laat gaan nie, maar hy rotsvas staan by dit wat hy glo en sy put word nogsteeds elke dag vol Lewende Waer gemaak, gaan hy nie die halfmens probeer tap vir liefde nie, maar gaan hy Jesusliefde kan gee aan die halfmens, hy gaan elke dag die halfmens ’n proeseltjie van Jesus kan gee. Dalk gaan die hafmens glad nie daarvan hou nie, maar as die halfmens leer om die ander een te respekteer en kies om vir die nuwe persoon lief te wees en nogsteeds in die huwelik te bly, kan hy dalk ook sy hart later oorgee aan God. Hoe versmelt ’n halmens en ’n volmens? Hulle kan nie uit die gees saamsmelt nie, nie totdat die halfmens die keuse maak om sy put te laat vomaak met Jesus nie. Om een gees te word, het die halfmens nodig om sy hart oor te gee aan God, dis die enigste manier. Sy gees is nog aan die slaap, maar hopenlik begin die halfmens in sy siel die waardes van die volmens aanneem en daarvolgens leef. Dalk maak dit iets in sy gees wakker…

1 Petrus 3:1,2: “As daar ’n man is wat nie na die Woord van God wil luister nie, moet die manier waarop jy as vrou leef, hom oortuig dat dit waarin jy glo, die waarheid is. Jou lewe praat baie harder as jou woorde. Dit is eintlik nie eens nodig om baie met jou man oor God te praat as jy leef soos Hy wil hê nie. So sal jy vir jou man wys hoe wonderlik God is.

Soms, as dit die wil van die Here is, vra die Here van ons om net vir ’n tydjie in afsondering te gaan soos 2 Kor 6 sê. Die Here het ’n doel en ’n plan in alles wat Hy doen en wat Hy van ons vra. Soms vra Hy dat twee mense net vir ’n tydjie die ongoddelke bande tussen hulle moet breek en elkeen in afsondering moet inbeweeg sodat elkeen sy eie hart kan ondersoek en vasstel wat die toestand van sy put is. Is daar lewende water in sy put? Is sy leë kerngedeelte al gevul met Jesus? En as dit nie is nie, moet hierdie persoon besef en leer om nie sy maat se put leeg te tap nie, maar gekonnekteer te raak met die Watergewer sodat God sy put kan herstel en hy liefde by God kan ontvang. Daarom is dit goed dat die mense nie bymekaar is sodat hulle van mekaar se putte tap nie, maar dat hulle leer die enigste put om van te tap, is by die Watergewer. Wanneer albei mense se putte herstel is en albei se kerngedeeltes is opgevul met die liefde van Jesus, sal God hulle weer bymekaar plaas waar hulle dan eers deur die gees sal verenig en daarna siel en liggaam ook. Die een wie se put eerste herstel is, moet geduldig in die liefde van Jesus wag vir die ander een se put om herstel te word. Die Skrif wat die Here terselftertyd vir my gegee het oor hierdie saak sê:

“You never know: The way you handle this might bring your husband not only back to you but also back to God!” (2 Cor 7:16 Mes)

Dit is so nodig dat ons nie fokus op ons huwelik of ons ons maat nie, maar alleen op God! Plaas jou huwelik, jou maat en jou alles in die hand van God sodat Hy die uitsorteerwerk kan doen. Ons moet vertrou op God om die werk te doen en nie op ons eie vermoëns nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s