’n Boom wat vrug dra

Johannes 15:4,5 (Afr. 33/53) “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

Ons het gesien ’n boom gewortel in die hart van God, is gekonnekteer aan God deur die penwortel van geloof en deur hierdie band wat ons met God het, ontvang ons ook die Lewe van God. Alleenlik wanneer ons die Lewe van God ontvang, ontvang ons ook die vermoë om Goddelike vrugte te begin dra. Dit is baie belangrik dat ons besef dat dit nie die mens self is wat Goddelike vrugte dra nie, dit is alleenlik deur die Lewe van God wat deur ons are bruis, wat ons in staat stel om Goddelike vrugte te begin dra. Die menslike karakter kan nooit Goddelike vrugte dra nie, alleenlik wanneer die karakter van die mens deur die Lewe van God omvorm is – dan eers is die mens in staat om deur die krag van God Goddelike vrugte te begin dra, maar dit is nogsteeds nie die mens wat die vrug dra nie, dit is Jesus in en deur ons.

Die penwortel van geloof is die enigste band wat ’n mens aan God kan verbind, dus is dit alleenlik deur hierdie band wat ons die Lewe van God kan ontvang, maar as daar geen penwortel is nie, is die krag en Lewe van God afwesig in ons wese en kan daar ook nie Goddelike vrugte wees nie. Met ander woorde, as ’n boom Goddelike vrugte dra, beteken dit daardie boom is geanker in die hart van God deur ’n penwortelstelsel. Die persoon glo waaragtig in Jesus en hy ontvang die Lewe van God. As ‘n boom geen goeie vrugte dra nie, getuig dit van die afwesigheid van ’n penwortel, dus ook die afwesigheid van die Lewe van God binne die persoon. So, vrugte van die Gees gaan gepaard met geloof in God. ’n Persoon sonder geloof in God, wat nie ten volle en waaragtig in Hom glo nie, kan nie ware liefde, vrede, blydskap, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid of selfbeheersing toon nie. Alhoewel die persoon sy beste gaan doen om hierdie eienskappe te toon, sal hy faal, want geen mens kan hierdie eienskappe uit sy eie genereer nie; alleenlik Jesus kan hierdie eienskappe deur ons leef. ’n Boom sonder Goddelike vrugte laat my sidder, want Mattheus 3:10 sê:

Mattheus 3:10 (Afr.33/53) “Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrug dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

’n Boom word geken aan sy vrugte. Die Fariseërs het duidelik nie mooi vrugte gedra nie, want Johannes sê vir hulle:

Mattheus 3:7,8 (Afr.33/53) “Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas.”

Vals bome is mense wat beweer om in die hart van God gevestig te wees, wat beweer dat hulle Christene is omdat hulle gedoop is, dalk omdat hulle aan ’n kerk behoort, ensovoorts. In werklikheid getuig hulle net met die mond om te glo in Jesus Christus omdat hulle so grootgemaak is; dit is deel van hulle tradisie, kultuur en godsdiens. Hulle is nie gewortel in die hart van God nie, maar hulle is gewortel in tradisie, kultuur en godsdiens. Net so is baie mense, soos die Fariseërs, gewortel in die wet en nie in God nie. Om reëls, wette en regulasies te onderhou, kan aan geen mens die vermoë gee om Goddelike vrugte te dra nie. Galasiërs 5:4 sê as jy probeer leef volgens godsdienstige regulasies, word jy afgesny van Jesus…

Galatians 5:4 (The Message) “When you attempt to live by your own religious plans and projects, you are cut off from Christ…”

Wanneer ons wel ten volle gewortel is in die hart van God, sal die Gees van God ons lewe beheer en sal ons volgens die Gees leef en nie meer volgens die vlees nie. Abba Vader sal dus aan die stuur staan van alles wat ons dink, doen en sê. Die gevolg is dat die sonde ons nie meer sal onderkry nie, want dit het geen houvas meer op ons nie. Ons kan nie een dag aan ons sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van Abba Vader staan nie – ons kan nie leef soos ons wil nie. Waar ons gewortel is, is duidelik te sien aan die vrug van die boom, want soos ’n boom wat goeie vrug oplewer, wys die mens wat in God gewortel is, se lewe dat hy aan God behoort. Hulle gee om vir ander, hulle lewe is vol vreugde, hulle ken en ervaar die vrede wat van God af kom, hulle verdra ander mense, hulle straal van vriendelikheid en warmte en hulle is vol deernis en ontferming. (Galasiërs 5:21-22 Die Boodskap)Daarteenoor sal ’n boom in die wêreldse grond vleeslike vrugte dra:

2Galasiërs 5:19-22 (Afr. 33/53) “Die werke van die vlees (vrugte van die vlees) is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroëer gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die Koninkryk van God nie sal beërwe nie.”

Dit is vir Abba Vader baie belangrik dat ons Goddelike vrugte dra sodat ons dit kan bied aan ons naaste en die mense van die wêreld. As ons gevul is met die Lewe van God, gaan ons deur Jesus Goddelike vrug dra en die mense om ons gaan ’n proeseltjie kry van hierdie vrugte wat hulle weer ’n honger kan laat ontwikkel om meer van Jesus te ken. So wanneer ons Goddelike vrugte uit die hart dra en aan mense om ons bied, versprei ons die liefde van God wat op ’n Godgegewe tyd hulle hongerte en begeerte na Jesus sal aanwakker. Ons hoef nie ons onbekeerlike geliefdes toe te gooi met die Woord van God nie, want meeste van die tyd val dit in elk geval op dowe ore en bring dit net verwydering tussen ons en hulle. Ons hoef nie te ywer om hulle in te bring na die Koninkryk van God nie, want God het Sy plan met elke persoon en al wat Hy van ons wil hê, is om Sy vrugte te dra. Hy vra nie van ons om uit te gaan en mense te red nie, God doen dit self! Ons moet net Sy vrug dra en ons hoef nie te ywer om ons geliefdes tot bekering te bring nie. Al wat ons kan doen is om te fokus op God en verdiep te raak in die liefde van ons Vader en hoe dieper ons in Hom ingroei, hoe voller raak ons van Hom en hoe meer vrug dra Hy deur ons wat weer uitgedeel kan word.

God verander ons totale karakter wanneer ons vol raak van Hom en jy gaan nie eers agterkom dat ander mense op die vrug wat jy deur God dra, voed nie. Jy gaan nie eers bewus wees wat jou vrug aan ander mense doen nie, en dit is heeltemal reg, want dit moenie oor die self gaan nie. Ons fokus moenie wees op wat ons aan ander kan bied nie, maar ons fokus moet wees op ons verhouding met God alleen. Ons moet fokus om dieper en dieper in Hom in te groei en God sal die res doen. Wanneer ons die heeltyd gesteld is daarop om vrugte te dra, is ons fokus op die verkeerde plek en dan gaan ons eie-gegenereerde vrugte dra wat nie uit ons hart kom nie.

Wannneer ons so verdiep raak in die liefde van God, begin Sy liefde oorspoel na ander, en veral ons kinders. Ons kan op seminare en kursusse en wat ookal gaan wat ons leer hoe om ons kinders Goddelik groot te maak, ons kan soveel “tips” daar leer as wat ons wil, maar as Jesus nie binne ons leef nie, gaan ons kinders nie Jesus proe in ons nie en gaan hulle Jesus nie leer ken deur ons nie. Ons kinders moet grootword met happies Goddelike vrugte. Ons moet altyd onthou dat die woorde wat by ons mond uitkom, nie veel beteken nie, dis die woorde wat uit die hart kom, die gevoel wat jou kinders voel as hulle naby jou is… dis hóe jy jou kinders hanteer wat die verskil maak en nie een van ons kan ons kinders mooi hanteer as ons nie die Lewe en Liefde van God binne ons het nie.

Johannes15:9 (Afr.33.53) “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad, bly in hierdie LIEFDE van My.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s