“Maar selfs nou nog, spreek die Here, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat — ’n spysoffer en ’n drankoffer aan die Here julle God. Joël 2:12-14 (AFR33/53)
In Handelinge 2 wou die skare mense weet wat hulle moes doen om deel te hê aan die Koninkryk van God, met ander woorde, hulle wou weet wat hulle moes doen om die Bruilof van die Seun van God by te woon. Petrus antwoord hulle:
“Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Handelinge 2:38 (Afr. 33/53)
Petrus het die mense geleer dat hulle tot bekering moet kom en gedoop moet word. Bekering begin by ’n keuse. Dit is ‘n keuse wat ons maak om ons rug op ons ou lewenswyse, die wêreld en sonde te draai en Jesus te volg op die ware Weg. Dit is ’n keuse wat ons maak of ons WIL breek met ons lewenswyse en ons sondes, en wanneer ons die keuse maak met die regte motief in die hart, maak ons die keuse om die uitnodiging na die Bruilofsfees te onderteken of nie.
Joël 2 sê om tot bekering te kom, beteken ons moet ons manier van lewe totaal verander en terugdraai na God. Ons moet ware berou hê oor ons sondes en oor die mens wat ons is of was. Dit is belangrik dat hierdie berou uit ons harte sal kom en dat ons nie net volgelinge van mense is en met die mond sê ons het berou omdat dit die “regte” ding in die oë van die wêreld of kerk is nie. Dit help nie ons wil ons klere skeur en as op ons koppe gooi as teken dat ons berou toon nie, want dit is net van buite, maar ware berou kom uit die hart – die hart moet geskeur word. As ons berou opreg is, sal ons uit die diepte van ons hart regtig sleg voel oor ons verlede en sal ons regtig WIL verander. Daar sal ’n begeerte in ons hart wees om te sterf aan die self. Daarteenoor het mense met vals berou eintlik geen begeerte om te verander nie. Hulle wil tot bekering kom om Jesus te volg tot voordeel van hulleself en hulle eie lewe (en dalk om die ewige lewe te bekom), maar hulle is nie bereid om hulle ou lewe agter te laat en hulle hart en lewe aan God te offer nie. Hulle onderteken die uitnodiging na die Bruilofsfees, maar sonder ware berou… As daar nie ware berou is nie, is dit ook nie ware bekering nie. Dit is die uitnodigings wat onderteken is, maar nie gestempel word nie.
Vrugte van bekering
As jy Mattheus 3 lees, sal jy sien Johannes sê dat ons vrugte van bekering moet dra. Mense het na hom toe gestroom waar hulle hulle sondes bely en dan gedoop is deur hom. Johannes vermaan die mense om hulle lewens radikaal te verander, want God se nuwe wêreld is op hande – BEKERING GAAN GEPAARD MET VERANDERING. Daar het ook baie Fariseërs en Sadduseërs na hom gegaan om gedoop te word, maar hy het vir hulle gesê:
“Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas.” Mattheus 3:7 (AFR33/53)
Johannes verduidelik aan die mense dat hulle eers tot bekering moet kom voordat hy hulle doop. Hulle moet eers vrugte van bekering dra, met ander woorde, bekering moet in die lewe van die mens gesien kan word. Die Fariseërs en Saduseërs het nie waarlik tot bekering gekom nie, maar wou gedoop word om veilig te speel. Net soos in die tyd van Johannes, is dit in vandag se tyd… Daar is mense wat uit die hart tot bekering kom en wat waaragtige sondebelydenis toon, wat regtig hulle ou lewe wil agterlaat en wat dit uit hulle hart bedoel as hulle vir God vra om hulle te verander. Daarteenoor is daar mense wat net met die mond tot bekering kom om veilig te speel, om die ewige lewe te bekom of om nie in die hel te beland nie. Hulle het nie ware en opregte sondebelydenis uit hulle harte nie, maar nogsteeds stroom hulle ook na die doopwater… sonder vrugte van bekering. Hulle is nie regtig bereid om hulle ou lewe agter te laat nie en hulle gaan ook nie maklik saamwerk sodat God hulle verander nie. Hulle wil graag die Bruilofsfees bywoon, maar om die verkeerde redes. Gaan hulle toegelaat word by die Bruilofsfees, dus in die Koninkryk van God? Word hulle uitnodigings gestempel? Dit bring my by dit wat Jesus geleer het…
Jesus onderrig Nikodémus aangaande die wedergeboorte. “Daar was ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ’n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: ‘Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.’ Jesus antwoord en sê vir hom: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.’ Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” Johannes 3:1-8 (AFR33/53)
Jesus leer die mense dat daar net een manier is om die Koninkryk van God binne te gaan en dit is deur wedergeboorte. Is bekering en wedergeboorte dieselfde? Glad nie! Bekering begin by ’n keuse en is dan ’n proses van suiwering en heiligmaking. Dit is ’n proses waar die Woord van God ons sondes aan ons openbaar sodat ons dit kan erken en bely aan Abba Vader sodat Hy ons daarvoor kan vergewe. Ons moet deur die krag van Jesus die keuse maak om die sonde te laat staan en nie weer terug te keer daarheen nie. Soos ons ons sondes agterlaat, werk Abba Vader al hoe meer in ons en dit is wat ons verander en ons in staat stel om vrugte van bekering te dra. As daar geen verandering in ons is nie, is daar geen vrugte van bekering nie, wat beteken ons het tot vals bekering gekom. Vals bekeerdes gaan nie omgee om hulle sondes te laat staan nie, dit kan hulle nie pla om heilig voor God te leef nie. Hulle het die uitnodiging onderteken vir welvaart in hulle eie lewe, nie om God te behaag nie. Hulle het geen ware berou oor hulle lewe nie en hulle weier ook om hulle sondes raak te sien en te erken. Hulle pak altyd die skuld op iemand anders, want hulle kan kwansuis niks verkeerd doen nie. Hulle is nie bereid om die ou, sondige, vleeslike mens af te sterf nie Hulle is met die verkeede hartsmotief oppad na die Bruilofsfees, maar dit sal nie ongesiens verbygaan nie, want God stempel nie die uitnodigings van diegene wat geen ware berou het nie, dus sal hulle ook nie toegelaat word tot die Bruilofsfees nie. Sonder ware berou, kan die ou, sondige vleeslike mens nie geestelik sterf nie en sonder ’n sterfte kan daar nie wedergeboorte plaasvind nie. Sonder wedergeboorte, is die persoon verlore.
Die pad van bekering is ’n moeilike pad om te stap en vals bekeerdes hou nie van ’n moeilike pad nie. Dit is hier waar Abba Vader die toestand en motief van ons harte toets… was ons hartsmotief opreg toe ons die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken het of nie? Volgens die bevinding van Abba Vader, sal ons uitnodiging gestempel word met die Gees van God… of nie. God gaan toets of ons met die mond tot bekering gekom het, en of ons met die hart tot bekering gekom het. Alleenlik hulle wat met die hart tot bekering gekom het, sal op God se tyd gestempel word met die Gees van God.
Om die stempel van God op ons hart te ontvang, moet ons hart in Sy hand wees en dit beteken ons moet ons hart offer aan God. Daar is baie mense wat beweer om bekeer te wees, maar nie bereid is om hulle lewe en harte aan God te offer nie. Hulle wil nog hulle eie wil volg en nie hulle eie wil oorhandig in die hand van Abba Vader nie. Vals bekeerlinge kom alleenlik met die mond tot bekering; hulle hart is nie deel van die proses nie, en as hulle hart nie deel is van die proses nie, hoe kan daar iets in hulle geeshart gebeur? Om jou te laat doop, is ook nie die antwoord om gestempel te word met die Gees van God nie, want daar is geen magiese werking aan die doopwater wat dit in staat stel om vir iemand die merk of die Gees van God te gee nie. Daarom glo ek nie dat elke persoon wat met water gedoop word, die Heilige Gees ontvang nie. Ons kan nie God en Sy werke in ’n boksie plaas nie, want God kan Sy Gees aan ’n mens skenk nog voor ons met water gedoop is, of eers ’n ruk nadat ons met water gedoop is, maar God skenk Sy Gees aan die mens op Sy tyd – wanneer Hy weet die tyd is reg vir die mens om Sy Gees te ontvang! God het immers nie die doopwater nodig om ’n mens te vul met Sy Gees nie. Hierdeur sê ek nie dit is verkeerd om gedoop te word nie, want ek glo dat ons gedoop moet word wanneer ons die keuse gemaak het om ons ou lewe agter te laat. Tesame met die doop, moet ons ons harte in die hand van Abba Vader plaas.
Opgesom, dit is baie maklik vir ons om met woorde te sê ons het tot bekering gekom. Net so is dit baie maklik vir ons om die uitnodiging na die Bruilofsfees te onderteken, maar as ons hart nie deel is van die proses nie, tel dit vir ons niks. Ons dade sal getuig of ons hart deel daarvan is of nie… Wat sê ons lewe? Wat sê ons dade? Dra ons vrugte van bekering? Om tot bekering te kom, beteken ons het die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken, maar dis nie te sê die uitnodiging is gestempel met die bloed van die Lam nie. Alleenlik die ware bekeerdes, hulle wat berou uit die hart het, wat bereid is om hulle ou lewe agter te laat en hulle harte aan God te offer, se harte sal gestempel word met die merk van God. Hulle sal welkom wees by die Bruilofsfees. Ware bekering loop hand aan hand met ’n terugblik op die mens wat ons is; om ons foute, sonde en tekortkominge te kan raaksien en neer te val voor die voete van Abba Vader… om ons sondes aan Hom te bely en Hom te smeek vir vergifnis. Die mens kan tot vals bekering ook kom deur met die mond te getuig om in Jesus te glo, maar ware bekering gaan altyd gepaard met ’n begeerte om te verander en om God te behaag. Vals bekeerdes sien nie die kwaad in hulleself raak nie en het nie ’n begeerte om te verander nie. Ons moet ook net altyd onthou dat ons nie onsself kan verander nie; alleenlik God kan ons van binne af verander wanneer ons bereid is om ons hart en lewe in Sy wonderbare hande te plaas. Diegene wat nie bereid is om hulle totale lewe in die hand van God te plaas nie, is vals volgelinge…
“…Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se Hand wees. ’n Lewe wat voltyd afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan. Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat Sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee.” Romeine 12:1-2: (DB)
Reblogged this on YAHWEH-NISSI.