Ons bid tot God: “Laat U Wil geskied” maar direk nadat ons hierdie proklamasie aan God gemaak het, begin ons smeekgebede en versoeke afbid by God… Aanvaar ons dan regtig die wil van God? As ons Hom vra om hierdie situasie en daardie omstandighede vir ons te verander en tot ons beswil te laat uitwerk, dan aanvaar ons mos nie dat die wil van God perfek is nie? As jy die saadjie oor Lewensboeke lees, sal jy sien dat God alreeds vir elkeen van Sy kinders ’n lewensboek geskryf het en alles wat Hy daarin geskryf het, is Sy wil vir ons lewe – die goed en die sleg! Maar sodra ons vir God vra om dit wat in ons lewe gebeur, te verander, dan vra ons eintlik vir God om ’n uitveër te neem en dit wat Hy alreeds in ons lewensboek opgeskryf het, uit te vee en iets mooiers of beters daarin te skryf, want dit wat God geskryf het, pas ons nie. Die mens probeer God manipuleer sodat hy/sy ’n makliker, meer voorspoedige lewe kan hê… Mag ons dit doen na ons die woorde aan God gesê het: “Laat U wil geskied”? Bots die twee nie met mekaar nie?
Toe Jesus op aarde gewandel het, het Hy dit nie gewaag om God te hied en gebied nie, Hy het nooit versoeke aan God gerig nie. Hy het geweet watse lydenspad Hy gaan moet stap, maar nie een keer het Hy vir God gesmeek om Sy pad of Sy lewe vir Hom makliker te maak nie. Inteendeel, Hy het eerder gesê:
“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Mattheus 26:39
Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.”
Mattheus 26:42
Jesus het geweet wat staan in Sy Lewensboek, Hy het geweet wat Hy moes kom uitleef op aarde en Hy het met elke tree gesorg dat Hy binne-in die wil van Abba Vader bly. Jesus het die aand voordat Hy gevang is, gewaak en gebid, die Woord sê Sy siel was diep bedroef tot die dood toe. Hy het geweet wat wag vir Hom, maar nogsteeds het Hy nie vir God gevra om die lyding van Hom weg te vat nie, maar dat die wil van God sal geskied. Jesus het aan Sy dissipels gesê om saam met Hom te waak terwyl Hy ’n entjie verder in gebed met Abba Vader gaan tree het. Toe Hy terugkom by die dissipels, het Hy hulle aan die slaap gevind en Hy sê vir hulle:
“Was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”
Mattheus 26:40,41
Jesus het gewaak en gebid en aan Sy dissipels gesê dat hulle ook moet waak en bid dat hulle nie in versoeking kom nie. Ek sien hierdie versoeking as om God se arm te probeer draai om omstandighede te verander, om dit wat Hy vir ons bepaal het, uit te vee en om eerder vir ons net voorspoed te beplan. In Mattheus 16:20-23 het Jesus aan Sy dissipels vertel dat Hy doodgemaak gaan word, maar op die derde dag weer gaan opstaan. Jesus het toe alreeds geweet dat dit in Sy lewensboek opgeskryf staan dat Hy moet ly en sterf en Hy het nie teen die wil van God gegaan nie. Hy het dit aanvaar, want Hy het ook geweet hoekom Hy moes sterf. Hy het geweet God sal verheerlik word daardeur. Maar Petrus sê vir Hom:
“Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!”
Petrus dink soos ons as mens dink… niks slegs mag gebeur nie. Ek neem nie vir Petrus kwalik dat hy so gevoel en so gedink het daaroor nie, want hoekom moet so ’n goeie mens soos Jesus sterf? Petrus het hier juis gedoen wat soveel dwaalleringe ons in vandag se tyd leer: Dat jy nie die sleg moet aanvaar nie, maar dat jy dit moet teëstaan, jy moet selfs daarteen spreek, maar kyk wat sê Jesus vir hom:
“Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”
As Jesus die wil van God teëgestaan het, sou God nooit daardeur verheerlik geword het nie en vir Jesus gaan alles oor die verheerliking van God. Ons moet ons eie wil en ons menslike “mindset” afsterf en Abba Vader toelaat om aan ons Goddelike gedagtes te gee. Ons moet ons onderwerp aan die wil van God en ons eie wil eenkant toe skuif. Petrus was hier in die versoeking gelei om nie die wil van God te aanvaar nie, maar daarteen te spreek! Hy wou nie die wil van God aanvaar nie en hieruit het ’n dwaallering ontstaan wat vandag nogsteeds lewendig gehou word.
Ons moet daarteen waak om ons eie lewensboeke te skryf, ons moet in verbinding met God bly sodat ons Sy wil vir ons lewe sal aanvaar. Jesus het deur Sy gehoorsaamheid die ware Weg kom skep waarop ons moet stap en dis elkeen se eie verantwoordelikheid om te bly op die ware Weg. Dit is nie ’n maklike pad nie, daar is baie klippe, beproewinge en versoekinge op die pad van God, maar God plaas elke klip op sy plek in ons pad om ons te toets, te suiwer en ons te help om te groei. Sonder hierdie klippe gaan ons nie skoon word nie. As ons vir God heeltyd vra om ons omstandighede te verander, vra ons eintlik vir God om die klippe wat Hy op ons pad geplaas het, weg te vat, maar as Hy dit gaan wegvat, gaan ons nie gesuiwer word nie,en as ons nie gesuiwer word nie, kan ons nie die Koninkryk van God binnegaan nie. So wat kies ons? ’n Voorspoedige lewe op aarde sonder enige toetse en beproewings, of ’n ewige lewe saam met God? Dit is net die breë pad wat ’n maklike pad is…op die breë pad smeek en versoek die mense vir God om hulle lewens vir hullle voorspoedig en seëningryk te maak, maar waneer ons op die smal ware Weg is, kom ons tot die besef dat ons die wil van Abba Vader moet aanvaar en Hom nie probeer hied en gebied nie.
Om terug te kom na Jesus in Getsemane… Jesus het weer vir die dissipels gesê om te waak en te bid en Hy het ook weer in ’n entjie verder met God in gebed gaan tree. Die slaap het die dissipels weer oorval, want hulle oë was swaar. Net soos die dissipels moes waak en bid dat hulle nie in versoeking moet kom nie, net so moet ons ook waak dat ons op die ware Weg bly, ons moet waak dat Satan ons nie in die versoeking lei en ons weglok van die ware Weg af nie, want die gees van die mens is gewillig, maar die vlees is baie swak en loop maklik agter dwaalleringe aan. Die grootste probleem dat ons verlore raak, is omdat ons nie waak en bid nie, ons is nie genoeg op ons knieë voor Abba Vader nie, ons raak nie genoeg stil by die voete van Abba Vader nie… ons raak aan die slaap as ons tyd by Abba vader se voete moet deurbring. Ons lees nie die Woord genoeg nie, want dit is lekkerder om allerhande geestelike boeke te lees as om die Woord van God te bestudeer. Dit is lekkerder om in geestelike boeke goed te leer wat lekker en goed klink, goed wat aan ons mag en outoriteit op aarde gee, maar stip God alles wat ons so in geestelike boeke lees vir ons direk in die Woord uit? Kinders van God eet hierdie dwaalleringe op vir soetkoek, want dis lekker! Dit is besig om die geslag van God te besmet en uit te roei…ek glo kinders van God kan verlore gaan, want ek glo dat elke mens ook ’n keuse het. Ek weet daar is baie sienings dat God se kinders nie verlore kan gaan nie, maar daar is vir my te veel Skrif wat die teendeel bewys. Dit is baie interessant dat almal wat ek al ontmoet het wat deurmekaar was met dwaalleringe, nie die Woord van God ken nie. Hulle ken sekere Skrifte wat hulle dwalinge op ’n manier bevestig, maar hulle beweer hulle raak te moeg wanneer hulle die Woord van God lees of wanneer hulle bid (maar hulle raak nie moeg wanneer hulle geestelike boeke lees nie). Hulle glo dit wat ander mense aan hulle vertel en dit wat hulle in geestelike boeke lees… dit is ’n wenresep om vasgevang te word in ’n web van ’n gitige adder, om vol gif gepomp te word en geestelik te sterf. Ons moet hierteen waak! Ons moet waak teen al die afdraaipaadjies wat Satan op die ware Weg vir ons skep om ’n makliker, lekkerder pad te gaan stap. Dit is daar waar ons geleer word om die arm van God te draai, om God te hied en gebied, om God toe te gooi met versoeke en smekinge en om nie die wil van God te aanvaar nie, maar om vir God te probeer voorskryf hoe Hy jou lewe moet reël.
Om op te som… Om op die pad van God te wandel, moet ons ook die wil van God aanvaar, moet ons dit aanvaar wat God vir ons beplan het. Dan probeer ons nie vir God oortuig om Sy planne vir ons lewe te verander nie, maar kan ons waarlik vir God sê:
“Laat U wil geskied”