Jesus is die enigste Deur

“Jesus antwoord:  ‘Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’”  Johannes 14:6 (AFR33/53)

Daar is baie paaie wat lei na die Bruilofsfees, maar soos ons gesien het, lei ompaaie die mens op die vals weg.  Wat die mensdom nie besef nie, is dat daar net een ingang is na die Bruilofsfees en alleenlik die ware Weg lei na die korrekte ingang.  Nie een van die ompaaie lei na die korrekte ingang van die Fees nie.  Kyk wat sê Jesus in Johannes 10:9:

“Ek is die deur;  as iemand deur My ingaan, sal hy gered word…” Johannes 10:9 (AFR33/53)

Jesus is die enigste ingang.  Jesus is die DEUR na die Feesmaal!  Diegene wat nie deur die DEUR ingaan nie, probeer deur skelm plekke ingaan.  Die dief kan nie deur die deur van die skaapstal binnegaan nie, want God is die deurwagter en net soos God Sy kinders op die naam ken, ken Hy diewe ook op die naam.  Daarom moet die diewe op ’n skelm manier die skaapstal binnegaan.  Johannes 10 sê die dief kom net om te steel, te slag en te verwoes en daarom lei hy sommige skape op die verkeerde paaie.  Selfs al sien hy die wolf naderkom, laat hy die skape staan en hy vlug;  die wolf vang die skape en jaag hulle uitmekaar.  Hierdie skape het die dief gevolg as hulle herder wat hulle na die verderf gelei het.  Hy het hulle gelei na die verkeerde ingang van die Fees.  Daarom is dit van uiterste belang dat skape die stem van die goeie Herder moet ken.  Skape wat nie Sy stem ken nie, kan maklik om die bos gelei word deur die vals herder te volg op verkeerde paaie.  Hulle is verleidelike diewe en rowers, hulle maak die pad baie maklik vir die skape om op te beweeg;  hulle beloof aan die skape ewigheid, seën en verlossing, en die arme, naïewe skape glo hulle.  As hierdie skape maar net die stem van die ware Herder geken het, sou hulle dalk besef het dat hulle besig is om ’n vals herder te volg.  

Sien julle hoekom is dit so belangrik dat ons die stem van ons Herder moet ken – alleenlik Hy lei ons op die regte pad na die Bruilofsfees.  Hy lei ons ook direk na die korrekte ingang van die Fees en hierdie DEUR is Jesus.  Diewe en rowers gaan nie die feesmaal binne deur die korrekte DEUR nie, maar hulle probeer ingaan deur skelm plekke… die groot probleem waarmee hulle te doen gaan kry, is dat ’n mens alleenlik by die korrekte DEUR geklee word met die Bruilofskleed, so hulle wat deur skelm plekke ingaan, ontvang nie die Bruilofskleed nie en daarom sal hulle soos ’n seer oog uitstaan.  Alles begin by die Herder wat ons lei en die pad wat ons volg.  Die maklike paaie lei na die verkeerde ingange van die Bruilofsfees.  

Wanneer ons die stem van Jesus ken, sal ons alle ander stemme verwerp en nie daarna luister nie.  Ons het nie nodig om die stem of die werke van die vyand te leer ken nie, want hy is soos ’n engel van die lig wat mense baie maklik om die bos lei.  Hy is so slinks dat jy regtig sal dink hy is die ware Herder.  Nee, fokus net op die stem van die ware Herder, leer ken net die stem van Jesus en verwerp alle ander stemme.  Jesus het nie nodig om deur skelm plekke in die skaapstal in te gaan nie, want die Deurwagter maak vir Hom oop en die skape luister na Sy stem;  Hy roep Sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit.  Wanneer Hy Sy eie skape uitgebring het, loop Hy voor hulle uit.  Die skape volg Hom, omdat hulle Sy stem ken.

“Ek is die deur;  as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind….  Ek het gekom dat julle lewe en oorvloed kan hê.  Ek is die goeie Herder.  Die goeie Herder lê Sy lewe af vir die skape.  Ek is die goeie Herder, Ek ken My eie en word deur My eie geken.” Johannes 10:9,11,14 (AFR33/53)

Daar is dus net een manier om by die Bruilofsfees in te gaan, en dit is deur Jesus Christus.  Alleenlik deur Hom ontvang ons verlossing en redding, op geen ander manier nie.  Wanneer ons deur Hom beweeg, ontvang ons ook die Bruilofskleed wat ons toegang verleen tot die Fees.  Die makliker paaie wat lei na die Fees, is dwaalleringe wat hulle afkoms van die vyand het en wat verlossing vir die mens baie maklik maak.  Hulle beweeg nie deur Jesus nie en ontvang dus nie die ware verlossing, redding en ewige lewe nie.  Om deur Jesus te beweeg, beteken ook om deur die kruis van Jesus te beweeg wat beteken ons moet waarlik die self afsterf.  As ons nie deur die kruis beweeg nie, sterf ons nie ons eie wil af nie en kan ons nie weergebore word nie.  So die mens wat met ompaaie na die Bruilofsfees beweeg, kan nie weergebore wees nie…  Hulle het valslik tot bekering gekom en ook met valse voorwendsels die uitnodiging onderteken, maar hulle lewens sal getuig dat hulle nie deur die kruis van Jesus beweeg het nie, want die Lewe van Jesus sal nie in hulle teenwoordig wees nie.       

“Jesus antwoord:  ‘Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’”  Johannes 14:6 (AFR33/53)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s