“God, your God, is testing you to find out if you totally love Him with everything you have in you. You are to follow only God, your God, hold Him in deep reverence, keep His commandments, listen obediently to what He says, serve Him – hold onto Him for dear life!” Deuteronomy 13:4 (MSG)
“The purpose of these troubles is to test your faith as fire tests how geniune gold is. Your faith is more precious than gold, and by passing the test, it gives praise, glory and honor to God” 1 Peter 1:7 (GWT)
Op die pad wat ons saam met Jesus stap, is baie klippe en elke nou en dan vermaan Jesus my om nie na die klippe in die pad te kyk nie, maar my kop omhoog te hou en my oë alleenlik op Hom gevestig te hou. Ek moes leer om nie na die klippe in die pad te kyk nie; om glad nie daarop te fokus nie. Aan die beginstadium van my wandel saam met Jesus op die ware Weg, het die klippe my begin ontsenu en ek het begin wonder waar hierdie klippe vandaan kom en of dit dalk Satan is wat hierdie klippe op my pad geplaas het. Ek het met Jesus daaroor begin praat, maar Hy het aan my verduidelik dat die klippe nie deur Satan op ons pad geplaas is nie, maar deur God self. Nog voor ons geboorte het God alreeds ons pad beplan en uitgelê, met elke klip presies op die plek waar Hy dit wou hê. Hierdie klippe is die beproewings wat oor ons pad kom; dit is die struikelblokke in ons lewe, die probleme en moeilike omstandighede, maar moenie mismoedig raak nie, want 1 Korintiërs 10:13 sê dat God ons nooit in die steek sal laat nie. Hy sal ons ook nie beproef bo ons kragte nie. Deur die klippe wat God op ons pad geplaas het, wil Hy ons omvorm na Sy wil, en hoe kan God ons omvorm na Sy beeld deur dit altyd net goed met ons te laat gaan? Romeine 5:3-4 sê al kry ons nou baie swaar, moet dit nie ons blydskap wegvat nie, want swaarkry vorm en slyp ons om nog meer op God te vertrou. Wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk, Christelike karakter te vorm wat maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag.
Abba Vader het my deur die tyd geleer om geensins my fokus op die klippe te plaas nie, maar heeltyd my oog op Jesus te hou. Ek moes leer om nie te fokus op die probleme in my lewe nie, want die oomblik wanneer ons op ons probleme begin fokus, ontsenu dit ons en begin ons allerhande menslike plannetjies uitdink om dit op te los. Dan is dit die “eie ek” wat die probleem op ’n menslike vlak probeer uitsorteer en die kans is baie groot dat ons ’n groter gemors gaan maak daarvan en ons tone ten bloede teen die klippe gaan stamp. Maar wanneer ons ons oë afhaal van die klippe en alleenlik op Jesus fokus, met Hom praat oor ons probleme en die keuse maak om die probleem aan Hom te oorhandig sodat dit opgelos kan word na Sy wil, dan sal Hy dit vir ons uitsorteer op ’n Goddelike manier wat altyd die regte manier is. Ons bid: “Laat U wil geskied”, maar laat ons regtig ons probleme en omstandighede in die hand van Abba Vader? Laat ons God regtig toe om ons probleme op Sy manier op te los? Ons vra Hom dat Sy wil moet geskied, maar tog prewel ons ook hier onderlangs wat ons graag wil hê. Ons eie wil en die wil van God stem nie altyd ooreen nie, so dit vat baie van ons om met ’n opregte hart vir God te kan sê: “Abba Vader, hier is hierdie probleem in my lewe – vir die goed of die sleg, ek sal vertrou dat dit sal geskied volgens U wil.”
Die oomblik wanneer ons afkyk na die klippe in ons pad, is ons so intens op die probleem gefokus dat ons skoon van Jesus langs ons vergeet. Sommige klippe is regtig groot en ons gaan sukkel om hulle uit die pad gerol te kry. Onthou net, hierdie pad is regtig baie smal – so smal dat sommige klippe regtig die hele pad vol lê. Die mens kan nie self so ’n groot klip uit die pad uit wegrol nie, maar wanneer ons gefokus is op Jesus en Hom vertrou, sal Hy die klip uit ons pad wegrol voordat ons ons tone stukkend stamp daarteen. Soms faal ons en fokus ons te erg op die probleem en nie op Jesus nie; ons probeer ons eie wil afdwing op God en op die ou end stamp ons ons tone ten bloede teen die massiewe klippe. Dit gebeur met ons almal, maar Abba Vader sal ons nooit verlaat nie… Wanneer ons faal en ons tone is so stukkend, sal Jesus maar net weer ons stukkende tone heelmaak… Wat ’n wonderlike genadige God dien ons! Kyk wat sê Jakobus 1 in Die Boodskap:
Slegte dinge in jou lewe is nie altyd sleg nie “My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.” Jakobus 1:2-4 (DB)
1 Petrus 1:6,7 sê daar gaan allerhande dinge in ons lewe gebeur wat nie vir ons lekker is nie, maar God toets ons geloof daardeur. Ons moenie dat slegte omstandighede ons van stryk bring nie. Kyk wat gebeur met goud – om die vuil en onsuiwerhede uit goud te kry, word dit in ’n warm vuur geplaas om die vuil weg te smelt. Op hierdie manier moet ons geloof ook getoets en gesuiwer word en as ons geloof sterk bly deur moeilike tye, behaag ons God. God het dus ’n plan met elke dingetjie wat in ons lewe gebeur. God is nie ’n nare God wat ons aspris probeer seermaak nie. Soms ervaar ons ’n sekere situasie as onregverdig teenoor ons en raak ons kwaad vir God omdat Hy sekere dinge toelaat in ons lewens; soms is dit vir ons moeilik om te verstaan waar God is in die seer van hierdie wêreld, maar deur al die “trials and tribulations” moet ons net altyd onthou dat God ons probeer suiwer. Net soos goud gesuiwer moet word deur vuur, moet ons ook gesuiwer word.
“The purpose of these troubles is to test your faith as fire tests how geniune gold is. Your faith is more precious than gold, and by passing the test, it gives praise, glory and honor to God.” 1 Peter 1:7 (GWT)
Ons almal sou beproewinge wou vryspring as ons kon. Beproewinge kom nie van Satan af nie en dit is ook nie oorgedra deur die sondes van ons voorouers nie. Mense wat dit glo, maak staat op die sny van bloedlynvloeke of ander snaakse goed om die beproewinge vry te spring, maar as ons dit doen, word ons nooit gesuiwer van ons onsuiwerhede nie! Om bloedlynvloeke te sny, gaan in elkgeval ook nie beproewinge uit jou lewe uit “wegtoor” nie. Beproewinge is broodnodig! Om in ’n put gegooi te word soos Josef is soms nodig! Kyk waar het dit Josef op die ou end laat uitkom… Kyk wat het God deur Josef vir Sy volk gedoen omdat Josef op God bly vertrou het, maak nie saak deur watse sleg hy moes gegaan het nie. Hy het nie vir Satan die skuld gegee en om elke hoek en draai vir Satan probeer wegjaag uit sy omstandighede nie; hy het ook nie die skuld op sy bloedlyne gepak en bloedlynvloeke probeer sny sodat sy omstandighede moet verander nie. Hy het net op God bly vertrou en dit is wat ons ook moet doen wanneer ons die klippe op ons pad teëkom. Op daardie tydstip is dit baie sleg en vra ons baie vrae aan God, want baie keer voel Hy so ver van ons. Dit voel asof Hy ons nie wil help nie, maar dit is glad nie die geval nie. God sal ons nooit verlaat nie, Hy laat alles gebeur met ’n doel. Dit is juis daardie moeilike tye wat ons moet leer en fokus om op God te vertrou. Hebreërs 12:5-6 leer ons ook dat ons nie moet tou opgooi as God ons teregwys op ons foute deur soms bietjie hard op te tree teenoor ons nie. Hy doen dit omdat Hy ons liefhet, net soos ons ook ons eie kinders tugtig wanneer hulle stout is.
Die klippe op ons pad is juis daar geplaas om die vals en ware bekeerdes van mekaar te skei (met ander woorde, die ware en vals volgelinge), want die vals volgelinge of vals bekeerdes gaan nie die klippe in die pad kan hanteer nie. Onthou net, hulle het gekies om na die Bruilof toe te gaan vir voorspoed, sodat dit met hulle goed moet gaan, om die Fees te gaan geniet en feeskos te eet; hulle het nie die prys wat dit kos om die Weg van God te volg, in berekening gebring nie. Hulle gaan nie hou van die verwerping en moddergooiery van die wêreldlinge nie. Hulle gaan nie daarvan hou om hulle lewe op die spel te plaas en alles oor te gee aan God nie. Hulle gaan nie hou van die probleme wat op hulle wag nie en daarom gaan hulle vinnig ’n afdraaipad soek wat teruglei na die makliker paaie wat lei na die Fees. Hulle gaan die pad soek wat sonder klippe is! Sommige mense gaan God blameer as ’n slegte God wat net slegte goed in ’n mens se lewe wil laat gebeur, want hulle besef nie God wil ons suiwer van onsself nie. Die klippe toets dus die hartsmotief van die mens en vals bekeerdes sal dit nie slaag nie. Beproewinge toets die beproefdheid van ons geloof (1 Petrus 1:7). Die klippe op die pad is daar geplaas om die koring en die kaf van mekaar te skei.
God doen net goed aan jou, maar gebruik tog die slegte om jou te toets “Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly. Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag. God noem sulke mense wenners in die lewe. Hy sal hulle deel van sy familie maak. Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het. Een fout moet ons egter nie maak nie. Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie. Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie. Dit is nie asof die een of ander bose mag God aan sulke toetse kan onderwerp of dat God mense daaraan onderwerp nie. Nee, dinge wat ’n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak, is jou eie skuld. Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen. Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in. Dan word jou Christenskap voor ’n toets gestel. Jy moet kies. As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen. En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen. So werk die sonde met ’n mens. Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van godverlatenheid en die dood. Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie. God het niks slegs in Hom nie. Hy is ook nie die een dag in ’n goeie bui en die volgende dag in ’n slegte bui nie. Hy bly altyd dieselfde. Hy het alles gemaak, ook die sterre in die hemel. Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet: dit kom van God af.” Jakobus 1:12-17 (DB)
Alhoewel God beproewinge in die vorm van klippe oor ons pad brind, kan ons ook nie sê dat dit God is wat ALLE slegte dinge oor ons bring nie, want baie van die slegte goed wat in ons lewe gebeur, bring ons oor onsself deur ons eie sonde. Ek gaan nie nou hieroor uitbrei nie; daar is ’n boek waaraan ek skryf wat handel oor ons lewensboeke wat net oor hierdie onderwerp gaan, maar om dit vinnig op te som… Wanneer ons die besluit maak om eerder ons eie wil te gehoorsaam as die wil van God, skep ons vir onsself vervloekte omstandighede en dan gaan ons maai wat ons gesaai het. Dit is dan nie God wat dit oor ons gebring het nie, maar dan het ons dit oor onnsself gebring deurdat ons toegegee het aan versoekings…
Versoekings
Daar is ’n groot verskil tussen beproewing en versoeking, en dit kom ook vanaf verskillende bronne. Ons weet nou beproewinge is klippe wat God op ons pad geplaas het: Eerstens om vals volgelinge van ware volgelinge te onderskei en tweedens gebruik God die beproewinge om ons te suiwer van onsself en ons te leer om in elke situasie net op Hom te vertrou. Versoekings is nie klippe op ons pad nie, dit is goed wat Satan gebruik om die mens te lok om sonde te doen, so Satan versoek ons om te sondig. God sal ons nooit versoek nie. Dit is die mens se verantwoordelikheid om die versoekings van Satan te kan raaksien en te kan teëstaan, maar ons kan dit alleenlik teëstaan deur die krag van God. Jesus moet in en deur ons leef en ons in staat stel om dit te kan teëstaan.
Aan die begin van tye het Satan vir Eva versoek met ’n heerlike vrug en sy het die keuse gemaak om eerder haar eie wil te gehoorsaam, pleks van die wil van God. Dit het hulle duur te staan gekom, want dit het veroorsaak dat hulle nie meer verhouding met God kon hê en in die tuin van Eden kon woon nie. In Genesis 3 sê God vir Kain dat die sonde altyd voor sy deur sal lê en na hom sal bly loer, maar dit is sy verantwoordelikheid om daaroor te heers. Net so lê en loer die sonde altyd voor ons deur, maar dis elkeen se eie verantwoordelikheid om deur die krag van Jesus daaroor te heers. Dit is ook die mens se eie verantwoordelikheid om ’n naby verhouding met God te hê sodat ons onderskeiding van God kan ontvang en ons die versoeking van Satan kan raaksien en teëstaan.
Sien julle die verskil tussen beproewing en versoeking? Beproewing kom van God af, maar versoeking kom van Satan af. Satan het selfs vir Jesus versoek om sonde te doen toe Jesus uit die woestyn gekom het, maar wat het Jesus gedoen? Hy het die vyand prontuit teëgestaan met die Woord van God. Hy het nie ’n bekgeveg en vreeslike oorlogsverklaring teen Satan opgedis nie. Jesus het Sy Vader so goed geken dat Hy dadelik geweet het dat Satan Hom leuens probeer voer om Hom in sy mag te kry. Wat het Jesus gedoen? Hy het Satan teëgestaan met die Waarheid uit die Woord en ons moet die voorbeeld van Jesus volg. Dit is nie vir ons nodig om Satan met vreeslike oorlogvoering teë te staan en hom weg te jaag om elke hoek en draai nie, want hy en sy werkers is in elkgeval oral! Die Woord leer nie vir ons om dit te doen nie, maar wanneer hy ons versoek, kan ons die vrug wat hy aan ons probeer bied, ignoreer en weier. Daarvoor moet ons die Woord van God baie goed ken, want dan sal ons dadelik ‘n versoeking van Satan kan raaksien. Dit is so belangrik om te kan onderskei tussen die stem van God en die versoeking van Satan, want hy is soos ’n engel van die lig wat alles van God naboots. As ons alles toets aan die Woord van God, kan ons nie verkeerd gaan nie. Lees asseblief Hebreërs 12:1-17.
Daar is baie mense met die opinie dat daar niks in ’n mens se lewe kan foutgaan as ons op die pad van God is nie. Hierdie is ’n baie naïewe siening en dit kom nie ooreen met die Woord van God nie. Hulle sien hulleself as die heiliges waarmee niks verkeerd kan loop nie en verhef hulleself bo diegene wat teëspoed ervaar. Hulle hou glad nie in berekening dat God wel dinge in ons lewe kan laat gebeur om ons te suiwer nie. Al is ons op die pad van God, kan daar nogsteeds dinge in ons lewe skeefloop. Dink bietjie hieroor: Het dit altyd goed gegaan met Jesus? Het Hy ’n pad van uitsonderlike sukses en voorspoed gestap? Nou hoekom dink die mens dat hy altyd ’n lewe van voorspoed en sukses gaan lei deur Jesus te volg? As ons in Jesus se voetspore volg, gaan ons dieselfde pad as Jesus stap. As daar nie beproewinge of klippe op ons pad is nie, moet ons eintlik bekommerd raak en wonder of ons wel op die pad van God is…
As God beproewinge oor ons pad bring in die vorm van klippe, wat gaan dit ons help om vir Satan die skuld te gee daarvoor? As God bepaal het dat die klippe op ’n sekere plek in ons lewenspad moet wees, gaan dit ons mos niks help om oorlogvoering teen Satan toe te pas en die klippe uit ons pad te probeer “toor” nie? Dan tree ons mos teen God se wil op, want God se plan met die klippe is om ons te suiwer. Hy wil ons leer om elke ding wat in ons lewe gebeur, in Sy hand te plaas en Hom te vertrou… so om beproewinge (klippe) aan te spreek in ons lewe, gee vir Satan rede om te giggel langs die pad, want hy weet as ons nie die klippe kan oorkom en leer om dit in die hand van Abba Vader te plaas nie, ons dit op die wêreld se manier gaan probeer uitsorteer… wat ook Satan se manier is. Dan kry hy maar net weer die oorhand oor die mens…
Daar is sekere sondes en maniere in elkeen van ons se lewens wat God graag wil hê ons moet oorkom; daar is sekere sondes waaroor ons moet heers deur die krag van God en dit is wat God ons probeer leer. In Hebreërs 12 sê God ook ons het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in ons stryd teen die sonde nie, met ander woorde, ons moet heers oor sonde. Om vir Satan die skuld vir alles te gee en ’n vreeslike geveg met hom op te sit, is ’n vermorsing van tyd en energie. Die tyd wat ons spandeer om in geestelike boeke te leer oor oorlogvoering en die manier om dit uit te rig, is tyd wat ons eerder by die voete van Abba Vader kon spandeer sodat Hy ons kan leer om op te staan teen die sonde in onsself. God maak ons sterker deur ons voller te maak van Homself. ALLES gaan oor ’n persoonlike verhouding met Abba Vader! Dan sal Hy ook aan ons onderskeidingsvermoë gee om te kan onderskei tussen beproewinge en versoekings.
Om hierdie gedeelte op te som… elke klip op ons pad is deur God met ’n doel daar geplaas. Elke klip gaan jou antwoord op die vraag: “Hoekom volg jy Jesus?” toets. As jy die uitnodiging onderteken het met welvaart in gedagte, het jy met die verkeerde hartsmotief die uitnodiging onderteken, want dan gaan jy elke klip op jou pad haat en vir God kwaad raak daaroor… Dit is mos nie hoekom jy besluit het om Hom te volg nie… jy het besluit om Sy Naam aan te roep en Hom te volg sodat dit moet goedgaan in jou lewe, nie sodat daar nóg slegte goed moet gebeur nie! Die mens met hierdie gedagtegang en vals hartsmotief is op die pad van God net om Sy goedheid te misbruik. Hy verskil geensins van die vals volgelinge van Johannes 6 nie. Niemand gaan God flous nie en vals volgelinge se uitnodigings sal ook nie gestempel word met die Gees van God nie. Verstaan julle hoekom God klippe op ons pad moet plaas? Hy moet die vals en ware volgelinge van mekaar skei. Die vals volgelinge gaan net soos die skare in Johannes 6 omdraai en wegloop, hulle gaan die pad van God verlaat en teruggaan na die breë paaie waar die wêreld hulle aanvaar. Nog ’n rede hoekom God klippe op ons pad plaas, is om ons te suiwer van al ons onsuiwerhede en om ons te leer om op Hom te vertrou. Op so ’n manier help God ons om die self af te sterf, want as ons nie die self afsterf nie, kan ons nooit by die Bruilofsfees ingaan nie.