
Is jy gemerk met die merk van God?

Die bloed van Jesus hoef nie meer fisies aan die deurkosyne gesmeer te word nie, maar dit is belangrik dat die deurkosyne van jou hart gemerk is met die bloed van Jesus…
In watter seisoen van jou lewe is jy op hierdie stadium? Die mens gaan fisies / menslik deur verskeie seisoene in sy lewe soos tienerjare, middeljare en so meer. As ons geestelik daarna kyk, gaan jy as boom ook deur verskillende fases soos jy in die hart van Abba Vader ingroei. Daar is die vestingsperiode waar ons wortels in die hart van Abba Vader ingroei en dan begin die geestelike boom groei om vrug te dra tot die heerlikheid van Abba Vader.
In watse menslike seisoen jy jou ookal bevind, is nie so belangrik soos die geestelike vrug wat jy dra nie. Is jy ’n boom wat vrug dra in die somer, herfs, winter of lente? Watse vrugte dra jy? Is jou vrug tot heerlikheid van Abba Vader? Of is dit tot heerlikheid van die self?
Die Gees van God beweeg tussen die bome van die groot boord vrugtebome deur, maar Hy is ongelukkig, want daar is nie een boom in hierdie boord wat op hierdie stadium vrug dra nie. Abba Vader sê al wat Hy sien is bome met baie blare, bome met vlak wortelstelsels sonder ’n penwortel, uitgedroogde bome, bome met peste en siektes… Boonop is die paadjies tussen die bome toegegroei deur onkruid, distels en dorings….
Nie een van ons ken die dag of tyd van die wederkoms van Jesus nie… dit kan vandag wees, dit kan oor ’n week wees of dit kan oor honderde jare wees… gaan jy gereed wees? Gaan daar vrugte aan jou as boom wees wat God verheerlik? Of gaan jy een van die seisoensgebonde bome wees met geen vrug nie….
“Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Mattheus 7:19
Nou wil ek weer vir jou die vraag vra? In watter seisoen van jou lewe is jy op hierdie stadium? In watter seisoen dra jy as boom Goddelike vrugte?
As jy ’n boom is wie se worteltjies in die Woord ingegroei is en jou penwortel in die hart van God geanker is, is jy ’n boom wat reg deur die jaar vrug sal dra. Daar sal nie ’n enkele dag wees dat jy sonder Goddelike vrugte sal wees nie. Jy sal gereed wees vir die wederkoms van Jesus… nie net dit nie, maar jy sal elke dag die vrug van die Gees dra wat God sal verheerlik.
JY SAL NIE SEISOENSGEBONDE WEES NIE!
Abba Vader vra my waar kom die mense aan die stelling dat hulle nou in ’n sekere seisoen van hulle lewe is? Hierdie stelling gee aan hulle rede om verskonings uit te dink hoekom hulle nie tyd by die voete van Abba Vader spandeer nie.
’n Mens hoor so baie mense wat sê: “Ek is nou eers in die seisoen van ma-wees waar my kinders klein is. Die kinders slaap so sleg en maak my moeg, en daarom het ek nie die tyd om by die Here se voete te gaan sit nie.” Jammer, maar hierdie is sommer ’n uiters swak en flou verskoning, want as jy nie tyd by die voete van Abba Vader spandeer nie, sal jy ook nie Goddelike vrugte kan dra nie… en dit is so uiters belangrik om juis Goddelike vrugte te dra terwyl ons kinders grootmaak, want ons moet ons kinders grootmaak met happies Goddelike vrugte. Goddelike vrugte is die vrugte van die Gees… so hierdie mens ontbreek aan eienskappe soos geduld, sagmoedigheid, vreugde, vrede, vriendelikheid, getrouheid en die grootste: LIEFDE!
As jy nie tyd spandeer met Abba Vader nie, gaan daardie eienskappe ontbreek; jou liefdestenk gaan leeg wees, so jy gaan jou kinders grootmaak met ’n leë liefdestenk… ’n Ma sonder die liefde van God in haar hart, kan nie haar kind grootmaak met tonne Jesus-liefde nie. Sy gaan ongeduldig, onvriendelik en liefdeloos teenoor haar kinders wees. Sy gaan voel dat haar kinders haar tyd roof sodat sy nie meer genoeg tyd aan haarself kan spandeer nie… wat nog te sê tyd by die voete van Abba Vader… En daarom is dit vir haar ’n geldige rede of verskoning om te sê: “Ek is in die seisoen van ma-wees en daarom het ek nie nou so ’n goeie verhouding met Abba Vader nie. Ek het nie eers tyd vir myself nie, so waar gaan ek tyd kry vir Abba Vader? Wanneer my kinders uit my hande is, sal ek weer tyd hê om stil te raak met die Woord.”
Wat hierdie ma eintlik sê, is dat sy in haar seisoen van ma-wees, geen Goddelike vrugte gaan dra nie, want onthou, dit is Jesus in en deur ons wat Goddelike vrugte dra en ons kry dit alleenlik deur baie tyd in SY teenwoordigheid te spandeer. Sy sal dus een van die bome in die boord wees waar die Gees van God verbygaan en geen vrugte vind nie. Behalwe dat sy as ’n vrugtelose boom in die vuur gegooi sal word om uit te brand, het sy haar kinders ’n ontsettende groot onreg aangedoen, want dit is ’n hengse onreg wat mense aan hul kinders doen as hulle grootgemaak word sonder enige Godsvrug. Hierdie kinders word vir die wêreld grootgemaak en ken nie die liefde van Jesus nie. Daarom gaan dit ook vir hulle moeilik wees om ander waarlik lief te hê. Wat ’n bose kringloop… Al hoe meer kinders gee oor aan dwelms, drank, seks en alles wat verkrygbaar is in die wêreld. Hoekom? Want hulle is geestelik honger! En hulle probeer daardie geestelike hongerte demp met allerhande gemors. Dit gaan weer terug na die ouers, want die ouers het nooit aan hierdie kinders happies Goddelike vrugte gebied nie… want hulle wou nie opofferings maak om Jesus-liefde te kry sodat hulle liefdes-tenk vol kan wees nie.
Aan die ander kant is daar ook weer kinders wat wel met Goddelike vrugte grootgemaak is, maar wat ook die wêreldse genietinge beproef op ’n sekere ouderdom. Dit kan ouers se harte breek om te aanskou… ’n mens voel as ouer dat jy jou tyd gemors het met die opvoeding van jou kind, maar laat jou kind net in Abba Vader se hande oor… en jou kind sal weer terugdraai na Abba Vader.
Doen selfondersoek voor die voete van Abba Vader dat HY aan jou kan openbaar of HY Goddelike vrugte aan jou (as boom) vind. As jy weet jy is seisoensgebonde, erken en bely dit aan Abba Vader sodat Hy jou kan lei om ’n boom te word wat diep in Hom geanker is en elke dag van die jaar Goddelike vrug sal dra. Dit maak nie saak in watse seisoen ons van ons menslike lewe is nie… al wat saakmaak is of daar Goddelike vrugte aan jou te vinde is. Ons mag nie geestelik seisoensgebonde wees nie! En ons mag nie ons menslike seisoene gebruik as ‘n verskoning hoekom ons nie vrugte dra op daardie tydstip nie.
“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.” Mattheus 7:15-20
Hier volg die pdf van die nuutste boek: Van duister na LIG:
Dit beskryf die duistere toestand asook die LIG-toestand. Waar bevind jy jouself? Hou kettings jou vasgebind in die duisternis sodat jy nie kan deurbeweeg na die LIG-toestand nie? Hoe breek ons los van die kettings? Baie mense sal dadelik antwoord ons kan losbreek daarvan deur bloedlynvloeke te sny, maar dit is ‘n leuen wat deur Satan uitgedink is. Dit is nie Abba Vader se manier nie… lees gerus hoe dit dan anders moontlik is…
Abba Vader stuur aan elkeen van Sy kinders ‘n uitnodiging om die Bruilofsfees by te woon wat in die LIG-toestand plaasvind. Hier kom die keuse van die mens, asook die hartsmotief van die mens, in. Het jy die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken en indien jy het, wat was jou beweegrede daartoe? Hoekom wil jy die Fees bywoon? Beweeg jy op die regte pad na die Fees of probeer jy met kortpaaie en ompaaie daarheen gaan? Betree jy die Builofsfees deur die korrekte DEUR of probeer jy soos ‘n dief deur ontoelaatbare plekke binnegaan? Dan ook: Is jy geklee met die Bruilofskleed? As jy nie korrek geklee is nie, sal jy uitgegooi word… die motief van ons harte is baie belangrik.
Die enigste manier om te beweeg vanaf die duistere toestand na die LIG – toestand, waar die Bruilofsfees plaasvind, is om gewortel te raak in die hart van Abba Vader. Eers wanneer ons die ou boom afsterf, is ons in staat om deur middel van ‘n penwortel in die hart van God in te groei waar ons dan die LEWE ontvang. Alleenlik deur die LEWE is die saadjie, wat diep in ons geeshart verberg lê, in staat om te ontkiem en te groei in ‘n nuwe boom in die LIG-toestand… ‘n boom gevorm deur Abba Vader wat God sal verheerlik deur die vrugte wat hy dra.
As jy ‘n fisiese boek wil hê, kontak asseblief vir Christa by: ccoetzee@arc.agric.za. Die boeke is gratis, daar kan dalk net ‘n klein koste wees om dit te pos.