Die wêreld leer ons dat ons nie in afsondering mag inbeweeg nie, want dan is jy soos ‘n koue kool… ’n Hoop kole wat dig teenmekaar lê, gloei bloedrooi van die hitte, maar die een kool wat wegbeweeg van die groep warm kole, verloor sy hitte en word ‘n koue kool. Die wêreld waarsku dat ons geestelik sal doodgaan wanneer ons in afsondering inbeweeg, dat ons dan ’n oop teiken vir Satan is…
Het die Fariseërs in Jesus se tyd in afsondering beweeg? Sonder die mense van vandag af? Die Fariseërs het nie in afsondering inbeweeg nie, en vandag se mense word deur kerke gewaarsku om ook nie in afsondering in te beweeg nie en gebruik die Skrif van Hebreërs 10:25 om hulle stelling te staaf. Het Jesus in afsondering inbeweeg? Baie! Nou hoekom mag ons nie die voorbeeld van Jesus volg nie?
Hoekom probeer die heerser van die wêreld die mens keer om af te sonder? Hy weet dat die mens wat afsonder by die voete van Abba Vader, die Waarheid gaan leer ken. Die afgesonderde mens gaan besef dat hy al die tyd deur die wêreld gebreinspoel was om soos die res van die wêreld te dink en om al die leuens van die wêreld te glo. In afsondering leer Abba Vader Sy gedagtes en die Waarheid aan ons. Dit is die laaste ding wat Satan wil hê en daarom sal hy altyd sy bes probeer om die mens te breinspoel deur sy giftige vrugte en suurdeegbrood. Satan wil natuurlik nie hê ons moet sy valsheid teëstaan nie, en hy wil beslis nie hê ons moet sy leuens “expose” aan die wêreld nie. Hy weet Abba Vader gaan ons sterk maak in Sy teenwoordigheid om al Satan se leuens en dwaalleringe in die wêreld te kan raaksien en teëstaan. Dit gee my net nog meer rede om meer en meer in afsondering in te beweeg, om meer en meer by God te leer en sterk gemaak te word deur Hom. Kerke waarsku ook mense om nie kerkbyeenkomste te mis nie sodat hulle nie geestelik moet verflou en doodgaan nie. Hulle weet as ’n klomp mense in afsondering inbeweeg, gaan hulle gemeentetal verklein, die inkomste gaan verminder en die besigheid gaan nie meer so goed lyk nie…
Iemand het my eendag probeer oorreed om op ’n Woensdag hul biduur by te woon, en het aan my verduidelik dat wanneer hulle net op ’n Sondag bymekaar kom, hulle net nie genoeg krag het om deur die week te beweeg na die volgende Sondag nie. Daarom voel hulle dat die biduur wat in die middel van die week is, hulle net daardie hupstootjie gee wat hulle benodig totdat hulle weer die Sondag bymekaar kom. Met ander woorde, hierdie groep mense ontvang hulle krag by die biduur en die kerkdiens… Wel, ek gaan sommer prontuit sê wat ek wil sê: As jy ’n kerkdiens, ’n biduur of ‘n selgroep nodig het om geestelik goed te voel of om geestelik te groei, het jy ’n massiewe groot probleem, want dan het jy geen verhouding met Abba Vader nie. As jy dink dit gaan jou help om deel te wees van ’n groep of kerk om nie ’n oop teiken vir Satan te wees nie, maak jy ook ’n groot fout. Kom ons gaan terug na die hoop warm kole en die koue kool wat eenkant lê…
’n Hoop kole wat styf teenmekaar gepak is, gloei van die hitte. Die kole moet hulle hitte van êrens af kry, dus is daar ’n bron van hitte, maar nie al die kole is direk verbind aan die bron van hitte nie. Net een of twee van hierdie kole is verbind aan die bron van hitte, wat dan die hitte oordra na die kool wat langs hom lê, en so maak die hoop kole mekaar warm. Die meeste van hierdie kole is nie direk verbind aan die bron van hitte nie en moet naby aan ’n gloeiende kool wees om te kan brand. Wanneer een van hierdie kole, wat nie direk gekonnekteer is met die bron van hitte nie, wegrol van die res van die warm kole, gaan die kool sy hitte verloor en doodgaan. Hierdie kool het sy hitte van ’n eksterne bron van hitte ontvang, nie by die oorspronklike bron van hitte nie en daarom het net sy dop gebrand, sy kern het nie gebrand nie. Hy was toe al die tyd net ’n brandende dop wat ’n ander warm kool benodig om vir ’n rukkie rooi te gloei… Hierdie kool is die mens wat ’n kerk, ’n biduur of ’n selgroep benodig om geestelik goed te voel, hy het geen konneksie of verhouding met Abba Vader het nie. Dit is ’n mens wie se buitenste dop aan die brand is, met ander woorde, hy het net ’n skyn van godsdiens. Dit is wat godsdiens is – net ’n skynsel aan die buitekant om aan die res van die wêreld te wys hoe heilig hulle is. Die heilige woorde kom ook net uit hulle monde en nie uit hulle harte nie. Jesaja 29:13 sê die mense hou groot vertonings en hulle gebruik net die regte en bekende woorde, maar hulle harte het niks daarmee te doen nie. Hulle maak net asof hulle God dien, maar hulle lewe baie ver van God af – hulle het geen verhouding met Hom nie. Hulle godsdiens beteken niks in God se oë nie. Hulle kerns (geesharte) is yskoud en dood en daarom sal hierdie kool geestelik sterf as hy nie verbind is aan ’n kerk of ’n godsdienstige groep nie. Hy is dus verbind aan ander mense en nie aan die Bron van hitte nie, hy is nie gekonnekteer met die Gewer van hitte nie. Die mens wat ‘n konneksie met God het en dan wegrol van die hoop kole, sal tot verbasing nogsteeds brand. Hoe? Hy het nie kole nodig om te brand nie. Hy hoef nie deel te wees van ‘n kerk of ’n groep om te brand nie, want hy is gekonnekteer met die Bron van hitte en hy brand vanuit sy hart na buitentoe.
“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.”
Openbaring 3:15,16 (Afr.33/53)
Die mens wat wel gekonnekteer is met die Bron van hitte, is soos ’n boom gewortel in die hart van God. Hy leef en teer op die Lewe van God, sy geeshart is gevul met die Lewe van God. Hierdie persoon se hart sal heeltyd brand met die Liefde van Abba Vader, maak nie saak waar hy is nie. Of hy deel is van die groep kole en of hy eenkant lê, hy sal brand, want die hitte kom vanuit sy hart en brand dan na buite. Hy het nie net ’n skyn van hitte nie, maar ’n ware brandende hart deur Jesus Christus. Omdat hy ’n verhouding met Abba Vader het en hy een is met Jesus Christus, sal die Vuur in sy hart nooit geblus word nie (solank hy dit lewendig hou) en daarom het hy nie ’n eksterne bron van hitte nodig nie. Hy het nie ’n kerk, ’n biduur of ’n selgroep nodig om te brand nie. Ek sê nie daar is iets mee fout om deel van ’n Goddelike kerk te wees nie, maar wat ek probeer sê, is dat al is jy deel van die kerk, is dit nie die plek om jou geesvervuldheid te vind nie. Om gevul te wees met Jesus en ’n brandende hart vir God te hê, beteken ’n baie diep verhouding met Abba Vader, om elke dag genoeg tyd opsy te sit om met Hom te spandeer, om wêreldse dinge eenkant toe te skuif vir tyd met Abba Vader.
Opgesom, ’n persoon wat die kerk of mense nodig het om geestelik te lewe, was eintlik nog nooit lewendig nie… Dan het hy nog die heeltyd staatgemaak op mense vir verlossing wat vals verlossing was. Hierdie persoon het ’n netwerk worteltjies in sy gemeente of in mense ingegroei waar hy sy hitte of krag moet kry, en nie in Abba Vader in nie. Met ander woorde, hierdie persoon het geen geloof in Jesus nie, alleenlik in sy kerk of in mense. Hy vertrou mense en die kerk vir hitte en krag en nie Abba Vader wat die ware Bron van hitte is nie. Wat gaan gebeur wanneer jy vir ’n tydperk wegrol van die kerk of jou gemeente af? Gaan jou hitte verflou of gaan jou vlammetjie sterker brand vanuit jou hart?
Jy kan verseker weet daar gaan baie mense wees wat ongelukkig met jou gaan wees omdat jy dalk vir ’n tyd meer tyd aan God spandeer as aan hulle, of selfs die kerk of geestelike groepies, maar vra jouself die vraag: Wie wil jy tevrede stel? Met wie wil jy verhouding hê? Met jou vriende, leraar, kerk of met Abba Vader? Dit is menslik om te wil deel wees van ’n groep of ’n kerk, want ons is grootgemaak om deel van boksies te wees. As jy Abba Vader met alles binne jou liefhet, sal jy ook alles in jou vermoë probeer doen om gehoorsaam te wees aan Hom. Hy toets ons met tye om te sien of ons Hom waarlik liefhet en daarom moet ons Hom gehoorsaam wanneer Hy van ons vra om in afsondering in te beweeg. Ons moet ook net altyd onthou…die pad van Waarheid is baie smal en daar is baie min mense wat die ware Pad vind en Jesus daarop volg, maar ons moet streef daarna om Jesus te ontmoet op die ware Weg, want dis die enigste manier hoe ons brandende kole uit die hart kan wees…
Hoe groot is jou vlam?
Die vlam in die hart van Jesus was beslis nie ’n klein kersvlammetjie nie, dit was ’n massiewe groot vlam. Die wêreld het Sy vlam probeer uitdoof deur Hom te kruisig, maar niks en niemand kon Sy vlam uitdoof nie! Wanneer daar wind geblaas word op ’n klein kersvlammetjie, word dit baie maklik geblus en uitgedoof en niks kan dan weer daardie kers se vlam aan die gang kry nie, alleenlik ‘n bron van hitte. Wanneer daar ’n wind geblaas word op ’n groot vlam, gaan die vlam verseker nie geblus word nie – dit gaan eerder versprei! Kyk na ’n veldbrand – die grootste gevaar vir die verspreiding van ’n vuur is wanneer daar ’n sterk wind opsteek, want dan hardloop daardie vuur in alle rigtings! En dit is daardie massiewe vlam wat in ons harte moet brand! ’n Massiewe groot vlam wat geen wolf kan blus nie, maar wanneer die wolf kom met sy geraas en geblaas, sal hierdie vlam van ons hart eerder versprei na ander sodat hulle ook die hitte van die vlam sal voel en die wolwe rooi in die gesig en skaam agtergelaat word!
Mag jy ’n brandende kool uit die hart wees wat verbind is met die ware Bron van hitte.
One thought on “Is jou hart aan die brand?”