“Petrus sê vir Hom: ‘U sal my voete in der ewigheid nie was nie.’ Jesus antwoord hom: ‘As Ek jou nie was, het jy geen deel aan My nie’.” Johannes 13:8 (AFR33/53)
Voordat ons op die ware Weg wandel, het ons almal die breë, maklike pad gevolg. Die breë pad bestaan uit lekker sagte rooigrond met geen klippe of stof. Daarteenoor is die pad van God ’n moeiliker pad… dit is wit en stowwerig met baie klippe. Ons het gesien dat Abba Vader elke klip op sy plek lank reeds vooruit beplan het en dit is deur die klippe op die ware Weg wat God die motief van die hart van die mens toets. Dit is deur die klippe waar God die ware en vals volgelinge van mekaar skei, want die vals volgelinge sal terugkeer na die breë pad. Die breë pad is die maklike pad met geen klippe, en wanneer ons van die breë pad af na die smal paadjie kom, is ons almal se voetsole sag en dun. Ons voetsole was gewoond aan die lekker sagte rooigrond van die breë pad en nie aan die klipperige pad van God nie. Die gevolg is dat ons voete geestelik baie vinnig seer gaan raak op die pad van God.
Aan die begin van my staproete op die ware Weg, het ek op ’n dag onder gebed inmekaargesak en gehuil en gehuil en gehuil. Ek het soveel teëstand gekry, ek het al my vriende verloor, dit voel asof mense ’n mens spot en snaaks aankyk, en boonop is my voete so rou-seer dat ek nie ’n tree verder kon gee nie. Onder gebed het ek inmekaargesak en gesnik en gehuil. Jesus het op die pad langs my kom sit, my vertroos en my seer voete in Sy hande geneem, die stof en bloed afgewas en sagkens my voete met salf gevryf totdat al die seer weg was. Hy het aan my verduidelik dat my voetsole nog dun is, maar elke keer wanneer my voete so seer is dat dit voel ek kan nie meer aangaan nie, moet ek kom stilsit sodat Hy my vuil voete kan was en my seer voete sagkens kan masseer met die salf van God. Dit sal my voetsole mettertyd dikker maak sodat ek die pad vorentoe makliker sal kan aandurf. Met tyd kon ek voel my voete kon al hoe meer verdra en hoe meer tyd ek by die voete van Jesus spandeer het, hoe langer en meer WOU ek tyd saam met Hom spandeer. Ek kon ook duidelik agterkom dat hoe meer tyd ek by Jesus se voete deurgebring het, hoe makliker het die pad geword, hoe meer kon ek begin hanteer en hoe minder het my voete seer geraak. Dit maak nie saak hoe goed ons voete die klipperige pad kan hanteer nie, ons moet nogsteeds elke dag gaan stilsit by die voete van Jesus waar Hy die stof van ons voete afwas en ons voete salf.
As ons voete nie vol stof is nie, is ons op die verkeerde pad, want op die breë paaie is nie stof nie, alleenlik op die pad van God. Dit is ook met ’n doel dat Sy pad stowwerig is – sodat ons voete MOET vuil word en ons elke dag kan gaan stilsit by die voete van Jesus sodat Hy ons kan skoonwas van die stof, asook ons sondes wat ons aan Hom bely. Die stof aan ons voete is om ons te herinner dat ons gewas moet word deur Jesus. Diegene wat dink hulle voete is skoon, wat dink hulle lewe is sonder sonde en dat hulle nie nodig het om elke dag by die voete van Jesus te kom sit sodat Hy hulle voete was nie, is duidelik nie op die pad van God nie. Hierdie mense dink hulle is die gesonde mense wat nie die Geneesheer nodig het nie (Mattheus 9:12,13), maar Jesus wag juis vir die sondaars om hulle voete te was en hulle te vergewe van hulle sondes. Lees bietjie die volgende Skrif baie mooi:
God is Lig. Hy wat in die Lig nie wandel nie, het geen gemeenskap met Hom nie. “…God is Lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons van alle sonde. As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die Waarheid is nie in ons nie.” 1 Johannes 1:5-8 (AFR 33/53)
Dit is belangrik dat ons daagliks ons sondes sal raaksien en bely, dat ons elke dag voor Jesus sal gaan sit sodat Hy ons voete kan was en ons kan vergewe vir ons sondes. As jy hierdie Skrif van 1 Johannes 1 baie aandagtig lees, sal jy sien dat ons sondes vergewe word AS ons in die teenwoordigheid van die Lig is. Wanneer ons in die teenwoordigheid van die Lig is, is ons op die ware Weg saam met Jesus. Jesus is nie teenwoordig op die breë paaie nie, want Hy is die enigste Weg! Die maklike, breë paaie is in die duisternis geleë en die mense op hierdie paaie sien nie waarheen hulle oppad is nie. Jesus is nie teenwoordig op die breë paaie nie, so word die mense op breë paaie se voete gewas deur Jesus? Nee! Word hulle sondes vergewe? Nee! Baie mense gaan my veroordeel oor wat ek sê, maar dis omdat die mensdom wil lewe soos hulle wil en nogsteeds die ewige lewe daarby wil hê… Ons kan nie ons brood aan albei kante gebotter hê nie; ons kan nie deel hê aan die beker van die Here en terselfdertyd aan die beker van die bose nie. Ons moet die keuse maak! Ons moet die keuse maak op watter pad ons gaan wandel en ons moet die keuse maak om ons sondes raak te sien. Dit is ’n keuse wat ons maak om elke dag te gaan stilsit by die voete van Jesus en Hom toe te laat om die stof van ons voete af te was en ons sondes te vergewe. Dit gebeur alleenlik op die smal paadjie wat die ware Weg is.
“Petrus sê vir Hom: ‘U sal my voete in der ewigheid nie was nie’. Jesus antwoord hom: ‘As Ek jou nie was, het jy geen deel aan My nie’.” Johannes 13:8 (AFR33/53)
In die Engelse vertaling staan:
“If I don’t wash you, you don’t belong to Me.” John 13:8 (GWT)
’n Kort sinnetjie met baie betekenis! Mense wat nie daagliks stilsit by die voete van Jesus om gewas te word nie, behoort ook nie aan Hom nie. Hulle kom sit nie stil by Hom nie, want hulle is op die verkeerde pad. As ons nie saam met Jesus wandel nie, wandel ons nie in die Lig nie en as ons nie in die Lig wandel nie, het ons nie gemeenskap met Jesus nie. As ons nie gemeenskap het met Jesus nie, kan Sy bloed ons nie skoonwas nie en dit beteken ons sondes word nie vergewe nie. Daarteenoor, wanneer ons hand aan hand saam met Jesus op die ware Weg wandel, wandel ons in die Lig; ons het gemeenskap met Hom, Sy bloed was ons skoon en Hy verbind en maak ons seer voete heel.
Die breë pad het nie stof nie, want dis ’n lekker sagte rooigrondpad, soos ’n kleipad. As die mens afkyk op sy voete, sien hy geen vuilheid of stof nie, maar hy lig nooit sy voete op om te kyk hoe vuil sy voetsole is nie. Die klei het al so aangepak om ’n vreeslike vuil laag onder op sy voetsole te vorm, maar die mens kies om dit nie raak te sien nie. Daar is net een manier om ’n mens se vuil voete raak te sien en dit is deur die Lig-Woord op te tel en dit toe te laat om ’n lig te skyn op die vuilheid van die voete, asook die hart… maar omdat die grootste gedeelte van die mensdom nie tyd met God en Sy Woord spandeer nie, sien hulle nie hoe vuil hulle voete en hart van sonde is nie. Omdat hulle dink hulle is gesond en skoon, sien hulle nie die nut daarvan in om elke dag by die voete van Jesus te sit om skoongewas te word nie. Dit is so hartseer en dit is die groot probleem met die bose “mindset” waarmee ons grootgeword het… Ons is grootgemaak met die idee dat Jesus vir ons sondes gesterf het; dat Hy ALREEDS al ons sondes vergewe het en dat ons ALREEDS vergewe is! Ons word groot dat dit in die haak is om net Sondae kerk toe te gaan, om nou en dan deur die week ’n rympiegebed op te sê… Ons is nie grootgemaak met die Waarheid dat ons ’n verhouding met Abba Vader moet hê nie. Ons is nie geleer dat ons op die een ware Weg moet wandel om vergifnis vir ons sondes te ontvang nie. Dit is nie dat ons iets moet DOEN om vergifnis te ontvang nie, dit is dat ons in ‘n regstaande verhouding teenoor Jesus moet staan om vergifnis te kan ontvang. Ons moet in die Lig wandel en gemeenskap hê met Jesus, dus ’n verhouding met Jesus hê, sodat Hy ons kan skoonwas van ons sondes. (1 Johannes 1:7) Om op die breë paaie te wandel, plaas ons nie in die regte verhouding met Jesus nie, maar dit skei ons van Jesus waar Hy nooit ons voete sal was nie.
Ek kan nie genoeg klem daarop lê hoe uiters belangrik dit is dat ons elke dag tyd moet spandeer met Abba Vader nie. Dit is so belangrik dat Jesus ons voete elke dag was en salf… en dan voel ek ook om vir Jesus te sê soos Petrus vir Hom gesê het:
“Here, was nie net my voete nie, maar ook my hande en my hoof.” Johannes 13:9 (AFR33/53)
’n Wonderlike les wat ek uit die storie van Johannes 13 geleer het, is dat Jesus selfs Judas se voete gewas het. Jesus het geweet wie Hom gaan verraai. Die heeltyd wat Judas Hom gevolg het as ’n dissipel, het Jesus geweet hy gaan Hom verraai. Jesus het geweet Judas is nie ’n ware dissipel nie, maar ’n vals volgeling. Nogsteeds het Jesus Judas se voete gewas. Hoe sal ek en jy reageer as ons weet iemand is met ons vriende net om ons te verraai? Gaan ek en jy uit nederigheid die persoon se voete was wat ons in die rug gaan steek? Judas was van die begin af nie ’n ware dissipel van Jesus nie en al het Jesus dit geweet, het Hy hom nogsteeds dieselfde behandel. Jesus het wel Judas se voete gewas, maar dit kon nie sy hart verander nie. Daar is dus mense wat op die Weg van God wandel wie se harte nie opreg is nie. Jesus was ook hulle voete! Die verskil in die vals volgelinge teenoor die opregte volgelinge, is dat die opregte volgelinge sal volhou op die pad van God tot by die Bruilofsfees. Hulle sal al die toetse deurstaan, maar die vals volgelinge sal nie al die toetse op die pad van God kan hanteer en deurstaan nie; hulle sal op een of ander stadium terugkeer na die breë pad.
Dit bly vir my wonderlik hoe God alles met ’n doel beplan – as ek dink aan die stowwerige pad… God kon dit ook seker ’n mooi, gladde pad, sonder stof gemaak het, maar met ’n doel het Hy dit baie stowwerig en vol klippe gemaak – sodat ons MOET gaan stilsit by Jesus om skoongewas en gesalf te word. Sonder die stof en die klippe in die pad, sou ons nie nodig gehad het om te gaan stilsit by Jesus nie.
Mag elkeen die regte keuse maak om die breë paaie te verlaat en Jesus te volg op die ware Weg. Al raak jou voete seer, moenie moed verloor nie, want Jesus is altyd langs jou om jou moed in te praat en jou seer voete in Sy tere hande te neem waar Hy dit sagkens met helende water was.
Om sover op te som: Ons word gesuiwer op die pad van bekering. Ons hartsmotief word getoets op die pad van God… Ek kom weer terug na die vraag: Hoekom het jy die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken? Die vals volgelinge gaan nie hou van die moddergooiers, die verwerping en die doringkroon nie… hulle het die pad gekies om gekroon te word as ’n kind van die Koning sodat dit kan goedgaan met hulle. Hulle gaan nie daarvan hou om ’n punt daarvan te maak om hulle sondes te bely aan Abba Vader nie en hulle gaan nie hulle ou lewe wil agterlaat nie. Hulle sal wel die ware Weg verlaat en terugkeer na breë paaie. Hulle glo dat die breë paaie ook lei na die Bruilofsfees, maar die probleem is dat as ons nie deur die kruis van Jesus beweeg nie, ons nie die Fees binnegaan deur die korrekte ingang nie…
“Don’t lazily slip back into those old grooves of evil, doing just what you feel like doing. You didn’t know any better then; you do now. As obedient children, let yourselves be pulled into a way of life shaped by God’s life, a life energetic and blazing with holiness. God said, “I am holy; you be holy.” 1 Peter 1:14-16 (MSG)