Maleagi 4:2 (Afr. 33/53) “Vir julle wat My Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees…”
Onder gebed wys Abba Vader my ’n woud waar die bome verskriklik na aan mekaar staan en die toppe van die bome is baie dig – so dig dat daar geen lig in die woud inskyn nie. Die woud is in pikdonkerte gehul. Ek sien ’n beweging tussen die bome en probeer fokus om te sien wat dit is… Tussen die bome hardloop klein swart mannetjies vinnig rond met klein byltjies in hulle hande en soos hulle hardloop, kap hulle die bas van die bome stukkend. Dit lyk asof hulle iets probeer uitkerf op die boombas, iets soos ‘n merk of ‘n teken, maar wat hulle ookal doen, hulle is verseker besig om die bas van die bome te verwoes. Wanneer hulle my sien, hardloop hulle vinnig weg en kruip agter ander bome weg. Nou en dan loer hulle om die bome, so asof hulle net wag dat ek my rug moet draai sodat hulle weer kan begin kerf aan die bome. Dan is daar voëls met baie skerp snawels wat rondvlieg tussen die bome en ook die bas van die bome stukkend kap met hulle snawels. Daar is ook leeus en wolwe wat die bas stukkend krap met hulle naels sodat groot stukke bas sommer so afval soos hulle dit verwoes. Ek verstaan nie wat hier aangaan nie, maar een ding is verseker – hier is groot verwoesting aan die gang…
Abba Vader begin my verduidelik dat bome wat in die wêreld gewortel is, se toppe eerstens so dig is dat die Lig van God nie kan inskyn op die stamme van die bome nie. Ek stel toe my fokus in op die blaredak – die blare is regtig baie mooi: dit is groot, mooi groen blare en ons weet mos nou dat sulke baie blare dooie werke simboliseer. As jy van bo af na so ‘n boom kyk, gaan jy nie deur die mooi blaredos die boombas kan raaksien wat so verwoes word deur die onheilswerkers nie. Moet jou nie laat flous deur ’n boom wat se blare mooi groen en gesond vertoon nie, want hierdie mooi groen blare is net ’n masker sodat die res van die wêreld eintlik nie moet sien wat gaan aan in die dieper wese van die mens nie. Adam en Eva het hulle naaktheid probeer wegsteek deur groot vyeblare, maar God sien dwarsdeur blare en Hy sien en weet presies wat in die geesmens aangaan. Ons kan niks vir God wegsteek nie. Die digte takke van die boom simboliseer sonde, ongeregtigheid en verkeerde dade van die mens waarvan hy dalk nie eers bewus is nie. Die blare keer dat die Lig nie op die takke skyn nie en as die Lig van God nie op die takke skyn nie, is dit asof ons sonde ons nie pla nie. Ons weet dat dit wat ons doen verkeerd is, maar dit pla ons ook nie te erg dat dit verkeerd is nie, want ongelukkig is ons grootgemaak met die leuen dat ons nie bekommerd hoef te wees oor ons sondes nie, want Jesus het alreeds al ons sondes vergewe toe Hy gesterf het aan die kruis. Die gevolg van hierdie bose denkwyse is dat ons leef soos ons wil, want ons is mos alreeds verlos en gered… Ons bely nie ons sondes voor God nie; ons laat staan nie ons sondes nie, want ons word nie so geleer nie, maar as ons nie ons sondes kan raaksien en dit bely en oorgee aan Abba Vader nie, word hierdie takke ook nooit oopgesny nie. Hierdie is ’n bose kringloop wat sy oorsprong het in die groot groen blare, dus dooie werke. Dit begin gewoonlik in ons vormingsjare waar ons geleer word dat ons kerk toe moet gaan om God te gaan aanbid, dat ons gedoop moet word, aangeneem moet word deur die kerk en so meer… Ons raak vasgevang in godsdiens en glo dit gee aan ons redding, so ons gaan maar net aan met godsdiens en ons sondige lewens. Soos ons ouer word, groei ons net meer en groter blare om ons duistere siel weg te steek vir die wêreld. Hierdie blare keer die Lig van God af sodat die Lig nie op ons sondetakke kan skyn en ons ons sondes aan God kan openbaar nie. Ons speel reg in die hand van Satan, want so lank as wat die Lig van God nie in ons siel kan inskyn nie, vir so lank kan sy werkers in ons siel verwoesting saai.
Die stam van ‘n boom dui op die siel van die mens – daardie gedeelte van die mens waar die emosies, gedagtes en eie wil gesetel is en dit is in hierdie gedeelte waar die onheilswerkers baie verwoesting aanrig. Omdat die blaredak so dig is, kan die Lig van God nie skyn op die mens se sielsdimensie nie, want blare van dooie werke, asook takke van sonde, keer die Lig van God sodat dit nie dieper die mens kan inskyn nie. As God se Lig nie in ons harte inskyn nie, kan die duisternis binne ons nie verdwyn nie. 1 Johannes 1:5 sê God is Lig en daar waar God teenwoordig is, dus die Lig, vlug alle duisternis; dus die bose. Vir so lank as wat die Lig van God nie deur ons digte blaredak kan inskyn nie, vir so lank kan al die verwoesters aangaan met hulle verwoesting in ons emosies en denke. Dan begin ’n mens verstaan hoekom dit soms vir ons voel ons emosies hardloop weg met ons of dat dit ons beheer – God se lig skyn dan nie op daardie gedeelte van ons siel nie.
Om die Lig van God te laat skyn op ons wese, is dit nodig dat ons eerstens ontslae sal raak van die groot blare, wat dui op dooie werke wat ek ook godsdienswerke noem. Ons kan dalk die wêreld flous met hierdie mooi blare, maar ons gaan nie vir God flous nie en ons gaan ook nie die onheilwerkers van Satan kan flous nie. Hulle weet baie goed wanneer die Lig van God die mens kan inskyn en wanneer nie. Satan werk goed saam met sy werkers deur die mens te laat glo dat dit genoeg is om net godsdiens te beoefen, want solank die mens godsdiens beoefen en nie ’n verhouding met Abba Vader het nie, so lank skyn die Lig van God nie op die sielsdimensie van die mens nie en kan die bose werkertjies aangaan om ons te verpes. Hierdie swart mannetjies, leeus en wolwe wat so vernietiging aanrig aan die boombas, is al die goed wat so knaag aan ons van binne af. Ons raak humeurig, frustreerd, ons het onvrede, ongelukkigheid, ons raak twisgierig en ons is sommer net moeilikheid- makerig… al hierdie negatiewe optredes en gevoelens kom uit ons siel, en solank as wat God se Lig nie skyn op hierdie verwoesters nie, sal ons nie beter voel nie. Vir so lank as wat God se Lig nie op ons menswees skyn nie, het hierdie verwoesters die volste reg om te knaag aan ons van binne af en kan hulle ons baie skade aanrig.
Dit vat baie moed van ’n mens om te fokus op sy eie lewe en bereid te wees om sy foute raak te sien; wat kies om sy hoeveelheid dooie blare te herken en erken, wat dus bereid is om sy sondes en verkeerdhede te bely aan Abba Vader. 1 Johannes 1:9 sê as ons ons sondes bely, is God getrou en sal Hy ons vergewe vir ons ongeregtighede. So as ons ons sondes aan Abba Vader bely, snoei Hy die boomtop oop sodat Sy Lig kan val op die verwoesters van ons lewe. Hierdie verwoesters kan die Lig van God nie verdra nie, dit verblind hulle en hulle sal vinnig ’n wegkome soek. Die Lig van God ontbloot dus al die werke van die onheilswerkers binne ons. Die oggend nadat Abba Vader die boonste gedeelte aan my verduidelik het, gee Hy vir my Psalm 74. Die hoofopskrif van Psalm 74 is:
DIE VERWOESTE HEILIGDOM Psalm 74:3 (Afr. 33/53) “Hef U voete op na die ewige puinhope: alles het die vyand in die heiligdom verniel.”
Die Boodskap vertaal vers 3 op hierdie manier:
Psalm 74:3 (Die Boodskap) “Ons vyand het alles wat ons het, verwoes; ook U woonplek”
Die vyand, wat Satan is, het met die hulp van sy werkers die heiligdom van God verwoes. Hierdie heiligdom is die tempel waarin God wil woon, en ons is die tempel waarin God wil woon, want 1 Korinthiërs 3:16 sê:
1 Korinthiërs 3:16 (Afr. 33/53) “Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”
Psalm 74:4,5 is ’n baie duidelike bevestiging van die visioen wat Abba Vader my gegee het:
Psalm 74:4,5 (Afr.33/53 “U teëstanders het binne-in U vergaderplek gebrul; hulle het hul tekens as tekens gestel. Dit lyk soos wanneer iemand BYLE omhoog hef in die DIGTE PLEK BOME; die houtsnywerk daarvan het hulle alles met BYL en HAMERS stukkend geslaan.”
As die Lig van God nie in ons diepste wese inskyn nie, is dit ’n teken dat ons nog gewortel is in die wêreld en moet ons God vra om ons te ontwortel. Al ons sondes en verkeerdhede waarvan ons bewus is, moet ons verwerp uit ons lewe; ons moet dit aan God bely sodat Hy ons kan vergewe en Hy dit kan wegsny uit ons lewens. Dan kan God se goue genesende strale binne ons siel inskyn. Om hierdie groot vrugtelose takke te laat afsny, is JOU besluit, jy moet hier die regte keuse maak en besluit om sekere dinge in jou lewe te laat vaar. As jy sekere dae vreeslike buie ervaar soos hartseer, humeurigheid, frustrasies, ensovoorts, is daar dalk klein swart mannetjies wat kap aan jou siel se bas of leeus wat krap aan jou siel. Dit is onnodig. Jy kan vrykom daarvan. Abba Vader kan jou vrymaak van hierdie seer. Gaan sit by Sy voete en praat met Hom, vertel Hom van jou seer soos jy dit aan ‘n persoon sal vertel. Abba Vader sal deurkom vir jou op die regte tyd en op Sy tyd sal Hy jou genees van daardie seer, maar dit gaan moeite en toewyding van jou kant af ook vat. Jy moet tyd maak vir Abba Vader, vir Sy Woord, om te bid en met Hom te gesels. Soek Hom in die Woord en jy SAL Hom vind. Hy is die enigste Weg, Waarheid en Lewe. Abba Vader is die enigste Geneesheer wat jou graag van die klein swart mannetjies en leeus wil bevry, maar Hy wag dat jy moet vra daarvoor. Hy wag dat jy jou sondes bely aan Hom… Moenie uitstel nie, dit is absoluut die moeite werd; as jy eers vir Jesus gevind het en Hom leer ken vir die liefdevolle en goeie God wat Hy is, sal jy nooit spyt wees nie.