Soek jy Jesus in ‘n graf?

82D73C8A-EA35-465D-891B-AB6C826F04ED

As jy Johannes 20 lees, sal jy sien Maria het vir Jesus gaan soek in die graf nadat Hy gekruisig was.  Ek kan my net haar hartseer indink… hulle het fisies saam met Jesus gewandel;  hulle het by Sy voete gesit en luister toe Hy hulle geleer het;  hulle het aan Hom geraak en hulle het gesien hoe word Hy doodgemaak.  Die laaste eer wat die hartgebroke Maria aan Hom wou bring, was om Sy liggaam met speserye en olies te smeer, maar tot haar skok was die klip voor die graf weggerol en Jesus was nie meer in die graf nie.  Kan jy jouself indink watse emosies en vrae deur Maria se gedagtes moes gaan op daardie oomblik… toe sy tot die besef kom dat die liggaam van Jesus weg is…  Waar is Hy?  Waar begin sy om Hom te soek?  Wie het Sy liggaam gesteel?

Het jy Jesus al so gesoek soos Maria Hom daardie dag gesoek het?  Net om uit te vind Hy is nie daar waar jy gedink het Hy is nie?  Hoeveel van ons staan vandag ook verdwaas, hartseer en moedeloos…  ons kyk rondom ons wat aangaan in ons lewens en in hierdie gebroke wêreld en ons wonder ook… Waar is God in hierdie deurmekaar wêreld?  Ons vind God nie, want ons soek God op die verkeerde plekke!  Ons soek en fokus op die verkeerde goed en ons kyk uit die verkeerde oë.  As ons God wil vind, moet ons Hom begin soek, want die Woord sê as jy God soek, sal Hy Hom deur jou laat vind.

 

“Die Here is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind;  maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat”

2 Kronieke 15:2 

Ons moet begin om elke dag vir Jesus te soek soos Maria vir Jesus gaan soek het in die graf (Matt 28).  Haar hart was stukkend toe sy besef Jesus is nie waar sy gedink het Hy is nie, want Hy was nie meer in die graf nie.  Net so gaan jou hart stukkend wees as jy Jesus begin soek en besef jy het Hom nog al die jare op die verkeerde plekke gesoek, jy het soveel jare gemors…  Dink net ’n bietjie… waar gaan soek die meeste mense vir Jesus?  In ’n kerk, maar selfs Skrif sê:

 

“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.”
Handelinge 17:24

 

Mense gaan soek die teenwoordigheid van God in die kerk, maar die kerk is nie die “dwelling place” van God nie.  Diegene wat nie daarmee saamstem nie, bewys dit asseblief met ’n duidelike Skrif uit die Woord van God wat sê ons moet God in ’n tempel gaan besoek of Hom daar aanbid.  Ek stem saam dat ons op ’n stadium in ons lewe kerk toe moet gaan of aan ’n gemeente moet behoort, nie om God daar te vind of om gemeenskap met God daar te hê nie, maar juis om tot die slotsom te kom dat ons nie gemeenskap met God kan hê in of deur ’n kerk nie;  om self te kan besef God is nie in kerke nie, ons leer ken nie vir God in of deur ’n kerk nie.
Soveel mense “sien” nie vir God as ’n lewende God wat waarlik deel van ’n mens se lewe kan wees nie;  ’n God wat Hom waarlik aan ’n mens openbaar;  ’n God waarmee ’n mens waaragtig verhouding kan bou nie.  Hulle glo nie dat ’n mens die stem van God kan hoor, Sy aanraking en nabyheid kan voel nie…  Hoekom nie?  Want hulle is verstrengel in die ideologie van die kerk wat hulle in geestelike blindheid en doofheid vasgevang hou, daarom is die kerk vir hulle genoeg en soek hulle God nie verder nie.

 

Om weer terug te kom na Maria toe sy vir Jesus in die graf gaan soek het…Sy het weer in die leë graf ingeloer, en sien toe twee engele wat op die plek sit waar Jesus gelê het en hulle sê vir haar:

 

“Vrou, waarom ween jy?  Sy antwoord hulle:  Omat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.  En toe sy dit gesê het, draai sy haar om agtertoe en sien Jesus staan, maar sy het nie geweet dat dit Jesus was nie.  Jesus sê vir haar :  Vrou, waarom ween jy?  Wie soek jy?  Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom:  Meneer, as U Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, ek sal Hom wegneem.  Jesus sê vir haar:  Maria!  Sy draai haar om en sê vir Hom:  Rabboeni!  Dit beteken Meester!”
Johannes 20

 

Maria het tot die slotsom gekom dat Jesus nie meer in die graf is nie, sy het gedink iemand het Sy liggaam gesteel en dit weggeneem.  Jesus noem haar toe op haar naam en die oomblik toe sy dit hoor, besef sy Jesus leef!  Jesus het Hom aan Maria en aan Sy ander dissipels geopenbaar.  Dit is baie interressant om te sien dat Jesus Hom glad nie aan die Fariseërs of aan die wêreld geopenbaar het nie, nie eers in die tempels nie.  Judas vra ook vir Jesus hoe is dit dat Hy Hom aan Sy dissipels sal openbaar, maar nie aan die wêreld nie?  En Jesus antwoord hom:

 

“Wie My gebooie het en die bewaar, dit is hy wat My liefhet en wie My liefhet, hom sal My Vader liefhê en Ek sal hom liefhê en MY AAN HOM OPENBAAR.”
Johannes 14:21

 

Die mens wat nie glo dat God Homself nog aan mense openbaar nie, sal Hom ook nie verder as die kerk soek nie.  Hulle aanvaar God is in die kerk en dat hulle verlos is as hulle kerk toe gaan.  Die waarheid is dat hulle Hom nooit daar gaan vind nie, maar wat hulle wel daar gaan vind, is godsdiens, wette, reëls en rituele.  Hulle voel hulle veilig binne die graf, nie omdat God daar is nie, maar omdat hulle deel van ’n groot groep mense is.  Hoekom is die mens so “dom” in hierdie opsig? Hoekom dink die mens die groot groepe is altyd reg as die Woord duidelik sê die breë pad lei na die hel?   Hulle voel veilig omdat die teologies geleerde persoon daar voor hulle sus dat hulle nou gered is – al beleef hulle nie die teenwoordigheid van God in die kerk nie.  Ek was al in verskeie kerke op soek na Jesus, ek het Hom behoorlik oral gaan soek.  Daar is kerke waar die “worship” gedeelte so lekker is, dit gee ’n mens ’n lekker gevoel en dan dink ons dit is die Heilige Gees wat ons so laat goed voel, maar vandag weet ek hoe dit voel om waarlik in die teenwoordigheid van Abba Vader te sit, daarom weet ek daardie “worship” in kerke hits die mense net op om te glo dit is die Gees van God wat daar werk, maar vra jouself eerlik die vraag:  Het daardie lekker gevoel wat jy gevoel het met “worship” in die kerk jou aangehits om huis toe te gaan en stil te raak voor die voete van Abba Vader?  Om in stilte die Woord van God te gaan bestudeer?  Want dit is die enigste manier waar ons God kan vind, Hom leer ken en in Hom kan in groei.  Wanneer ons hartsmotiewe in orde is en ons soek God om die regte redes, sal Hy Hom aan ons openbaar net soos Jesus Hom aan Maria en die dissipels openbaar het.

 

Abba Vader openbaar Homself aan mense wat besef Hy is nie teenwoordig in die kerk nie, maar wat Hom in afsondering regtig SOEK.  Ongelukkig vertel die wêreld nou weer aan die mensdom dat hulle nie mag afsonder nie;  hulle manipuleer die mensdom om die kerkgang-getal hoog te hou, maar hoekom wil die kerke nie hê die mens moet afsonder nie?  Want Satan sit agter dit alles!  Satan wil nie hê jy moet in afsondering inbeweeg nie, want hy weet baie goed as jou hartsmotief reg is, gaan jy vir Abba Vader vind en leer ken in afsondering.  Dit is die laaste ding wat Satan wil hê, want hy weet baie goed as jy Abba Vader op so manier leer ken, gaan Hy aan jou die Waarhede begin uitwys en gaan jy die leuens en godsdiensrituele (wat geen betekenis het nie) begin raaksien in die kerke.  Jy gaan begin raaksien en weet dat God nie teenwoordig is in kerke nie, maar dat kerke besig is om die mensdom te breinspoel en ’n verwronge persepsie oor God en verlossing te leer.   Kerke keer die mense om God buite die graf te gaan soek, hulle keer die mense om ’n ware verhouding met Abba Vader te bou.
Ek hoor nou die dag ’n leraar wat sê dat alle mense daar buite, wat nie kerk toe gaan nie, geestelik siek is en dat hulle totaal en al verlore is.  Maar mens, hoekom het jy ’n kerk nodig om God te vind?  Hoekom het jy ’n kerk nodig om verhouding met Abba Vader te bou?  ’n Kerk gaan jou nie red nie!  Dit gaan mos oor jou en God!  Dit gaan nie oor jou, die kerk en God nie!  Die leraar wat dit preek, ken nie vir God nie; hy besef nie dat ’n mens ’n persoonlike verhouding met God kan hê en dat dit alleenlik jou verhouding met God is, wat jou gaan red nie;  as hy dit geweet het en as sy hart regtig daarop uit was om ’n herder vir mense te wees, sou hy van die kansel af gepreek het dat die mens asseblief elke dag vir God moet gaan soek in stilte in hulle binnekamer, maar nee, hierdie predikers vertel eerder vir die mense dat hulle veilig is in die kerk, dat hulle deel is van die liggaam van God, dat hulle gered en verlos is.  Hy lei die mense op die breë pad agter hom aan…direk na die hel.  Die kerk hou die mens besig met selgroepe, bidure, Bybelstudie en dit alles klink baie goed en wel, maar hoe dink ons as mens…  Ek was mos nou kerk toe vandag, so ek het nou nie nodig om stiltetyd met God te hou vandag nie;  ek gaan mos vandag selgroep toe, so daar  sal ons praat oor God, ek het nie nou nodig om tyd met God te spandeer nie;  ons hou mos vanaand Bybelstudie, so daar sal ek oor God gaan leer, so dis nie nodig dat ek vanoggend alleen Bybel lees en bid nie.  Weet julle wat mis julle?  Julle mis om die teenwoordigheid van Abba Vader te voel;  julle mis om die stem van Abba Vader te ontdek en te leer ken en om te kan luister na Hom;  julle mis die gevoel van Sy liefde as Hy ’n mens so toedraai in Sy liefde;  julle mis so ontsettend baie omdat julle na ander mense luister en nie probeer om direk na Abba Vader te luister nie.  Julle laat julle breinspoel deur teologie om godsdiens te beoefen, om deel te wees van rituele waar jy nooit vir God gaan leer ken nie.  Julle is besig met onbenullighede in ’n graf waar Jesus nie is nie.  So lank as wat julle tyd in die graf gaan spandeer, gaan Jesus jou nooit op die naam roep nie, want Jesus staan buite die graf en wag;  Hy staan en wag vir die dag dat jy besef jy is besig met ’n wêreldse sisteem en Hy staan en wag vir die dag dat jy sal wegdraai van hierdie mensgemaakte godsdienstige rituele… dan sal Hy ou op die naam roep en jy sal dadelik Sy stem herken.  Dan eers sal jy vind dat Jesus nie in die graf is nie, Hy is nie in rituele, godsdiens en al hierdie snaakse goed van die wêreld nie, Hy is nie in ’n gebou nie, Hy staan buite dit alles en Hy soek jou onverdeelde aandag en trou;  Hy soek jou hart!  Hy soek stilte saam met jou!  Weet jy hoe belangrik is God se kinders vir Hom? Elkeen is vir Hom so baie belangrik dat Hy so graag alleen met jou wil tyd spandeer, maar gee jy Hom daardie tyd?  Of vat jy daardie tyd en gaan na ’n gebou om deel te wees van ’n groep mense wat godsdienstige rituele uitvoer?  Dalk is dit hoekom Jesus na die opstanding Homself nie eers in die tempel aan mense openbaar het nie… net om te bewys Hy is nie in die graf nie, net soos Hy ook nie in tempels is nie.  Hy wil alleen saam met jou wees, Hy wil jou hart hê om dit te omskep in ’n tempel om in te woon.

 

So die punt is…die mens wat God wil aanbid in ’n kerk, wat God in ’n kerk gaan soek, het nie ’n verhouding met Abba Vader nie, want die mens wat vir God ken, sal weet dat jy Hom nie daar gaan vind nie… net soos Maria nie vir Jesus in die graf kon vind nie.  Ons moet tyd opoffer om stil te wees saam met Abba Vader, ons moet ons harte en lewens in die hand van Abba Vader oorhandig, dus offer.  Ons word nie gevul met die Gees van God in ’n kerk nie, ons word gevul met die Gees van God wanneer ons ons harte oorhandig het aan Abba Vader in die stilte van ons binnekamer en Hy jou hart gesuiwer het sodat Sy Gees jou hart kan oorneem.  God wil binne-in jou woon!  Hy wil van jou hart Sy tempel maak, maar daarvoor het jy nodig om jou hart en jou lewe in Sy wonderbare hande te plaas.

 

“As iemand My liefhet, sal hy My Woord bewaar, en My Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.”
Johannes 14:23

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s