Bekering

IMG_0403

“Maar selfs nou nog, spreek die Here, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat — ’n spysoffer en ’n drankoffer aan die Here julle God.” Joël 2:12-14 (AFR33/53)

In Handelinge 2 wou die skare mense weet wat hulle moes doen om deel te hê aan die Koninkryk van God, met ander woorde, hulle wou weet wat hulle moes doen om die bruilof van die Seun van God by te woon. Petrus antwoord hulle:

“Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”
Handelinge 2:38 (Afr. 33/53)

Petrus het die mense geleer dat hulle tot bekering moet kom en gedoop moet word. Bekering begin by ’n keuse. Dit is ‘n keuse wat ons maak om ons rug op ons ou lewenswyse, die wêreld en sonde te draai en Jesus te volg op die een ware Weg. Dit is ’n keuse wat ons maak of ons WIL breek met ons lewenswyse en ons sondes, en wanneer ons die keuse maak met die regte motief in die hart, maak ons die keuse om die uitnodiging na die bruilofsfees te onderteken of nie.

Joël 2 (die Skrif is aan die begin van die saadjie) sê om tot bekering te kom, beteken ons moet ons manier van lewe totaal verander en terugdraai na God. Ons moet ware berou hê oor ons sondes en oor die mens wat ons is of was. Dit is belangrik dat hierdie berou uit ons harte sal kom en dat ons nie net volgelinge van mense is en met die mond sê ons het berou omdat dit die “regte” ding in die oë van die wêreld of kerk is nie. Dit help nie ons wil ons klere skeur en as op ons koppe gooi as teken dat ons berou toon nie, want dit is net van buite, maar ware berou kom uit die hart – die hart moet geskeur word. As ons berou opreg is, sal ons uit die diepte van ons hart regtig sleg voel oor ons verlede en sal ons regtig WIL verander. Daar sal ’n begeerte in ons hart wees om te sterf aan die self. Daarteenoor het mense met vals berou eintlik geen begeerte om te verander nie. Hulle wil tot bekering kom om Jesus te volg ten voordeel van hulleself en hulle eie lewe (en dalk om die ewige lewe te bekom), maar hulle is nie bereid om hulle ou lewe agter te laat en hulle hart en lewe aan God te offer nie. Hulle onderteken die uitnodiging na die bruilofsfees, maar sonder ware berou… As daar nie ware berou is nie, is dit ook nie ware bekering nie. Dit is die uitnodigings wat onderteken is, maar nie gestempel word nie.
As jy Mattheus 3 lees, sal jy sien Johannes sê dat ons vrugte van bekering moet dra. Mense het na hom toe gestroom waar hulle hulle sondes bely en dan gedoop is deur hom. Johannes vermaan die mense om hulle lewens radikaal te verander, want God se nuwe wêreld is op hande – BEKERING GAAN GEPAARD MET VERANDERING. Daar het ook baie Fariseërs en Sadduseërs na hom gegaan om gedoop te word, maar hy het vir hulle gesê:

“Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas.”
Mattheus 3:7 (AFR33/53)

Johannes verduidelik aan die mense dat hulle eers tot bekering moet kom voordat hy hulle doop. Hulle moet eers vrugte van bekering dra, met ander woorde, bekering moet in die lewe van die mens gesien kan word. Die Fariseërs en Saduseërs het nie waarlik tot bekering gekom nie, maar wou gedoop word om veilig te speel. Net soos in die tyd van Johannes, is dit in vandag se tyd… Daar is mense wat uit die hart tot bekering kom en wat waaragtige sondebelydenis toon, wat regtig hulle ou lewe wil agterlaat en wat dit uit hulle hart bedoel as hulle vir God vra om hulle te verander. Daarteenoor is daar mense wat net met die mond tot bekering kom om veilig te speel, om die ewige lewe te bekom of om nie in die hel te beland nie. Hulle het nie ware en opregte sondebelydenis uit hulle harte nie, maar nogsteeds stroom hulle ook na die doopwater… sonder vrugte van bekering. Hulle is nie regtig bereid om hulle ou lewe agter te laat nie en hulle gaan ook nie maklik saamwerk sodat God hulle verander nie. Hulle wil graag die bruilofsfees bywoon, maar om die verkeerde redes. Gaan hulle toegelaat word by die bruilofsfees, dus in die Koninkryk van God? Word hulle uitnodigings gestempel? Dit bring my by dit wat Jesus geleer het…

Jesus onderrig Nikodémus aangaande die wedergeboorte.

“Daar was ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ’n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: ‘Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.’ Jesus antwoord en sê vir hom: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.’ Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.”
Johannes 3:1-8 (AFR33/53)

Jesus leer die mense dat daar net een manier is om die Koninkryk van God binne te gaan en dit is deur wedergeboorte. Is bekering en wedergeboorte dieselfde? Glad nie! Bekering begin by ’n keuse en is dan ’n proses waar ons kies om die pad saam met Jesus te stap sodat Hy ons kan reinig en sodat ons tot wedergeboorte kan kom. Ons gaan dus eers die pad van bekering moet stap voordat ons tot wedergeboorte kom, want wedergeboorte is ’n totale afsterwe van die natuurlike, vleeslike mens en die geboorte van ’n nuwe geesmens. Die punt is, dit is ’n moeilike pad om te stap na wedergeboorte en op hierdie pad gaan Abba Vader die toestand van ons harte toets. Hy gaan toets of die motief van ons hart opreg of vals was toe ons die uitnodiging na die bruilofsfees onderteken het, en volgens die bevinding van God, sal ons gestempel word met die Gees van God… of nie. God gaan ons toets of ons met die mond tot bekering gekom het, en of ons met die hart tot bekering gekom het. Alleenlik hulle wat met die hart tot bekering gekom het, sal gestempel word met die Gees van God.
Om die stempel van God op ons hart te ontvang, is dit nodig dat ons hart in die hand van Abba Vader moet wees en dit beteken ons moet ons hart offer aan God. Daar is baie mense wat beweer om bekeer te wees, maar nie bereid is om hulle lewe en harte aan God te offer nie. Hulle wil nog hulle eie wil volg en nie hulle wil oorhandig in die hand van Abba Vader nie. Vals bekeerlinge kom alleenlik met die mond tot bekering; hulle hart is nie deel van die proses nie, en as hulle hart nie deel is van die proses nie, hoe kan daar iets in hulle geeshart gebeur? Om jou te laat doop, is ook nie die antwoord om gestempel te word met die Gees van God nie, want daar is geen magiese werking aan die doopwater wat dit in staat stel om vir iemand die merk of die Gees van God te gee nie. Daarom glo ek nie dat elke persoon wat met water gedoop word, die Heilige Gees ontvang nie. Ons kan nie God en Sy werke in ’n boksie plaas nie, want God kan Sy Gees aan ’n mens skenk nog voor ons met water gedoop is, of eers ’n ruk nadat ons met water gedoop is, maar God skenk Sy Gees aan die mens op Sy tyd – wanneer Hy weet die tyd is reg vir die mens om Sy Gees te ontvang! God het immers nie die doopwater nodig om ’n mens te vul met Sy Gees nie. Hierdeur sê ek nie dit is verkeerd om gedoop te word nie, want ek glo dat ons gedoop moet word wanneer ons die keuse gemaak het om ons ou lewe agter te laat. Tesame met die doop, moet ons ons harte in die hand van Abba Vader plaas.

“…Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se Hand wees. ’n Lewe wat voltyd afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan. Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat Sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee.”
Romeine 12:1-2: (DB)

Die mense van die Ou Testament het ’n dier geoffer vir die versoening van hulle sondes, maar dit kon nie aan hulle verlossing bied nie, want dit kon nie hulle manier van dink en doen verander nie. (Net so kan die doop op sy eie nie aan ons verlossing bied nie, want die doopwater kan nie ons harte of ons manier van dink en doen verander nie.) Jaar na jaar het hulle ’n onskuldige dier geoffer, maar die offer van die dier en die bloed van die dier, kon nie die mense se harte verander sodat hulle meer gehoorsaam aan Abba Vader kon wees nie. Abba Vader sê deur die mond van Samuel:

“Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffers, om te luister beter as die vet van ramme.”
1 Samuel 15:22 (AFR33/53)

Wat God van die mens wil hê, is gehoorsaamheid. Daarom het Hy die onskuldigste Lam gestuur om te sterf vir Sy kinders se sondes – sodat Sy Gees vrygestel kon word om die kinders van God tot Helper te wees om hulle sondes raak te sien (deur die Lig van die Woord) en dit aan God te bely. Dan word die mens se sondes afgewas met die bloed van die Lam. Deur die Gees van God word die mens in staat gestel om voor God sy sondes te bely en vergifnis te ontvang; ons kan ook sê dit is die Gees van God wat ons help om gehoorsaam te wees aan God. Sonder die Gees van God kan ons God nooit behaag nie.
Opgesom, dit is baie maklik vir ons om te sê ons het tot bekering gekom, maar wat sê ons lewe? Wat sê ons dade? Dra ons vrugte van bekering? Om tot bekering te kom, beteken ons het die uitnodiging na die bruilofsfees onderteken, maar dis nie te sê die uitnodiging is gestempel met die bloed van die Lam nie. Alleenlik die ware bekeerdes, hulle wat bereid is om hulle lewe en harte aan God te offer, se harte sal gestempel word met die merk van God. Ware bekering loop hand aan hand met ’n terugblik op die mens wat ons is; om ons foute, sonde en tekortkominge te kan raaksien en neer te val voor die voete van Abba Vader… om ons sondes aan Hom te bely en Hom te smeek vir vergifnis. Ons kan tot vals bekering kom deur met die mond te getuig om in Jesus te glo, maar ware bekering gaan altyd gepaard met ware berou uit die hart; om waarlik baie sleg te voel oor die mens wat ons is en om ’n begeerte te hê om te verander. Ons moet net onthou ons kan nie onsself verander nie, maar God sal met ons hart begin werk as ons bereid is om dit in Sy wonderbare hande te plaas; Hy sal ons mettertyd verander om die beeld van Sy Seun uit te straal.

Leave a comment